06 November 2013 ~ 6 Kommentare

Wat is die geheim van suksesvolle volke en state?

Geskryf deur Sebastiaan Biehl

‘n Gesaghebbende boek van die twee akademici Daron Acemoglu en James Robinson met die titel: “Why Nations fail. The Origins of Power, Prosperity and Poverty” wat verlede jaar verskyn en wêreldwyd aandag getrek het, behandel die vraag hoekom sekere state suksesvol is en ander nie, en dit al oor baie jare.

‘n Magdom navorsingstukke is al oor die onderwerp van ontwikkeling geskryf en elke departement, organisasie of private inisiatief wat op ontwikkelingshulp fokus vra gedurig die vraag hoekom sekere lande ryk is en ander arm, en wat gedoen kan word om meer lande en volke ook welvarend te maak of ten minste hulle omstandighede te verbeter. Die antwoord op so ‘n gewigtige vraag kan uit die aard van die saak nie in ‘n paragraaf beantwoord word nie en die boek van sowat 600 bladsye doen ook ‘n behoorlike ondersoek wat veral die historiese ontwikkeling van ryk en arm nasies beskryf en vergelyk.

Die bekende verklarings wat ‘n eenvoudige antwoord op ‘n komplekse toedrag van sake probeer gee, word ook behandel en verwerp. Marxiste en ander linkses verkort die rede vir rykdom en armoede in internasionale verband gewoonlik tot die teorie dat die Westerse lande (by name VSA en Europa) weens koloniale onderwerping in die verlede strukture van onderdrukking en uitbuiting geskep het en dit deur middel van globale kapitalisme vandag instandhou.

‘n Ander teorie wat die smaak van rassisme het en in akademiese kringe ongewild is, verklaar ongelykheid met die inherente verskille tussen hardwerkende en eerlike Westerlinge en lui en korrupte nie-Westerlinge, of, meer versigtig in die Europese konteks, met ‘n noordelike Protestantse werksetiek en suidelike Katolieke voorliefde vir feesvier en geniet.

Nog ‘n teorie wys op die geografiese en klimatologiese verskille tussen noorde en suide, wat ontwikkeling in sekere streke bevoordeel en in ander bemoeilik.

Al die teorieë word verwerp maar tog word toegegee dat elkeen ‘n element van waarheid bevat.

Acemoglu en Robinson volg die benadering om ‘n wye verskeidenheid kulture en nasies uit verskillende eras en verskillende wêreldstreke te ondersoek en te vergelyk en om gemeenskaplike faktore vir sukses of mislukking te vind en daaruit ‘n metateorie te ontwikkel.

Die ondersoeke behandel byvoorbeeld ou hoogkulture soos die Inka en Azteke en die invloed van die Spaanse verowering. Dit vergelyk die verskillende historiese ontwikkelinge van Noord-Amerika aan die een kant en Sentraal- en Suid-Amerika aan die ander kant.

Noord- en Suid-Korea, etnies en kultureel identiese lande met ‘n geweldige welsyns- en ontwikkelingsgaping, word net so met mekaar vergelyk as die suksesverhaal van Botswana teenoor die mislukking van Zimbabwe en Sierra Leone. In Europa word Engeland reeds in die 18e eeu as voorbeeld vir suksesvolle ontwikkeling, wat later ander lande in Wes-Europa soos Frankryk beïnvloed het, gekontrasteer met die lande in Oos-Europa, soos die Habsburg Ryk en Rusland onder die tsaar, wat politieke en ekonomiese ontwikkelling verhinder het.

Pluralistiese instellings, wat so veel as moontlik deelname van die bevolking  aan die ekonomie verseker, is daarby van kardinale belang vir ontwikkeling. ‘n Elite wat politieke en ekonomiese mag in sy hande konsentreer, soos in kommunistiese en ander totalitêre of outoritere lande, is daarteenoor hoogs nadelig vir ontwikkeling. Dit lei tot dit wat “ekstraktiewe ekonomiese stelsels” genoem word. Die klein elite wat alleen baat by die ekonomie, doen alles in sy vermoë om die stelsel, indien nodig met geweld, in stand te hou. Dit verklaar ook waarom die regering van Zimbabwe, of van talle ander derdewêreldlande, vasklou aan hulle katastrofale ekonomiese beleid. Enige oopmaak van die ekonomie vir groter deelname sal die mag, invloed en rykdom van die elite verminder en dit is dus vir die elite meer voordelig om die land te vernietig as om dit te laat floreer.

