25 Junie 2012 ~ 13 Kommentare

Toepaslike denkrigtings in die ekonomie

Geskryf deur Sebastiaan Biehl

Verlede Saterdag (16 Junie 2012) het EPOG, die Eenheid vir Ekonomie, Politiek, Omgewing en Geskiedenis, ‘n konferensie op Orania gehou oor toepaslike denkrigtings in die ekonomie en die relevansie vir Orania en ander plaaslike gemeenskappe.

Vier denkrigtings is bekend gestel, wat almal in ‘n mindere of meerdere mate alternatiewe sienings tot die klassieke teenstelling van liberalisme teenoor sosialisme is.

Mnr Piet le Roux, senior navorser in Ekonomie by Solidariteit, het Ludwig von Mises en die Oostenrykse Ekonomiese Skool bekend gestel. Daarvolgens moet die bestudering van die ekonomie nie op die versameling van data fokus nie, maar op menslike handeling (Praxeologie). Die uitruil van dienste en goedere is ‘n menslike aksie wat bepaal word deur mense se begeertes en deur die waarde wat hulle aan iets heg. Daar is nie iets soos ‘n absolute waarde nie en die waarde van ‘n produk of diens kan wyd verskil afhangende van die nuttigheidswaarde wat mense aan iets heg. Von Mises se waardebepaling verskil dus duidelik van diegene soos Karl Marx, wat die waarde van ‘n produk aan die tyd koppel wat dit neem om dit te maak. Marx sien uitbuiting as iets wat lank gevat het om te neem, geruil word vir iets wat vinnig of goedkoop geproduseer is. Volgens Von Mises is dit egter irrelevant, want die ruiler gee iets wat vir hom min waarde het vir iets wat hy begeer. Tyd is ook ‘n relatiewe kommoditeit.

Von Mises se denke val breedweg in die liberale sfeer. Die individu handel in sy eie belang en handeling kan dus van individu tot individu verskil. Groepe is in dié geval net ‘n versameling van individue. In Suid-Afrika en Orania herinner Von Mises se teorie ons daaraan dat die ekonomie ‘n menslike handeling is en nie iets is wat abstrak en verwyderd van die mens staan nie. Von Mises het reeds in die vroeë 20ste eeu gesien dat sosialisme, wat die RSA-regering nou weer as die oplossing voorhou, sal misluk omdat dit nie menslike handeling en keuses in ag neem nie.

Carel Boshoff, president van die Orania Beweging, het die Hongaarse filosoof Karl Polanyi en sy denke bekend gestel. Polanyi kritiseer veral die klassieke ekonomiese denke van liberaliste en sosialiste wat die ekonomie as ‘n aparte sfeer sien, en dat die ekonomie verkeerdelik beperk word tot die uitruil van goedere en dienste in die markopset van vraag en aanbod. Volgens Polanyi is die ekonomie ingebed in die menslike samelewing en verweef met die kultuur. Polanyi verwerp ook die klassieke produksie-elemente soos arbeid, grond of grondstowwe en kapitaal, wat algemeen as verhandelbare kommoditeite gesien word. Arbeid en grond is egter nie gemaak om verkoop te word nie.

As die ekonomie uit die samelewing gehaal word, ontrafel laasgenoemde. Juis dít gebeur as arbeid en grond as verhandelbare kommoditeite gesien word. Die mark moet nie verabsoluteer word nie, maar is slegs ‘n meganisme om menslike verhoudings in ewewig te bring. Die ekonomie moet, nes die politiek, een van deelname wees en tot diens van die gemeenskap, nie tot diens van die elite nie.

Orania sien homself juis as plaaslike gemeenskap wat sy eie gemeenskapsekonomie vestig en Polanyi se kritiek op die bestaande ekonomiese orde is dus ook ‘n bevestiging dat ons die regte ding doen deur die ekonomie as plaaslike gemeenskapsaksie te sien, nie as ‘n abstrakte entiteit nie.

