27 November 2013 ~ 20 Kommentare

Waarom jong werkende Afrikaners Orania moet oorweeg

Geskryf deur Sarel Roets

Oor wie en wat Orania is, is daar al baie gepraat en geskryf en selfs baklei. Dis nie ’n eenvoudige konsep nie, want watter gemeenskap is eenvoudig? Soveel te meer ’n uitsluitlik Afrikanergemeenskap in die Nuwe Suid-Afrika! Daar lê ’n mynveld vol uitdagings en probleme voor Orania as dorp en ook voor elke individu of gesin wat van Orania en sy gemeenskap ’n tuiste wil maak. Die eersgenoemde is dikwels juis die rede vir die eerste uitdaging wat die individue en gesinne moet oorkom. Ek onthou die skok wat baie mense beleef het toe ek en my gesin ‘n bietjie meer as twee jaar gelede besluit het om na Orania te verhuis.

Persepsies oor Orania, reg of verkeerd, maak dat mense, en veral jong werkendes, baie negatief oor Orania dink. Isolasie en eensaamheid, verarming, politieke ekstremisme en sommer net agterlike vreemdheid is die eerste dinge waaraan die meeste mense wat nog nooit hier was nie, dink. Baie sien in hul geestesoog ’n stowwerige dorpie in die woestyn waar die tolbosse in die strate waai en bebaarde manne in kakieklere, kompleet met bandoliers en haelgewere, die hekke en reuse mure (wat nie bestaan nie) rondom die dorp bewaak. ’n Prentjie so uit die anti-Afrikaner rolprent van 2002, “Promised Land”.

Die eerste ding wat die Orania Pioniers vir nuwe intrekkers met reg vertel, is dat Orania nie die hemel is nie. Om hier te lewe, verg harde werk, opofferings en aanpassings. Toe ek hier gekom het, het ek gedink dit is omdat Orania so ’n abnormale plek is. Met tyd het ek besef dit is omdat die res van Suid-Afrika so dramaties abnormaal is. Meer hieroor later.

Is Orania ’n vlugtelingekamp vir verbitterde Afrikaners en sosiaal wanaangepaste jong werkendes? VIR SEKER NIE. Ja, daar is dié wat met hierdie redes hierheen kom. Die Orania-realiteit is egter dikwels te veel van ’n uitdaging vir dié wat nie weens beginsels en met ’n positiewe gesindheid hierheen kom nie.

Orania is nie ’n plek vir mense wat ten alle koste ryk wil word nie. Dis nie ’n plek vir selfgesentreerde mense nie. Dis nie ’n plek vir dié wat nie hou van uitdagings en veranderings nie! Een van Orania se grootste uitdagings is juis die vermoë om aan te pas by veranderings! Om nuut te dink en aan te pas by nuwe maniere van doen, is deel van elke Oraniër se daaglikse lewe. Van die aanleer om jou eie vullis te herwin en die gebruik van volkseie arbeid tot die skep van kreatiewe nuwe strukture en werkswyses om die samelewing en gemeenskap beter te laat funksioneer.

Baie dink dat Orania ’n aftreeoord is, ’n plek vir die ouer geslag. Ja, hulle is die oues wat die wysheid bring en ’n baie belangrike rol speel in die stabiliteit van ons gemeenskap. Dit is egter ongetwyfeld die jong werkende Afrikaners wat die meeste by Orania kan baat.

Orania is die perfekte plek vir jong gesinne. Hier is uitstekende skole wat hoogstaande gehalteonderwys aan kinders bied. Sedert die ontstaan van Orania spog ons met ’n 100%-slaagsyfer. Dit is ’n veilige omgewing waar kinders buite kan groot word en tot na donker met vriende in die strate kan baljaar. Daar is nie ’n plek in Suid-Afrika waar kinders meer met buitelanders, toeriste en joernaliste te doen kry nie. Dikwels besoek hierdie mense juis ook die skole om te sien en hoor wie Orania se kinders is.

