07 Oktober 2013 ~ 8 Kommentare

Versoening, erkenning en Mandela

Geskryf deur Carel Boshoff

Buiten vir die Orania Beweging se reaksie op oud-President Mandela se toestand die afgelope tyd, het Afrikaners op twee, dalk drie maniere daarop gereageer. Aan die een kant was daar diegene wat van hom as’t ware ’n eietydse heilige wou maak, aan die ander kant was daar diegene vir wie hy tot vandag toe niks anders as ’n terroris is nie, en tussenin was daar ’n groot klomp swygsames wat hulle eenvoudig nie daarmee bemoei het nie.

Orania se reaksie, wat veral deur my, maar ook deur ander verwoord is, het beide ondersteuning én kritiek uitgelok. Dit het goeie wense en sterkte aan die familie en vriende behels, maar het ook ’n bepaalde politieke inhoud gehad, naamlik dat sy nalatenskap van versoening slegs van betekenis kan wees as dit op erkenning berus – en dat erkenning die sluitsteen van ons politieke aanspraak uitmaak.

’n Deel van die ondersteuning en die meeste van die kritiek het van mense gekom wat gedink het dat ons saamsing in die huldigingskoor, hoewel die meeste van ons lede en inwoners verstaan het dat ons as’t ware ’n derde, alternatiewe standpunt ingeneem het. Ons het hom naamlik nie bewierook óf verdoem nie, maar ons eie saak bevorder deur die soort erkenning te gee wat ons ook van ander verwag. Dit het ons op ’n waardige wyse probeer doen, terwyl ons die onderliggende spanning tussen dit wat hy verteenwoordig het en dit wat ons verteenwoordig, juis aangeroer het.

Omdat ons reaksie slegs in verpakte stukkies en brokkies deur die media gedra is, het ons van ons eie kanale gebruik gemaak om ’n meer volledige weergawe daarvan die wêreld in te stuur. Ongelukkig is dit steeds deur sommige gekritiseer sonder dat ‘n mens kan agterkom dat hulle behoorlike oorweging aan ons argumente gegee het. Ons het ’n politieke, historiese en geloofsperspektief op die hele saak gestel, wat naastenby op die volgende neergekom het:

Histories gesproke kan niemand ontken dat mnr Mandela by die gewapende stryd teen die blanke bedeling in Suid-Afrika betrokke was en aan terrorisme deelgeneem het nie. Dit is egter ontoereikend om te ignoreer dat hy daarbenewens ’n lang politieke loopbaan gehad het, wat ook uit ander dinge as terrorisme bestaan het en dat, selfs as ‘n mens die ANC-propaganda buite rekening laat, daar ook verdere perspektiewe op sy lewe is. As ons die heersende, enkelvoudige veroordeling van ons eie geskiedenis verwerp, behoort ons seker nie dieselfde fout met ander se geskiedenis te maak nie.

Die politieke perspektief sluit hierby aan want dit verwys na die manier waarop mnr Mandela se politieke nalatenskap aangebied word. Hy is naamlik wêreldberoemd vir sy politieke versoening eerder as wraak. Ons sê: goed en wel, maar versoening sonder erkenning is leë woorde, en erkenning kan iets so sentraal soos iemand se vryheidsin nie uitsluit nie. Dit is waarop ons ingevolge sy politieke testament aanspraak maak. Daarmee opponeer ons nie die wêreldwye pogings om die goeie in Suid-Afrika se onlangse geskiedenis raak te sien nie, maar wil ons ander se uitsig verbreed om ons plek daarin ook raak te sien.

Ten slotte is ons geloofsperspektief eenvoudig: waar iemand, selfs ons aardse vyand, voor die ewige reg te staan kom, kom die oordeel ons nie toe nie. Mnr Mandela se familie, vriende en volgelinge word met die feit van menslike sterflikheid gekonfronteer soos ons elkeen ook al daarmee gekonfronteer is. Ons bid hulle Gods genade daarvoor toe, soos ander dit al vir ons toegebid het. Só verstaan ons die liefdesgebod.

