05 April 2017 ~ 7 Kommentare

Ysland, Griekeland en die lesse vir Orania

Geskryf deur Sebastiaan Biehl

Griekeland is in die verre suid-ooste van Europa en is ʼn oeroue beskawing, Ysland is n die verre noord-weste en is ʼn relatief onlangse toevoeging tot die ry van onafhanklike state in Europa (Ysland het eers 1918, amper 100 jaar gelede, onafhanklik van Noorweë geword). Griekeland, een van die armer en minder produktiewe lande in die konteks van Europa, is al sedert 1981 deel van die “eliteklub” van die Europese Gemeenskap (later Europese Unie) en selfs die Euro-gebied (sedert 1999), Ysland is nie lid van die Europese Unie nie en het sy eie geldeenheid, die Yslandse Kroon.

Die verskille tussen die twee lande in ag genome, het al twee in die eerste dekade van die 21ste eeu vol selfvertroue opgetree asof hulle deel van die eerste liga van state is. Ysland as klein eilandstaat met skaars 350 000 inwoners wou die geleenthede van globale finansiële dienste aangryp en ʼn Hong Kong van die Noorde word. Baie vereenvoudig gestel, het die land se drie groot banke, vir Europa besonder hoë rente van meer as 2% belowe, waarmee die groeiende Yslandse ekonomie gestimuleer sou word. Talle veral Britse en Nederlandse beleggers het gebruik gemaak van die aanbod uit Ysland. Die banke kon, ook weens die globale finansiële krisis, die verpligtinge egter later nie meer nakom nie en Ysland se Reserwebank was te klein om as uitlener in die laaste instansie (“lender of last resort”) die banke te kon uithelp, omdat die land se ekonomie te klein was. Ysland se krisis het in 2007 begin en 2008 sy hoogtepunt bereik. Daarna het ʼn lang lydingsproses gevolg. Die land en sy mense was op hulle knieë en die gemaklike lewe waaraan hulle gewoond was, was vir eers verby.

Die Europese Unie het sy hand uitgesteek om Ysland te help, maar dit was op streng voorwaardes en dit was amper soos ʼn dwelmsmous wat die verslaafde nog meer dwelms aanbied as tydelike ontvlugting: “Word deel van die Europese Unie, dan gee ons vir julle lenings waarmee julle die Britse en Nederlandse skuldeisers kan betaal. Julle betaal dit oor baie jare terug en ons het ʼn sê oor julle huishoudelike sake, julle viswaters word vir almal oopgestel en julle aanvaar die Euro”. Die bevolking het egter in ʼn referendum, gesteun deur die staatspresident (maar nie die eerste minister en sy regering nie), die terugbetaling van die banke se skuld verwerp. Die drie groot banke het bankrot gegaan en die land is van die globale ekonomie grootliks uitgesluit. Ysland het gekies vir harde rehabilitasie pleks van die tydelike verligting van sy toestand deur nuwe afhanklikhede. Uit eie krag, en met die voordeel van sy soewereiniteit en sy eie geldeenheid kon die land homself geleidelik self uit die moeras optel. Ysland se ekonomiese insinking het meegebring dat die wisselkoers van die Kroon gedaal het, wat Ysland, ʼn baie duur maar gewilde eksklusiewe toerismeysland griekelandbestemming, skielik meer bekostigbaar gemaak het en nuwe besoekerstrome ontsluit het. Toerisme het die ekonomie weer aan die gang gekry, en die goedkoper wisselkoers het selfs die vestiging van sekere swaar nywerhede soos aluminiumsmelterye, wat ook baat gevind het by Ysland se goedkoop natuurlike energie, winsgewend gemaak. Die sterk visvangbedryf en die land se eksklusiewe 200 myl sone het Ysland se ekonomiese ruggraat gebly.

In 2010 was daar tekens dat die ergste verby is, en onlangs is die beperkinge op kapitaalvloei van Yslandse Kroon opgehef, wat beteken dat die land finansieel weer gesond is. Die beperking op kapitaalvloei beteken dat Yslandse burgers geen geld mag uitvat nie en ook geen eiendomme in die buiteland mag koop nie. Dit was bedoel om te keer dat die Kroon sy waarde heeltemal verloor en dat die Yslandse ekonomie doodbloei.

