08 Januarie 2014 ~ 24 Kommentare

Volk-staatbetoog vir 2014

Geskryf deur Carel Boshoff

Die Orania Beweging se volk-staatbetoog vir 2014:
’n Ope brief aan Afrikanerbesluitnemers

7 Januarie 2014

Geagte mede-Afrikaner

Vanuit Orania hoop ons dat hierdie skrywe u, uitgerus en versterk, gereed vir die eise van ’n nuwe jaar, bereik. Ons vra u aandag vir die onderstaande gedagtes omdat dit vir ons, deels as individuele Afrikaners, maar veral as lede van ’n volk, of nasionale kultuurgemeenskap, van belang is om daaroor te besin. Sake word hieronder meer oorsigtelik eerder as gedetailleerd behandel en word as aanleiding tot gesprek en agtergrond tot besluite wat u gedurende die jaar mag neem, aangebied.

Verduideliking

In demokratiese state is dit gebruiklik dat die staatshoof jaarliks, gewoonlik by die Parlementsopening, ’n “state of the nation”-toespraak lewer. Ook in Suid-Afrika word dit gedoen. Daarin word die stand van sake vir die staat en sy burgers, sowel as voortspruitende uitdagings en prioriteite as’t ware namens die nasie aan die besluitnemers gestel en word die politieke toon vir die jaar aangegee.

As Afrikaners beskik ons al vir ’n geruime tyd nie meer oor ’n staat wat aan ons besondere belange en strewes uitdrukking gee nie en ontbeer ons gevolglik ook die geleentheid om op so ’n manier sy stand en status in oënskou te neem en antwoorde daarop te probeer gee. In hierdie geval is dit nie die behandeling van die “staat van die nasie” nie, maar die “staat van die volk”, die “volk-staat” in ’n ander sin as wat die woord meestal gebruik word, wat ter sprake is.

In Orania lê ons die grondslag van ’n Afrikanergebied waarin ons, onder Gods hand, oor ons eie lot en toekoms kan beskik en nie na vreemde heersers hoef op te sien nie. Aan die hand daarvan neem ek as president van die Orania Beweging aan die begin van 2014 die vrymoedigheid en verantwoordelikheid om ’n volk-staatbetoog, nie by wyse van ’n rede voor ’n parlemet nie, maar as ’n ope brief aan Afrikanerbesluitnemers te rig.

Daarmee word nie voorgegee om die plek van ’n staatshoof in te neem nie, maar om ’n lewensnoodsaaklike behandeling van die stand en status van ons volk, die uitdagings waarvoor ons te staan kom en ons antwoorde daarop, aan te bied. Die besluitnemers wat ons in die oog het, is natuurlik die lede van ons Beweging se Burgerraad, maar net so die besture van ander Afrikanerorganisasies en selfs individuele Afrikaners wat op die vooraand van lotsbestemmende besluite staan.

Die Orania Beweging hoop dat hierdie inisiatief deelname en besinning sal uitlok en selfs tot meer soortgelyke standpuntinnames aanleiding sal gee.

Teen die agtergrond van 2013

Die jaar 2013 het afgesluit met die allesoorheersende dood, begrafnis en huldiging van die vader van die nuwe Suid-Afrika, mnr Nelson Mandela. Wat hier belangrik is, is nie die meriete van die manier waarop ’n gewone sterfling verhef is tot iemand wat hyself kwalik sou herken nie, maar die feit dat ’n era in Suid-Afrika se geskiedenis daarmee simbolies afgesluit is.

Dat dit nie tot die grootskaalse geweld en wanorde gelei het wat baie mense gevrees het nie, is natuurlik rede tot dankbaarheid. Ons moet ons oë egter nie sluit vir die verhoogde risiko van ons mense wat verspreid en weerloos oor Suid-Afrika gevestig is, beide in landelike en stedelike gebiede, nie. Afrikaners bly ’n sigbare, weerlose en voorheen bevoorregte minderheid in ’n toenemend vyandige omgewing en moet dringend aan ’n omvattende strategie vir volhoubare beveiliging en oorlewing aandag gee.

As mnr Mandela sy oorwinning oor die politieke orde waarin Afrikaners ’n oorheersende rol gespeel het, op ’n versoenende wyse toegeëien het, beteken dit nie dat al sy ondersteuners dié benadering vandag nog deel nie. Dit is toenemend duidelik dat dit sy opvolgers, veral in die laer ordes van die breë swart politieke beweging, die betreklik gunstige posisie waarin dit Afrikaners gelaat het, dikwels met afguns en wrewel vervul.

