08 April 2014 ~ 6 Kommentare

Wanneer is jy ‘n Oraniër?

Geskryf deur Francois Joubert

Seker een van die mees gewilde vrae wat besoekers aan Orania vra is : “Nou wat verhoed mense wat hulleself nie as ‘n Afrikaner beskou nie, om in Orania te vestig?”

Hierdie vraag word dikwels gevra nadat die proses waardeur potensiële inwoners moet gaan om verblyfreg te bekom aan hulle verduidelik is. Die vraag word selde moedswillig gevra ten einde die volhoubaarheid van Orania as Afrikanervestigingsgebied te bevraagteken, maar meer dikwels as gevolg van ‘n eerlike besorgdheid oor die pad vorentoe.

Die proses wat nuwe potensiële Orania-inwoners moet deurgaan om verblyfreg te bekom, is nie ontwerp om die eerlikheid van mense te toets nie, maar meer om so ‘n persoon die geleentheid te gee om sy rede vir die aansoek aan ‘n paneel te verduidelik en vir die paneel om die onderliggende waardes van die gemeenskap, soos die Christelike lewensbeskouing, selfwerksaamheid en die gebruik van Afrikanerarbeid aan die persoon te verduidelik. Natuurlik kan so ‘n aansoeker duistere motiewe hê sodat hy deur sy optrede tydens die onderhoud die paneel mislei en ‘n positiewe indruk op hulle maak.

Die redes waarom mense in Orania wil kom vestig is egter so so uiteenlopend dat dit nie moontlik is om ‘n standaardantwoord te definieer wat deur die paneel gebruik kan word as maatstaf vir goedkeuring vir verblyfreg nie. En dit is ook goed so, want die werklike toets vir die volhoubare vestiging van ‘n persoon in Orania lê na my mening nie opgesluit in die voldoening aan reëls en regulasies nie. Dit lê in die wyse waarop die persoon inskakel by die gemeenskap en die gemeenskap die persoon aanvaar, ongeag sy herkoms, as deel van hulle eie. Om dit anders te stel : deur net in die hoofstraat van Atene af te hardloop en uit volle bors te skreeu “ Ek is ‘n Griek! Ek is ‘n Griek!” maak nog nie van my ‘n Griek nie. Slegs as die sosiale kontrak tussen my en die ander Grieke gesluit is waardeur hulle my aanvaar as ‘n Griek, is ek ‘n volwaardige Griek.

Indien verblyfreg dan aan ‘n persoon toegestaan word kan die resultaat van hierdie onderhoud niks meer wees as ‘n bereidwillige voorneme van die gemeenskap van Orania om ‘n sosiale kontrak met die persoon te sluit nie. Of die persoon aanvaar gaan word as ‘n volwaardige Oraniër, sal slegs die tyd leer. Wat wel gesê kan word, is dat die verblyfregonderhoud die maklike gedeelte van die proses is. Die opneem in die gemeenskap mag, afhangende van die persoon se ingesteldheid, baie maklik of baie moeilik wees.

Die antwoord op die besoeker se vraag kan dus soos volg geformuleer word: Geen stelsel gaan ’n persoon keer wat met voorbedagte rade hier wil kom vestig nie. Indien die gemeenskap, met hulle breër en uiteenlopende waardes hom egter nie opneem en hom deel maak van hulle eie nie, gaan sy verblyf in Orania baie eensaam wees en sal hy dalk na ‘n jaar of twee die gemeenskap uit eie vrye wil verlaat. Indien hy egter sy kant van die sosiale kontrak nakom en hom ten volle toewy aan die gemeenskap se waardes, sal die uitkoms tot almal se voordeel wees en sal hy as ‘n Oraniër erken word.

Die vraag is in wese ‘n kultuurvraag, maar daaroor sal ek in ‘n volgende bydrae meer uitwei.

Deel/Stuur

6 Reaksies op “Wanneer is jy ‘n Oraniër?”

  1. Lizel Naude 8 April 2014 at 12:55 Permalink

    Goeie Dag. Is dit moontlik om aanlyn aansoek te doen om in ORANIA te bly?

