03 Maart 2011 ~ 34 Kommentare

Wat doen mense dan in Orania?

Geskryf deur Rozanne Meyer en Quintin Diederichs

 

Die legendariese Nasionale Pers-joernalis en professor extraordinaire van geskiedenis by die Universiteit van Stellenbosch, dr. Leopold Scholtz, het in ’n onlangse artikel verduidelik dat alhoewel hy skepties is oor ’n Afrikaner volkstaat, hy wel groot respek het vir Orania-leiers soos mnre. Carel Boshoff IV en Frans de Klerk. Verder meen dr. Scholtz dat “ons minstens die Orania-mense ‘n billike kans moet gee om te wys wat hulle kan doen”.

Vanjaar vier Orania sy twintigste bestaansjaar en as inwoner van die dorp kan ek getuig dat almal opgewonde is oor die feesvieringe wat deur die loop van die jaar hier gaan plaasvind. Kom ons skuif politiek vir eens opsy en kyk na die ware Orania. Wat doen ons in Orania? Wat behels die alledaagse lewe hier in die Afrikanertuiste en hoekom trek soveel Afrikaners dan na hierdie veilige Karoodorp?

Die rustige pas van die Oranjerivier wat verby Orania vloei bied ‘n skerp kontras met die besige tempo waarteen die dorp en sy inwoners beweeg. Afrikaner konstruksie spanne is om byna elke hoek en draai besig om nuwe huise en geboue op te rig terwyl die konstante gelui van klokkies aan winkels se deure klante verwelkom. Laggende kinders speel in groot boomryke tuine saam met hul maats terwyl motoriste vir mekaar in die verbygang glimlag en waai. ’n Mens merk onmiddellik op dat ’n gees van kameraderie  en opregte vriendelikheid in die dorp heers.

Besigheidsmense, kundiges, rolspelers en nuuskierige inwoners kom weekliks by die ouditorium bymekaar en vergader oor verwikkelinge wat in die dorp plaasvind.  Daar word planne beraam oor bv. hoe ontwikkeling versnel kan word, werkskepping uitgebrei kan word en nuwe behuising vir behoeftige Afrikaners geskep kan word. Komitees en taakspanne beraam elke dag planne oor o.a. die bevordering van toerisme, opgradering van die vliegveld en hoe om Orania esteties op te kikker.

Nuwe inwoners word by die dag opgemerk en verwelkom. Ondersteuners van oor die wêreld heen stig belangegroepe om Orania te help groei. Nuwe besighede soos ons luukse boetiekhotel, bistro, klerewinkel ens. pronk elke jaar uit wat eens ‘n verlate Karoolandskap was. Orania se ekonomie word geheel en al gebaseer op die suksesvolle beleid van volkseie arbeid. Dit beteken dat alles deur Afrikaners gedoen word, van die broodnodige rol wat die straatveër speel tot die gekwalifiseerde bankbestuurder. Almal is Afrikaners.

Daar is klubs vir sterrekykers, sportgeesdriftiges, fotograwe, “fonkel vroue”, omgewingsbewaring, rekenaarspeletjies ens. Bekende Afrikaanse musikante soos o.a. Chris Chameleon, Steyn Fourie, Dozi, Trevor Nasser, Rouel Beukes en Bok van Blerk pak gereeld die sale vol op Orania.

Afrikaners van omliggende dorpe soos De Aar, Van der Kloof, Hopetown, Kimberley en selfs Bloemfontein besoek Orania elke dag om ons skoon en veilige fasiliteite soos die rivier spa en die gemeenskap swembad te gebruik of om hul kinders by ons puik skole en koshuise in te skryf.

Gesinne kuier lekker oor naweke om braaivleisvure op die oewer van die Oranjerivier, vang vis of roei na die pragtige riviereilandjies rondom Orania. Rugby en ander sportsoorte word op groot skerms gewys in die restaurant of in die kuierplekke waar jongmense tot laataand sokkiejol.