Griekeland het ook bo sy verhoudinge geleef en, om dit baie kortliks te stel (die hele Griekse drama is te lank om dit hier te beskryf), veel meer ingevoer en verbruik as wat geproduseer is. Omdat Griekeland deel van die Euro-sone is, was daar geen eie wisselkoers binne die sone ter sprake nie, en Grieke kon byvoorbeeld Duitse produkte teen dieselfde prys koop as Duitsers, terwyl Griekse produkte en dienste gewoonlik gehaltegewys nie kompeterend is nie, en omdat alles in Euro bereken word, ook nie goedkoper kan word nie. Die land se skuld het opgehoop. Griekeland moes, om sy ekonomie weer te laat vlot, terug gekeer het na sy eie geldeenheid Dragme en dit massief teenoor die Euro gedevalueer het. Dit sou ʼn daling in inkomste en koopkrag beteken het, nes in Ysland, maar op die lang termyn sou dit Griekeland weer kompeterend gemaak het. Nes Ysland is Griekeland ʼn gewilde toerismebestemming, maar is weens die Euro relatief duur en het kompetisie van goedkoper lande met soortgelyke voordele soos strande, son en ʼn ou kultuur soos Turkye of Egipte. Griekeland het egter ten alle koste deel van die EU gebly omdat die Grieke nie die voordele wou inboet nie en natuurlik ook omdat die EU-leiers alles gedoen het om Griekeland in die EU te hou. Soos vir ʼn dwelmverslaafde is deur die EU meer en meer dwelms (krediete) gegee wat oor lang tydperke afbetaal moes word. Daar is voorwaardes en rente aan gekoppel, maar omdat die dreigement om Griekeland uit die Euro-sone te skop nooit toegepas is nie, kon die Griekse regering voortploeter en het die pyn en lyding net uitgerek. ʼn Tydelike, valse gerustheid is bereik deur meer en meer krediete deur die Europese Sentrale Bank, maar Griekeland se skuld het net opgehoop en die regering het die radikale hervormings uitgestel. Daar is natuurlik ook ʼn mentaliteitsverskil tussen Yslanders en Grieke, ook wat die werksetiek betref en wat ʼn uitwerking op die ekonomie het. Die Crux bly egter dat die een land beheer oor sy ekonomie behou het, en die ander een nie. Die een was op homself aangewese, die ander een op buitelandse banke en instansies.

Die lesse wat ons kan leer, ook met die oog op groter ekonomiese en politieke selfstandigheid vir Orania is die volgende: fokus op jou sterk punte en moenie probeer om in ʼn hoër liga te wil speel as jy nie daarvoor opgewasse is nie. As jy klein is, is jy gewoonlik die een wat verloor by globalisering. Sowel Ysland asook Griekeland moes die les leer. Ysland wou ʼn finansiële sentrum word met ʼn baie klein ekonomie, Griekeland wou in die eerste liga van Euro-lande saamspeel waarvoor die land struktureel nie gereed was nie. Ysland het wel geleer dat jy met dissipline en veral met beheer oor jou ekonomie weer uit die as kan opstyg, Griekeland daarteenoor wou nie gespeen raak van die Euro nie en het afhanklik gebly van die groot EU-lande se krediete en harde voorwaardes.

By die Afrikaner in die breë is daar altyd die begeerte om in die eerste liga saam te speel en om Suid-Afrika te red. Dit is begryplik uit die onlangse verlede, waar die Afrikaner Suid-Afrika gebou het en waarskynlik van alle volke die meeste daarmee vereenselwig het. Net soos met Griekeland en Ysland geld egter: as jy deel van die groot geheel wil bly, dan sink jy saam. As jy bereid is om op jou eie voete te staan, met al die die nadele daaraan verbonde, het jy ʼn mate van beheer en kan jy jouself aan jou eie skoenveters optrek. Orania se ekonomie is nog gans te veel deel van Suid-Afrika, maar dit is met Orania se beperkte grootte en beperkte produksievermoë tans ook moeilik om anders te wees. Die strewe na groter selfstandigheid, ekonomies sowel as polities, moet egter altyd die doel bly en belangrike stappe is al in die verband geneem.

