14 April 2014 ~ 10 Kommentare

Waarom Orania?

Geskryf deur Lucas van der Merwe

Daar is baie mense wat hierdie vraag aan my gevra het, met die die skeptisisme dat dit nie suksesvol kan wees nie.

Ek het saam met my ouers as dertienjarige seun vanaf ‘n groot stedelike gebied na Orania verhuis. Aanvanklik was dit vreemd en ‘n wegbeweeg na ‘n plattelandse omgewing het vervelig gelyk omdat die avontuur van die stad gelok het. Tog het daar ‘n verandering van waardes plaasgevind. Na skool het ek gaan studeer en is weer stad toe maar my hart het hier gebly. Toe ek en my vrou terugkeer na Orania kon mense dit nie glo nie. Ek is lief vir ons ontwikkelende Karoodorp, wat feitlik daagliks nuwe inwoners bykry.

Die kommer wat ek het, is dat te veel groei en ontwikkeling gaan plaasvind en mettertyd dit wat ons nou ervaar soos om rustig in die straat te stap, ‘n vleisie saam met jou buurman te braai of kinders wat tot laataand baljaar, verlore sal gaan.

Orania is vir my die plek waar die ideale wat ek koester, uitgeleef kan word. Orania is ‘n Afrikaanssprekende gemeenskap waar nie net indiwidue na hul eie belange omsien nie maar ook gemeenskaplike belange deel soos die uitleef van christenskap, kultuurbevordering en die voer van ‘n veilige bestaan.

Selfwerksaamheid hou finansiële voordele vir die hele gemeenskap in. In Orania is welgestelde en minderbevoorregte inwoners. Tog is hier geen bedelaars nie. Deur die gemeenskap word omgesien na die gemeenskap. In dieselfde asem bestaan hier ook nie ‘n plafon vir hardwerkende entrepreneurs wat die gemeenskap deel met mindergegoedes nie.

Baie van die nuwe intrekkers besef gou die uitwerking van die gemeenskapsbetrokkenheid nadat hulle hier gevestig het. Binne die gemeenskap beleef hul positiewe aspekte soos die vier van christelike vakansiedae, algemene gasvryheid en hardwerkendheid. Dit alles kan nie in geld gemeet of op grond van status bekom word nie.

Wat veiligheid betref, is Orania totaal anders. Hier glo ons dat veiligheid ‘n eienskap van ‘n gesonde gemeenskap is. Orania is egter nie heeltemal misdaadvry nie. Deur die proaktiewe optrede van die gemeeenskap word ernstige of gereelde misdaad voorkom. In teenstelling met veiligheids-komplekse elders is ons in Orania gefokus om misdaadprobleme op te los in plaas van die bou van hoër mure.

Ek en my vrou se keuse is Orania omdat ons hier tuishoort. Elkeen moet maar self besluit watter opofferings hy/sy bereid is om te maak vir die bereiking van ons selfbeskikkingsideaal.

Deel/Stuur

10 Reaksies op “Waarom Orania?”

  1. Trudie 14 April 2014 at 14:51 Permalink

    My hart staan met ‘n punt na Orania toe maar die finansies is net nie daar nie.

  2. sarie vermaak 14 April 2014 at 18:37 Permalink

    Sal regtig nie omgee om nes te skop in Orania en weer vry te voel,maar finansies!!!!

  3. Hendrik l 15 April 2014 at 22:05 Permalink

    Trudie en Sarie, is julle eie finansies “net nie daar” by julle waar julle tans is nie, of is “die finansies net nie daar op Orania” nie: wat verhinder julle?

