14 Mei 2014 ~ 12 Kommentare

Verkiesing 2014 is meer van dieselfde

Geskryf deur Sebastiaan Biehl

Dit het al ‘n ritueel met Suid-Afrikaanse verkiesings geword dat in die aanloop daartoe allerhande verwagtings geskep word dat hierdie keer dinge anders gaan wees en daar ‘n kans is om die ANC-regering te verslaan, of ten minste enkele provinsies van die party af te neem.

Die media wil koerante verkoop en het dus bespiegel dat die korrupsie van president Zuma en die wegbreek van vakbonde uit die ANC/Cosatu/SAKP-eenheidsfront ‘n wesenlike faktor is wat die spel gaan verander. Dan word daar ook, gegrond op meningspeilings, gegis dat die ANC provinsies soos die Noord-Kaap en Gauteng weens grootskaalse ontevredenheid en betogings kan verloor.

Hierdie verkiesing het egter net weer bevestig wat ‘n mens die onveranderlike wetmatighede van die Suid-Afrikaanse politiek kan noem:
• Die ANC wen met elke verkiesing om en by 2/3 van die stemme. Geen interne verdeeldheid, swak leierskap, skandale of swak prestasie kan die ANC se geweldige houvas op sy ondersteuners verbreek nie. Daar is ook ‘n groot gaping tussen die media se waarmeming van die ANC en die ondersteuners op grondvlak se onbreekbare lojaliteit.
• Die DA beweeg met elke verkiesing ideologies nader aan die ANC en sy leierskap verswart. Nogtans kon die party nêrens ‘n kiesafdeling wen wat hoofsaaklik deur swartmense bevolk word nie en bly die swart ondersteuning gering.
• Die Afrikaners bly die mees lojale ondersteuners van die DA, en selfs die DA se afskeep van Afrikaans, steun vir swart bemagtiging en grondeise kon nie die Afrikaner se lojaliteit aan dié party kraak nie. As mev Zille se dansery, die uitwerk van wit Afrikaanse mense uit die DA se leierskap en die ideologiese skuif na links nie die Afrikaner se ondersteuning vir die DA kan breek nie, dan kan niks dit doen nie.
• Die VF+ het wel effens beter gevaar, wat in die lig van ‘n krimpende getal Afrikanerkiesers op sigself ‘n prestasie is. Nogtans kan die party nie uit die 1%-ghetto uitbeweeg nie en selfs die VF se verandering van die fokus op Afrikanerselfbeskikking na minderheidsbelange, het nie gehelp om nuwe steun uit nie-Afrikanergeledere te wen nie.
• Met elke verkiesing is daar ‘n nuwe swart party wat uit ontevrede ANC-ondersteuners gevorm het. 1999 was dit die UDM, 2004 die OD, 2010 Cope en nou EVV en Agang. Alhoewel die partye,behalwe Agang, wat ‘n flop was, ‘n element van verrassing inhou, trek hulle min steun van die ANC af en herskik net die oposisiegeledere. Nuwe partye het ook ‘n beperkte lewensduurte en oorleef selde meer as 2 termyne.
• Etniese politiek kry min steun. Swart mense stem rasgebaseerd en nie etnies nie. Partye met ‘n etniese appèl (nie in beleid nie, maar wel in die feit dat hulle streeksgebonde is) soos die IVP, UCDP, UDM, MF, ens, kry min steun en vorder in die meeste gevalle agteruit.
• Verkiesings gaan nie oor beleid of ideologie nie, maar feitlik uitsluitlik oor brood- en bottersake. Partye wat op waardes fokus, soos die VF+ en die ACDP, kry min aftrek, terwyl die ANC, DA, EVV e.a. se veldtogte suiwer op materiële dinge fokus.
• Elke verkiesing wys net weer eens die mag van demografie, veral wanneer die uitslae uit die swart gebiede inkom. Dan spring die persentasies van swart massapartye soos die ANC of EVV en daal die persentasie van partye wat hoofsaaklik deur wit mense ondersteun word.

