25 Junie 2018 ~ 3 Kommentare

Uit ‘n ekonomiese hoek: strategieë om in ‘n mislukte staat te oorleef, met verwysing na Orania.

Geskryf deur Ester Le Roux

Ek woon onlangs ‘n konferensie van AfriSake in Pretoria by. Dit word deur sowat 300 sakelui, sakekamerverteenwoordigers, regslui en belanghebbendes bygewoon.

Ek gee my oor aan die akoestiese weelde van die Atterburyteater en die voorvreugde van die vooruitsig om na voorste plaaslike en internasionale kenners te luister oor die insentief van ‘n gunstige sakeomgewing vir sakelui en hoe om jou onderneming staatsbestand te maak as die staat misluk in sy tradisionele rol om ‘n stabiele sakeomgewing te verseker.

Langs my fokus joernaliste en fotograwe hul kameralense. Ek maak ook kennis met Pretorianers in my ry. ‘Orania, sê jy… dié Orania?’ Daar is nuwe belangstelling. ‘Hoe gaan dit daar?’ Ek stel hulle voor aan ons sakekamervoorsitter en mede-Oraniërs. ‘Julle gebruik die Ora. Ek hoor julle gaan een van die dae die elektroniese weergawe daarvan begin gebruik. Wat noem julle dit nou weer? Die e-Ora, ja!’ Die eerste spreker praat al toe die geselsie fluisterend beklink word op hul voornemens om Orania te besoek en eerstehands te ervaar.

Ek spits my ore. AfriSake. Geldsake. Dit was nog nooit my sterk punt gewees nie maar ek is gretig om my visie vir Afrikanervoortbestaan op te skerp vanuit ‘n ekonomiese hoek. Om op Orania te bly beteken immers dat mens al baie daaroor nagedink het. Hoe lyk die vooruitsigte? Hoe kan ons die scenario effektief in ag neem om die volgende dekade te deurstaan en ekonomies sterker te word?

Dr Frans Cronjé, uitvoerende hoof van die Instituut vir Rasseverhoudings (IRV), stigter van die Sentrum vir Risiko-analise en skrywer van A time traveller’s guide to our next ten years, is eerste aan die woord. Hy vra die hoekom-vraag. Hoekom moet jy jou sake staatsbestand maak? Ek luister aandagtig en is verras oor die prontheid van sy scenario:

*die regering se doel om produksieregulering te beheer, sal nie stop voor die revolusie daartoe volledig voltrek is nie

*die teorie oor apartheid en wit bevoorregting sal standhou tot alle samelewingsektore onder staatsbeheer is

*die magsbalans in die DA het verskuif na mense wie se vormingsideologie net soos die ANC s’n is en indien hulle aan bewind kom sal die revolusionêre proses na volledige staatsbeheer effektief versnel

*die regering sal al hoe meer inmeng om ‘onteiening’ ook in die sakewêreld te bewerkstellig, soos met die omstrede wetsontwerp oor minimumloon, vroeër vanjaar

*kleiner ondernemings sal nie die finansiële eise van die regulatoriese omgewing die hoof kan bied nie

*kleiner entrepreneurs se pogings om werk te skep, sal minder en minder waardering kry en buiten van organisasies soos AfriSake, wat ‘n selfstandige sakegemeenskap ten doel het, sal geen hulp van regeringskant of elders kom nie – met die gevolg dat werkloosheid sal toeneem

*regeringsbeleid sal verdere druk plaas om welvaart te ontmoedig soos die aftakeling van beskerming van eiendoms- en patentreg en verskerping van arbeidsregulasies

*belastings sal gehef word op noodsaaklike middele soos brandstof, koolstof en suiker om die regeringsbegroting te laat klop – met die insentief om groter staatsbeheer.

Sy raad is, onder andere, om beginselstandpunt in te neem om nie deel van die probleem te word nie en om by ‘n organisasie soos AfriSake aan te sluit, wat kollektief kan beding en jou deurlopend op hoogte hou oor hoe om jou onderneming, jou gesin en jou daaglikse lewe staatsbestand te maak.

Die volgende spreker is ‘n Duitser. Ek luister met gemengde gevoelens. ‘n Duitse ridder het my jongste dogter uit Suid-Afrika kom ‘ontvoer’ en nou stuur ek vir haar boeke van Irma Joubert – wat deels oor die Duitse geskiedenis gaan – om haar nuwe volksgenote en -geskiedenis te leer ken, te verstaan en te leer liefkry. Om die aanpassing vir haar makliker te maak om ‘n goeie Duitse burger te word… en nou skryf ek myself bewoë. Nietemin. Hulle kan dalk terugkom as Orania en die breë Suid-Afrikaanse- en Afrikanergemeenskap in so ‘n mate staatsbestand word, dat dit die scenario – soos deur die spreker beskryf – oorleef! Ek fokus deur my wasige oë.