Skolesport bring Afrikaanse skole van heinde en vêr op Orania bymekaar om teen mekaar te kompeteer. Orania se twee skole blink ook uit op akademiese vlak waar talle onderskeidings elke jaar deur ons matrikulante behaal word. Beide Orania se skole spog met ’n 100% matriekslaagsyfer vir 2010.

Wanneer daar van ’n volkstaat gepraat word moet mense nie vergeet hoekom ons vry wil wees nie. Die vêrregses, skreeuers en doemprofete mis die punt geheel en al. Dis die klein dingetjies wat saak maak soos om tussen ons eie mense ’n gelyke en regverdige kans tot sukses te hê wat daagliks tot voordeel van die breër Afrikanergemeenskap strek. Om nie skepties te wees nie, maar eerder te glo in Afrikaners se vermoë om op meriete te presteer en ‘n verskil te maak in Afrika.

Alhoewel meeste van die aktiwiteite wat in Orania plaasvind ook op vele ander plekke in suidelike Afrika gevind kan word is daar wel ’n verskil: ons sien volhoubare vooruitgang om ons terwyl ons daagliks onder ons eie administrasie vertoef. Oraniërs hoef nie te kla oor misdaad en munisipale dienslewering wat platgeval het nie, want te danke aan selfbeskikking en bestendige volkseie bestuur ervaar ons alles om ons heeltemal anders as Afrikaners wat in ANC munisipaliteite probeer oorleef.

Oraniërs hunker nie terug na die “goeie ou dae” nie. Ons werk immers vir ‘n opwindende toekoms waar vry Afrikaners ons regmatige plek tussen die nasies van die wêreld kan inneem en sê dat met óns land en met óns volk gaan dit goed, God regeer.

Deel/Stuur

34 Reaksies op “Wat doen mense dan in Orania?”

  1. Ben le Roux 3 Maart 2011 at 14:29 Permalink

    Ek onthou ‘n YouTube video van so ‘n paar jare gelede. Een aand het ek Orania ingetik om te sien wat ‘onbetrokke’ buitestanders van Orania dink en hoe hulle dit ervaar. Een poging van sowat 5 minute lank,het ‘n windverwaaide pad gewys met ‘n glasskerf van ‘n brandewyn bottel tussen die padgruis. Gras wat wuif in die wind en so nou en dan die geluid van ‘n kar wat teen ‘n hoee spoed verbyvlieg.Die enigste fotos van die dorp self het ‘n deel van ‘n vervalle gebou gewys met ‘n druppende kraan wat half toe gegroei en verwaarloos daar staan. Baie duidelik ‘n kwaadwillige poging om Orania te diskrediteur. Hoekom word dinge soms so verdraai, wonder mens dan. Gelukkig boemerang sulke dinge gewoonlik want as so ‘n negatiewe persepsie by sommige geskep is en hulle sou later daar opdaag is die verrassing net soveel groter en aangenamer.Aan diegene wat se dat ons nie kan saamstaan nie en vir wie Orania nog nie die magtige dreuning verteenwoordig nie,julle kan nou maar gerus julle oogklappe begin afhaal,dit is op pad! Orania kan nie meer misken word nie!

  2. Chris 3 Maart 2011 at 17:53 Permalink

    @Ben le Roux
    Daar staan ook ‘n video van MetropolisTV (‘n Nederlandse tv doku-reeks van die “verlinkse” VARA-uitsaaikorporasie) oor Orania op internet. Hulle ondervra ‘n inwoner van Orania en hulle vra hoe hy dink oor Orania. Hy sê in Afrikaans: “Die inwoners van Orania hunker NIE na Apartheid terug (nie), hulle kyk na die toekoms”. En wat staan daar in die (Nederlandse) ondertitels? “De inwoners van Orania hunkeren terug naar de Apartheid en zij kijken NIET naar de toekomst” Ek het hierdie stukjie baie geluister en die programmakers het die woord “nie” in die ander deel van die sin geplaas, waardeur die betekenis van die sin baie anders word! Maar hierdie uitsaaikorporasie word noudaags ook as baie links beskou…

    • Sara 4 Maart 2011 at 09:02 Permalink

      @ Chris Dis amper soos die ou grappie van die grafopskrif waar hulle die komma op die verkeerde plek geplaas het, naamlik “Hier leg my vrou Griet in die hemel is sy, niet in die hel dit weet ek wel” word toe “Hier leg my vrou Griet in die hemel is sy niet, in die hel dit weet ek wel.