Een beskrywing van die nuwe klem op die grondkwessie in Suid-Afrika is byvoorbeeld dat arm swart Suid-Afrikaners geen rede sien waarom die land aan hulle behoort, maar nie die grond nie. Dit geld baie gou ook vir ander vorme van rykdom wat ingevolge die Freedom Charter in algemene besit behoort te wees, maar in werklikheid net in die hande van ’n nuwe swart elite oorgegaan het.

Die swart menigte vir wie sake die afgelope twintig jaar nie verbeter het nie, sal eerder die “ryk wit elite” as hulle leiers daarvoor verwyt, en die persepsie van wit bevoorregting sal deur die nuwe elite eerder versterk word as om dit in realistiese perspektief te stel. Lae ekonomiese groei, Suid-Afrika se verswakkende geldeenheid en die opkoms van ’n jong en gefrustreerde kieserskorps, is van die faktore wat spanning kan verhoog.

Daarteenoor is die Orania Beweging se waarneming dat 2013 onder Afrikaners in die teken van groter realisme oor Suid-Afrika as tuiste vir ons volk gestaan het. Ons mense is toenemend bewus van die tekortkomings wat die Suid-Afrikaanse staat kenmerk, maar veral van die feit dat ons onder sulke omstandighede al minder ons heil van dié staat moet verwag. Inteendeel, die sin vir selfstandigheid waarvoor ons ons al só lank beywer, is besig om oor ’n breë front inslag te vind en moet bevorder word.

Vooruitsigte vir 2014

Die jaar 2014 sal polities gesproke na verwagting deur die nasionale en provinsiale verkiesings oorheers word. Hierbo is verwys na die opkoms van ’n gefrustreerde swart jeug wat hulle stem reeds gedeeltelik gaan laat hoor. Tydens die volgende verkiesings (2019) sal dit nog meer so wees. Onder sulke omstandighede mag die verlies van steun deur die ANC dalk minder gunstig wees as wat dit met die eerste oogopslag lyk omdat die leemte deur sosialistiese ekstremiste en nabootsers van die ANC gevul gaan word. Dit sal die ANC ook aan sy radikale wortels herinner.

Die Orania Beweging was in die verlede, en is nog steeds van mening dat sy lede hulle Suid-Afrikaanse stemreg moet gebruik om ons selfbeskikkingstrewe op die Suid-Afrikaanse politieke forums te bevorder. Ons moedig Afrikaners dus nie net aan om aan die verkiesings deel te neem nie, maar om dit met ons vryheidstrewe in gedagte te doen.

’n Klein minderheid se impak op die steun van dominante partye in ’n vreemde bedeling is klein en laat ‘n mens maklik verydel voel, maar die proporsionele stelsel maak dit moontlik om met betreklik min kiesers doelgerigte verteenwoordigers met ’n spesifieke mandaat tot die Parlement en Provinsiale Wetgewers te verkies. Met die oog daarop kan ’n mens sê dat elke bietjie help.

Wat egter sedert 1994 vir Afrikaners na ’n redelik tegemoetkomende politieke omgewing gelyk het, kan gedurende 2014 aansienlik onvriendeliker word. Die Orania Beweging het iets daarvan ervaar toe ons reaksie op mnr Mandela se dood heel billik deur ’n joernalis opgesom is as “with dry eyes and due respect” en dit ’n stroom van rassistiese haatpos uit jong swart geledere op die sosiale media tot gevolg gehad het.

Hoewel ons nie met die verwagting van ’n enkele, kataklismiese “nag van die lang messe” werk nie, is ons bekommerd dat soveel van ons mense die slagoffers van haatmisdaad word. Elke nag waarop mense aangeval word, op hulle plase of in dorpe en stede, is ’n “nag van die lang messe” in die kleine. Ons is bekommerd dat Afrikaners dié gebeure nie in die lig van politieke wedywering beskou nie en daarom bloot individueel of in die kleiner kring benader.

Maar selfs as ‘n mens die fisiese bedreiging waaronder ons mense leef buite rekening laat, kan verwag word dat die verhoogde verwagtings en verhitte retoriek wat met die verkiesings gepaard sal gaan, die speelveld met betrekking tot die transformasie van die Suid-Afrikaanse samelewing sal verskuif. Grond en die landboubedryf, mynbouregte en die mynbedryf, die industriële en korporatiewe sektore sal almal die toenemende druk daarvan voel, selfs al is dit eerder eienaarskap as werklike breëbasis swart bemagtiging waaroor dit gaan.

