02 September 2013 ~ 14 Kommentare

Waarom Orania ons steun verdien

Geskryf deur Ebert Terblanche

Dit bly vir my uiters interessant hoe daar talle Afrikaners is wat nie bloot neutraal teenoor Orania staan nie, maar die dorp en sy ideaal aktief teenstaan.

In hierdie skrywe wil ek graag aandui waarom ek glo dat elke Afrikaner Orania behoort te steun.

Orania verryk ons wêreld

As Afrikaners beskik ons oor geen publieke ruimte waaraan ons deur ons besluitneming en vaardighede beslag kan gee nie. Dit is Orania se strewe om hierdie leemte vir ons te vul.

Orania poog om ʼn gebied daar te stel waar ons kan besluit hoe dorpe en stede uitgelê moet word, watter publieke infrastruktuur opgerig moet word en hoe dit moet lyk. ʼn Gebied waar ons kan bepaal watter misdade as prioriteitsmisdade beveg behoort te word, waar ons die voertaal en leerplanne van ons skole, tegniese kolleges en universiteite bepaal, waar ons beheer oor die aanwending van ons belastinggeld het en waar ons die regering van die dag tot verantwoording kan roep, of selfs by die stembus kan vervang.

Orania stel vir ons ʼn plek in die vooruitsig waar ons nie verskoning hoef te vra om onsself te wees nie.

Orania neem nie by ons weg nie

Wanneer ʼn nuwe pigment aan die skilderkuns beskikbaar gestel word, doen dit nie afbreek aan bestaande pigmente nie. Dit verminder nie die verskeidenheid van skilderye wat geskilder kan word nie.

Dieselfde geld vir Orania. Afrikaners wat graag iets anders wil doen, wat deel van ʼn multikulturele samelewing wil wees hoef nie hul drome op te gee en na Orania te trek nie. Orania staan nie in Afrikaners se pad wat graag eendag op hul familieplaas wil boer of in hul ouers se besighede wil staan nie. Orania skryf nie eens voor in watter land Afrikaners moet bly nie.

Die groei en ontwikkeling van Orania kan nie Afrikaners se geldige drome en aansprake elders verwater nie.

Orania bied wel vir ons ʼn alternatief indien ons drome nie uitwerk nie, want ongeag wat in die wêreld met ons en ons drome mag gebeur, Orania sal ons altyd verwelkom.

Orania doen nie afbreek aan ander nie

Baie mense wat krities teenoor Afrikaners se verlede staan, dink dalk dat Orania poog om ʼn voortsetting van apartheid te wees; ʼn futiele verlange na ʼn vergane era.

Selfs die toevallige besoeker sal egter baie gou oplet dat daar reuse verskille tussen Orania en die ou Suid-Afrika is. “Blankes” word nie as ʼn groep in Orania erken of beskerm nie. Hier is nie afsonderlike ingange by die winkels of Dorpskantoor vir “blankes” en “nie-blankes” nie. Geen groep word tot permanente onderhorigheid of arbeidersklas gedwing op grond van hul velkleur nie. Elke besoeker word as gelyke ontvang en gerespekteer.

Dat Afrikaners se velkleur wit voorkom, is netsoveel buite ons beheer as dat Xhosas swart voorkom. Ons beweeg verby hierdie sake wat buite ons beheer val en oordeel nie mense op grond van hul velkleur nie maar op grond van hul begeerte om met ons te assosieer, ons kultuur in beskerming te neem en Orania se doelstelling te ondersteun. Orania stel Afrikaners eerste. Ons is baie eerlik daaroor en ons is nie skaam daaroor nie, want ons gun dit ook vir Mnyameni om Xhosas eerste te stel en vir Ulundi om Zoeloes eerste te stel. Ons ondersteun hulle ook in hul strewes waar ons kan en waar ons genooi word.