Orania is ’n plek vir jongmense wat hou van kuier! Oraniërs hou van kuier en sosiale byeenkomste. Soms is dit ’n lentedans waar die hele dorp byeenkom en soms is dit ’n braai saam met vriende by iemand se huis. Ander kere is dit dalk ’n paar drankies by De Boer* saam met een of ander toeris wat niemand ken nie, of ’n verslaggewer wat wil weet hoe lyk Afrikanerkultuur. Afrikaners is plesierig! Gasvryheid was oor al die jare deel van ons identiteit. Op Orania kan hierdie belangrike deel van Afrikanerwees weer tot sy reg kom. Wie eers eenmaal Nuwejaar op Orania gevier het, kom altyd terug vir nog.
Orania is ’n plek vir jong professionele mense. Vir dié wat kreatief kan dink, entrepreneurskap aan die dag kan lê en bereid is om klein te begin en groot te droom, kan Orania die beste plek wees om te begin of óór te begin. Anders as plekke soos Johannesburg, Durban, Kaapstad en vele ander word rykdom nie hier net gemeet in rand en sent nie, maar ook in lewenskwaliteit en werksbevrediging. As geldmaak alleen jou doel is, los Orania eerder as opsie. Tog, as ‘n mens in gedagte hou die besparing in sekuriteit, brandstof gesondheidsorg en ander kostes wat nie in Orania nodig is nie, raak Orania vinnig ’n sinvolle finansiële opsie. Verder is Orania ’n groeiende dorp. Dié wat vandag belê in Orania, sal môre die vrugte pluk. Anders as ander plekke is elke uur se arbeid in ’n eie besigheid ook ten bate van Orania en ons selfbeskikkingsideaal. Die dividende hierop is groei in kliënte, dienste en infrastruktuur omdat elke suksesvolle besigheid meer vertroue in Orania kweek en sodoende nog nuwe intrekkers lok.

Orania is ’n plek vir die Afrikaner-Nasionalis. Na 1994 het Afrikaners, en veral jong Afrikaners, totaal belangstelling in Afrikaneraktivisme en Afrikanernasionalisme verloor. Miskien het ons asem opgehou om te sien of die Nuwe Suid-Afrika nie dalk gaan werk nie. Die skrif is egter aan die muur vir Afrikaners in die post-’94-Suid-Afrika. Daarom sien ‘n mens al meer Afrikanernasionalisme en aktivisme onder Jong Afrikaners. Ons wil weer ’n verskil maak! Ons wil ’n tuiste vir ons kinders skep! Orania bied ’n baie besondere geleentheid vir aktiviste en dié wat wil werk aan selfbeskikking vir Afrikaners. Nie net kan ‘n mens in Orania aktief bydra tot die uitbou van ons ideaal nie, maar hierdie ideaal word hier ook uitgebou deur elkeen se dag-tot-dag-bestaan. Elke steen wat hier opmekaar gesit word, bou ook aan ’n Orania-werklikheid wat nie weggewens kan word nie. Met elke Rand en Ora wat in ’n winkel spandeer word, bou ons aan ‘n interne ekonomie en dra ons by tot ons groei en dus ons ideaal. Selfs elke gesellige saamkuier dra by deur ons gemeenskap sterker te maak. Waar anders kan mens ’n braai hou, inkopies doen en jou gewone dagtaak verrig tot uitbou en voordeel van ons Afrikanertoekoms?
Al hierdie dinge maak dat Orania vir baie mense na ’n vreemde plek lyk, mal mense wat alewig groet, nie hulle huise sluit nie en ‘n vreemde werksetiek het. Om nie te praat van die vreemdheid om Afrikaner-manne en -vroue as arbeiders te sien nie.

Maar is dit nie hoe dit veronderstel is om te wees nie? Is gasvryheid en vriendelikheid nie ’n Bybelse opdrag nie? Is ons nie veronderstel om in vrede en veiligheid te bly nie? Is ons nie veronderstel om vir meer as geld te leef en te werk nie? En die arbeid kwessie: Waar anders as in Suid-Afrika sien ‘n mens dat een deel van die bevolking reken hy is te goed vir ‘n sekere tipe werk? Dit terwyl bykans 20% van ons Afrikanerbevolking werkloos en verarm is.