Die verkiesing het baie gekos, baie mense opgewonde gemaak en het veel tyd en energie in beslag geneem. In die beste geval gaan dinge bly soos wat dit is en dit is reeds sleg genoeg. Daar is geen alternatief op die partypolitieke terrein nie. Alle groot partye staan maar net variasies voor van ‘n beleid van “transformasie”, staatsinmenging en die ontkenning van etnisiteit.

As Afrikaners, en nog meer spesifiek as vryheidsgesindes en volkstaters, moet ons niks van die politiek verwag nie. Die hoop dat selfbeskikking in die parlement onderhandel sal word, soos wat dit nog in die 1990’s die geval was, is futiel. Ons kan dankbaar wees dat daar ‘n party is wat vir Afrikanerbelange en selfbeskikking staan en wat parlementêre verteenwoordiging het, maar 1% is net te min om enige beduidende verskil te maak. Die rigting van die regering, en die grootste deel van die opposisie, is weg van selfbeskikking en heen na meer sentralisasie, meer sosialisme en meer sekularisering. Ons behoort ons dus uit die party- en parlementêre politiek uit te hou, maar wel bande te verstewig met enige organisasie wat Afrikanerbelange voorstaan, wat uit die aard van die saak ook ‘n politieke party soos die VF+ insluit. Selfbeskikking word egter nie, ten minste op hierdie stadium, in die parlement of die partypolitiek bereik nie, maar op grondvlak. Die huidige politieke bestel is nie gunstig vir Afrikaners nie, maar verhoed ons ten minste ook nie om uit eie krag ons eie dorp en gebied te ontwikkel nie. Afrikaners moet die geleenthede nou aangryp en help bou, pleks om te hoop dat daar eendag ‘n regeringsverandering sal wees, wat in elk geval niks aan die toedrag van sake in Suid-Afrika, met sy oorweldigende meerderheid arm swart mense, verander nie.

Deel/Stuur

12 Reaksies op “Verkiesing 2014 is meer van dieselfde”

  1. T Theron 14 Mei 2014 at 16:31 Permalink

    Ek kry meer male die indruk dat die Afrikaner, in die algemeen beskou, nie meer ‘n toekomsvisie vir sy voortbestaan voorhou nie. Indien ek verkeerd is, dink ek sou die Afrikaner reeds daadwerklik ‘n plan gemaak het om sy volk te konsentreer in een gebied, wat ook al die opoffering. Indien die Afrikaners as ‘n volk wil oorleef behoort dit nie te moeilik wees om hulpbronne saam te snoer en op ‘n bepaalde plek, amper enige plek in Suid-Afrika, te vestig en dit redelik vinnig te ontwikkel tot volhoubaarheid met baie hoe lewensstandaarde nie. Dit is jammer dat dit blyk dat die Afrikaner in die algemeen net nie meer belangstel om ‘n opoffering te maak nie, en ‘n toekomsvisie vir die voortbestaan van sy taal, kultuur, Godsverhouding en etnisiteit aan te gryp en dit te realiseer nie.

  2. Mike 14 Mei 2014 at 19:01 Permalink

    Wat baie vreemd met die verkiesing is is dat dit feitlik presies dieselfde persentasies toon as met die 1994 verkiesing en ook presies dieselfde met wat navorsers net voor die verkiesing publiseer het.

  3. Faan 14 Mei 2014 at 21:04 Permalink

    Ek stem met T Theron saam: Afrikaners het nie meer ‘n toekomsvisie vir voortbestaan as Afrikaners nie. Ons het in totale indivudualisme verval en ons het eintlik niks meer met mekaar in gemeen nie – identiteit (gesamentlike afkoms en geskiedenis) word nie meer bewustelik beleef nie.

  4. Sebastiaan 15 Mei 2014 at 12:45 Permalink

    Menere, ek deel julle opsomming oor die hedendagse Afrikaner. Talle mense val egter ook maar in die groef omdat hulle nie weet van beter nie en saamgaan met die stroom, al voel dit verkeerd. Orania se boodskap moet hard en duidelik wees: ‘n Ander toekoms vir die Afrikaner (wat dit wil hê) is moontlik.