      Om verdraaiings oor die Afrikaner die wêreld in te stuur was nog altyd aan die orde van die dag en so sal Orania ook moet deurloop. Dis egter verblydend om te sien hoe buitelanders op die Orania besoekersboek positief reageer. Ek dink by die meeste volkere wat die Westerse Christelike beskawing aanhang is daar op die oomblik ‘n versugting om weg te kom van multi-kulturisme na ‘n plek soos Orania waar hulle eie kultuur gekoester word.

    • ARNOLD DE BEER 4 Junie 2011 at 16:37 Permalink

      Het dit self beleef.BBC.
      Moet nooit ‘n onderhoud met die varke voer nie.
      moet hulle nie eens innooi nie.
      Ek het amper een van hulle gegryp by E.T. se begrafnis.
      Ons sit met soortgelyke Afrikaner verslaggewers.Hulle verkoop hulle produksies vir groot somme geld oorsee.
      En hulle word aangemoedig deur hulle base om dit te doen.
      gewetenlose komministiese gespuis.

  3. ELVN 4 Maart 2011 at 12:37 Permalink

    Ek en my vrou wil vreeslik graag ook inwoners van
    Oranie in so 5jaar se tyd word. Ek verneem dat die werk maar skaars in Orania is, asook behuising wat duur is. Wat is die vooruitsigte vir ons? Ek (45)is ‘n rekenaarkonsultant en my vrou (50)’n boekhouer.
    Kan iemand dalk kommentaar lewer asb?

    • Mike 4 Maart 2011 at 14:35 Permalink

      ELVN My voorstel is om vir Frans de Klerk self te skakel. Jy sal sy tel. nommer op die webwerf kry.

    • Gerhard 4 Maart 2011 at 15:00 Permalink

      Ek’s 23 en is self n sagteware ingenieur. Op die oomblik is daar nie veel van toekoms vir my op Orania , maar dit sal verander – al moet ek dit self doen! Ons moet die wereld na Orania bring!

    • Dick Davel 20 Mei 2011 at 08:18 Permalink

      Orania is die ankerpunt van ‘n streek, Elvn kan gerus verder kyk as net Orania, soos Hopeown wat maar 40km van Orania is. ek woon in Hopetown en beywer my vir die uitbou van die Volkstaat met Orania as die Hoofstad.

    • Prof Louis 11 Desember 2012 at 21:31 Permalink

      wat het gebeur na u navraag n wyle gelede?

  4. Cor Ehlers 4 Maart 2011 at 13:30 Permalink

    Aan almal by Orania, ek het op Solidariteit se blog gelees dat prof. Carel baie ernstig siek is. In die lig van die feit dat ek vir hom en sy hele gesin nog net altyd respek gehad het, ook vir sy deursettingsvermoë wat betref die hele Orania-poging, wil ek vir julle almal wat by Orania betrokke is sterkte toewens en mag die Here prof. Carel en sy naasbestaandes krag en vertroosting bied in hierdie moeilike tyd.

  5. Mike 4 Maart 2011 at 15:00 Permalink

    Quintin! baie insiggewend. Ek het baie baie jare gelede ‘n draai gaan maak op Orania toe ek vir ‘n tydjie moes gaan werk het op Kimberley. Ek weet nie hoe die dorp nou lyk nie maar ek wil ‘n voorstel maak. Orania moet sy voorkoms aantreklik te maak vir die besoeker. ‘n Pragtige dorp met bome, plante, netjiese blomtuine vang maar altyd die oog van enige besoeker. Dit laat ook ‘n blywende indruk. Dalk word dit lankal gedoen ek weet nie, ek sal graag wil sien hoe die dorp nou lyk.