Die punt is dat die eksterne omgewing vir Afrikaners moeiliker eerder as makliker sal word en dat dit net groter eise aan ons sin vir selfstandigheid sal stel. Meer Afrikaners sal sekerlik oorweeg om Suid-Afrika te verlaat en ’n blote beroep op hulle lojaliteit aan die Suid-Afrikaanse staat sal al minder gewig dra.

Ons strategiese fokus vir 2014

Teen die agtergrond van die volk-staat wat hierbo geskets is, is die Orania Beweging van oordeel dat ons ’n drieledige strategie moet volg, nie net gedurende 2014 nie, maar ook in die jare wat nog kom. Hoewel dit baie kortliks aangemeld word, sal u besef dat dit in elke geval ’n mondvol is wat ter sprake gebring word.

Die eerste deel van die strategie is dat die Orania Beweging ’n sterker uitwaartse aksie moet loods. Ervaring het ons geleer dat ‘n mens nie steun vir Orania kan forseer nie, maar dat mens tegelyk nie kan swyg oor ’n saak wat jou so na aan die hart lê nie. Ondersteuning vir ons saak kan baie vorme aanneem en bestaan nie net uit diegene wat hulle in die Oraniagebied hervestig nie.

Belangrik soos vestiging mag wees, is die uitbreiding van ons lidmaatskap en ondersteuningsbasis, asook die groei van instellings soos die Helpsaamfonds en die Groeifonds, albei filiale van die Orania Beweging, voorwaardes vir ons toekomstige sukses. Lede en ondersteuners kan ons help om plaaslike bekendstellingsgeleenthede aan te bied en mede-Afrikaners te betrek.

Die tweede deel van ons strategie is dat ’n verspreide en kwesbare minderheidsbevolking met ’n gevestigde sin vir selfstandigheid die volgende eenvoudige stap moet oorweeg. Dit is naamlik konsentrasie. Selfs ’n minderheid wat gekonsentreerd woon en daardeur beheer oor sy eie instellings uitoefen sonder om daarvoor van ’n onvriendelike of vyandige staat afhanklik te wees, kan tot ’n hoë mate oor sy eie toekoms beskik.

Op ’n wêreldwye skaal is selfs ‘n groot volk ’n minderheid, maar is dit sy onbetwiste beheer oor ’n eie gebied wat van hom iets groot eerder as iets klein maak. Dieselfde geld vir middelslag en klein volke, ook vir die Afrikaner. Daarom moet Afrikaners hulle nie teen die huidige Orania en sy beperkings vasstaar nie, maar by ’n verbeeldingryke uitbou daarvan betrokke raak. Klein soos hy is, toon Orania reeds watter krag daar in konsentrasie lê. Dink net wat ons met tien maal of honderd maal sy huidige bevolking en gebied kan vermag!

Dit bring ons by die derde deel van ons noodsaaklike strategie vir die nuwe era wat in 2014 ingelei word, naamlik die noodsaak vir versnelde groei. Orania het vir baie Afrikaners ’n simboliese sentrum geword en meer is besig om dit as sodanig toe te eien. Daarvan spreek byvoorbeeld die troue vroeg vanjaar op Orania van twee jongmense wat in London woon, maar dié groot stap in ’n tuistelike omgewing wou neem. Dit het ’n groot kring van familie en vriende ook na Orania aangetrek en aan Orania ’n plek in hulle gemoed toegeken.

Orania kan egter nie verseker dat die Afrikanervolk in die toekoms sal floreer as hy net ’n simboliese sentrum bly nie. Orania moet ook ’n fisiese sentrum word, en dit sal hy net regkry as daar wesenlike groei plaasvind. Nie net die voorgaande twee punte nie, maar elkeen van ’n veeltal handelinge, groot en klein, moet daarop afgestem wees. Elke belegging en bydrae, elke nuwe besigheid, elke gebou wat verrys, elke gesin wat vestig dra daartoe by – en elke Afrikaner moet hom- en haarself afvra wat hulle kan doen om dit te bevorder.

Slegs as ons saam doen wat ons elkeen apart nie kan regkry nie, sal ons volk gedy en ons elkeen die voordeel daarvan geniet. Dan vind ons wat vryheid beteken, nie vryheid van iets slegs nie, maar vryheid vir iets groots. Dit is ’n roeping wat tot ons elkeen spreek. Ons is immers nie vir onderhorigheid gebore nie!

Met beste wense

Carel Boshoff
President van die Orania Beweging

Deel/Stuur

24 Reaksies op “Volk-staatbetoog vir 2014”

  1. DavidO 9 Januarie 2014 at 02:40 Permalink

    BRAVO, Mnr Boshoff! Ek is met U!

