01 Mei 2017 ~ 3 Kommentare

Waar daar ʼn leemte is…

Geskryf deur Sebastiaan Biehl

Dit is ‘n oeroue wet van die fisika: as daar ‘n vakuum ontstaan deurdat iets verwyder word, dring iets anders binne. Byvoorbeeld, as jy ‘n leë« bottel onder water hou, dring daar water in en verplaas die lug. As die bottel egter ‘n prop op het, of reeds vol is met iets anders soos wyn, kan daar nie water indring nie.

As ‘n mens die natuurwet nou op die aktuele politiek van toepassing maak, beteken dit die volgende: as ‘n samelewing leeg is en gekenmerk word deur allerhande negatiewe en ontkennende kenmerke pleks van positiewe waardes, dan dring daar ook iets anders binne wat die leemte vul, en dit is nie noodwendig iets goeds nie.

Die Weste was vir eeue lank gekenmerk deur sy Christenskap. Dit was nie net die eng Christelike soos die kerke en kloosters nie, maar ook die Christelike kultuur, wat gewoontes en tradisies gevestig het soos om Sondag nie te werk en handel te dryf nie, om aan God erkenning in jou daaglikse handel en wandel te gee deur samekomste met gebed te open, om in die hof en by die aanvaarding van ʼn amp jou afhanklikheid van God te betuig, om geboue met verwysings na God, soos AD (Anno Domini, die jaar van die Here) of seënwense te versier, kruise op bergpieke op te rig ens.

Veral in die 20ste eeu, met versnellende spoed, het sekularisasie ingetree. Dit is geproklameer as die skeiding van staat en kerk (veral in ‘n land soos Frankryk) wat in beginsel reg is, maar het in praktyk die uitdrywing van God en die Heilige en Bonatuurlike uit die samelewing geword, wat verkeerd is. Soos met elke beweging wat van sy eie onfeilbaarheid oortuig is, het ook sekularisasie geen einde gehad nie en neem in vandag se tyd al hoe meer absurde vorme aan, soos om verwysings na Christus op Kersfees en Paasfees of die dra van Christelike simbole te verbied in die naam van gelykheid. Die sekularisering het veral verder spoed opgetel nadat meer en meer vreemdelinge wat nie Christene is nie, die Weste binnegekom het. Onder die waan van akkommodering is in vooruitlopende onderdanigheid alles verwyder wat dalk aanstoot aan nie-Christene en nie-Westerlinge kon gee, selfs al het niemand daarop aangedring nie. Die Weste het daardeur egter sy eie skanse gesloop.

Die vreemdelinge bring nie net vreemde gelowe (by name Islam) met hulle saam nie, maar hulle bring veral geloof, die irrasionele en die tradisionele met hulle saam, wat tot groot ongemak en onsekerheid onder die inheemse inwoners lei. Islam en ander gelowe kan net so welig groei en uitbrei omdat deur sekularisasie so ʼn geweldige leemte gelaat is, al word dit verdoesel as “verdraagsaamheid” en “godsdiensgelykheid”. Dit gaan selfs so ver dat die leemte van die een deur die ander een fisies en nie net ideologies oorgeneem word nie, naamlik wanneer kerke wat leegstaan deur Moslems gekoop en in moskeësekularisme« omskep word, sonder dat ‘n haan daarna kraai.

Die Weste probeer nou inderhaas om die leemte wat in die wêreldbeskouing gelaat is en wat toenemend deur vreemdelinge beset word, met inhoud te vul. Sekularisme word nou skielik aggressief verdedig en as die gemene deler vir alle inwoners, gevestigdes en nuwes, voorgehou. In Frankryk word dit laicite genoem, in Duitsland word van ‘n Duitse of Europese Leitkultur gepraat of elders van Europese waardes (en dit is omstrede begrippe wat ook by die inheemse bevolking nie noodwendig aanklank vind nie, nog minder by die vreemdelinge). Die probleem is egter, om tot die analogie in die inleiding terug te kom, dat ‘n minder digte stof nie ‘n digte een kan verdring nie. Met ander woorde, jy kan met ‘n strooihalm so veel lug in ‘n glas water blaas soos jy wil, dit gaan nie die water verdring nie. Gooi jy egter sand of klippie in die glas, word die water verdring. Sekularisme het vlak wortels, anders as godsdiens en nasionalisme. Daar waar die Christelike godsdiens en ‘n nasionale kultuur sterk gevestig is, byvoorbeeld in Oos-Europa, sukkel Islam om binne te dring. Islam het diep wortels, maar die Christendom het nog dieper wortels en is in talle opsigte teenoor die Islam verhewe.

Kan die Weste as antwoord op die bedreigings van buite van binne her-christianiseer? Tans lyk dit onmoontlik, die verval en sekularisasie is al te vêr gevorderd, en indien hoegenaamd die Christendom by Europese waardes gevoeg word, dan is dit ‘n afgewaterde Christendom wat veral humanisties van aard is en waar waardes soos gelykheid en naasteliefde voorop staan. Dit is juis die soort Christendom wat Islam en ander gelowe met ope arms as ‘n verryking verwelkom en die gemeenskaplikhede beklemtoon. Natuurlik sou die antwoord op islamisering geen militante en radikale Christendom wees nie, want dan dryf jy die duiwel met die beelseboel uit. Dit moet egter ‘n selfversekerde Christendom met ‘n missie wees, die soort wat in die 18de en 19de eeu groot dele van die wêreld meesal vreedsaam gekersten het, omdat die Christene geloof gehad het en van hulle saak oortuig was. Menslik is ‘n nuwe Christelike Europa onmoontlik, maar by God is dit moontlik. Herlewing het al op die onmoontlikste plekke en in die onmoontlikste tye gebeur. As die Weste sy oeroue tradisie wil voortsit, dan moet hy terugkeer na sy wortels en sekularisme sowel as vreemde godsdienste verwerp.

 

Die nuwe uitgawe van die tydskrif Rede het onlangs verskyn en behandel ook die vraagstukke wat in die artikel net aangestip word in diepte in verskillende, boeiende artikels. Dit kan by die Orania Beweging bestel word (ontvangs@orania.co.za, 053-2070004)

Deel/Stuur

3 Reaksies op “Waar daar ʼn leemte is…”

  1. Hanno Visagie 1 Mei 2017 at 13:24 Permalink

    Uitstekende, hoogs geldige artikel – Dankie Sebastiaan.
    “Natuurlik sou die antwoord op islamisering geen militante en radikale Christendom wees nie…” – Watter hedendaagse voorbeelde van “militante en radikale Christendom” kan jy uitwys? My indruk is dat dit ‘n hoofsaaklik ongeldige opmerking van godsdienstig-liberales is, bv die ateistiese galbrakery van ‘n bekende politieke radiokommentator teen ‘n bekende evangelis.

    • Sebastiaan Biehl 1 Mei 2017 at 13:34 Permalink

      Dankie Hanno. Die militante en radikale Christendom is ‘n teoretiese stelling, want dit bestaan nie en ek verwys nie na iets spesifiek nie. Dit is net om diegene stil te maak wat dalk dink dat die Christendom nou soos Islam moet/sal raak, met bomme en aanvalle ens. Dit is wesensvreemd aan die Christendom, alhoewel in die naam van die Christendom in die verlede wel gruweldade plaasgevind het.

  2. Ben 13 Mei 2017 at 11:23 Permalink

    Iemand het eenkeer geskryf van die mens wat soek, teenoor God wat Homself aan die mens openbaar. Die Heilige Gees is nie tyd-ruimtelik gebonde nie en dit maak die Christelike geloof uniek.


Lewer Kommentaar

*