Nee, Orania is normaal!
• Suid-Afrika is die vreemde plek waar nors mense nie bereid is om die nuwe buurman te ontmoet of te bang is om die vrou met die gebreekte voertuig langs die pad te help nie.
• Suid-Afrika is die vreemde plek waar misdadigers vry rondloop en wetsgehoorsame mense in “tronke” woon.
• Suid-Afrika is die vreemde plek waar mense vir 4 tot 6 uur in verkeer sal sit, hul kinders net na bedtyd sien en hartaanvalle en hoë bloeddruk op 40 kry. En dit vir ’n groot salaries!
o Daai salaris koop dan ’n luukse voertuig omdat ‘n mens 25% van mens se lewe in hom moet deurbring.
o Daai salaris betaal dan vir kinderoppassers, dagmoeders, nasorg en koshuisfooie omdat ons nie self daar kan wees vir ons kinders nie. Ons moet mos werk!
o Daai salaris word spandeer om meer tralies aan ons “tronke” te sit en ons en ons kinders se mediese kostes te betaal.

Ja, Orania is sekerlik nie die hemel nie, maar darem is Orania die normaalste plek in Suid-Afrika. Vir die jong Afrikaner wat normaliteit soek, is Orania die beste plek om ’n lewe te maak. Hoe meer jy vir Orania gee, hoe meer gee hy vir jou terug!

*Plaaslike uithangplek

Deel/Stuur

20 Reaksies op “Waarom jong werkende Afrikaners Orania moet oorweeg”

  1. Ebert 27 November 2013 at 22:44 Permalink

    Dankie vir ‘n goeie inskrywing Sarel. Dit laat mens beslis jou prioriteite heroorweeg.

    Interessant hoe mense by verslegtende omstandighede in Suid-Afrika eenvoudig aanpas.

    ‘n Interessante gesprek sou wees om te bepaal of die jong Afrikaners Nasionaliste is en of hulle Republikeine is (nie in die Amerikaanse sin nie, maar in die Voortrekkersin).

    Groete

  2. Gawie 28 November 2013 at 02:51 Permalink

    Sarel,

    Jy sal maak dat ek my werk bedank en môre my huis verkoop!

    Baie goed gesê!

  3. Maritza 28 November 2013 at 07:49 Permalink

    Die laaste sin maak vir my sin. Hoe meer jy vir Orania gee, hoe meer gee hy vir jou terug!

  4. luan vaughan 28 November 2013 at 08:09 Permalink

    Ek stem 100 percent saam met jou.dit is skokened om so baie jong dianamiesse afrikaners in die stede is wekloos..almal weet hoekom,ek gaanverseker n draai kom maak in december..
    Dankie vir die skrif…

    • Sarel 29 November 2013 at 23:01 Permalink

      Luan,waar en wanneer het jy matriek geskryf?

  5. Jacques 28 November 2013 at 10:15 Permalink

    Ek woon in Nieu Seeland en het nou al gesien hoe baie gesinne vreeslik sukkel met die aanpassing hier. Ek dink eerlik waar mense moet Orania oorweeg voor emigrasie. Ek is seker daar is ook aanpassingspyne in Orania, maar dit kan beslis nie moeiliker as emigrasie wees nie. Ek wonder wat Orania kan doen om die mark van voornemende emigrante te teiken?

  6. MW 28 November 2013 at 12:52 Permalink

    Stem saam met Jacques woon ook in Nieu Seeland en emigrasie kan mens breek, en dis nog na ‘n vreemde kultuur ook. Ek dink net Orania kan doen met beter publikasie veral om mense te lok wat dit oorweeg om te emigreer.

  7. Dieter 28 November 2013 at 13:13 Permalink

    Ek self sit in Australie. Jy gee verskriklik baie op om hierna toe te kom. Kultureel, sosiaal, finansieel ens… Dit is BAIE erg om te immigreer, jy vat lank om aan te pas en is maar altyd die uitlander – alhoewel meeste aussies mens verwelkom. Ja, dit is veilig hier en jy het meer regte, maar dit is nie jou dam se eende nie… Finansieel kan ek nie weer SA toe terug immigreer nie. Ek is baie spyt ek het nooit Orania as opsie oorweeg nie, al was dit net om te probeer vir ‘n paar jaar. Dalk waneer Orania baie suksesvol is kan julle in die toekoms ‘n “Kom Huistoe” projek loods wat expats teruglok :)