  2. william 9 Januarie 2014 at 08:51 Permalink

    Na 1994 is daar by baie blankes n gevoel van defaitisme en fatalisme. Daar het niks gekom van DE Klerk se wigte en teenwigte nie en meeste beloftes wat by Codesa gemaak is ,is al lankal verbreek.
    Ek het vir die Vryheidsfront gewerk en het eerste handse ondervinding van die gemoed van blankes. My dogter en haar familie het 9 jaar gelede geemigreer na Australie want hulle het nie kans gesien om hulle kinders in hierdie misdadige land groot te maak nie.
    Ons moet egter onthou dat ons voorouers in erger situasies was maar hulle het nie gaan le nie. Een van ons grootste struikelblokke is ons onvermoee om saam te staan .
    Wat Oranie betref glo ek dat dit baie belofte toon en dat dit lewensvatbaar kan word. Die bekommernis is of die ANC gaan toelaat dat blankes die gebied beset. Ek dink dit is een van die aspekte wat mense weerhou om hulle daar fisies te gaan vestig. Net die toekoms sal leer. Ek bid die bestuur van Orania sterkte toe vir die toekoms.

    • Sebastiaan 10 Januarie 2014 at 09:51 Permalink

      Ek stem saam met die sentimente wat in bogenomede komentaar uitgespreek word. Een punt wat hier genoem word en wat ek dikwels al by besoekers gehoor het, verdien besondere aandag: die vraag “Sal die ANC dit toelaat?” Ons vryheidstrewe hang nie van ons teenstaanders af nie wat ons in elk geval niks gun nie. Die ANC en sy susterorganisasies het ook nie die NP regering om toestemming gevra om teen apartheid te betoog nie. Ons moet dit eenvoudig doen wat ons weet reg en toekomsgerig is. Orania se vryheidstrewe beweeg binne die riglyne van die grondwet (art 235), maar ons weet ook dat die regering al dikwels sy eie gorndwet geignoreer het. Dat die regering moontlik in die toekoms ‘n stokkie daarvoor probeer steek as duisende Afrikaner in die Noordwes-korridor vestig mag so wees. Ons moet egter feite skep, en van alle opsies wat ons het, is die Orania opsie die enigste een wat ‘n langtermyn toekoms vir ons verseker, en wat regverdig is omdat dit nie op oorheersing of uitbuiting gebasseer is nie, maar op selfstandigheid.
      Hoe meer selfstandigheid ons sal bereik, hoe moeiliker is dit om ons vryheidstrewe te verydel. Niks is so sterk soos feite nie, dit behoort elke boer te weet op wie se grond wat wettiglik aan hom behoort, terduisedne plakkers gevestig het en wat hulle net nie meer laat verwyder nie, al is daar ook hoeveel hofuitsprake wat dit eis. Kom ons skep ‘n feit wat geen regulasie of wet ongedaan kan maak nie.
      Terloops, omdat ek die “wat as..?” vraag ook al vir myself dikwels afgevra het, het ek ‘n boek geskryf met die titel “Beslissing in die Karoo” wat juis die senario van grootskaalse vestiging van Afrikaners in die Noordwes-Kaap en reaksie van die regering behandel.

  3. Anthony Schlemmer 9 Januarie 2014 at 09:54 Permalink

    Briljante artikel! Ek vertrou met my hele hart, dat hierdie skrywe, elke Afrikaner sal bereik op een of ander manier.

  4. Louis 9 Januarie 2014 at 15:11 Permalink

    Baie goeie skrywe gewees! Ek en my gesin droom al vir ‘n hele paar jare nou al om Orania toe trek want dis waar ons, ons nuwe toekoms wil begin met ons twee klein dogtertjies. Ons wil kom help bou aan ‘n beter toekoms en die gebied verder uitbrei (ONS ALMAL MOET BEGIN OM ORANIA VERDER EN VERDER UIT TE BREI VIR ONS TOEKOMS EN DIE VAN ONS KINDERS) anders gaan ons vinnig uit sterf. Op die oomblik is ons mense te wyd versprei en daarom is ons ‘n maklike teiken, ons moet vanaf Orania tot by die wes en noordwes kus uitbou. Ons kan dit doen want dis in ons bloed!!! Ek en my gesin en my ma en haar vriend gaan Orania moontlik in einde Januarie of begin Februarie 2014 beoek, myh ma se vriend is ‘n baie groot besigheidsman en kan moontlik ‘n groot belegger vir Orania beteken sal sien wat gebeur. Sal binnekort met Jaco Kleynhans van Orania beweeging in kontak kom! Sterkte vir almal by Orania en Orania se ondersteuners vir 2014.

