23 April 2014 ~ 0 Kommentaar

Was die Mandelabewind die goue era?

Geskryf deur Sebastiaan Biehl

Binnekort is dit die 20ste verjaardag van die “nuwe Suid-Afrika” onder die beheer van die ANC wat deur ‘n algemene en gelyke verkiesing in 1994 aan bewind gebring is. Dit is tans ook weer verkiesingstyd en sowel regering as opposisie beroep hulle gereeld op die gees van mnr Nelson Mandela, die stigterpresident van die “nuwe, demokratiese Suid-Afrika”. Die ANC-regering probeer sy swak rekord van regering verbloem deur daarop te wys dat hulle die land bevry het en dat mnr Mandela hulle held is. Die opposisie beroep hulle daarop dat hulle die gees van mnr Mandela, soos goeie landsbestuur, versoening en ‘n Suid-Afrika vir almal, verteenwoordig, terwyl die ANC lankal daarvan wegbeweeg het.

Onder Afrikaners, altans volgens dit wat ‘n mens in Naspers-koerante lees, is daar ‘n soort nostalgiese heimwee na die “goue era van Mandela”. Alles voor 1994 was sleg en die beste tyd wat Suid-Afrika ooit gehad het, was volgens dié redenasie die kort tydperk van mnr Mandela se regering tussen 1994 en 1999. Hou die stelling enigsins water?

Natuurlik was die Mandelabewind in vergelyking met vandag ‘n beter tyd: die politiek was meer konsensusgedrewe, versoening en ‘n nuwe begin was die boodskap, nie wraak nie. Suid-Afrika was die liefling van die internasionale gemeenskap en sportspanne, bekende kunstenaars en veral toeriste het na die nuwe belofteland gestroom. Die oorwinning vir Suid-Afrika in die rugby-wêreldbeker kort na die aanbreek van die nuwe bewind was ‘n soort “trougeskenk” om die nuwe tydvak op ‘n hoë not te laat begin.

As ‘n mens egter terugdink aan die jare, wat ek nog goed kan onthou, is die basis vir die huidige swak toestand reeds toe al gelê. Mnr Mandela se retoriek wat vir almal iets gebied het, het dikwels die praktiese politiek van die ANC verdoesel. Regstellende aksie en swart ekonomiese bemagtiging is reeds in die Mandela-era ingestel. Omdat talle instellings waar Afrikaners sterk verteenwordig was, soos universiteite, egter nog stadig getransformeer het, was dit vir die meeste mense nog nie voelbaar nie.

Op die keper beskou kyk Afrikaners vandag nostalgies terug na die Mandelabewind omdat daar nog heelwat van die ou Suid-Afrika, met sy stempel wat Afrikaners op die land afgedruk het, sigbaar en voelbaar was. Naamsveranderinge het nog nie ‘n algemene verskynsel geword nie, misdaad was nog nie so hoog soos vandag nie, skole en hospitale nog op ‘n goeie standaard. Niks daarvan was egter mnr Mandela se verdienste nie. Waarvoor mnr Mandela lof verdien, was sy politiek van simbolisme en groot gebare, waarvan die besoek by sy eertydse vyande of hulle vroue (soos die besoek aan mev Betsie Verwoerd op Orania in 1995) ‘n goeie voorbeeld was.

In die praktyk het mnr Mandela hom egter min met die dag tot dag politiek bemoei en dit reeds in ‘n groot mate aan sy visepresident, mnr Thabo Mbeki, oorgelaat, veral na die bekendstelling van die nuwe grondwet in 1996. Die partytjiestemming van 1994 het toe begin plek maak vir ontnugtering. Alhoewel die grondwet wyd geloof is as ‘n modelgrondwet, kon dit nie die sosialisties-geïnspireerde en rasgedrewe ANC-beleid keer nie. Dit was ook in die Mandela-era waar grootskaalse aanvalle op IVP-ampsdraers en ondersteuners in veral Kwa Zulu-Natal plaasgevind het.

Die duidelikste bewys dat die Mandela-era, veral die tweede helfte, vir Afrikaners en ander blankes nie ‘n goue era was nie, was die feit dat die Demokratiese Party met ‘n aggressiewe veldtog, wat blanke griewe aangespreek het (met slagspreuke soos “gatvol!” en “slaan terug!”), in die 1999-verkiesing so besonder goed gevaar het, terwyl die party wat verantwoordelik was vir die nuwe Suid-Afrika, die Nasionale Party van FW de Klerk, by die stembus deur Afrikanerkiesers gestraf is.

Deel/Stuur

Lewer Kommentaar

*