    • Simon 28 November 2013 at 23:59 Permalink

      Goeie artikel Sarel en onderstaande is definitief iets om voor te mik Dieter:

      “Dalk waneer Orania baie suksesvol is kan julle in die toekoms ‘n “Kom Huistoe” projek loods wat expats teruglok”

  8. Gert van Zyl 28 November 2013 at 16:15 Permalink

    Mooi gese Sarel, ek stem 100% saam met jou! Na 6 jaar in ander Afrika lande (ja ander Afrika lande is meer normaal) en ervaring in 36 lande oor die wereld heen kan ek jou woorde dat Suid-Afrika ongesond en abnormaal is onderstreep. Orania is ‘n anker en ‘n ligpunt in die donker waters om ons!

  9. Lelanie 28 November 2013 at 20:08 Permalink

    Briljante artikel!

  10. Matt 7 Desember 2013 at 17:17 Permalink

    Dankie. Hoe kan ‘n mens na Orania trek en werk kry? Ons bly in JHB maar met teënsin; Engelstalig maar praat ook Afrikaans; ek werk in IT (en in vrye tyd skryf ek preke) en my vrou in versekering/eiendombeheer (apartemente). Het ook ‘n jonk seun en ons is Christelik, verlos deur die Here Jesus. Die plek waar mense mekaar nie help nie, waar mense hulle bure glad nie ken nie, waar mense ekstreem egoïsties en woes is, dit is helaas waar ons nou bly.

  11. Danie Scott 9 Desember 2013 at 18:13 Permalink

    Briljante artikel Sarel. Ek is lid van die Oraniabeweging en het so jaar en 6 maande gelede aangesluit toe ek die eerste keer Orania besoek het en n paar dae daar gebly het. Wonderlike ondervinding van veiligheid ervaar. Gasvry mense wat bereid is om te help as jy n probleem het. Die ontwikkelings wat daar plaasvind wys mos IETS word reg gedoen. Paradys langs die Oranjerivier. DIE VAN JULLE WAT NOG NIE DAAR WAS NIE MOET GAAN EN N PAAR DAE OORBLY EN ORANIA VERKEN EN SIEN AL DIE MOONTLIKHEDE. DIE HERE SEEN ORANIA EN SY MENSE.

  12. ashton fourie 10 Desember 2013 at 02:48 Permalink

    goeie more al julle vriendelike oraniers,,, ek het nou net julle jonste nuusbrief gelees…ons bly in china,, en dit is hier net soos julle orania beskryf,, vriendelike mense ,,veilig, selfs in die aand ,, as ek die kleinkinders by die skool gaan haal,wil hulle nog eers gou n rukkie by die skool se afglyer speel …. as ek ooit sou terug kom sa toe , is orania my blyplek… ek is 73 jaar oud en doen al my werk self ,,tuinmaak ,vuilis verwyder , compos maak,, alles… STERTE VIR JULLE EN GOD SE SEEN WORD JULLE TOEGEBID EN SEEN OOK OP JULLE GOEIE WERK … GROETE UIT N VRIENDELIKE EN WONDERLIKE CHINA

  13. Eduan 11 Desember 2013 at 13:42 Permalink

    Baie dankie vir die artikel.
    Ek verwys na Gert en Dieter se boodskappe.

    Ek het die laaste paar weke baie begin kyk na my “huistoe terugkeer” plan. Ek is self n expat in wes-afrika, en Orania lok my sterk aan.

    Ek is iemand wat hou van luukshede maar tog my wortels in agneem. Kom bou ek daar vir my n droom huis teen die rivier en raak betrokke by die gemeentskap, of net n vakansie plekkie.. Hoe gan oraniers my hanteer…dit is wat ek vraagteken.

  14. Neels 14 Desember 2013 at 20:35 Permalink

    Nou dat die kinders uit die huis is en ons besigheid in Kimberley nie meer uitdagend genoeg is nie oorweeg ek en my vrou dit baie sterk om te verhuis na Orania en ons permanent daar te vestig. Aangesien ons al redelik hoog in ouderdom is wil ons eerder daar huur as koop. Wat is die huur opsies met behuising in Orania. Ons beoog ook om julle in die nuwe jaar te kom besoek aangesien ons nie gelukkig genoeg was om verblyf tydens die Kersfees seisoen te bekom nie.

