06 Julie 2011 ~ 1 Kommentaar

Van Singapoer na Georgetown

Geskryf deur Jaco Kleynhans

Deur Sebastiaan Biehl
Van Singapoer het ons op die trein geklim na Maleisië en het die tweede skof van ons reis aangedurf.  Die ou stasie van Singapoer, ‘n Art Deco gebou wat die Britte in die 1930’s gebou het en wat aan die Maleisiese spoorweë behoort, was reeds die poort na ‘n ander wêreld, waar dinge rustiger gaan en waar alles nie meer silwerskoon en topgehalte is nie. Maar die doel van treinreis is mos ook om ‘n gevoel van afstand en tyd te kry en anders as lughawens wat feitlik almal eenders lyk, het stasies nog karakter. Die eksprestrein na Kuala Lumpur het in die middag vertrek.

Singapoer is net ‘n klein eilandstaat wat oppervlakte betref en reeds na 20 km was ons in Maleisië en moes weer uitklim vir die grensformaliteite. By die volgende stop het ons met die massas uitgeklim onder die indruk dat dit die grenspos vir die inkom na Maleisië is. Maar dit was slegs die eerste stasie in Maleisië waar baie Maleisiërs wat vir die vakansie huis toe gegaan het, uitgeklim het. Amper het ons die trein verpas, met ons bagasie nog binne, dit was net genade dat ons betyds gevra het toe ons al amper uit die stasie was. Toe ons afhardloop en inspring begin die trein al fluit, dit was ‘n kwessie van ‘n minuut of ons het ons trein verpas.
Dit sou die enigste amper-ramp wees wat ons beleef het en verlig het ons ons rit voortgesit, deur ‘n meestal plat en tropiese wêreld vol palmboom- en piesangplantasies. Ryslande was ook baie te sien en ‘n mens het nou die eerste keer ‘n indruk van die platteland van Suidoos-Asië gekry. Rys is natuurlik die streek se stapelvoedsel en word deur kleinboere verbou. In Maleisië staan die tyd egter nie stil nie en die ryslande word nie meer met osse geploeg nie (soos nog tot relatief onlangs, en soos tot vandag toe nog in Burma), maar met klein trekkers wat vergelyk met grassnyers waarop ‘n mens ry. Benewens die rys wat grootliks vir eie verbruik verbou word, word op groot skaal palmbome in plantasies geplant vir palmolie, en piesangs, beide vir uitvoer. Op ander plekke het ons ook rubberplantasies gesien. Tydens die Britse koloniale bewind is Maleisië weens sy ideale tropiese klimaat omskep in die rubberplantasie vir die Britse behoefte aan natuurlike rubber vir bande en enige rubberproduk. Die bome word op die bas met ‘n visgraatpatroon gekerf en die boomgom loop af en word in ‘n bak aan die onderkant opgevang. Die rubberboom het aanvanklik net in die oerwoud van Brasilië natuurlik voorgekom en Brasilië het tot in die vroeë twintigste eeu die monopolie op die gesogte natuurlike rubber gehad. Die saad van die bome is soos ‘n staatsgeheim bewaar en die rykdom wat so geskep is, het gemaak dat die Amasone-hoofstad Manaus ‘n pronkstuk geword het. Toe die Engelsman Henry Wickham die rubberboom-saad in die hande kon kry en uit Brasilië kon smokkel, het die Britte besluit om die rubberboom op groot skaal in hulle kolonie Malaya (die huidige Maleisië) in plantasies te kweek en het die mat onder die Brasiliaanse monopolie uitgepluk. Omdat Maleisië op dieselfde Breedtegrade as Brasilië geleë is en soortgelyke klimaatsomstandighede het, is die kolonie uitgekies om Brittanje se rubberplantasie te word. Intussen is egter sintetiese rubber uitgevind en die betekenis van plantasierubber gaan agteruit. Benewens sy plantasies is Maleisië ook ryk aan tin. Vandag is die ekonomie egter meer gediversifiseerd en toerisme, handel en vervaardiging speel ‘n al hoe groter rol. Vanaf die trein sien ‘n mens nog hutte met geroeste sinkdakke onder palmbome wat tydloos lyk, maar langs die spoorlyn word reeds die nuwe hoëspoed-lyn gebou en die verlede en toekoms is dig op mekaar.