Die dilemma van die elite wat mag tot hulle eie voordeel behou en die land daarby ruïneer, is deel van ‘n bose kringloop. Om daar uit te breek en groter deelname te bewerkstellig beteken dat die elite van sy mag moet prysgee. Dit gebeur nooit vrywillig nie en indien hoegenaamd, dan eers na hewige interne gevegte en selfs rewolusies en burgeroorloë. Selfs al word die ou elite verslaan, val die nuwe elite te dikwels in dieselfde spore en behou die uitbuitende stelsel tot sy eie voordeel. Dit word die wet van die oligargie (uitbuitende elite) genoem. In Rusland, byvoorbeeld, het die verwydering van die Tsaar en die adelike en kerklike elite ná die Rewolusie van 1917 gelei tot die magsoorname deur ‘n nog meer gewetenlose en wreedaardige kommunistiese elite. In Frankryk het die rewolusie van 1789 wel aanvanklik ‘n soortgelyke uitkoms gehad van ‘n nuwe, fanatiese en gewelddadige elite, maar in die proses van sowat 100 jaar het Frankryk wel verander in ‘n demokrasie en ‘n plurale samelewing en kon die bose kringloop gebreek word. Die sprong van ‘n ekstraktiewe na ‘n deelnemende stelsel gaan egter gepaard met dit wat die skrywers “skeppende vernietiging” noem. Dit beteken dat die veranderinge wat uiteindelik dinge verbeter, eers vir dele van die bevolking sake versleg. ‘n Voorbeeld is die Industriële Revolusie in Engeland en gepaardgaande meganisasie. Alhoewel almal vandag baat by megansasie in die produksie, het dit in die 18de eeu tot grootskaalse werksverliese onder handewerkers gelei. Hulle het die meganisasie dus probeer verhoed deur masjiene stukkend te slaan. Die vernietiging van handewerk het egter meer en beter werk op ander terreine geskep.

Engeland word uitgesonder as die beste voorbeeld van hoe instellings al hoe meer verteenwoordigend geraak het en ook groter deelname in die ekonomie verseker het, natuurlik ná burgeroorloë en konflikte tussen die koning en die parlement, wat nog nie verteenwoordigend van die bevolking was nie, maar slegs die elite van die gegoedes bevat het. Die keerpunt word hier gesien in die Glorieryke Rewolusie van 1688, waar die parlement die verligte koning Willem van Oranje vanuit Nederland geroep het om Engeland se koning te wees en wat saam met die parlement die absolutistiese Stuart-monargie verslaan het. Willem sou voortaan as konstitusionele hoof regeer en die mag met die parlement deel, anders as sy voorgangers op die Engelse troon vir wie dit alles of niks was. Met verloop van tyd het die parlement ook meer verteenwoordigend geraak en uiteindelik die hele bevolking verteenwoordig. Soos wat mense politieke seggenskap gekry het, kon hulle ook meer vrylik  aan die ekonomie deelneem. Die voorbeeld van Engeland het ook sy navolging in sy kolonies soos Noord-Amerika, Australië, Kanada, Nieu-Seeland en Suid-Afrika gehad, wat almal ekonomies en polities ontwikkel het en in die konteks van die 19de eeu ‘n groot mate van seggenskap en deelname gehad het. Daar is egter ook nie-Westerse voorbeelde wat ‘n soortgelyke ontwikkeling van absolutistiese beheer tot pluralisme deurgegaan het en as  gevolg daarvan ekonomies hoogs suksesvol was, naamlik Japan.

Die voorvereiste vir suksesvolle state lê in instellings wat verteenwoordigend is en reeds ‘n lewe van hulle eie het en nie meer deur ‘n klein elite verwyder of gemanipuleer kan word nie. Die politieke pluralisme in die instellings vind sy voortsetting in ekonomiese instellings. As voorbeeld is daar in ‘n parlementêre demokrasie die deursetting van ekonomiese monopolie vir ‘n klein groep hoogs onwaarskynlik, terwyl dit in totalitêre samelewings die reël is.

Staatsgedrewe ontwikkeling wat deur ‘n klein groep beheer word, kan vir ‘n relatiewe kort tyd suksesvol wees, soos in die 20ste eeuse Sowjet-Unie en vandag in kommunistiese Sjina. Sonder deelname van die bevolking, nie net as werkers en verbruikers nie, maar juis ook as ondernemers, kom sulke staatsgedrewe ontwikkeling noodwendig na ‘n ruk tot stilstand omdat dit nie die buigbaarheid en wye beskikbaarheid van talent het wat nodig is vir voortdurende ontwikkeling nie. Dit verklaar ook waarom die meeste patente nog steeds in die VSA aangemeld word en nie in Sjina nie. Politieke en ekonomiese vryheid is twee kante van dieselfde munt.