  5. Andreas Meyer 9 Januarie 2014 at 15:53 Permalink

    Ek stem met meeste punte saam. Maar daar is ook twee wat ek wil noem waarmee ek nie saamstem nie. Die een is ‘n minder punt wat aan Nelson Mandela ‘n “versoeningsrol” toeskryf. Hy was nie ‘n versoener, maar ‘n politieke realis wat deur versoeningspratjies ons weerstand gebreek het.
    Die tweede en meer belangrike punt is die verkiesingsdeelname. Daar is niks wat ons deur dit kan wen nie en dit dra net by om die bestel meer legitiem te laat lyk. Dit skep ook die indruk dat ons die staatkundige bestel aanvaar. Verder vermors dit ons hulpbronne wat volgens my mening beter aangewend kan word op ander terreine van die burgerlike samelewing of aktiviteite. Dis vinnig maar my kommentaar en kritiek teenoor die andersins uitstekende ope brief.

  6. Willem van As 10 Januarie 2014 at 02:33 Permalink

    “Elke Afrikaner moet hom- en haarself afvra wat hulle kan doen om dit te bevorder.”

    Vir my as individuele Afrikaner en uitwoner is hierdie nou al ‘n geruime tyd my ingesteldheid, en probeer ek binne my vermoë bydra wat ek kan. Die tipe goed wat ek gedoen het is huis koop, aandele in die Ou Karooplaas winkelsentrum en ek het aangesluit by Vry Afrikaner se ontwikkelingsfonds, so my bydrae tot Orania was glad nie ‘n opoffering nie, eintlik net belange opbou, en dit is baie lekker om die deurlopende vooruitgang in Orania dop te hou.

    Verder dink ek dat hierdie ‘n fantastiese volk-staatbetoog is, en kan nie wag om te sien wat dit gaan oplewer nie. Sien al klaar uit na volgende jaar sin.

  7. Ron Ashworth 12 Januarie 2014 at 06:34 Permalink

    Ek sal graag wil weet waar pas engelsprekende mense in julle organisasie. Ek het in Namakwaland groot geword en skool gegaan in die sestigs. Dis waar ek Afrikaans geleer het by my vriende. Op allerdaagsvlak kry ek te doen met mense wat partykeer heelwat onvriendelik is omdat ek nie een van hulle is nie. Ek is hier gebore en het nooit padgegee omdat dinge verander het nie. Ek het net soveel reg soos enigiemand wat hier woon.

    Die korrupsie en vermorsing van ons taks is ‘n skande. Hoekom kan ons nie saamstaan as gewone mense om weer te begin bou aan die land wat ons liefhet. Al is ek Engelsprekend het ek groot geword toe ek trots was op my land. Ek kan dit nie meer sê nie.

  8. Bennie Burger 12 Januarie 2014 at 08:43 Permalink

    Baie goeie inisiatief en beslis navolgenswaardig deur Afrikaner Leiers en Besluitnemers in Afrikaner organisasies en belangriker nog Afrikaner Individue van oral oor. Bydrae tot die Afikaner Vryheid saak manifisteer nie altyd net in een spesifieke rigting of terrein nie. Die mees basiese aksie wat vryheidgesinde Afrikaner kan doen is om daagliks sy vryheid uit te leef in sy individuele omgewing. Dit impliseer dat inisiatief geneem moet word om deur struktuur wat deur die staat daar gestel is sy teenkanting teen die stelsel te bewys. Dit is mos n omgewing van vryheid van spraak. Soos in enige vergadering is dit ‘n persoon se reg om sy teenkanting bywyse van ‘n genotuleerde teenstem na die hoogste vlak van teenkanting te definieer. In die huidige verkiesingstruktuur en met ‘n bietjie toepassing van rekeningkundige beginsels dra die argument dat legitimiteit aan die huidige stelsel verleen word geen gewig nie en getuig van slaafse navolging van absurde argumente van die verlede, soos wat deur ‘n sekere Afrikaner Politieke party in die verlede beweer is dat daar ‘n miljoen stemme op hom verenig is deur die sg wegbly stem.

  9. Jacques 15 Januarie 2014 at 08:07 Permalink

    Ek stem glad nie saam dat deelname aan SA verkiesings wenslik is nie. Die teendeel is waar, want deur deel te neem legitimeer ons dit en delegitimeer ons enige aansprake dat ons nie enige seggenskap het nie en dus selfbeskikking eis.