 

Deel/Stuur

7 Reaksies op “Ysland, Griekeland en die lesse vir Orania”

  1. Koos van Antwerpen 5 April 2017 at 21:53 Permalink

    Oulike, duidelike artikel.Alles gaan oor beheer.
    As ‘n land homself beheer, doen hy dit tot sy eie voordeel.
    As ‘n land van buite af beheer word, is dit tot die buiteland se voordeel. Dit geld vir Orania ook. Logies.
    Ditto: Orania moet altyd in alle opsigte streef daarna om selfvoorsienend en selfbeherend te wees.
    En: ‘n Regering mag NOOIT skuld maak by enige bank of instansie namens sy bevolking nie. Ysland se regering het niks geleen nie; sy volk is vry van beheer deur banke. Griekeland se regering het krediete aanvaar. (skuld gaan maak)en die Griekse volk is daarom vir omtrent altyd verslaaf.
    Hoop Orania sal altyd direksielede hê wat dit sal verstaan en onthou.

  2. Ebert 6 April 2017 at 00:38 Permalink

    Uitstekende artikel Sebastiaan. Mense wat deel van die bos wil bly brand saam, maar mense is nie bome nie en ons kan op Orania vir ons ‘n alternatief skep as meer van ons die ideaal deel.

  3. Abram F Celliers 6 April 2017 at 10:17 Permalink

    Goeie artikel. Dit som ons Afrikaners se probleme op. Ons wil net nie los kom van die “rykdom” wat ons dink ons het in Suid-Afrika vir die “armoede” wat ons dink ons sal ervaar in Orania nie. Ek wil net graag een punt uitlig. Die skrywer skryf: “Uit eie krag, en met die voordeel van sy soewereiniteit en sy eie geldeenheid kon die land himself geleidelik self uit die moeras optel”. Niemand kan stry dat die Oraniers hard werk om op te bou nie, ook kan die Ora nie misgekyk word nie. Maar, Orania het nie sy eie soewereiniteit nie. Daar was al hoeveel artikels om mense te oortuig dat soewereiniteit in jou gedagtes moet wees, en dat daar ‘n ooreenkoms bestaan… Die punt is, Orania is nie soewerein nie. Verbeterings van ‘n huurder op huur eiendom, word die eienaar van die huis sin.

  4. Sebastiaan 7 April 2017 at 11:39 Permalink

    Abram, jy is reg, daarom moet soewereiniteit ook die uiteindelike ideaal bly. Dit is egter ‘n lang proses.

  5. Joop Swanepoel 18 April 2017 at 18:12 Permalink

    Dankie Sebastiaan. Jy maak dit net weer duidelik dat dit nie werk om as klein laaitie (Griekeland) in die eerste span (Euro-sone) te probeer speel nie. Eerstens kan jy nie met die sterk ouens meeding nie, en tweedens moet jy jou neerlê by die reëls wat hulle maak en jou eie reëls gaan jouself beter pas.

  6. Jamie 20 April 2017 at 22:27 Permalink

    ‘n Artikel met goeie lesse van Sebastiaan. Ek wil aansluit by Joop. Alhoewel individuele Afrikaners nog mag uitstyg sal die Afrikaner, as volk, nooit weer gewig dra in die in die mengelmoes van die huidige Suid Afrika nie. Dit is dom om in die vyandige omgewing vas te skop. Bou eerder aan ‘n eie lewensruimte; gebied, stad, skole, universiteite en so aan. Dit sal ‘n uiters opdraande stryd wees, maar die reis daarna is reeds ‘n beloning.

    Ns. ‘n Brokkie nietige inligting. Alhoewel dit geen afbreuk maak aan die lesse in die artikel nie, net die volgende: Die voorgeslagte van die Yslanders was inderdaad Nore maar in 1918 het die land onafhanklikheid verkry van Denemarke en was tot 1944 nog verbind aan Denemarke. Yslands, as taal, is Oudnoors en in die sin veel minder verander as hedendaagse Noorweegs. Hier is ook ‘n taalles; die Yslanders waak jaloers oor hul taal en laat geen uitheemse invloede toe nie. Sommer net hier is die pad vir behoudende Afrikaners reeds baie steiler as vir die Yslanders.


Lewer Kommentaar

*