Deel/Stuur

6 Reaksies op “Wat is die geheim van suksesvolle volke en state?”

  1. Dante' Strauch 8 November 2013 at 09:59 Permalink

    Ek sal graag die boek lees. In die geval van Suid-Afrika dink ek is ons onderwys 146 uit 148 lande gerangskik, maw die mees onopgevoede mense ter wereld. Sal groter deelname en politieke seggenskap van die bevolking die gewensde gevolg he? Ek wonder of mense wat die minste weet in die wereld die beste ekonomiese besluite sal kan maak. Dit sal eerder aanleiding gee tot groepe soos eff wat die kringloop van ryk elite teenoor kriperende bevolking gaan versterk. Ek weet dit is nog baie vroeg om afleidings te maak maar kyk na die sg Arabiese lente, daardie lande het gegaan van ekonomies en sosiaal stabiele diktatorskappe, na onstabiele amper chaotiese ‘demokrasie’. Miskien lyk dit oor 100 jaar beter? Ek dink nie ek het iets oor privaat eiendomsreg in die resensie gelees nie, dit is tog seker die hoeksteen van politieke en ekonomiese deelname? Dit is hoekom die VSA meer patente registreer as Sjina, sekerheid van intellektuele eiendom. Dan ook die navolgingswaardige voorbeelde wat genoem word nl. Engeland en Japan. Albei hierdie lande was reeds wereld leiers gewees toe dit nog absoluute monargiee was? Selfs met min natuurlike hulpbronne. Is ‘n innoverende bevolking tesame met politieke deelname dalk die sleutel?

  2. Rudolf 13 November 2013 at 07:32 Permalink

    “Politieke en ekonomiese vryheid is twee kante van dieselfde munt.”

    Dit is die kruks van die saak en ons moet altyd waak teen die volgende:

    “Die voorvereiste vir suksesvolle state lê in instellings wat verteenwoordigend is en reeds ‘n lewe van hulle eie het en nie meer deur ‘n klein elite verwyder of gemanipuleer kan word nie. ”

    Daardie klein “elite”, hetsy aangestel of verkies, wat ‘n hele volk kan vernietig.

    Ek haal aan: “What difference is it to me if a dicision is forced upon me by a dictator or by half my neighbours…? Either way, my freedom is lost.”

  3. Frank 19 November 2013 at 09:35 Permalink

    Dagse vriend,

    Jy ken my.

    Ek is net ‘n gewone ou. Nie liberaal nie en ook nie regs nie. Soms ‘n leier, soms volg ek. Ek is ‘n Christen Afrikaner, boer of afrikaansprekende wit man, dalk meer ‘n stadsjapie:) ‘n Kunstenaar. ‘n Pa, seun, vriend, broer en huweliksmaat…

    Ek is getroud, het 3 kinders.

    Ek kom uit ‘n middelklas afrikaanse huis, ek was in ‘n gewone Afrikaanse model C skool, het op Pretoria Technikon geswot en later verder studeur aan die Univeriteit van Suid Afrika.

    Ek het nie Ja of Nee gestem nie – ek was nog nie stemregtig nie…

    Ek sou myself nie as polities aktief sien nie, maar my mense is deesdae onder geweldige druk, dit is dan ook die punt van my skrywe.

    ‘n Regering wat as as meerderheid die minderheid onderdruk en hul mag misbruik, is my en ander afrikaners se realiteit. Ekonomies word ons onderdruk, asook sosiaal. My taal en kultuur se toekoms is onseker. Die boere is onseker van hul grond, en hul lewens. Ons jongmense kan nie keuring by universiteite kry om te studeer wat hulle wil nie, agv rasse kwotas – ten spyte van fantastiese punte. Hulle kry ook nie beurse by sekere organisasies nie, om werk by die staats diens te kry is ook baie skraal en deesdae word die groot korporatiewe instansies dieselfde. Afrikaanse skole en universiteite word die een na die ander na engelse instansies verander. Dorpsname en straatname word al vinniger en agressiewer verander na ANC struggle name. Moorde is van die ergste in die wereld om nie te praat van die plaasmoorde nie. Die polisie en regs sisteem is gebreek. Die geskiedenis word oorgeskryf en wittes of afrikaners is nou valslik as die grootste skurke in die geskiedenis geskets. Munisipaliteite val uit mekaar, ons paaie het van die gevaarlikste in die wereld geword, Ons veiligheid is onseker… uitermatige hoe belastings word op ons gehef – ‘n rekenmeester vriend het nou die dag 70 persent genoem indien als ingereken word… Haatspraak teen Afrikaners is raak al meer allerdaags en die rassehaat en aanslae word elke dag erger, openlik aangeblaas vanuit top strukture in die regering… so kan ek tot vervelens toe aangaan.