    Pieter Mulder se deelname aan die ANC-regering is net so skadelik.Dis heeltemal teenproduktief. Die geringe spreukbeurte (beurte word toegeken o.g.v. party steun) wat ‘n 0,4% party (VF)kry in die Mzansi parlement kan niks doen om ons saak te bevorder nie. Boonop het ek vir Mulder in die vroeg negentigs laas iets oor Afrikaner selfbeskikking hoor se. Afrikaners kan ‘n baie sterker boodskap stuur deur heeltemal van Mzansi se IEC verkiesings te ontrek. Orania behoort eerder die VVK te steun.

    Ek het baie respek vir Carel Boshoff, maar iets ontbreek. Hier word heelwat gemaak omtrent steun en groei vir Orania, asook dat daar tot ander Afrikaner organisasies gespreek word. Lg is egter onwaar want ek sien geen poging om uit te reik na organisasies buiten moontlik die VF nie.

    • Ebert 15 Januarie 2014 at 08:34 Permalink

      Jacques, watter selfbeskikkingsbewegings was in die geskiedenis van die wêreld suksesvol terwyl hulle parlementêre politiek vermy het?

      Selfs al stem geen enkele Afrikaner in die komende verkiesing nie, sal dit nie enige duit maak aan die legitimiteit van die verkose regering nie. Dit sal hulle nie eens verneder nie, watwou beweeg om Afrikaners se aansprake op selfregering te erken.

      Tweedens, watter Afrikanerorganisasies behoort daar na jou mening mee saamgewerk word wat tans uitgesluit is?

    • Jaco Kleynhans 15 Januarie 2014 at 10:26 Permalink

      Jacques,

      Jy is verkeerd. Die Orania Beweging voer byna weekliks gesprek met Afrikanerorganisasies oor ‘n groot en wye spektrum. Volgende naweek ontvang ons die Volksraad hier. Onlangs het ons gesprek gevoer met leiers van Solidariteit. Ons is die heeltyd besig om goeie bande so ver as moontlik te bou.

      • Jacques 15 Januarie 2014 at 10:56 Permalink

        Jaco, dis goeie nuus, maar dan moet Orania dalk meer doen om dit bekend te maak. Ek dink mense smag daarna om te weet dat organisasies in gesprek met mekaar is. Ek kry met so baie mense te doen wat sat is vir die onenigheid maar die gevoel is dat organisasies se leierskap hul eenvoudig nie daaraan steur nie. Ek dink moedeloosheid is in die rooi gedruk en mense emigreer tans teen ‘n stink spoed. Dis tyd vir hoop.

  10. Jacques 15 Januarie 2014 at 09:35 Permalink

    Ebert, dink jy werklik dat die enkele minute wat die VF gegun gaan word enige verskil gaan maak? Tweedens, ek versker jou die woorde Afrikaner selfbeskikking sal nie deur een van daai verteenwoordigers gerep word nie. Weet jy hoekom? Want hulle glo self nie meer daarin nie. Hulle is beroepspolitici wat blote salarisse soek.

    Jy kan ook nie ‘n 0,4% party in ‘n Afrikanistiese bedeling enigsens vergelyk met bv die Parti Quebecois se aansienlike getalle in ‘n westerse konfederale provinsie vergelyk nie.

    Ons situasie is so hopeloos dat die beste ding wat ons kan doen is om te erken dat enige deelname daaraan niks vermag nie en dat ons al ons enrgie en moeite inwerp om ons eie strukture met hul eie legitimiteit te bou. As ons dan bv hof toe gaan kan niemand se “maar julle is dan in die regering (P Mulder) nie of parlement” nie. As hulle dan vra waarom ons nie deelneem nie kan ons se omdat ons niks daardeur vermag nie en omdat ons dit nie meer erken nie.

    Ons staan voor moelike besluite en nie een lyk baie belowend nie. Wat 20 jaar en die VF vir ons bewys het is dat deelname vir ons niks behalwe kooptasie gebring het nie. Dis tyd dat ons erken dat ons 20 jaar die VF ‘n kans gegee het en dat ons daardeur 20 jaar gemors het. Tussen die slegte opsies moet ons nou eensydige optrede begin toepas en dit vereis ten eerste ontrekking.