Iemand vra my egter: Waarom het julle nie liewer hoegenaamd niks gesê nie? Daarop kan ek net antwoord dat Orania nie op wag-en-sien gebou is nie. Ons leierskap was nog altyd “van voor af” en op oortuiging gebou, nie om iemand se guns te wen of populêr te wees nie. Daarmee het ons die toets van die tyd deurstaan. Ons reaksie op mnr Mandela se toestand is eenvoudig ’n voortsetting daarvan en niks om oor te swyg nie.

 

*Carel Boshoff is president van die Orania Beweging. Hierdie artikel het oorspronklik in die Orania Beweging se ledetydskrif, Voorgrond, verskyn.
Deel/Stuur

8 Reaksies op “Versoening, erkenning en Mandela”

  1. Pierre Marais 15 Oktober 2013 at 11:45 Permalink

    Ja en so is ek ook grootgemaak deur my ouers. Respekteer ander soos jy gerespekteer wil word. My Pa het dit nooit verdra as ek met iemand, maak nie saak wie hy of sy was nie, sonder respek aangespreek het nie. Al het ons ons bediende op sy of haar naam genoem het ons hom of haar met respek behandel. So het elkeen sy eie oortuiging. Respekteer dit al stem jy nie daarmee saam nie. En as hy jou wil tenakom, staan jou man en beskerm jou regte sonder om verskoning daarvoor te moet vra.

    So ver die linkse elite gaan, maak nie saak aan watter kant van die argument Orania staan nie, hulle sal dit afskiet.

  2. Johan Olivier 16 Oktober 2013 at 01:35 Permalink

    Ek as Christen is gereeld in stryd met God hieroor. Moenie vergeet dat Mandela en sy gevolg terroriste bly in my oe. Hul het verskeie blankes al gedood deur tereer aanvalle en sit dit steeds voort in die vorm van guarilla aanvalle op blankes. Hierdie brutale moorde op blankes word militer deur sy party aangevoer. Ek glo egter aan die wraak kom God toe en nie ons nie, maar ons kan ook nie agteroor sit en dit ongesiens laat gebeur, ons voorvaders het te veel met hul bloed betaal. Dus tyd vir ons om terug te veg.

  3. Johan Olivier 16 Oktober 2013 at 01:51 Permalink

    Ek as Christen is gereeld in stryd met God hieroor. Moenie vergeet dat Mandela en sy gevolg terroriste bly in my oe. Hul het verskeie blankes al gedood deur tereer aanvalle en sit dit steeds voort in die vorm van guarilla aanvalle op blankes. Hierdie brutale moorde op blankes word militer deur sy party aangevoer. Ek glo egter aan die wraak kom God toe en nie ons nie, maar ons kan ook nie agteroor sit en dit ongesiens laat gebeur, ons voorvaders het te veel met hul bloed betaal. Dus tyd vir ons om terug te veg .
    Selfbeskikking gaan nie vanself kom , vryheid nog minder, daar sal daarvoor geveg moet word.

  4. Johann 18 Oktober 2013 at 18:59 Permalink

    Om een of ander rede het die Engelse Bybel vertaling se “love your neighbour” interpretasie die heersende een geword, eerder as die oorspronklike (en toevallig Afrikaanse vertaling) – “jy moet jou naaste liefhe”. My interpretasie is dat eerstens my gesin en familie, en daarna sommige Afrikaner mense, my “naaste” is.

  5. Johann 18 Oktober 2013 at 19:02 Permalink

    Carel, soos ek by ‘n ander artkel op die blog ook opgemerk het – weereens ‘n rustige, nugtere benadering tot belangrike kwessies. Ek hou daarvan. Dankie vir wat julle doen.

  6. tulp 19 Oktober 2013 at 10:30 Permalink

    Verstandige bijdrage, Carel. Zoals altijd eigenlijk van jou. Bedankt.

  7. Danie Pieters 25 Oktober 2013 at 12:14 Permalink

    Geagte Carel Boshoff en Bestuur van Orania.Ek het die skrywe meer as een of twee keer gelees en ek kan nie anders as om saam met u te stem nie. Nader aan die waarheid wat u geskryf het kan ‘n mens beswaarlik kry. Welgedaan

    • Carel Boshoff 25 Oktober 2013 at 14:29 Permalink

      Dankie. Ons waardeer u insig!


Lewer Kommentaar

*