    Ongelukkig is baie van my mense nie werklik bewus van die ware toedrag en ernstigheid van sake in SA nie, ‘n tipe ongeergdheid wat oor hulle hang, miskien is dit omdat hulle so magteloos voel. Na jy ‘n ruk lank KYKnet, sport en ander algemene tv programme gekyk het voel dit half onwerklik dat dinge in die ‘regte lewe’ spoediglik aan die verkrummel is.

    Ek kan maklik immigreer, my broer en baie van my beste vriende is oorsee. Ek het dit al sterk oorweeg. Maar ek is hier om op ‘n vreedsame manier te bly en te veg vir ‘n vreedsame bestaan vir my mense. Ek skryf aan jou ‘n pleidooi. Met ander woorde ek pleit by jou vir ondersteuning… soms met trane in my oe. Vir die eerste keer is ek bang vir ons toekoms hier …

    Natuurlik eerstens vra ek vir gebede vir ‘n vreedsame uitkoms en dan daarmee saam finansieele hulp vir die organisasies wat ons saak bevorder. Wat nou aan die gebeur is, is nie regverdig nie, dit is nie reg nie. Dit is nie waarop ooreengekom is in 1994 nie… en dit wyk al verder af van die oorspronklike drome en ideale. Jy kan dit seker kontrakbreuk noem…

    Goeie nuus is dat die afrikaner besig is om te hergroepeer en het al ‘n hele paar organisasies opgerig om ons belange te probeer beskerm. Help asb die organisasies wat hul vir ons saak beywer, en waar jy kan, praat oor wat aan die gebeur is, en lees die nuus, die waarheid moet seevier. En wees POSITIEF!

    Dit is letterlik net R50 (5 dollar/pond/euro) per maand per organisasie. Ek lys 4 wat ek ondersteun.

    • Praag
    • Afriforum
    • Solidariteit
    • Orania

    Sien dit as 4 hamburgers per maand minder vir jou, maar ‘n reuse verskil wat dit aan die oorblywende Afrikaners in SA se lewens en voorbestaan kan maak, jou vriende en familie hier.

    Dinge is kritiek, ek steek my kop uit en vra vir hulp, ek sou dit nie doen tensy dit regtig nodig is nie…, maar ek sien donker wolke op die horison saampak.

    As jy die boodskap ook verder kan uitstuur aan nog individue, sal jy ons saak help.

    Dankie

  4. Tiaan 19 November 2013 at 20:50 Permalink

    Dankie vir n mooi pleidooi Frank ek hoop saam met jou op positiewe reaksie! Kan ek vra om miskien ook n vyfde hamburger op te offer en ook steun toe te se aan die Boere-Afrikaner Volksraad?
    Eendrag maak mag!
    Groete Tiaan

  5. william 21 November 2013 at 18:08 Permalink

    Afrika met al sy minerale rykdom en olie behoort die rykste kontinent te wees,maar dit bly arm. Japan het nie minerale nie en moet die meeste invoer. Vir baie lank was hulle die tweede grootste ekonomie in die wereld maar China het hulle verbygesteek. Hoekom is hulle so suksesvol?. Dit laat n mens dink.

  6. Dr. Krispien 24 November 2013 at 18:43 Permalink

    Lieber Sebastian Biehl,

    ist Ihnen vollständig entgangen, daß die sog. westliche Wertegemeinschaft durch sehr wenige, aber bekannte Oligarchen in London City und New York an den Rand des Abgrundes einer Deflation gebracht worden ist und die gesamte Welt mit in den Untergang zu ziehen im Begriffe ist?
    Ich empfehle Ihnen die Rezension von Georg Erber über das von Ihnen besprochene Buch.(http://oekonomenstimme.org/a/520/
    Gruß
    Krispien


Lewer Kommentaar

*