13 Mei 2014 ~ 2 Kommentare

Ware bedreigings en ware oplossings

Geskryf deur Jaco Kleynhans

Tydens die pasafgelope nasionale verkiesing het Afrikaners weer gewys wie hulle as hul grootste bedreiging beskou. Dit is natuurlik die ANC. Dié groot magtige party moet net gestop word is die antwoord wat jy by ‘n groot meerderheid Afrikaners sal kry as jy vir hulle vra wat die kriteria is wat hulle in politieke besluitneming gebruik.

Die idee om die ANC te stop is tekenend van die Afrikaner se oubekende praktiese manier van probleemoplossing. Om reeds vir meer as 350 jaar in Afrika te kon oorleef moes Afrikaners leer om baie pragmaties met hul probleme om te gaan. Die geskiedenis wys vir ons beide die positiewe en negatiewe resultate hiervan. Piet Retief se pragmatisme het hom lelik in die voet geskiet. Daarteenoor was die Boere se pragmatiese hantering van groot probleeme en uitdagings tydens die Tweede Vryheidsoorlog baie keer juis hul redding.

Die huidige uitdagings wat Afrikaners in die gesigstaar herinner ons aan soveel kere vantevore toe ons hier in Afrika met die rug teen die muur gestaan het. In die verlede het ons elke keer ‘n manier gevind om oor hierdie muur of noem dit dan maar ‘n bestaansversperring te kom. Elke keer nog het ons daarin geslaag om anderkant uit te kom en weer ‘n nuwe begin te maak. So was die Groot Trek tydens die negentiende eeu ‘n praktiese oplossing vir die probleme van die Boere aan die Oosgrens. Na die Tweede Vryheidsoorlog was ons mense in sak en as, maar verstedeliking en nasionalisme het onder die verskeie praktiese antwoorde getel wat gebruik is om weer bo uit te kom.

Afrikaners is vandag weer weerloos. Daar is regoor die wêreld waarskynlik minder as 3 miljoen blanke, Afrikaanssprekende mense oor. Van hierdie groep assosieer ‘n toenemende deel hulself nie meer met die Afrikanerkultuur en tradisies en selfs die Afrikaanse taal en Christelike geloof nie. Soveel as 20% van ons mense het reeds die land verlaat en is grotendeels vir die behoud van ons volk verlore. Ons getalle krimp vinnig. Plaaslik word ons mense aan vervreeemding en diskriminasie onderwerp. Ons kinders word in baie staatskole geïndoktrineer en selfs die Afrikaanse media speel saam met die afbreek van ons beeld en die skep van ‘n persepsie dat Afrikanerskap verouderd, agterlik en iets van die verlede is.

Om ons probleme op te los moet ons egter begin by probleemidentifisering. Is die ANC regtig die Afrikaner se grootste bedreiging? Kan ons werklikwaar alles wat met ons verkeerd gaan voor hulle deur gaan lê? Kan ons deur net eenvoudig teen die ANC in ‘n verkiesing te stem ons probleme oplos? Waarskynlik juis nie en dit is dan ook waarom die antwoorde wat ons tans probeer skep so verkeerd is. Die Afrikaner se werklike probleme is eerstens die feit dat ons regoor Suid-Afrika verspreid woon, tweedens dat ons ‘n bevoorregte minderheid is wat as ‘n voormalige verdrukker beskou word en derdens die lawwe idee wat baie Afrikaners in hul ronddra dat indien ons, ons alles vir Suid-Afrika gee, daar groot begrip vir ons voortbestaan sal wees. Die oplossing vir ons mense lê in konsentrasie, samewerking ten spyte van ons verskille en ‘n verlaging van Suid-Afrika en ‘n verhoging van die Afrikaner op ons prioriteitslys. Dan mag daar dalk net hoop vir oorlewing wees.

Deel/Stuur

2 Reaksies op “Ware bedreigings en ware oplossings”

  1. T Theron 13 Mei 2014 at 20:39 Permalink

    Wat die Afrikaner ook al doen in Afrika ten einde te oorleef, dink ek is die volk by die punt in sy voortbestaan waar slegs ‘n Wonderwerk of ‘n paar Wonderwerke (bonatuurlike ingryping) deur die God van die Bybel, hierdie volk se voortbestaan sal bewerkstellig. Orania se ‘klein begin’ is nie te versmaai nie.

  2. Stephan 16 Mei 2014 at 12:39 Permalink

    Dit is net interessant dat mense wat afrikaans en blank is nie meer as afrikaners gesien word in Orania se aannemingskontrak nie slegs omdat hulle nie christene is. Die tradisionele afrikanerbewegings maak ‘n fout deur die afrikaner so eng te tipeer. Daar is baie van ons wat ‘n nuwer benadering teenoor die lewe met sy denkwyses het maar steeds afrikaans en europees wil wees.Miskien is dit tyd dat ook die Orania beweging bietjie uit sy eng kraalmure uitkyk.


Lewer Kommentaar

*