Jaco Kleynhans, Uitvoerende Hoof van die Orania Beweging, het die paleo-konserwatisme en Pat Buchanan as sy voorste verteenwoordiger, verduidelik. Dit is geen filosofie of teorie nie, maar eerder ‘n stel norme en waardes wat op die ervaring van die geskiedenis gebou is. Die paleo-konserwatiewes is nie mark-fundamentaliste soos die Neo-konserwatiewes nie, maar glo dat die staat wel ‘n rol het, byvoorbeld in die toedeling van fondse, wat dan wel deur die mense op grondvlak versprei moet word. Hulle kernbeginsels is vryheid, die familie, tradisie, geloof en gemeenskap. Hulle fokus nie op die individu nie en ook nie op die kollektiewe nie, maar op die gemeenskap, iets wat organies gegroei het en deur gedeelde waardes en kultuur bymekaar gehou word. Die staat moet die gemeenskappe beskerm om voorspoed en stabiliteit vir die land as geheel te verseker. Om dié rede glo die paleo-konserwatiewes nie aan onbeperkte vrye handel nie, maar aan sekere proteksionistiese maatreëls om die plaaslike bedrywe te beskerm. Die paleo-konserwatiewe denke val breedweg in die ekonomiese teorie van merkantilisme of ekonomiese nasionalisme.

Vir Orania en ander plaaslike gemeenskappe is dit nogal van besondere waarde. As volgens die logika van die suiwer mark geredeneer word, dan is Orania en ander plaaslike gemeenskappe in geen opsig kompeterend nie. Die welsyn van die gemeenskap is egter wat saak maak en nie net die winsmotief nie. Daarom word in Orania die Ora as plaaslike geldeenheid gebruik en mense aangemoedig om plaaslik te produseer, werk te skep en te koop.

Danie Goosen, dosent in Godsdienswetenskappe aan Unisa, het Wendell Berry bekendgestel. Berry neem by uitstek die plaaslike in beskerming en gee ‘n goeie rasionaal vir Orania en ander plaaslike gemeenskappe. In die huidige globale ekonomiese orde word vooruitgang en ontwikkeling as stedelike fenomeen gesien en vooruitgang word gemeet aan die bevrediging van begeertes wat gewek word deur bemarking en kommunikasie en wat gedurig vermeerder. Omdat die groot hoeveelheid begeertes nie bevredig kan word nie, skep dit by mense ‘n onvergenoegdheid en die persepsie van skaarste. Daardie persepsie van skaarste lê ook aan die wortel van talle konflikte, ook in Suid-Afrika. Mense het meer as in die verlede, maar weens al hoe groter begeertes en vergelykings met ander wat meer het, onstaan konflikte oor materiële goed. Die ANC-regering hou juis sy bewind in stand deur die begeertes van die massas te instrumentaliseer en ‘n bevrediging daarvan voor te hou. Aangesien die hoë verwagtings nie vervul kan word nie, sien ons woedeuitbarstings soos die gereelde diensleweringsproteste.

In Orania vind ons juis dat ander begeertes as die materiële bevredig word en dit beperk in ‘n sekere sin ook ons groei, omdat vir meeste mense buite materiële begeertes voorop staan. Ons kan egter nie met stede kompeteer nie en Orania moet die begeerte van menslikheid en geborgendheid binne ‘n gemeenskap propageer, eerder as slegs materiële voorspoed.

Deel/Stuur

13 Reaksies op “Toepaslike denkrigtings in die ekonomie”

  1. Ebert 25 Junie 2012 at 09:24 Permalink

    Dankie Sebastiaan.

    Dit lyk of dit ‘n baie boeiende en aktuele konferensie was. Geluk aan EPOG met die aanbieding daarvan.

    Beplan EPOG om die volle referate ook beskikbaar te stel?

    • Jaco Kleynhans 26 Junie 2012 at 14:54 Permalink

      Ebert,

      Ek dink nogals jy sou dit baie interessant gevind het. As jy hier was sou jy waarskynlik self ook ‘n referaat moes lewer!

      Ja, ons gaan dit in ‘n pamflet beskikbaar stel. Hopelik neem dit nie te lank nie. Sal in die nuusbrief noem wanneer!