    Kan ons asb meer inligting ontvang aangesien dit ‘n baie positiewe maar belangrike lewens besluit is wat ons gaan maak
    Jou artikel was baie insiggewend en interesant.

  15. Paul van der Schyff 18 Desember 2013 at 10:34 Permalink

    Goeie more Sarel

    Baie insiggewende artikel vriend. Laat my asb. toe om ‘n paar stukkies kommentaar te lewer.

    Eerstens is dit baie duidelik dat julle graag eerder jong mense wil lok (Ek is 46) om die uitbreiding van Orania te verseker.

    Tweedens kan ek nie help wonder hoekom rykdom amper verwerp word nie. Ek is arm nou as gevolg van ‘n 6-maande geveg met nier-kanker, wat ek toe 100% gewen het, maar voor dit het ek lankal die “Orania-opsie” baie sterk oorweeg. Nou is ek in ‘n posisie waar ek nie meer my goed kan pak en myself kan gaan aanwend daar by julle nie lyk dit my. Soveel as wat ek fiks nou is, ‘n sterk besigheids agtergrond het…intergrale kennis in mens-faktor dinamieka besit, wil dit vir my voorkom dat ek nie eers plaas-werker status daar kan bekom nie.

    Ek glo met my hele hart en siel in die konsep en fondasionele beleid waarop Orania gegrond is, maar ek is seker dan een van die min mense wat glo dat as Orania die regte uitkyk teenoor toekomstige rykdom en voortvarendheid vir individue en die gemeenskap kan realiseer as ‘n droom gekoppel aan projekte wat kan verryk, dan kan die beweging groei teen ‘n pas wat die internasionale gemeenskap verwag.

    Ek weet Orania is nie ‘n agterlike klein stof-plekkie nie. Ek weet Orania het potensiaal om super sterk te staan as ‘n gemeenskap van nie net jong mense wat wil gemiddeld leef nie, maar enige individu of familie ‘n toekoms kan bied met die kans om te floreer soos meeste bo-gemiddelde plekke in die wereld.

    Jou artike is puik, maar wees versigtig om nie die plaas-gemeenskap filosofie te veel te verkondig nie. Alle ware afrikaners hou van kuier, goeie maniere, sterk skoling, goeie waardes ens. maar baie Afrikaners het hulle merk in die wereld gemaak (en vanselfsprekend in Suid Afrika), omdat hulle woema in hulle bloed het om geld te maak.

    Dus, onthou asb om ons manne wat wel weer finansiele hoogtes wil bereik, ook in ag te neem gedurende die lok-proses na julle pragtige staat.

    Met agting

    Paul

  16. Dirk van der Merwe 23 Maart 2015 at 13:42 Permalink

    Ek lees met groot belangstelling u artikel oor Orania,en skielik besef ek: dis van MY wat hy daar praat! Goed of sleg, ek is skuldig aan wat alles wat gehang word aan die man wat van vroeg tot laat werk om sy gesin se lewensstyl vol te hou. En als is goed & wel, maar hoe ontsnap ons uit die genoemde situasie? Verkoop my huis & Merc,trek soontoe sak & pak en dan??? Wat doen mens daar om ‘n salaris te verdien, hoe bly mens aan die lewe? DIS die vraag wat menige hier vra & wat niemand nog oortuigend kon beantwoord het nie. Hier is u kans.Beantwoord dit bevredigend & ek glo u het ‘n nuwe lys van Orania kandidate. Goeie groete !

  17. cassie nel 13 Julie 2016 at 19:38 Permalink

    Ek is n 48 jarige Afrikaner. Die pad le vir my duister voor. Ek is moeg vir omstandighede rondom ons .Ek soek na n tuiste waar God , my familie en werksomstandighede saak maak . Ek is n semi gekwalifiseerde elektrisien , met meer kennis as baie gekwalifiseerdes.Is daar n plek vir ons in Orania. Ek hoop van harte so.


Lewer Kommentaar

*