20 Maart 2017 ~ 6 Kommentare

Was kolonialisme net sleg?

Geskryf deur Sebastiaan Biehl

Die Wes-Kaapse premier, Helen Zille, was onlangs in die sop oor ʼn twiet wat lui: “For those thinking colonialism was ONLY negative, think of our independent judicary, transport infrastructure, piped water etc.” Ander wit DA politici was ook al in die moeilikheid en is hart gestraf oor soortgelyke opmerkings wat sekere persone of gebeure in die verlede in perspektief probeer plaas.

In ʼn party soos die Demokratiese Alliansie met ʼn lang liberale tradisie mag sekere goed nie gesê word nie, en geld vryheid van spraak nie in alle opsigte nie. Dat haatspraak en rassisme nie deur die vryheid van spraak gedek word nie kan ʼn mens verstaan, veral in die plofbare Suid-Afrikaanse opset. Dat egter ʼn historiese tydperk wat nou al meer as ʼn halfeeu teruglê, so veel emosies gaande maak dat nie eers aspekte daarvan gedebatteer mag word nie, wys oorsensitiwiteit, onvolwassenheid, en erger nog, ʼn voorskryf oor die nasionale diskoers.

Geen geskiedenis, geen politieke analise kan geskryf word as voor die tyd bepaal word dat die skrywer net negatief of net positief oor ʼn saak mag skryf. Sou die ANC byvoorbeeld beweer dat hulle struggle en elke aspek daarvan net positief was? Waarskynlik ja. Dit lei tot ʼn absolutistiese begrip van die waarheid soos wat dit in kommunistiese lande die praktyk was en is: Die “revolusie” mag nie bevraagteken of beoordeel word nie, die party het die monopolie op die waarheid. Alles aan die “revolusie” (ten spyte van al die lewensverliese en gruweldade) was glorieryk en edel, alles aan die stelsel wat oorwin is was boos. Wie die edelheid van die revolusie en die party bevraagteken, is gedoem, is ʼn “counter-revolutionary”, ʼn “fascis” (selfs oortuigde kommuniste wat verskil met die leier en sy ideologie word so gebrandmerk) en moet uit die openbare sfere verwyder word.

Juis onder liberales is een van die gunsteling gesegdes: “Ek mag van jou opinie verskil, maar ek sal daarvoor veg dat jy mag sê wat jy wil”. Klaarblyklik het die DA sy liberale wortels vergeet en probeer die ANC in elke opsig naboots.

Ironies daarby is dat diegene wat kolonialisme beveg en uiteindelik oorwin het, nie met kolonialisme wou wegdoen en wou terugkeer na ʼn pre-moderne pastorale bestaan nie, maar dat hulle ook die vrugte van kolonialisme wou pluk. In menige Afrika-lande is die wit deur die swart elite na onafhanklikheid vervang, maar die koloniale taal, die koloniale grense, die koloniale politieke en regstelsel, die Westerse infrastruktuur en selfs sekere koloniale gewoontes (soos die liefde vir gin en whiskey en Westerse klerezillestyl) het die einde van die ou bedeling oorleef.

Dit was ʼn pragmatiese besluit om op die fondasie van kolonialisme op te bou en om dit nie totaal te vernietig nie. Met verloop van tyd is wel sekere straat- en dorpname verander en monumente verwyder en ander opgerig, maar niemand het ernstig ʼn terugkeer na ʼn argaïese verlede met stamstelsel, landelike hutte, donkiekarre en handploeë bepleit nie.

Mev. Zille is reg as sy ʼn sekere nalatenskap van kolonialisme uitlig wat nie negatief was nie. Die Westerse regstelsel wat Afrika geërf het, was beter as die irrasionale en eensydige verhore deur die stamhoof met sy porsie bygeloof en toordery. Almal in Afrika is dankbaar vir spoorlyne en paaie (ten spyte van hulle beperkinge) wat handel en reis moontlik maak en niemand wat eers in ʼn voorstedelike huis met krag en water gewoon het, wil permanent terugkeer na ʼn stelsel met ʼn put en lang afstande nie, hoe oorspronklik en romanties dit ook mag voel vir die oppervlakkige waarnemer.