  6. revo ('n Italiaanse dialek: EK KOM!) 4 Maart 2011 at 16:26 Permalink

    Hier waar ek sit en skryf, gaan my hart uit na my uitverkore en veror-dineerde volksgenote. Ek ken Orania goed, was al ‘n hele paar keer daar. Probeer om iets d.m.v. ‘n patent op die mark te bring om ook ‘n inset daar te kom maak. My grootste versugting is dat ons (1)die gees van vertwyveling, agterdog en eiewysheid sal eien vir wie hy is, nl. om verwarring te saai! en (2) om op te hou om van Babilon se verslawende maar gemengde drank uit haar goue kelk vol lasterlike name te drink, sodat ons weer nugter kan word. Het ons ‘n idee wat die gevolge gaan wees? Ek glo nie, want ons is so gebreinspoel, ge-indoktrineer op ‘n dwaalspoor gebring dat, indien ons dit sou geweet het ons spoedig verslae sou staan oor die goedheid wat ons Hemelse Vader oor ons na ons bekering sal bring. Amein – dit sal so wees!

  7. Pienaartjie 5 Maart 2011 at 09:48 Permalink

    In die SONSIG SKRYFKRING se KOMMAPUNT, oplaag nr.33 van Tweede Maand, 2011, lees ek hierdie interessante stukkie raak wat Harriette gepen het. Omdat hulle nie kopiereg op bydraes het nie, sal sy my sekerlik nie verkwalik as ek enkele van haar waarnemings met julle deel nie.

    “Ek verkneukel my so aan Afrikaanse woorde: tekenend, klankryk, onvertaalbaar. Mense wat nie moeite doen met hulle taal nie, ontse^ hulleself baie onverwagse plesier.

    Blokkiesraaisels bly vir my ‘n bron van vreugde. Nou die dag bring ‘n woord wat ek seker sewentig jaar gelede laas gebruik het, my hele kommerlose jeug in die veld van Wes-Transvaal binne in my … sitkamertjie in: ‘erdmannetjie’ vir meerkat. Ons het graag getel hoeveel erdmannetjies uit hul gate loer as ons kinders verby hulle kolonies stap …

    N.P. van Wyk Louw se grootse versdrama ‘Raka’ word nie meer so dikwels opgehaal nie. Dis jammer, want elke geslag moet hierdie belewing van die stryd teen die Bose opnuut ontdek. Koki, wat die goeie beliggaam, sien met ontsetting hoe die kinders en die vroue onder die bose mag van Raka kom. Daarom kondig hy die aand by die vure aan:

    ‘Raka, die groot dier, moet dood! …
    Die swart dier sal nie van julle wyk;
    hy kruip na julle vure toe in die nag,
    en waar julle kinders speel, hou hy die wag
    tot niemand meer wild is vir sy bot hand; …
    Maar toe die stemme in die smoor nog hyg,
    toe Koki weer:’En ek sal gaan’
    want in die skreeu het hy stil verstaan
    dat dit sy krag was, nie sy woorde, wat hulle prys;
    het hy begryp dat hy altyd eensaam met sy vrees
    om kosbare dinge tussen hulle sou wees.’

    (EN DAN! my insetsel)

    Terwyl ek onlangs in die argief met die dokumente van Prof. Carel Boshoff werk, kom ek weer op Raka en Koki af. Op ‘n stukkie los papier het hy aantekeninge gemaak. Die laaste sinne is nie voltooi nie, maar daar is genoeg om die strekking te begryp:

    WIE IS KOKI VAN ORANIA?