  2. tulp 8 April 2014 at 19:50 Permalink

    Lizel, ons glo daar is. Hier is die epossie:

    inligting@orania.co.za

    Ons glo, jy moet vra vir John Strydom.
    Maar miskien kan jy beter skakel. Jy kry die foonnummer op hierdie webtuiste.
    mooi-loop

    • Petro 8 April 2014 at 21:32 Permalink

      HALLO

      EK EN MY VERLOOFDE MET ONS BABA WIL GRAAG WEET HOE ONS IN WERKING KAN KOM OM WERK TE KRY IN ORANIA EN OOK BLY PLEK ONS HET LANK OOR DIT GESIT EN GESELS EN WIL GRAAG TREK NA ORANIA.

      GROETE
      pETRO

      • Lida Strydom 11 April 2014 at 09:03 Permalink

        Lizel en Petro

        Dit is tans nog nie moontlik om aanlyn aansoek te doen om in Orania te bly nie. Ons is tans besig om aan die proses te werk en om dit te verfyn.

        Voordat ‘n mens in Orania kom woon en werk moet ‘n mens seker maak dat jy Orania se strewe verstaan. Jy moet dus weet dat dit ‘n gemeenskap is waarin die Christelike geloof as eerste beginsel geneem word, daarna is die belangrikste doelwitte die beskerming van die Afrikaner-kultuur, taal en geskiedenis. Dit word alles gedoen met die onderliggende beginsels van eie grond, eie arbeid en eie instellings. As jy bereid is om hierdie filosofie te aanvaar en ook bereid is om te onderneem dat jy dit sal ondersteun en uitbou kan jy aansoek doen om in Orania te woon.

        Dit is altyd die beste om eers na Orania te kom kyk en met soveel as moontlik inwoners te gesels om ‘n idee te kry van hoe Orania werk. Dan kan jy ook sommer sien of hier vir jou spesifieke vaardighede poste bestaan want dit is belangrik dat jy ekonomies selfversorgend sal wees.

        Terselfdertyd kan jy dan sommer die aansoekvorms by die Orania Dorpskantoor invul. Daarna word daar vir jou ‘n verblyfregonderhoud geskeduleer. Tydens hierdie onderhoud kry die paneel die geleentheid om seker te maak dat jy Orania se doel en strewe verstaan en die aansoeker kry die geleentheid om vrae te vra en onduidelikhede uit die weg te ruim.

        Hierna moet jy seker maak dat jy huisvesting en werk vind en as jy dan eers hier woon, kan jy kom help bou aan Orania!

        Sterkte!

  3. Tinus Coetzee 13 April 2014 at 08:10 Permalink

    Dit is en sal altyd so wees dat die Afrikaner homself met sy eie mense sal wil assosieer. Dit is ook so dat sommige hul waardes opsy skuif om in tel te wees. Ons weet ook dat spyt ‘n goeie ding is, net jammer dat dit altyd te laat is. Ek en my vrou gaan Desember ‘n paar dae saam met julle kom kuier, wil veral die Gelofte diens kom bywoon. My vraag: Ek wil graag weet watter kerke is verteenwoordig in Orania? Ons sien daarna uit om julle te ontmoet, te gesels en as dit is wat ons verwag, om ons in Orania te vestig. Ek glo daaraan om nie te kyk wat Orania vir ons kan doen nie, maar wat se bydrae ons kan maak. Ons is reeds ondersteuners lede. Groete vanuit ‘n al meer problematiese Rustenburg! Stakings, stakings en nog stakings.

  4. Francois Joubert 14 April 2014 at 10:11 Permalink

    Al drie die Afrikaanse suster-kerke asook die APK is hier verteenwoordig. Daar is ook charismatiese kerke op die dorp waarvan die grootste een die Marinata gemeente is.

    Maak gerus kontak as julle hier aankom, jou opmerking oor die bydrae wat julle voel julle moet maak weerspieël die regte gesindheid.

    Groete en sterkte daar in Rustenburg.


Lewer Kommentaar

*