Toe ons die aand in Kuala Lumpur, Maleisië se hoofstad aankom kon ‘n mens sien dat Maleisië ‘n opkomende land is wat op pad is na die Eerste Wêreld. Vanaf die spoorlyn kon ons die indrukwekkende wolkekrabbers sien, waarvan die Petronas-Tweelingtorings, tot onlangs toe die hoogste gebou in die wêreld, die indrukwekkendste was. Ons kon ongelukkig nie tyd in Kuala Lumpur spandeer nie want ons reisskedule was reeds agter weens 2 dae langer in Singapoer. Al wat ons van Kuala Lumpur kon beleef was die hipermoderne stasie, wat meer soos ‘n internasionale lughawe of soos ‘n restaurant- en winkelkompleks gelyk het as ‘n stasie in die eintlike sin. Dit is alles indrukwekkend en wys Maleisië se strewe om deel van die Eerste Wêreld te word, maar die Ooste wat ek gesoek het was dit nie.
Met die nagekspres het ons verder gery na Butterworth in die noorde van Maleisië. Knus in ons eie kompartement en in goeie stemming, het ons die dag afgesluit met ‘n gin&lemonade en dan met die klak-klak geluid van die trein aan die slaap geraak.
Vroeg die volgende oggend bereik ons Butterworth, ‘n niksseggende nywerheidstad, maar die hawe vanwaar af die pont na Georgetown op Penang verkeer. Hier is ons nou meer in die Asië wat ek gesoek het.  Georgetown is ‘n ou en karaktervolle stad. Alhoewel dit natuurlik deesdae ook taamlik uitgesprei lê, met woonstelblokke en modern voorstede, is die ou kern grootliks behoue en is selfs deur UNESCO tot wêrelderfenis verklaar. Die metrogebied het meer as 1 miljoen inwoners, maar die kernstad slegs 160 000. Koloniale geboue van die vroeë twintigste eeu wissel af met die ryk versierde Sjinese tempels en familiehuise, moskees en Hindoe-tempels, die strate is lewendig en vol kosstalletjies en straatrestaurante en fiets-riksjas neem die rol van huurmotors oor, wat ‘n mens soos in die koloniale era laat voel.
Die Britse kaptein Francis Light het  Georgetown in 1786 gestig vir die Britse East India Company, die Britse teenstuk van die Nederlandse Verenigde Oos-Indiese Companjie (VOC). Fort Cornwallis, die eerste steengebou in Georgetown en die setel van die administrasie in daardie tyd, is vandag ‘n museum. Onder die kosbaarste stukke tel ‘n VOC-kanon van 1603, wat aanvanklik ‘n geskenk van die VOC aan ‘n sultan in die streek was en na talle wedervaringe en buit deur die Portugese uiteindelik deur die Britte gevat en op die fort as buitstuk uitgestal is, nog steeds op die walle van die fort.
Die geskiedenis van die Verre Ooste is nou gekoppel aan die geskiedenis van Suider-Afrika. Die wedywering tussen die destydse moondhede, Portugal, Nederland en Brittanje, vir veral die speseryhandel en strategiese plekke om die handel te beheer, het sy verlengstuk in Suider-Afrika gehad, want die roete rondom die Kaap was natuurlik van uiterste belang vir die toegang tot die Oosterse spesery-skatkis. Histories was die Portugese eerste daar. Hulle is toe deur die Nederlanders verdryf en die is op hulle beurt weer deur die Britte verplaas. Die Nederlanders, wat Malakka hulle bastion in Maleisië gemaak het om die straat van Malakka te kon beheer, nadat hulle die Portugese van daaraf verdryf het, is wel deur die Britte uit Maleisië weggejaag, maar kon hulle belangrike kolonie Indonesië behou, selfs tot in die middel 20ste eeu.
Behalwe vir die Britse erfenis in Georgetown, verteenwoordig deur ‘n Anglikaanse katedraal, die genoemde Fort Cornwallis, ‘n ryk versierde stadsaal en hooggeregshof, die Eastern Oriental Hotel en talle woonhuise, het die ander drie groot bevolkingsgroepe van die streek, Maleiers, Indiërs en veral Sjinese hulle stempel  op die stad afgedruk. Die etniese en godsdienstige mengelmoes wat Singapoer kenmerk, vind ‘n mens ook in Georgetown, want dit het histories in dieselfde tyd en om dieselfde redes as Singapoer ontstaan. Anders as die hipermoderne metropool Singapoer het die tyd in Georgetown stadig verbygegaan, met die groot voordeel dat die ou stad feitlik volledig behoue is. Dit wat ‘n mens eerste met die Verre Ooste assosieer, daardie Sjinese huise en tempels met die dakke wie se hoeke opwaarts wys en ryklik met drake en ander fabeldiere versier is, vind ‘n mens orals in Georgetown.  Ek was nog nie in Sjina self nie, maar soos ek kan aflei het die Kommuniste uit ideologiese ywer baie van die ou Sjinese kultuur vernietig en ook nie geskroom om tempels te verniel. Die Sjinese in Maleisië het nooit deur die trauma van kommunisme en sy ontwrigtings gegaan nie en is dalk nader aan die “ou” Sjina as Sjina self. Amper soos wat ‘n mens die “tipiese” Duitsland eerder in Namibië as in Duitsland met sy radikale omwentelinge, sal vind.