Orania se strewe en sy aktiwiteite is in lyn met die gees van selfverantwoordelikheid wat selfbeskikking onderlê, ʼn gees wat vandag meer aktueel (en deel van die internasionale hoofstroom) as ooit is, want daar was nog nooit ‘n groter aantal onafhanklike state in die wêreld as juis nou nie.

Om Afrikanerselfbeskikking volgens die doelstellings van Orania te steun is nie in stryd met Suid-Afrika of Suid-Afrikaners nie. Om Suid-Afrika tweede te stel is om aan die moontlikheid van ʼn alternatiewe Suid-Afrika te bou, een wat ruimte bied vir volhoubare verskeidenheid. Verskeidenheid met wedersydse respek en erkenning. Verskeidenheid met die innerlike vermoë om te leef, te groei en te gedy.

Orania is in ons hande om te vorm

Die vraag is nie hoe Orania vandag lyk nie. Dit is nie of ons bereid is om te word soos Orania vandag voorkom nie.

Die vraag is eerder watter impak ons betrokkenheid kan maak op hoe Orania in die toekoms mag lyk.

Dit is waar dat Orania van ʼn baie lae basis moes ontwikkel. Dat Orania nie esteties vergelyk met Sandton, Melrose Arch, Woodhill of Stellenbosch nie. Die dorp en sy infrastruktuur was vervalle toe dit oorgeneem is, terwyl dit vir baie lank onderbenut was en slegs gedeeltelik herstel en onderhou kon word terwyl sy burgery min was.

Tog is Orania se estetiese voorkoms besig om daagliks te verbeter namate al meer ondersteuners betrokke raak. Orania is reeds besig om bo sy onmiddellike bure uit te troon en dit sal net tyd en betrokkenheid verg voordat Orania die juweel van die bo-karoo, ja selfs van die hele Afrikanerwêreld, word.

Orania is ons kind en verdien ons beskerming en versorging. Rome, London en New York is nie in een dag gebou nie. Nie dat hierde stede noodwendig ons rolmodelle is nie.

Hoe weeg dit op?

Orania is vindingryk en verskil drasties van enige alternatief wat deur advokate of politici aan ons gebied word. Orania het die ou Suid-Afrika oorleef. Dit het die Madiba-euforie oorleef. Orania het die NP oorleef. Orania het die AWB en die KP oorleef. Orania is die volhoubare keuse.

Kan ons op jou steun staatmaak? Besoek Orania, gee vrye teuels aan jou verbeelding en besluit self.

Deel/Stuur

14 Reaksies op “Waarom Orania ons steun verdien”

  1. Jaco 2 September 2013 at 15:17 Permalink

    Ek bly dalk nie daar nie, maar ek is 100% saam met julle.
    Sterkte

  2. HANSIE KILIAN 2 September 2013 at 18:55 Permalink

    VANNUIT KANADA,ondesteun ek die toegewydheid,die geloof,die kreatiwiteit en die deursettings vermoe.

    • Danie 3 September 2013 at 19:29 Permalink

      Mooi so Hansie, dis mense soos jy waarvan ons bybdienduisende nodig het!

  3. Anthony Schlemmer 3 September 2013 at 08:19 Permalink

    Op hierdie staduim van Orania se ontwikkeling is die dorp se voorkoms baie belangrik. Daar word darem aandag gegee daaraan veral die vulstasie area.

    Besoekers moet beindruk word met wat hulle sien.

    Inderdaad, dit is net ‘n kwessie van tyd voordat Orania die juweel van die bo-karoo is. Vir my is hy dit alreeds!

    • David 3 Oktober 2013 at 14:14 Permalink

      Hi Anthony!
      Ou Karoo (Old Karoo) shopping center will soon be built at the entrance to Orania. It will feature the only movie theater in a 5-town area, restaurant, and several shops. The target-date for its opening is April 2014. See oraniaokp
      Groete
      David

  4. Dante' Strauch 3 September 2013 at 12:20 Permalink

    Mooi gestel! Orania moet gesien word as die tuiste van alle Afrikaners, al woon hulle nie daar nie. Te veel mense het nog ‘n wan-indruk van Orania en dink dis ‘n tipe sekte met streng reels oor hare en kleredrag, en die siening moet nek omgedraai word! Vergelykings met groepe soos die Amish is vir my ook onvanpas. Daar is miskien ooreenkomste soos selfwerksaamheid, maar dit skep die verkeerde indruk. Afrikaners in Pretoria vergelyk nie hulself met die Amish nie, hoekom dan in Orania?