    Ander organisasies: Oase, Praag, VVK, HNP, Solidariteit, Afrikanerbond, FW De Klerk Stigting, AWB ens. – die hele spul. Dit maak ook nie saak of hulle te vinde vir enige samewerking is nie en of ons enigsens van hulle hou nie. Dit maak wel saak dat ons begin met gebare. ‘n Poging hiertoe sal werklike leierskap aandui en hoop gee. Geen Afrikaner organisasie is tans vir gesprek te vinde met organisasies wat nie hul ideale reflekteer nie. Solank dit die geval is het ons geen werklike leierskap nie en geen hoop nie. Dink watter enorme impak dit sal he as Orania alle organisasies uitnooi vir ‘n Afrikanerberaad. Dit sal elke Afrikaner se aandag op Orania vestig. Die feit is, alle Afrikaners is saam in hierdie gemors en uiteindelik sal ons mekaar MOET vind.

    • Tertius 15 Januarie 2014 at 11:10 Permalink

      Jacques, wat jy skryf maak sin vir my. Die huidige Volksraad doen baie belangrike werk internasionaal en plaaslik om die regering se aandag te vang, maar sonder sukses dink ek gesiene in die lig van die patetiese en moedswillige reaksie van die SA regering tot dusver.

      Ten minste word al die opsies beproef. Ek dink ook ‘n Afrikanerberaad met ‘n relevante agenda kan positief uitdraai ten opsigte van die Afrikaner se strewe na selfbeskikking.

      Die Volksraad verteenwoordig na die eerste ‘verkiesing’ ‘n redelike massa Afrikaners en Orania is ‘n voldonge feit. Die Afrikaners sal so gou moontlik met mekaar moet praat en voortgaan met sy REG tot selfbeskikking. Die huidige regering is GEEN bedreiging vir enige iemand behalwe ‘homself’ en sy verslaafde kiesers.

      Voorts dink ek dat politiekery nie vir die Afrikaner werk nie, m.a.w. die VF+ gaan dit nooit vir die Afrikaner regkry nie. Solidariteit het sy funksie en snoer ‘n massa ‘Afrikaners’ saam maar het nie ‘n ‘stem’ vir die Afrikaner volk se stryd en ideale nie.

      Een saak onder vele ander, vir my, is dat ek hoop die Afrikaner volk kan ‘n ander regeringsmodel voorsit wat nie op partypolitiek funksioneer nie (eendrag maak mag). Vir my is dit daardie ‘Eendrag’ wat die Afrikaner volk moet uitsorteer en eenvoudig sy pen in die grond inslaan…

      • Jaco Kleynhans 15 Januarie 2014 at 11:33 Permalink

        Die bewering dat Orania se omgee oor die probleem van arm Afrikaners nie, is totale onsin. Ons het dit al keer op keer met bewyse weerlê. Ons hervestig voortdurend arm Afrikaners uit bitter moeilike omstandighede in Orania. Ons glo egter nie net in die verskuiwing van armoede soos u dit voorstel nie, maar wel in die skep van volhoubare oplossings. Ons doen dit deur die beskikbaarstelling van gesubsidieerde, menswaardige behuising, toegang tot onderwys, mediese en maatskaplike dienste en goeie werksgeleenthede wat mense hul selfvertroue laat herwin.

        • Jacques 15 Januarie 2014 at 19:49 Permalink

          Jaco, nog Tertius, nog ek het ‘n woord oor arm Afrikaners gerep, so ek verstaan nie jou antwoord nie. Nietemin, ek hoor wat jy se en dit klink vir my goed.

          • Tertius 16 Januarie 2014 at 17:28 Permalink

            …ek is bewus van die fantastiese werk wat Orania onder arm Afrikaners doen en gaan 100% akkoord daarmee. Geen bekommernis, ek het eintlik aanvaar dit was ‘n ‘glips’.

            Groete,

  11. Jaco Kleynhans 16 Januarie 2014 at 08:48 Permalink

    Jacques. Ek weet nie hoe dit gebeur het nie, maar my kommentaar was bedoel vir ‘n ander persoon wat op ‘n ou inskrywing oor die uitdagings vir Orania die bewering gemaak het dat Orania nie vir die armes omgee nie. Ek weet nie hoe my kommentaar hier beland het nie!

  12. Revo 21 Januarie 2014 at 16:50 Permalink

    Revo

    Hoe lank gaan julle nog stry? Die Siener het gese^, en niemand slaan ag daarop nie: DIE ALMAGTIGE sal julle nog help, MAAR HY SOEK SY DEEL! Nie Adriaan Snyman of enige ander leier neem hierdie waarskuwing en raad ter harte nie. Het ons almal dan heeltemal sonder verstand geword? Miskien moet ons almal eers heeltemal moedeloos wees (… hy sien hoe hang ons hoede oor ons o-e).