    – wat vry van selfbelang of die voordeel van eie partikuliere onderneming Orania se heil en welsyn voorop stel;

    – wat streef na beter sonder om in kompetisie te verval wat die teenstander wil onderkry in die drang om bo te wees;

    – wat deur liefde vir Orania gedryf word en daarom almal se belang – man, vrou, kind, kerk, skool of bedryf sonder aansiens des persoons of saak – verwesenlik te sien;

    – wat eie lewe feil het (HAT – feil[1] I s.nw. (-e). 1. Fout, misslag, vergissing; tekortkoming: ‘n Vriend wat my op my feile wys. UITDR.: sonder feil, sonder versuim … feil[2] I s.nw. (-e). Vryflap, vloerlap …) om die groter waardes van die volk se lewe tot voordeel te wees;

    – wat bevry is van haat en hatigheid, vry omdat hy nie die bewaring van eie identiteit najaaag ten koste van ander volke, geloofsgroepe, of dit nodig vind om enkelinge af te breek nie …;

    (En dan volg sy) Waar hierdie gedagtes uiteindelik ‘n tuiste gevind het (of sal vind – my insetsel), weet ek nie. Maar ek is dankbaar vir hierdie fragment…;

    Ons het almal behoefte aan ‘n Koki wat ‘altyd eensaam met sy eie vrees om kosbare dinge’ tussen ons sal wees. Harriette”

    En dan volg Van Wyk Louw se laaste profetiese woorde:

    En daar waar Koki se liggaam koud
    en stil in die gras was, die harder gebrul
    van die nuwe woede, wat die hutte vul,
    en die breek en die skeur …
    en Raka, die skelm dier, het opgestaan …

    My vraag is: Gaan ons ‘hom’ toelaat of gaan ons ons laat waarsku?
    Voorwaar, is Hy wie Hom oor ons wil ontferm nie groter as die false profeet wat met leuns ons as gevanges wil wegvoer nie?

    • Prof Louis 11 Desember 2012 at 21:35 Permalink

      Valse, nie false.. hoop op Hom wat WAARHEID en Lewe bring in die woestyn..

  8. elizma silver 16 Maart 2011 at 16:58 Permalink

    ek stel glad nie belang hoekom die dorp daar is nie en wat die rede is nie ek soek net veiligheid en regverdigheid en die antwoord op my vraag!!!! . .. . . . . is dit die antwoord????? is dit waar ek wil wees??? ek wil weet hoe dit daar is hoe die mense is en wat daar aangaan. dis tog die vraag op almal se mond is dit nie?

    • Ernie Langner 15 April 2011 at 11:44 Permalink

      Elizma, ek sal probeer antwoord. Dalk het iemand al klaar jou vrae beantwoord (?) Veiligheid en regverdigheid sal jy beslis op Orania vind, meer as in die omliggende dorpe. Maar as dit al is waarna jy op soek is, is Orania dalk nie heeltemal vir jou nie. Om daar te gaan bly sonder om die strewe na Afrikanerselfbeskikking en die beginsel van selfwerksaamheid te ondersteun gaan vir jou net frustrasie veroorsaak. As jy jouself as ‘n Afrikaner/Boer in murg en been beskou en glad nie omgee om al jou sleurwerk self te doen nie, sal jy dit geniet op Orania. Die dorp se mense verteenwoordig alle vlakke van die samelewing, met die verskil dat elkeen ‘n werk het en gerespekteer word vir dit wat hy/sy doen. Net soos met Afrikaners buite Orania, kry jy binne die dorp ook ‘n hele spektrum van denkrigtings, verskeie kerke, twee skole, ens. Daar is nie ‘n tekort aan diversiteit nie! Die heel beste ding vir jou om te doen is om vir ‘n naweek daar te gaan uitspan by een van die vele gastehuise/verblyfplekke. Sterkte met jou besluit!

      • Dick Davel 20 Mei 2011 at 08:27 Permalink

        Ek stem 100% saam met Ernie se antwoord, ek wil net vir Erisma dit byvoeg: As jy Orania toe kom vir dit wat Orania jou bied en nie ‘n voorneme het om self ‘n inset te lewer om ‘n droom en ideaal te bewaarheid nie, kom jy vir die verkeerde redes.

      • Prof Louis 11 Desember 2012 at 21:19 Permalink

        Ernie
        vertel asb meer van die verskeidenheid van kerke? NG sal daar beslis wees en wat nog? Ek bedoel Christelike kerke en ook inter-kerklik soos Sendings en onafhanklike gemeentes?

