28 Desember 2017 ~ 4 Kommentare

Terugskou 2017. Enkele hoogtepunte in Orania maand vir maand.

Geskryf deur Sebastiaan Biehl

In Orania staan dinge nooit stil nie. 2017 was, wat Suid-Afrika betref, ʼn slegte jaar, met ekonomiese insinking, gruwelike plaasmoorde en ander misdaad en ʼn al hoe erger korrupsie en staatsverval, om maar net enkele sake te noem.
Orania word ook geraak deur die gebeure in die land, maar omdat ons ʼn groot mate van selfstandigheid het, en dit steeds uitbou, kon ons ook in 2017 groot treë in die rigting van groter selfbeskikking gaan.

In Januariemaand het die infrastruktuurprojek van die Dorpskantoor afgeskop. Orania wil in ʼn stad ontwikkel, en daarvoor moet die voorvereistes geskep word. Een voorvereiste vir meer inwoners is natuurlik meer huise, en dit beteken meer gedienste erwe. Die Karoosig-uitbreiding vir middelklas-erwe is geskep, met sowat 50 nuwe erwe wat uitgemeet is en in die loop van die jaar almal gediens is. Bouery het ook op ʼn hele paar begin. In Kleingeluk is fase 3 van die bekostigbare erwe uitgelê en gediens en daar is orals bouaktiwiteit aan die gang. Ook talle nywerheidserwe en-geboue is deur die jaar geskep. Behalwe vir die uitlê en diens van erwe is ook die algemene infrastruktuur opgegradeer om aan die eise van ʼn groeiende gemeenskap te voldoen. Ook die estetiese bevordering van die dorp het nie agterweë gebly nie.

Februariemaand het onder andere die stigting van die Kampusprojek op Majubadag gesien. Orania is besig om ʼn kampus vir opleiding en onderwys te skep. Alhoewel die fisiese kampus tans nog net gedeeltelik bestaan, is die idee van die kampusprojek om aan leerders by Orania se na-skoolse opleidingsinstellings ʼn studentelewe te gee en om hulle saam te bind deur talle studenteaktiwiteite soos cantus, sport, debat, jooloptogte, uitstappies, musiek en drama. Orania het tans drie naskoolse opleidingsinstellings, Bo Karoo Opleiding, Technik Akademie en Excelentia Haarakademie met tans gesamentlik sowat 30 studente. Dit is maar net die begin, en tersiêre opleiding is die groot groeisektor in Orania. Deur die jaar het die kampusprojek reeds verskillende aktiwiteite geloods. ʼn Egte, fisiese kampus, met onderwysinstellings, studentebehuising, administrasie en winkels is egter reeds in beplanning en sal in die jare wat kom stuk vir stuk gebou word.

Maartmaand is gewoonlik ʼn stil maand, omdat daar veral voorberei word vir die bedrywige Paasvakansie in Aprilmaand met die karnaval, die Bokkieweek en talle vakansiegangers. By die Ierse Monument is wel St. Patricksdag op prettige manier gevier ter herdenking van die Ierse Vrywilligers wat aan Boerekant geveg het in die Tweede Vryheidsoorlog. Ook ander helde en geskiedkundige gebeure word deur die jaar met verskeie vakansiedae herdenk, soos Majubadag, Stigtingsdag, Bittereinderdag, Taaldag, Heldedag en Geloftedag. Die Christelike vakansiedae word natuurlik ook eerbiedig.

Aprilmaand is altyd ʼn bedrywige maand, en so was dit ook hierdie jaar. Die onder 21 bokkietoernooi van Afrikaner Volkseie Sport (AVS) is aangebied, met sportspanne uit die hele land wat aan rugby- en netbalwedstryde deelgeneem het. Om so ʼn groot geleentheid te kon aanbied is gespook om binne 4 maande die Steenbok Herberg te bou om al die deelnemers te kon akkommodeer. Die sportgeriewe moes ook opgeknap word en Orania spog met uitstekende sportgeriewe vir soortgelyke geleenthede. Ongelukkig is die bokkietoernooi deur ʼn tragiese fratsongeluk oorskadu.
Die Karnaval, altyd een van die jaarlikse hoogtepunte, was ook in April. Dit het afgeskop met die karnavalsoptog. Talle stalletjies, kompetisies, sangers en vertonings, insluitende die bekende Kaalvoetkonsert het inwoners en besoekers vermaak.

In Meimaand het die tweede Bo-Karoo Vasbyt, wat deur Helpende Hand aangebied word, plaasgevind. Dit is ʼn wedloop van 100 kilometer deur die natuur en het talle atlete nie net hulle uithouvermoë laat toets nie, maar hulle ook aan Orania en sy omgewing bekend gestel. Daar was ook die opsie van die ligloop van 55 kilometer.

Juniemaand is tradisioneel die maand waar die Orania Beweging sy jaarlikse naweek van verskeie byeenkomste hou. Die burgerraadsitting van verkose lede van die Orania Beweging vind op ʼn Vrydag middag plaas, met die burgerraaddinee, ʼn spoggeleentheid, in die aand, en die volgende dag is die burgervergadering wat oop is vir almal en die doel het om te besin oor Orania se strewe in die groter verband. Daar is altyd ook gehalte sprekers met boeiende toesprake en besprekings. Vanjaar was daar ook saam met die burgerraadsitting die inwyding van die Orania Beweging se nuwe kantore. Dit is in dieselfde gebou, die Vryheidsentrum, maar die kantoor is heeltemal oorgedoen om te voldoen aan die eise van ʼn dinamiese en doelgerigte organisasie, met ruim, oop kantore. Nuut is ook ʼn belsentrum vir ledewerwing.