      Jaco

  2. Willie Dyason 26 Junie 2012 at 13:34 Permalink

    Goeie middag Sebastiaan Biehl,
    Besonder insiggewende stellings wat geopper is!
    Ek glo dat ek moontlik tot hulp kan wees om die kontant vloei aan te vul met kapitaal van buite, sodat die welsyn van die gemeenskap en Oranje as oorkoepelende liggaam daarby baat mag vind!
    Dit sal verseker die groei proses stimuleer waarna ons almal strewe!
    Ek is van Kimberley en hoor graag?
    Seënwens
    Willie

    • Sebastiaan Biehl 26 Junie 2012 at 14:17 Permalink

      Dankie Willie,

      dis wonderlik dat jy wil help. Hier is so biae maniere om betrokke te raak. Ek sou se die eerste stap is om lid te word van die Orania Beweging teen R50 per maand (of meer), dan bly jy op hoogte van sake en versterk die onderbou van Orania. Orania beweging befonds allerhande maatskaplike en ontwikkelingsprojekte, soos die Nerina Woonstelle vir enkellopende vroue.
      Kontak: 053-2070062 of jaco@orania.co.za
      Die Groeifonds is ook ‘n goeie beleggingsmoontlikheid om klein besighede van lenings te voorsien. Vir meer navrae: groeifonds@orania.co.za of 053-2070062
      ‘n Eiendom is ook ‘n belegging wat help om aan mense huisvesting te gee en huur te ontvang en solank ‘n neseier in Orania te hê.
      http://www.afsaal-op-orania.co.za of afssal@oranet.co.za of 0731649936

      Beste wense

      Sebastiaan

  3. BJ de Jager 29 Junie 2012 at 05:57 Permalink

    Uit die staan spoor verstaan ek nie die verskillende ekonomiese denk rigtings nie. Wat is die verskil in eenvoudige Afrikaans, Of as ek ʼn paar vrae kan vrae om die verhouding van die verskillende denk rigtings te onderskei en iets nuut te ondek in ʼn stowwerige boeke kamer.

    1.Is daar ʼn verskil tussen die vier verskillende denk rigtings of ondersteun hulle almal die” Laissez-Faire” Benadering?

    2.Deur wat se oortuiging manifesteer die verskillende denk rigtings. Bv. eie ondervinding ,vir die goed van die mens of eenvoudig net dat dit voordelig is?

    3.Word al die denkrigtings deur ʼn etiek onderhou (Protestantse etiek, kultuur waarde of politieke onderdrukking of oortuiging). Neem in ag dat negatiewe motivering as ook positiewe motivering is tyd verwant.

    4.Ek neem aan dat die vier verskillende denk rigtings outomaties gebaseer is op ʼn vrye mark stelsel, of is daar wel ʼn midde grond vir ʼn kollektiewe benadering en is dit praktiese moontlik om so ʼn verhouding te skep?

    5.Hoe gereguleer is die wins grens van die verskillende ekonomiese denk rigtings of ondersteun almal van hulle ongereguleerde kapitalisering.

    Indien daar nie ʼn werklike verskil is tussen die vier verskillende denk rigtings is nie en die praktiese uit voer van die aanvaarbaarste ekonomiese sisteem in die werklike lewe nie. Dit is hoe lank die Afrikaner oorlewering net ʼn teoretiese vak sal bly.

    Dit sal dalk nodig wees om nie net nou en dan die boeke in die boeke kamer af te stof nie maar sommer reg te pak en hart verskeurend van die boeke wat nie meer pas in die werklike oorlewing van die Afrikaner toekoms uit te gooi.

    N nuwe Afrikaner vir ʼn nuwe tyd.

    Moet nie die slegste verwag nie , wees voor bereid vir die slegste-Sun Tzu.

    • Jaco Kleynhans 29 Junie 2012 at 10:55 Permalink

      Die paleokonserwatisme aanvaar die vryemark as ‘n gegewe, maar ondersteun regulering van die mark en beskerming van die plaaslike. Die paleokonserwatisme is skepties oor die meerderwaardigheid van ‘laissez-faire’ en word deur ‘n sterk etiek vanuit die geloof onderhou en juis daarom die fokus op beskerming van die gesin, die gemeenskap en die groep. Ek kan net namens my eie denkrigting praat.

    • Sebastiaan Biehl 3 Julie 2012 at 12:03 Permalink

      BJ de Jager,

      jammer ek antwoord nou eers. Die enige een van die 4 denkers wat “laissez-faire” onderskryf is Ludwig von Mises, ‘n klassieke liberale ekonomiese denker.
      Polyani is meer ‘n filosoof as ‘n ekonomoom. Daar is elemente van kollektiewe denke by hom, maar nie in die sosialistiese sin nie.
      Behalwe vir von Mises wat streng hou by die ekonomie is die ander drie eintlik meer oor die ordening van die samelewing begaan en kritiseer tekortkominge in die bestaande orde.