    • Prof Louis 11 Desember 2012 at 21:38 Permalink

      rose gaan ook dood, al is dit hoe mooi vir n tyd.
      Stel jou vertroue in die Here, nie in prinse nie.
      Lees Ps 23 weer.. eet n maaltyd terwyl jou vyande val..

  9. Wim 16 Maart 2011 at 21:48 Permalink

    My hart gaan uit na die familie van wyle Prof Carel Boshoff. Ook die beweging en dorp van Orania is vandag armer en sal hom sekerlik mis. Ons onthou vir suiwer ideale , denke en onvermoeide ywer vir die Self beskikkings reg en ideaal waarvoor hy geleef en gewerk het. Rus In Vrede oon Carel. Die stryd duur voort.

  10. Elsie Theunissen 13 April 2011 at 18:31 Permalink

    Hi, wil net weet of daar poste is in Orania, en hoe om te maak om deel van die gemeenskap te word? Belangstellende Suid Afrikaaner

    • Dick Davel 20 Mei 2011 at 08:38 Permalink

      Elsie, daar is werk, behuising is die grootste probleem, kry eers blyplek voor jy werk soek. maak kontak met Sebastian 0731649936

      • Prof Louis 11 Desember 2012 at 21:20 Permalink

        wat is die prys van behuising?

  11. Dawid 14 April 2011 at 07:08 Permalink

    Hoe kom ek daar? Hoe ver is dit vanaf Johannesburg lughawe?
    Dit klink vir my na n fantastiese belewenis, die feit dat asemstemme rondom jou so afrikaans-ryk kan wees, in een dorp..
    Is daar akkommodasie beskikbaar, of moet ons n geruime tyd vooruit bespreek? Is daar “plastiekgeld” fasiliteite?

  12. Dick Davel 20 Mei 2011 at 08:32 Permalink

    Dawid, maak kontak met Paula Celiers by afsaal, haar web paule@oranet.co.za ongeveer 500km van Jhb. die moeite werd!

  13. Karooseun 26 Mei 2011 at 02:43 Permalink

    Julle lewe nog in die verlede en nie in die toekoms nie.Apartheid is nog steens in julle gedagte en mening

  14. Dick Davel 26 Mei 2011 at 12:47 Permalink

    Karooseun, Daar is ‘n spreek wat sê: “as jy jou uitgee vir ‘n hond, moet jy kan blaf”. n Profeet of waarsêer kan sien of apartheid tot die verlede hoort en nie ‘n bewese vir die toekoms is nie, dit terloops.
    Apartheid voldoen aan verskeie definisies; die bybelse definisie beteken dit afsonderlik en heilig. Rassisties beteken dit voertsek jou vuilgoed. Nasionalisties beteken dit die behoud en beskerming van dit wat heilig en kosbaar is vir jou.
    Apartheid kan ook ander betekenisse hê vir die gebruiker van die woord, om jou plaas of perseel te omhein, om na jou eie kerk toe te gaan, om jou eie vriende te kies, om spesifieke gaste te nooi ens. In die verlede het dit afsonderlike ontwikkeling beteken, terwyl dit ook rassehaat en onderdrukking vertolk het. In die lig van die breë siening van hierdie veel misbruikte woord, is jou snou dalk ‘n kompliment, in daardie geval, baie dankie. as dit jou bedoeling was om die woord te gebruik as outyds en terug op die brug, maw. beledigend, wil ek net vir jou in liefde sê: Uit die gebalk van ‘n donkie, hoor jy sy onkunde. Apartheid in die regte konteks, is ‘n eer en hoogste vorm van beskawing, Heilig, behoudend, beskermend en afgeskei van die bose. Orania en die denke van nou is nuut, kreaktief en toekomsgerig, antitese vir agteruitgang en verderf wat tans in hoogste rat is. ek bid vir jou, met tyd sal jy bykom, net moed hou!

