05 Januarie 2012 ~ 3 Kommentare

Waar lê die balans tussen vryheid van uitdrukking en haatspraak?

Geskryf deur Carel Boshoff

(Na aanleiding van ‘n bydrae tot ‘n openbare debat deur die Menseregtekommissie in Kimberley, Noord-Kaap)

Hoekom is Afrikaners so gevoelig vir haatspraak?  Is dit aan ‘n onderontwikkelde sin vir die vryheid van uitdrukking toe te skryf?  Of aan die publisiteit wat burgerregte aktiviste daaraan gegee kry?  Dit is die soort vooroordele waarmee mens te kampe het as jy van Orania kom en aan ‘n debat oor die balans tussen vryheid van uitdrukking en haatspraak deelneem.  ‘n Debat wat oorheers word deur wetsgeleerdes aan die een kant en moraliste aan die ander.

Die een wil groot probleme klein kan maak deur hulle klinkklare definisies en die verbinding van hierdie reg met daardie wet met nog ‘n beginsel gestaaf deur so-en-so uitspraak.  Net jammer dat die werklikheid nie altyd in sulke kanne en kruike pas nie en dat wette meer dikwels deur die werklikheid met inhoud gevul word as andersom.  Die ander wil die sondes van die vaders saam met hulle begrawe deur slegte woorde en lelike gedagtes vir eens en vir altyd uit die volksgemoed te verban, maar hulle staan netso onmagtig voor die werklikheid as diegene wat dit met wette wil verander.

Maar hoekom ís ons so gevoelig?  Omdat Afrikaners hulle in ‘n besonder kwesbare posisie bevind.  Ons kan beskryf word as ‘n voorheen dominante, hoogs sigbare minderheid wat versprei is oor die hele Suid-Afrika – ‘n gevaarlike posisie as die tans dominante swart meerderheid vrye teuels aan hulle wrewel sou gee en die verlede vir hulle misstande sou verwyt.  En dit kan maklik gebeur.

As daar ‘n verband te trek is tussen wat mense sê en wat hulle doen – en dit is tog ‘n logiese veronderstelling om van uit te gaan, dan kan daar geen balans tussen vryheid van uitdrukking en haatspraak te vinde wees nie.  Vryheid van uitdrukking moet beoefen word, maar haatspraak nie.  Die vraag is dus wat haatspraak voed en hoe ‘n samelewing moet lyk waarin die begeerte om publieke haatspraak te beoefen, afwesig sou wees.  Niks minder as dit behoort tog iemand soos die Menseregtekommissie se ambisie te wees nie.

Terwyl haatspraak om baie redes en met allerlei bedoelings verkondig kan word, vind dit inslag waar onsekerheid en frustrasie die botoon voer.  Maar beide onsekerheid en frustrasie is makliker om raak te sien as om uit die weg te ruim.  Uit ‘n menseregte oogpunt roep dit dadelik ekonomiese en maatskaplike regte op, maar ek twyfel of dit hoegenaamd ‘n vrugbare weg is om te probeer volg.  Om te verwag dat die hele bevolking se materiële behoeftes eers bevredig moet wees voordat Suid-Afrika van haatspraak bevry sal wees, is nie net ‘n moedelose nie, maar ook ‘n ontmagtigende gedagte.

Menseregte oor die algemeen, maar ekonomiese regte spesifiek, voed meestal ‘n kultuur van slagofferskap en ‘n verwagting dat die regering jou regte sal waarborg eerder as ‘n kultuur van selfstandigheid.  Die sentrale plek wat die regering in dié opset inneem, gaan saam met die vernietiging van tussenvlakke tussen die staat en die individu, van gemeenskappe en gemeenskapsinstellings met behulp waarvan mense hulleself kan help.

In soverre die beklemtoning van regte hoegenaamd die individu bemagtig, ontstaan die konflik waarvan haatspraak deel is nie op ‘n individuele vlak nie, maar juis tussen groepe en gemeenskappe.  Hoewel die kwessie van menswaardigheid, wat menseregte onderlê, ongetwyfeld van groot belang is, is dit ‘n ander grondliggende begrip wat hier van groter belang is, naamlik erkenning.  Erkenning open ‘n positiewe uitsig op die individu se konteks, op sy of haar gemeenskap en die verhoudinge van gemeenskappe met mekaar.

In Orania is ons van mening dat florerende gemeenskappe in onderlinge erkenning die moontlikheid inhou om haatspraak oorbodig te maak.  Maar wederkerige erkenning is nie net die vrug van goeie gesindhede nie, dit is te danke aan ‘n voldoende en realistiese magsbalans, iets wat op sy beurt te danke is aan elke gemeenskap se ervaring van ‘n waardige en veilige plek in die wêreld te hê.

Daar is dus strukturele en sistemiese voorwaardes waaraan voldoen moet word om haatspraak oorbodig te maak, voorwaardes waaraan die riglyn van erkenning, danksy die tweerigting-aard daarvan, ons kan help om te voldoen.  Daarin is dit maklik om aansluiting te vind by die sleutelbegrippe waarmee die Menseregtekommissie ook werk, naamlik waardigheid, gelykheid en vryheid – gegewe dat vryheid met erkenning verbind word en nie tot die eendimensionele vryheid van die individu beperk word nie.

Maar waar lê die knoop?  By die strukture en sisteme van die soort staat wat Suid-Afrika tans probeer wees.  Dit is ‘n 19e eeuse nasiestaat, ten diepste sentralisties en by verstek mono-kultureel, al word die teendeel met die mond bely.  Daarom dat nasiebou so ‘n sentrale plek inneem en plaaslike gemeenskappe ewe vrolik aan die erosie van welsynstoelae onderwerp word terwyl die bronne van selfstandigheid, soos etniese identiteit en ‘n sin vir lotsverbondehied verdag gemaak word.