  4. Sebastiaan Biehl 3 Julie 2012 at 12:09 Permalink

    Daar is basis 3 breë denkrigtings in die ekonomie: ekonomiese liberalisme (“laissez-faire, vrye mark, gerig op individu), sosialisme (sterk staatsinmening of selfs totale beheer, gerig op die armes en die massas, gelykheid en herverdeling staan voorop, kollektivisties) en ekonomiese nasionalisme (ook merkantilisme, die staat gryp by tye in die ekonomie in en help veral met die totstandbring van kernnywerhede en infrastruktuur, die doel is ‘n sterk staat wat so veel as moontlik self produseer en sy politieke soewereiniteit ekonomies onderskraag. Die o Suid-Afrika was ‘n voorbeeld hiervan).

  5. Frank 6 Julie 2012 at 07:22 Permalink

    Ek sluit aan by die Orania beweging, ek hoop my maandelikse bydrae help met die ontwikkeling van ‘n veilige tuiste vir die Afrikaner in die toekoms… julle denke is absoluut vooruit … wereldwyd.

    My plan is om binne die volgende 5 jaar van Pretoria na Orania te skuif. vir veiligheid, om ‘n verskil te maak en omdat ek glo in die manier hoe Orania die ding doen. Selfstandigheid is die nuwe groen.

    Welgedaan aan al die Afrikaners wat reeds die lig gesien het en in Orania bou aan ‘n toekoms – ek het baie respek hiervoor. Ek glo die ‘wip punt’ vir Orania is baie naby. Dan sal die volgende nedersetting ontwikkel moet word.

    Dit moet ongelooflik wees om deel hiervan te wees. Om fisies ‘n nuwe toekomstige tuiste te ontwikkel … iets wat regtig saak maak. Die materialisme van die stede verveel my, ek is moeg daarvoor om te beplan wat se nuwe blink Range Rover ek volgende gaan koop of hoeveel groter gaan ek my huis aanbou. Nou kan ek iets doen wat my kinders en agter-agterkleinkinders gaan bevoordeel.

    Orania is ‘n voorbeeld vir die wereld.

    • Sebastiaan 12 Julie 2012 at 07:29 Permalink

      Frank,

      dankie vir die mooi komentaar, dis ‘n riem onder die hart.

  6. Marlene Spies 6 Julie 2012 at 08:25 Permalink

    Ledegeld vir lidmaatskap aan die Orania Beweging beloop R40 per maand, of R480 per jaar. Ledegeld vir buitelandse lede beloop R50 per maand, of R600 per jaar.

  7. BJ de Jager 7 Julie 2012 at 03:33 Permalink

    Kan selfwerksaamheid gesien word as ʼn ekonomiese sisteem. En hoe sal dit verskil met die algemene ekonomiese sisteem buite die volkstaat?

    • Philip 8 Julie 2012 at 19:57 Permalink

      BJ, “selfwerksaamheid” is iets wat nog nie onder die vel van Orania se bure ingekruip het nie. Dit is nou daardie boere wat boer op plase aangrensend van Orania. Selfwerksaamheid is n goeie, reine en eerbare ideaal wat ongelukkig n volksvreemde verskynsel vir die Afrikaner volk is. Dit is nie en was nog nooit n hoofstroom eienskap van die Afrikaner volk nie. Hierdie is n feit wat n groot struikelblok is in die ideaal van die skep van n “volkstaat” van noemenswaardige grootte. Orania se strategie om plase uit te koop wys inderdaad sy finansieele krag, maar dui ongelukkig op n armoede in sy vermoë om sy boodskap aan sy onmiddelike bure te verkoop. “Omwoners” wat Orania goedgesind is, is een ding. Dit is n veel ander storie as ons praat van “omwoners” wat die filosofie van selfwerksaamheid ten volle ondersteun. Orania gaan werklik vordering toon die dag as hulle die tradisionele en histories, oorspronklike boere van die Bo-Karoo oortuig van die deugde en voordele van selfwerksaamheid.Daar moet myns insiens n veel groter poging aangewend word om die harte en siele van Orania se bure te wen.


Lewer Kommentaar

*