Hy is jonk met ‘n sterk Duitse aksent. Ene prof Philipp Bagus, tans verbonde aan ‘n Universiteit in Spanje en skrywer van The tragedy of the Euro en medeskrywer van Deep freeze: Iceland’s economic collapse. Kontra die populêre mening – ‘bigger is cheaper, more efficient, better’ – is hy oortuig van die teendeel. ‘Small is beautiful’, sê hy, verwys na Orania. Ek sit regop. Nóg meer regop toe die gehoor goedkeurend handeklap en ook ‘n ‘hoor-hoor!’ en ‘n fluit of twee laat hoor.

Kleiner state, sê hy, en kleiner ekonomieë en regulatoriese sisteme lei tot vrede, voorspoed en menslike ontwikkeling en verduidelik hoe kleiner state se buigsaamheid, innoverende en nie-bedreigende omgewing dit in die hand werk. Kleiner vorstedomme, voor die vereniging van Duitsland in 1871, was welvarend en die teelaarde vir groot geeste soos filosowe, musici, wetenskaplikes en ander grootse figure. Hy noem hul op. Hulle wat in vorstedomme die ‘lewenslust’, inisiatief, tyd en stimulerende omgewing gehad het om in hul onderskeie kennisvelde uitsonderlike bydraes te lewer.

Tussen kleiner state is daar onderling gesonde kompetering om die beste in hulself en in hulle land na vore te bring, meen hy. Heersers het ook hul sokkies opgetrek om goed te regeer, want jy kon met jou voete stem. As die heersers van jou land jou nie aangestaan het nie, kon jy oor die grens gaan na ‘n volgende land, wat gewoonlik na aan jou kultuur was. Kleiner lande soek liewer vrede as konflik en sal nie sommer tot ‘n aanval oorgaan nie, want om aan te val verg drie maal soveel hulpbronne as om te verdedig.

Hy sê dat Suid-Afrika in hierdie opsig vir die wêreld ‘n voorbeeld kan wees, deur politieke ordening in die rigting van konkrete kulturele gemeenskappe te stuur, om ons multikulturele land tot sy beter menslike potensiaal te ontsluit. So sal ons ook aansluit by die toenemende kulturele bewussyn in politieke gemeenskappe wêreldwyd. So sal ons land weer ‘n land van ‘thinkers en poets’ word en nie ‘n land van ‘judges and hangmen’ nie.

Ek sug. Ons het ‘n Trump nodig! Iemand wat ‘n boodskap effektief kan oordra aan ons regeringsleiers – soos wat hy skynbaar onlangs, met die hulp van ‘n Hollywood-tipe video, aan die diktatorleier van Noord-Korea oorgedra het.

Dawie Roodt, hoofekonoom van die Efficient Groep en bekende Suid-Afrikaanse ekonoom, is volgende aan die beurt. Hy praat van ‘n vierde nywerheidsrevolusie wat tans plaasvind, waar privaatgeld al meer na vore kom, met tegnologiese ontwikkeling soos die blokketting (block chain) wat die platvorm verskaf vir verskeie tipe betaalmiddel-insentiewe. Hierdie soort geld werk die sentralisering van staats- en ekonomiese magte tee en bied onder andere die moontlikheid aan kleiner gemeenskappe om weg te beweeg van groot identiteitlose staatlikheid en -ekonomieë.

Hy noem ook dat die dienstebedryf, wat die vinnig groeiendste en grootste bedryf in die moderne ekonomieë is, groot moontlikhede vir die ontwikkeling van kleiner gemeenskappe inhou, omdat dienste nou grootliks digitaal verskaf kan word.

Nommerpas vir die implementering van die e-Ora op Orania, dink ek.

Die ekonomie is te belangrik om in die hande van politici oor te laat, sê Piet le Roux, uitvoerende hoof van AfriSake. Hy deel AfriSake se visie vir ‘n selfstandige sakegemeenskap en roep sakelui op om self verantwoordelikheid te neem vir ‘n gunstige sakeomgewing.

Hy noem AfriSake se drie strategiese prioriteite vir ‘n selfstandige sakegemeenskap:

*ondernemings in ‘n selfstandige sakeomgewing is staatsbestand teen politieke risiko’s soos onteiening, BEE, gedwonge aandeleverwatering of ander vorme van skadelike staatsinmenging

*sakelui in ‘n selfstandige sakegemeenskap het bedingingsmag om ‘n gunstige sakeomgewing daar te stel en hiertoe sal AfriSake meehelp deur kollektiewe bedinging met die regering

*institusionele alternatiewe is moontlik in ‘n selfstandige sakegemeenskap, soos selfregering en privaatstrukture, waardeur ‘n alternatiewe sakeomgewing geskep word en waarbinne ekonomiese aktiwiteite kan voortgaan

Kortliks, lei ek af uit die sprekers se aanbiedinge:

*dat die Suid-Afrikaanse staat toenemend en selfs meer en meer effektief sal misluk

*dat Suid-Afrika – die land met die grootste kulturele verskeidenheid ter wêreld – leun tot ‘n gemeenskapsfederalistiese politieke bestel, waar sterk gemeenskappe na hulle eie belange omsien, elkeen volgens sy eie aard en vermoë, na die voorbeeld van ‘n gemeenskap soos Orania

*dat ‘n meer digitale wêreld die mag van politici sal beperk en moderne tegnologie soos die blokketting-tegnologie dit vir kleiner gemeenskappe makliker sal maak om oor hul eie sake te beskik

*dat dit vir AfriSake prioriteit is om ‘n selfstandige sakegemeenskap en gunstige sakeomgewing daar te stel – onder andere deur kollektief te beding met die regering.