  15. THEO 16 Junie 2011 at 12:55 Permalink

    DAGSE MENSE.
    EK EN MY FAMIELIE WIL OOK GRAAG DAAR KOM KUIER EN DAN BESLUIT OF ONS DAAR GAAN KOM VESTIG.
    IS DAAR ENIGE INWONERS MET WIE ONS KAN GESELS EN DALK FOTOS KRY SOOS DIE TYD NADER AAN ONS BESOEK.
    GROETE THEO EN GESIN

    • Dick Davel 16 Junie 2011 at 19:52 Permalink

      Theo, jy is hartlik welkom!! Maak kontak met Paula Celliers by tel 0823166859, haar e-pos; paula@oranet.co.za as jy vir my jou posadres sms na 0724062202 kan ek vir jou heelwat inligting pos. Nog beter, maak direk kontak met oraniabeweging@orania.co.za of John Strydom 0829758132 Volksgroete

  16. FRANS 23 November 2012 at 13:22 Permalink

    Jis mense ek sou ook graag daar wou kom woon en werk maar dis regtig hoe se hulle, out of my leage.
    as ek dalk ‘n werk daar sou kon kry sou dit die ideaal wees maar my ouderdom tel teen my vir baie tipes werke, huidiglik is ek ‘n verteenwoordiger vir kantoor tegnologie en werk slegs op kommisie dit gaan maar broekskeur met die SA ekonomie so wat kan ‘n mens maak. As daar iemand is wat dalk weet van ‘n werk daar wat my sou kon gebruik sal dit hoog op prys gestel word, o,ja ek kan werklik enigeiets doen ( nie ‘n grap nie.) werklik als.
    E-pos my gerus. frans@yoharditrading.co.za

  17. Prof Louis 11 Desember 2012 at 21:12 Permalink

    Kontak my weer oor so n maand of wat, dalk kry ek self n plek op Orania of naby om n Universiteit op die been te bring en dan kyk ons of u werklik enigeiets kan doen? (DNA manipuleer of wat ookal)

  18. Prof Louis 11 Desember 2012 at 21:40 Permalink

    Kna my 7 honde saam met my in Orania kom bly? Sien gastehuise laat dit nie toe nie..

  19. Cecil 14 Junie 2016 at 20:19 Permalink

    Naand mense ek het nou al baie gelees van Orania waar die dorp begin het ens. Ek wil graag weet van behuising is daar huise om te huur?

    • Sebastiaan 16 Junie 2016 at 11:06 Permalink

      Beste Cecil,

      behuising is skaars omdat ons nie kan voorbly met die bouwerk nie en die behoefte groot is. Daar is wel huurhuise van tyd tot tyd beskikbaar en die beste sal wees om die eiendomsagente te kontak.
      Navrae vir beskikbare eiendom in Orania

      1. Afsaal Eiendomme
      Kontakpersoon: Theo Röhm
      Werktelnr: 053-2070040
      Selnommer: 082 316 6859
      Webblad: http://www.afsaal-op-orania.co.za
      E-pos: eiendom@afsaal-op-orania.co.za

      2. Orania Eiendomme
      Kontakpersoon: Riana Els
      Selnommer: 0725189434
      E-pos: oraeiendomme@gmail.com

      3. Vluytjeskraal Noord Boerdery en Ontwikkeling Bpk
      Kontakpersoon: Manie Opperman
      Selfoonnr: 083 225 8199
      Webblad: http://www.vkn.co.za

      E-pos: admin@vkn.co.za

      4. Orania Dorpsraad
      Kontakpersoon: Christo Conradie
      Telnr: 053 2070063
      E-pos: christo@orania.co.za

      5. SEEFF Eiendomme
      Kontakpersoon: Kobus van der Merwe
      Telnr: 072 5472 157
      E-pos: orania@seeff.com
      Straatadres: Granaatsteenstraat A177 LM Rekenmeesters en
      Olienhoutweg S017 Die Wynhuis

      6. Sommige eiendom word ook privaat deur eienaars verkoop.


Lewer Kommentaar

*