Juliemaand is die koudste en ook die stilste maand wat aktiwiteite betref. Dit is egter ʼn goeie maand om ʼn bietjie tot rus te kom, met ʼn boek voor die kaggel te sit en vriende oor te nooi vir ʼn bordspeletjiesaand of net ʼn gesels oor ʼn bottel rooiwyn. Gebarste pype en mooi tonele van gevriesde dou is gewoonlik Juliemaand se hoofnuus. Dit is ook die pekanoestyd en ʼn suksesvolle pekankursus is aangebied.

Augustusmaand was daar veral by die twee skole heelwat bedrywighede. Volkskool het sy matriekafskeid gehou en ook ʼn slypskool, om verskeie vaardighede te verbeter. Deur die jaar was daar ook ander aktiwiteite soos ʼn toerismetoer na die Weskus, ʼn entrepreneursdag, ʼn sportnaweek, ʼn kamp en ʼn skynverkiesing.
Dr. Stephan Hoffmann is aangestel as direkteur vir die CVO-skool se kampus en koördineer alle onderwysinstellings onder die CVO-sambreel, van dagsorg oor primêre en sekondêre onderwys tot by die opleidingskool. Ook andersins was die CVO-skool deur die jaar op talle terreine aktief, soos sportbyeenkomste, ʼn kultuurfees, ʼn leierskapseminaar en ander.

Septembermaand is fase een van die Gannabosprojek geopen. Gannabos, ʼn projek wat deur Solidariteit gedryf word, beslaan 6 woonstelblokke wat tans gebou word om te voorsien aan die groot behoefte vir bekostigbare huurbehuising, veral vir werkers. Dit is praktiese, netjiese enkel- of een slaapkamerwoonstelle en behoort die behuisingsagterstand in Orania te help verlig. Ook privaat word gedurig nuwe behuising geskep.

Oktobermaand was die landswye betoging teen plaasmoorde en ander geweld, Swart Maandag. Oraniërs het in groot getalle daaraan deelgeneem en ook hulle solidariteit met ons mense in die res van die land betuig. Orania se Veiligheidsdienste (OVD) is ook geweldig opgegradeer in hierdie jaar en lewer nie net dienste aan die gemeenskap van Orania nie, maar ook aan die omgewing. Hulle is ook ingeskakel by Afriforum se landswye veiligheidsnetwerk.
ʼn Konsert met Juanita du Plessis is deur die CVO-skool gereël om fondse in te samel vir die nuwe Huppelkind Dagsorgsentrum, wat tans op die terrein van die CVO-skool gebou word en baie groter as die bestaande Huppelkind dagsorg sal wees. Huppelkind is een van talle projekte van die Orania Maatskaplike Raad (OMR).

Novembermaand is die e-Ora geïmplementeer. Tans is dit nog in ʼn toetsfase, en van vroeg volgende jaar af sal dit orals in Orania in werking wees. Die elektroniese Ora was seker die grootste nuusmaker vir Orania hierdie jaar, en dit is reeds vroeër in die jaar aangekondig as ʼn projek gedryf deur ekonome soos Dawie Roodt en Piet Le Roux. Die fisiese Ora bestaan al vir bykans 15 jaar, maar die digitalisering van die Ora deur middel van die blokkettingtegnologie bied geweldige geleenthede vir handel, ook met besighede buite Orania. Daar is reeds enkele besighede in Pretoria wat die e-Ora aanvaar.
In Pretoria was ʼn werkswinkel oor outonomie vir die Afrikaanse gemeenskap, aangebied deur die Solidariteit Beweging, waaraan ook verskeie meningsvormers uit Orania deelgeneem het. Orania is telkens as voorbeeld vir praktiese outonomie genoem.
Met Afriforum, die grootste Afrikanerorganisasie, is ʼn memorandum van verstandhouding onderteken, om die samewerking op talle terreine verder uit te brei en te formaliseer. Afriforum steun talle projekte in Orania.
Die Orania Beweging het ook in November danksy aktiewe werwing veral vanuit die nuwe belsentrum die kerf van 5000 lede oorgesteek en dié mylpaal gevier. Ook die facebookbladsy se ondersteuning het geweldig gegroei in 2017 en staan op meer as 90 000.

Desembermaand is die maand met die meeste feeste en die vakansieprogram en is in Orania besonder bedrywig met talle besoekers en vakansiegangers. Geloftedag is ‘ jaarlikse kulturele hoogtepunt vir Afrikaners in Orania en elders en alle instellings hou in die tyd ook hulle kers- en jaarafsluitingspartytjies. Dit was ʼn suksesvolle jaar en ons sien met dankbaarheid en verwagting uit na 2018.

Deel/Stuur

4 Reaksies op “Terugskou 2017. Enkele hoogtepunte in Orania maand vir maand.”

  1. Tokkie van Vuuren 29 Desember 2017 at 06:10 Permalink

    Baie geluk!! Doet so voort!!

  2. Andre 29 Desember 2017 at 23:45 Permalink

    Ek het vir vyf dae tussen Geloftedag en Kersfees oorgebly en sien my toekoms net in Orania. Ek kan nie ophou dink en praat oor die aangename ervaring, die vrede en die indrukwekkende groei nie.

    • Sebastiaan Biehl 2 Januarie 2018 at 10:11 Permalink

      Wonderlik. Hoop jou planne werk uit en jy kom vestig jou hier. Kontak ons by inligting@orania.co.za oor enige vrae met verhuising.

  3. Sam van Rensburg 5 Februarie 2018 at 15:44 Permalink

    Briljant geskryf! Dit lyk of Orania ‘n jaar van bestendige, vinnige groei sal beleef. Ek is veral opgewonde oor die oprigting van die nuwe universiteit. Ons sal jou laat weet wanneer ons hierdie jaar gaan besoek. Baie liefde uit Amerika.


Lewer Kommentaar

*