Die laaste sprekers praat oor onderwerpe soos staatsbestande elektrisiteit, -korporatiewe strukture, -dispuut resolusie, -identiteit en reputasie, en lesse uit Zimbabwe, waar daar nie genoeg staatsbestandheid was nie. Hierdie inligting kan op AfriSake se webwerf en facebook gevind word.

Uit die hoek van Orania

Hoe verklank hierdie kennis en inligting in terme van Orania en ‘n grondgebied waar die Afrikaner oor homself beskik? Terug in Orania het ek die mening van mnr. Carel Boshoff, president van die Orania Beweging, gevra:

Hy meen dat ons al die kennis en goeie raad van hierdie kundiges wel deeglik in ag moet neem om ons ondernemings staatbestand te maak, met al die hulp wat ons kan kry – soos AfriSake se kollektiewe bedingingsmag – maar dat ons ons in die eerste plek nie moet sien as ‘n ekonomiese gemeenskap nie, maar as ‘n kultuurgemeenskap. Orania is in wese ‘n strategie van konsentrasie, om ons mense en hul belange – ook sakebelange – te konsentreer om veiligheid en voorspoed te verseker en om nie altyd en oral ‘n protesterende minderheid te wees nie. Hieroor het die Orania Beweging ‘n breedvoerige dokument ingehandig as kommentaar op die regering se moontlike wysiging van die Suid-Afrikaanse Grondwet, om voorsiening te maak vir onteiening sonder vergoeding. Sien laer af op die blog.

Ter ondersteuning van Boshoff se uitgangspunt vang my oog ook die tema, ‘n Ryk en vol bestaan, op die voorblad van die Orania Beweging se tydskrif, Rede. Daarin is ‘n artikel van prof Danie Goosen, dosent in Godsdienswetenskap aan UNISA, oor Geluk en Gemeenskap. Volgens die VN se Wêreld Gelukkigheidsverslag, verlede jaar, is dit nie ekonomiese welvaart nie, maar jou deel-wees-van ‘n bepaalde gemeenskap of gemeenskappe, wat die belangriker maatstaf vir gelukkige landsburgers is, sê hy. Daar gelaat dat die VN se idee van ‘n gemeenskap dalk nie nommerpas na ‘n gemeenskap soos Orania s’n verwys nie, is hul siening betekenisvol, meen hy, komende uit ‘n oord van die hedendaagse neo-liberale kultuur, waarin mens uit jou kultuur geabstraheer word, met prysgawe van gemeenskapsidentiteit en gevolglike vereensaming en ongelukkigheid. Die VN se gevolgtrekking word toenemend vandag deur ‘n wye spektrum van gemeenskapsdenkers beaam, maar dit beteken egter nie dat gemeenskapsidentiteit en ekonomie mekaar uitsluit nie. Geluk word deur beide moontlik gemaak, sê hy – deur sowel ‘n sin vir gemeenskap as goeie ekonomiese praktyke.

Dis nie te betwyfel dat ‘n kulturele gemeenskapsidentiteit en goeie ekonomiese praktyke wat dit ondersteun, vandag aan die wortel lê van die Afrikaner se bestaanskrisis nie. Orania is beslis een van die strategieë wat op ‘n baie konkrete wyse hierdie krisis aanspreek. Tye verander en daarmee saam regeringstelsels en geldstelsels – soms gewelddadig. Daar is egter iets aan ‘n volk wat teen sodanige aanslae weerstandig is, asof dit ‘n Hoër Bestaansrede het, maar ordening in ‘n grondgebied, waar dit kultureel, polities en ekonomies volkskap kan uitleef, is krities belangrik. Hier kan mens nie anders as om aan Israel en die Jode te dink nie.

Deel/Stuur

3 Reaksies op “Uit ‘n ekonomiese hoek: strategieë om in ‘n mislukte staat te oorleef, met verwysing na Orania.”

  1. Willem Fourie 28 Junie 2018 at 02:29 Permalink

    Baie dankie vir die omvattended opsomming.

    Belowend om te verneem van die belangstelling in Orania, en ook dat die sprekers die uitdagings aanspreek.

    Mbt. die e-Ora en anonieme transaksies, dalk is die gebruik van bitcoins as nog ‘n ruilmiddel iets om the oorweeg, veral om valuta te verdien.

    Mooi loop

  2. Ester le Roux 28 Junie 2018 at 11:17 Permalink

    Baie dankie, Willem vir jou inset. Ek sal vir seker dit gaan lees. Groete uit Orania.


Lewer Kommentaar

*