  4. Sebastiaan 16 April 2014 at 16:30 Permalink

    Die lewenskoste in Orania is heelwat laer as in die stede. Wat ‘n Rand in Johannesburg is, is hier sommer 5 Rand. Mense moet hulle nie vaskyk in realtief lae salarisse of kelin omset van besighede nie, maar in dit wat ‘n gemiddelde gesin of eggpaar nodig het vir ‘n goeie bestaan. Dit vereis natuurlik ‘n wegbeweeg van oormatige materialisme, maar hier is genoeg dinge wat meer as opmaak daarvoor, trouens, wat veel beter is en wat niks kos, soos ‘n stappie of fietsry tussen die pekanneutbome of langs die rivier, ‘n kuiertjie met vriende, ‘n sonsondergang vanaf ‘n koppie met ‘n glas wyn, die lekker om jou eie tuin te maak, om saam kos te maak en te eet met vriende, tyd om stokperdjies en kuns te beoefen ens.

    • Helena 17 April 2014 at 09:18 Permalink

      Sebastiaan ek wil net aanvullend verduidelik hoe ons Orania ondervind wat die R1 teenoor die R5 in Orania betref. Om dit in perspektief te plaas:
      1. Kruideniersware is nie goedkoper as buite Orania nie, maar ‘n mens leer om af te skaal en met minder oor die weg te kom.
      2. Petrolgeld is ‘n besparing omdat ons ‘n klein plekkie is en ons meestal maar loop of fietsry of motorfiets ry, wat die onderhoud op motors verminder. ‘n Mens het nie ‘n motor nodig om in Orania oor die weg te kom nie.
      3. Salarisse is veel minder as in die stad, maar weereens moet ‘n mens bereid wees om jou lewensstyl te verander om aan te pas, en kan met nog ekstra werk aangevul word.
      4. Water in Orania is heelwat goedkoper as in die stede wat nog ‘n besparing is.
      5. Jy bespaar ook fisies ure teenoor in die stad omdat ons nie hier verkeer het waarin jy vasgeval sit soggens en saans.Bv. as jy in Johannesburg bly en 2 ure in die verkeer sit verloor jy 10 ure in die week wat jy bespaar in Orania. Dit kan nou weer gebruik word om jou huis skoon te maak waarop jy bespaar sou jy van skoonmaak dienste of bediendes gebruik gemaak het.

      Ons werk hard in Orania, maar het glad nie die werkstres of gejaagde lewe soos ondervind word in die stad nie. Kwaliteit lewe is dan waarop ons konsenstreer en wat nie aan geld gemeet kan word nie.

      • Piet Prinsloo 29 Julie 2014 at 17:44 Permalink

        Ag komaan man ,jy sal defintief nie vermoor , aangerand ,beroof of verkrag word nie wat wil jy meer he. Kry ‘n gedagte man.Ek is amper op pad Orania toe ek wil nog’n bietjie spaar vir ‘n huisie daar. [deure sonder slotte]

  5. Danie 17 April 2014 at 17:26 Permalink

    Lucas,
    Dankie vir jou bydrae.

    Jong Afrikaners lees dit! Dit som die opoffering op.

    Mag daar tientalle Lucas’s van buite Orania ontpop.

  6. Paul 19 April 2014 at 13:54 Permalink

    Dit moet heerlik wees om ‘n plek in die land te hê soos Orania! My vrou en ek – uit die verre Vlaanderen – het die dorp in 2011 en 2013 besoek en ons stem saam: dis ‘n wonderlike plek van (self)werksaamheid,inisiatief,rus en vrede vir gelykgestemde mense wat glo in hul eie toekoms en dié van hul kinders. Die oë is nie gerig op die verlede nie, maar net op die toekoms. Dit skep hoop vir almal.

  7. Willie 19 April 2014 at 17:28 Permalink

    Ons het Orania op 14 April besoek. Eerstens dankie aan Sebastiaan wat soveel tyd aan ons afgestaan het. Orania se gasvryheid was opvallend en nog meer wonderlik is dat ALMAL jou taal praat. Ook wat gedoen word om jongmense op Orania te akkommodeer maak jou trots dat jy ‘n Afrikaner is.

    Baie dankie en baie seën vir die toekoms.

  8. Fransua 25 Januarie 2015 at 19:44 Permalink

    Baie goed gesê Lucas. Jy is nie die enigste wat so voel nie.


Lewer Kommentaar

*