Anders as in Maleisië in geheel, waar die Maleiers die bevolkingsmeerderheid is en polities die kitaar slaan en selfs ‘n soort regstellende aksie het (minder radikaal en uitsluitlik as in Suid-Afrika) om hulle mense se ekonomiese mag teenoor die Sjinese minderheid te versterk, is in Penang die Sjinese in die meerderheid en, danksy ‘n federalistiese stelsel, is die premier van Penang ‘n etniese Sjinees.
‘n Besonder pragtige voorbeeld van ‘n Sjinese klanshuis is die Khoo Khongsi. ‘n Hele straatblok het aan een familie behoort waar hulle saam gewoon en gewerk het, met mure geskei van die res van die buurt. Die klanshuis was die middelpunt en was die familie se vertoonstuk en die vergaderplek vir familievergaderings, met die oudste man as opperhoof. Die voorvaders word tradisioneel vereer deur die brand van wierook op ‘n altaar met die voorvaders se name op.
In die Indiese buurt het ‘n mens weer ‘n ietwat ander ervaring, hier is kleur en geur oorweldigend, versierings en Hindoe-simbole is orals, soos die swastika (‘n simbool vir die son) wat op mure van tempels en winkels pryk, maar hier natuurlik nie die negatiewe assosiasie het wat dit in die Weste het nie.
Behalwe vir die ou deel is daar ook heelwat besienswaardighede in die omgewing van Georgetown en op Penang-eiland self. Penang kom naby aan die paradys met sy tropiese plantegroei, sy wit strande en seewater wat soos badwater voel. ‘n Halfdag-besigtigingstoer het ons na 3 indrukwekkende Boeddhistiese tempels geneem. Op daardie stadium was goue Buddhafigure nog iets nuuts, maar later sou ons in Mjanmar so baie sien sodat ons oorversadig geraak het. Die Botaniese tuine met die weelderige plantegroei en apies in die bome was ‘n goeie plek om die natuur van naby te ervaar. Geen besigtigingstoer kan plaasvind sonder die obligatoriese besoek van werkswinkels waar batikklere en juwele gemaak of koffie en sjokolade uitgeskink word en jy subtiel aangemoedig word om te koop. Maar ons het ons kooplus gebêre vir later.
Verder lyk dit asof Maleisië se ekonomiese vooruitgang ook minder armoede tot gevolg het. Dit mag ook deel van die Maleisiese ingesteldheid wees om ander mense nie lastig te val met bedel of goedjies verkoop nie. Alhoewel toerisme natuurlik ‘n faktor is in Penang, is dit nie die enigste bron van inkomste nie en daar is genoeg ekonomiese aktiwiteit en besigheid onder die inwoners self – ‘n belangrike kenmerk van ontwikkeling. En, anders as in Afrika, word, nadat ‘n prys vir byvoorbeeld ‘n riksjarit vasgestel is, nie na die tyd probeer om daaroor te kibbel en meer te wil hê nie.
Na drie dae op Penang het ons weer met die pont na Butterworth oorgesit en die trein in die Middag geklim, om 24 ure tot in Bangkok te ry. Voortsetting volg.

Deel/Stuur

Een Reaksie op “Van Singapoer na Georgetown”

  1. Zelda 7 Julie 2011 at 12:01 Permalink

    Hoe uiters interessant!
    Jou skrywe maak dit nog meer insiggewend na my kyke van verskeie tv programme oor die Ooste en selfs ene oor die geskiedenis van die speseryhandel.
    jou aanbieding is vars op die tafel en gee `n goeie perspektief van wat nou daar aangaan en hoe alles inmekaar steek, verskeie kulture wat inmeng en tog apart is. Ek het nog min geweet van Georgetown en Penang klink ook `n besoek werd.
    Terwyl ek jou stuk lees, voel dit of ek besig is om self daar te reis en dit te beleef. Baie goed! Ek sien uit na die volgende skrywe oor die voortsetting van jou reis!


Lewer Kommentaar

*