Die anti-koloniale stryd was nooit teen alles van die Westerlinge gewees nie, maar veral teen die vernederende stelsel van ongelykheid. Anti-koloniale literatuur (en literatuur as sodanig is ook ʼn nalatenskap van die kolonialiste) berig nie so seer van die gevare deur motors of treine, of die besoedeling van die oorspronklike Afrika-opset nie, maar van die persoonlike vernedering wat die meerderheid van die land moes ervaar. Niemand keer dit goed of weeg dit op teen die materiële voordele nie. Wat wel gesê moet word, is dat die koloniale verlede net so elke Afrika-land in ʼn mindere of meerdere mate gevorm het en dat dit deel is van wie jy is, of jy soos Helen Zille ʼn nakomeling van die eertydse elite, of, soos Mmusi Maimane, van die eertydse onderdruktes is.

 

Deel/Stuur

6 Reaksies op “Was kolonialisme net sleg?”

  1. Pieter van Niekerk 21 Maart 2017 at 15:34 Permalink

    Ons almal weet dat kolonialisme gehelp het om Suid-Afrika te bring waar dit vandag is. Nee eintlik waar dit 20 jaar gelede was. Oor die afgelope 20 jaar het Afrikanisme stadig maar onverbiddelik Suid-Afrika in sy m*** gestuur.

    Feit van die saak is dat Zille ‘n dom onnosel opmerking gemaak het. Sekere dinge word net nie gesê nie.

    Veral tragies is dat dit die DA ‘n yslike knou gee en ‘n knou vir die DA is ‘n knou vir Suid-Afrika. Die DA, ongeag of jy dié party laak of lief het, is die enigste party wat hoegenaamd ‘n kans het om die korrupte mag van die ANC te breek.

  2. Coen van Wyk 22 Maart 2017 at 12:15 Permalink

    Die antwoord op die vraag, “Was kolonialisme net sleg?” is ‘n besliste, “JA!”

    EN DIT IS DIT NOG STEEDS!

    Ek haal die volgende aan uit, “Stanford Encyclopedia of Philosophy”:

    (a) “Colonialism is a practice of domination, which involves the subjugation of one people to another.”

    (b) “The legitimacy of colonialism has been a longstanding concern for political and moral philosophers in the Western tradition. At least since the Crusades and the conquest of the Americas, political theorists have struggled with the difficulty of reconciling ideas about justice and natural law with the practice of European sovereignty over non-Western peoples.”

    Die antwoord op ‘n vraag of kolonialisme die oorsaak was van gunstige ontwikkeling in lande wat blootgestel was aan kolonialisme, is ook ‘n besliste, “JA”. Maar dit wettig nie die “subjugation of one people to another”.

    Kolonialisme en Apartheid is dus in dieselfde “sleg” bootjie!

    • Sebastiaan 23 Maart 2017 at 09:46 Permalink

      As die vraag is “Was kolonialisme ‘n stelsel wat mense verneder en ongelyk behandel het?” is die antwoord sonder twyfel ja. Mev. Zille het dit nooit in twyfel getrek nie. Wat sy wel te reg sê, en wat selfs post-koloniale denkers uit die voorheen onderdrukte groep toegee, is dat kolonialisme positiewe gevolge gehad het wat vir hulle lande tot ‘n seen was, soos die fondasie waarop ‘n moderne en werkende staat opgebou kon word. Ek sou beweer dat Indië nie die groot moondheid sou wees wat dit vandag is as dit nie 150 jaar onder koloniale beheer was nie. Daarsonder sou dit waarskynlik ‘n reeks klein feodale staatjies wees wat in permanente oorlog met mekaar was. Ons het hier te veel te doen met “die oorwinnaar skryf die geskiedenis”, nie met die werklike toedrag van sake nie. As skrywers en historici nie ‘n saak van alle kante mag belig nie dan is ons op pad na totalitêre denke toe.

  3. Gerrie 25 Maart 2017 at 06:08 Permalink

    Waar los al die opmerkings my en jou wat geboortereg in S.A. het?

  4. Hanno Visagie 3 April 2017 at 16:52 Permalink

    Goed beredeneerde artikel en repliek – dankie Sebastiaan.

  5. Japie Naudé 4 April 2017 at 21:28 Permalink

    Die bewerings dat die Kolonialeregerings teen die swart inwoners gediskremeneer en hulle verneder het is net `n rookskerm omhulle eie onbekwaamheid, afguns en minderwaardigheids gevoel teenoor die blankes te verberg.
    In SA is daar nie genoeg bekwamee en bevoede swart persone om die huidige onbekwame en korupte amptenare te vervang nie. Die vele bekwame en bevoegde blanke persone mag nie aangestel nie.


Lewer Kommentaar

*