Daarom dat Orania sy bes doen om ‘n funksionele en selfstandige gemeenskap te wees, sy kinders met ‘n sin vir hulle herkoms en geskiedenis probeer toerus en die toekoms met vryheid as leidster tegemoet wil gaan.  Ons dink dat meer sulke gemeenskappe Suid-Afrika net sal verryk en die behoefte aan haatspraak sal laat afneem. En ons soek vennote met die oog daarop.

Deel/Stuur

3 Reaksies op “Waar lê die balans tussen vryheid van uitdrukking en haatspraak?”

  1. Omar Fourie 16 Januarie 2012 at 22:11 Permalink

    ORANIA AS SIMBOOL VAN HAAT

    Die Afrikaner en gevolglik Orania het ‘n simboliese probleem en nie ‘n spraak probleem nie – hieruit blyk byvoorbleeld die spraaksaamheid van die Oraniablog.

    Deur die blote feit dat ‘n dorp soos Orania bestaan in Suid-Afrika met sy geskiedenis van Apart-lewe en Apart-haat, word sy posisie as simbool van haat in die gedagtes van ander bevolkingsgroepe opgerig (swart, bruin). Dit word ook verder gevestig in hul gedagtes deur die algemene ontoeganklikheid van die dorp vir hierdie bevolkingsgroepe en die mites wat rondom die dorp ontstaan a.g.v. daarvan.

    Mnr. Boshoff ondersoek dus foutiewelik slegs een aspek van die prisma van haat, naamlik haatspraak.

    Selfs indien Orania ‘n antwoord hierop vir die Afrikaner kan bied, wat ek betwyfel, kan dit in elk geval nooit voldoende wees om die opgerigte beeld van Orania as simbool van haat te verander nie.

    Om te praat spreek nie simbole aan nie, maar simbole spreek wel die woorde aan. Met ander woorde, dade spreek harder as woorde. Hier lê dus ‘n Beeld probleem vir Orania en nie ‘n Woord probleem nie. ‘n Probleem wat nie opgelos kan word nie, aangesien die simbool (Orania) afgesper is vir ander volke – hulle kan nie vrylik rondbeweeg in Orania en die teendeel van “waardigheid, gelykheid, vryheid” ervaar wat die Orania dalk wel karakteriseer nie.

    Met bogenoemde in gedagte misluk mnr. Boshoff se vingerwysing na Suid-Afrika en hoe dit tans daarna uitsien. Dit maak nie saak hoe die staat lyk of wat sy gemeenskappe daarin doen nie, die onus rus op Orania om sy Simboliese bestaan so uit te beeld dat dit as Simbool vir die res van Suid-Afrika aanvaarbaar is. Die verdere argument dat Orania met ander gemeenskappe sal kan saamwerk kan ook nie, in die lig van bogenoemde, stand hou nie

    Dit is hoe Orania vandag as simbool daaruit sien. Orania staan as simbool van die verlede, ‘n verlede wat meeste ander bevolkingsroepe met haat bejeën, ten spyte van soveel woorde wat gespreek word deur die Orania ideoloë om die teendeel te probeer bewys. Vir Orania en gevolglik die Afrikaner om enigsins voort te kan beweeg op die pad van aanvaarding as Afrika Simbole moet hierdie beeld “aangespreek” word.

    Dit is ‘n ope vraag hoe dit sal kan gebeur.

  2. Sebastiaan 17 Januarie 2012 at 11:52 Permalink

    Nee, Omar, ons hoef nie die ANC-logika (en die van sy liberale wit napraters) te verinnerlik nie, naamlik dat Afrikaners skurke is en weens sondes teenoor swartmense in die verlede vandag geen reg op vryheid en ‘n veilige en selfbestemde bestaan het nie en uit hulle pad uit moet gaan om die ander te akkommodeer en van hulle skadeloosheid te oortuig deur hulle monde te hou. Ek hoor Anton van Niekerk in jou skrywe.
    Blykbaar is jy een van die vir wie daar net een weg is, die polities-korrekte een van selfverloeëning en selfhaat, en enigiets anders is gelyk aan “haat teenoor die ander”.
    Laastens, as Orania ‘n plek van haat is, hoekom is jy as verligte mens wat vry van haat is, dan nog hier? Dalk ‘n geval van die liberale dubbelsinnigheid, om “links” te praat omdat dit goed oorkom, maar “regs” te woon omdat dit lekkerder en veiliger is?

  3. BJ de Jager 10 Junie 2012 at 10:58 Permalink

    http://www.genocidewatch.org/genocide/8stagesofgenocide.html

    In ʼn kort periode van 100 jaar is daar ʼn kontinent van mense uit gemoor, meestal verhonger deur mense wat die mag besit…deur hulle eie regerings. Dit kos groot beplanning en baie geld om miljoene mense uit te moor. Die proses van mense moord, waar van haatspraak een is word in gesluit in die 8 stadiums van mense moord.

    In die haat spraak nie onmiddellik aangevat word nie. Word die haat spraak in gestel as ʼn aanvaarbare norm. As jy iets 10 keer se per dag en niemand staan jou tee nie dan kan jy dit te minste een keer doen. Die haat spraak in hom self is die vraag vir verlede reg ‘de facto’ om voor te gaan met die aksie.


Lewer Kommentaar

*