  5. David O 3 September 2013 at 14:43 Permalink

    Uitstekend! Ja, reken my in!

  6. Ludwig 3 September 2013 at 16:30 Permalink

    Sien julle die groot groendak op die webkamera?

    Wel dit is die aardskip. Daar in is al ons geld belê. Ons glo in Orania.

    Vir mense wat meer wil uitvind oor die aardskip kyk op http://www.aardskip.com en kliek ook op BLOG om meer fotos te sien.

    Verder is ons altyd oop vir toere.

  7. Christo Hattingh 16 September 2013 at 14:30 Permalink

    Baie goed gestel. Die vele projekte wat aan die gang is ter verbetering, veal voorkoms is baie goed. Ek kom oral ook soms onverwags steun teen. Dit is duidelik dat Orania besig is om momentum op te bou. Jammer dat daar teenstand uit eie geledere kom teenoor so ‘n mooi saak. Belangrik is dat die gemeenskap se betrokkenheid by mekaar uitgebou moet word. Die daatstle van ‘n versorgiong eenheid is belangrik. Ook tersiere opvoeding. Dankie vir die positiewe uiteensetting. Hoop om binnekort in ORANIA te vestig!

  8. André van Vuuren 16 September 2013 at 14:33 Permalink

    Wie kan verbeter op so n pragtige samevatting van waarvoor Orania en sy inwoners, asook al die ondersteuners van buite hulle voor beywer.
    Mens voel so spontaan trots op n man se standpunt wat so suiwer en onopgesmuk uitgespel word. Mooi so Orania.

  9. Wynand 16 September 2013 at 16:12 Permalink

    Ebert, een van die hoogtepunte op hierdie blog. n Mens moet besef jy kan Orania van harte ondersteun, selfs al het jy nie plan om ooit hier te bly nie.

  10. Du Toit Maritz, Johannesburg 17 September 2013 at 10:06 Permalink

    Ek vind dit ook interessant dat so baie Afrikaners vyandiggesind is teenoor Orania: ironies genoeg het ek nog GEEN negatiewe kommentaar oor Orania deur Swartmense gelees of gehoor nie – ja selfs Mnre Zuma en Malema was heel positief.

    Ek wonder waar die vyandigheid vandaan kom. Want soos die skrywer wys, neem dit niks weg van enige iemand nie: in teendeel, dit bring ontwikkeling in ‘n deel van die land wat ontwikkeling nodig het – gaan kyk maar na enige van die omliggende dorpe.

    Ek dink dat daar dalk iets van Roelf Meyer se filosfie in baie Afrikaansprekendes vashaak, naamlik dat ons onlosmaaklik deel van die Suid-Afrikaanse “nasie” is, en dat die Vryheidsoorloe en ons voorouers se strewe ‘n tragiese fout was.

  11. Mike 17 September 2013 at 11:36 Permalink

    Daar is baie Afrikaners wat Orania se beginsels ondersteun, maar die praktiese onmoontlikheid vir die meeste om ooit daar te gaan woon, maak dat hulle nie betrokke raak nie.
    Soos die ekonomie en infrastuktuur en dienste van die dorp uitbrei, sal al meer Afrikaners bekeerd raak en daar gaan woon.
    Julle mense wat nou voorloop, sal in die geskiedenisboeke verewig word. Wel gedaan.

  12. Appie Pienaar 18 September 2013 at 09:05 Permalink

    Goed gesê Ebert! Ons aansprake is werklik van so ‘n beskeie aard dat niemand kan voel ons wil iets van hulle wegneem nie.


Lewer Kommentaar

*