  5. Wim de Wet 15 Mei 2014 at 16:53 Permalink

    Sebastiaan, hierdie is sekerlik die nugterste terugblik op die pas afgelope verkiesing wat ek tot hede in die media te lese kon kry.
    Alhoewel dit nie sin maak om die politiek totaal te versaak nie, is energie aangewend vir die bou en skep van ons eie, beslis meer sinvol.

  6. Dante' Strauch 15 Mei 2014 at 17:50 Permalink

    Sebastiaan insiggewend soos gewoonlik. Veral jou stelling dat verkiesings nie oor beleid of ideologie gaan nie, is in die kol. Ek wonder of die Afrikaner-steun vir die DA sal daal as Zille aftree en daar ‘n swarte aan die hoof is. Ek dink so. Inelkgeval dink ek dat my lidmaadskap tot die Orania beweging meer werd is as ‘n stem vir ‘n politieke party (alhoewel dit ook nodig is). As die 170 000 mense wat VF en FN gestem het almal Orania-beweging lede was het dit baie meer gedoen om die realiteit te skep, waar mense kan woon en werk en skoolgaan en boer en leef, iets wat NOU sigbaar en tasbaar is!

  7. Frik Lotz 16 Mei 2014 at 20:08 Permalink

    Daar was n geweldige aanslag vd DA teen die VF Plus. Allerhande onwaarhede v dr. Pieter Mulder en VF Plus is die wêreld ingestuur. Een was natuurlik dat VF Plus te klein is en jy jou stem mors. Dieselfde mense wat dít sê het in 1999 vir n klein DP(DA) gestem. Hoekom het hul nie liewer dan vir n groter NP gestem wat toe nog 20% steun gehad het nie? Nee wat,hul stories hou nie steek nie. Interessant is in 1994 het ANC 62% steun gehad en die opposisie saam 37%. In 2014 het ANC weer 62% en opposisie saam 37%. So,dit bly nog alles dieselfde en DA het absoluut niks reggekry nie en sal nooit die ANC op sy eie kan wen nie. Slegs n koalisie v opposisiepartye kan dit doen waar ANC onder 50% kry. Minderheidsregte en selfbeskikking is al oplossing en daarom moet mense die VF Plus steun en versterk.

    • Ebert Terblanche 17 Mei 2014 at 06:09 Permalink

      Frik, wanneer die DA sê dat die VF+ te klein is om ‘n verskil te maak, word daardie boodskap deur die VF+ self bevestig wanneer die party nie plaaslike takke het wat mense besoek of stalletjies by die stempunte het waar hulle gesien kan word nie.

      Die VF+ het soveel stemme gekry as wat sy lojale ondersteuners kon bied en wat sy politieke organisasie op die grond kon werf. As die party groter wil word, sal hy sy politieke organisasie moet vergroot.

  8. lieven 19 Mei 2014 at 08:54 Permalink

    Verkiesing is verby ek kan net hoop dat die vf plus nou sal waker skrik en hul self hernu!?Kom uit die regering van die dag,kry n nuwe leier aan die stuur,wees meer sigbaar.Dan sal jy sien hoe julle sal groei.Ek het toe opgeeindig om vf te stem maar sal dit baie moelik vind om vir hulle te bly stem as daar nie vernuwing kom nie,sal maar nie gaan stem nie….alles nie velore vf plus het gegroei met 13% en FN met alle negatiewe berig gewing tog net oor die 5000 steme getrek saam is dit +-170000 steme….as elke kieser net R10 sou skenk aan ORANIA wat sal julle nie kan vermag nie?en as ons weer by die 400000+ steme kan kom van 1994 kan maar net droom van n nuwe denamiese VF PLUS ………Jammer oor al die spel foute

  9. G.P. Botha 19 Mei 2014 at 14:53 Permalink

    Bevestig maar net weer die mislukte anti apartheidstaat van F.W.De Klerk wat niks meer is as die tirranie van die meerderheid nie.Die enigste oplossing is meerderheidsbesetting van n gebied en dit kan net verkry word deur volkseie arbeid.


Lewer Kommentaar

*