    Maar DIE ALMAGTIGE ken sy eie (van ver af) en Hy sal Sy Ewige Woord nog in vervulling laat gaan. Lees Deut. 30:6 & 7 “DIE EWIG-LEWENDE jou TWEE-VOUDIGE MAGTIGE VAN WAARHEID EN LIG sal jou hart besny en DIE HART VAN JOU NAGESLAG, om HOM LIEF TE HE^ MET JOU HELE HART, EN MET JOU HELE SIEL, DAT JY KAN LEWE!!!!

    En DIE EWIG-LEWENDE JOU TWEE-VOUDIGE MAGTIGE VAN WAARHEID EN LIG sal AL HIERDIE VLOEKE OP JOU VYANDE EN OP JOU HATERS LE^ WAT JOU VERVOLG HET!!!

    Neem ook kennis veral van die tweede gedeelte van vers 9: WANT DIE EWIG-LEWENDE SAL WEER OOR JOU TEN GOEDE BLY WEES SOOS HY BLY WAS OOR JOU VADERS!!!

    Wat is nie alles in hierdie woorde opgesluit nie? Julle kan aanhou om dit te minag, maar op die regte tyd gaan Hy ons besoek.

    Verlangende groete

    Revo.

  13. Frik Lotz 31 Januarie 2014 at 22:14 Permalink

    Goeie stuk geskryf deur Carel Boshoff. Dis tyd dat Afrikaners begin hande vat en mekaar help. Laat ons begin deur te gaan stem vir die VF Plus in die verkiesing en dié party sterk te maak sodat Afrikaners ook daardeur versterk word. Afrikaners en ander minderhede moet begin opstaan vir hul reg op selfbeskikking. Die VF Plus is die vaandeldraer van minderheidsregte en selfbeskikking. Eendrag maak mag!

    • Ebert 9 Februarie 2014 at 13:28 Permalink

      Indien die internetkommentare oor die algemeen as baie growwe barometer ingespan word, blyk dit dat dr Pieter Mulder se deelname aan die Zuma kabinet, die VF+ se enkel grootste struikelblok is om munt te slaan uit die foute wat die DA nou een na die ander op mekaar stapel.

      Die VF+ se gebrek aan strukture, wat grootliks agterweë gelaat is, sal ook pogings om kiesers by die stembus te kry en hulle daar te oorreed om VF+ te stem be moeilik.

      Indien die VF+ nie sy steun in die komende verkiesing met minsters 25% kan groei nie, behoort Pieter Mulder, Pieter Groenewald en Corne Mulder opsy te staan vir jonger leiers met meer energie vir takstigting.

  14. Jan Christiaan Opperman 5 Februarie 2014 at 21:19 Permalink

    Ek is nie n geleerde persoon oor hierdie onderwerp nie maar ek weet en ek voel in my hart dit is reg. Maar die probleem is nie dat ons n minderheid is nie dit is dat daar nie n LEIER is vir die afrikaners en boere nie.bv Juilius malema hy is n idioot maar hy gaan die verkiesing n sterk 5 % vat indien nie meer nie ek praat dit nie goed nie ek meen net dat hy het reg gekry wat geen ander politieke party reg gekry het van begin af nie. As daar n afrikaner leier kan opstaan en se genoeg is genoeg sal die VF+ n baie groter inpak maak maar hulle moet nie die indiers en kleurlinge vergeet nie hulle is saam met ons in die probleem as ons al 3 die rase saam kan laat staan sal ons berge kaan verakyf demokraties. Maar ons afrikaners soek ons eie vvolkstaat ons wil oor ons eie en onder mense lui. Maar in suid afrika is dit een van drie vir ons 1 of saam die kleurlinge en indiers 2 ons moet dit wetlik en met buitelandse help n volkstaat benader of 3 ons moet maar wag vir siener se sienings om waar te word.

  15. Kaira 1 Junie 2015 at 16:54 Permalink

    Dit is tyd dat ons ophou praat, almal saamstaan en bou aan ‘n nuwe toekoms vir ons Suid-Afrikaanssprekende nasie. Hoe klink statistieke van 9% witmans in diens by sekere firms, 21% wit vroue, res een kleur, nie soos ons equality vertaal nie. As ons nie sien wat ons in die gesig staar nie is ons blind. Die pilare van ons huisgesinne word uitgevee en ons is tevrede daarmee.Daar is niks wat ons op aanspraak maak wat die ander vir hulself neem en deur slim beskrywings toeeien nie.


Lewer Kommentaar

*