03 Junie 2013 ~ 9 Kommentare

Suid-Tirool: ‘n Voorbeeld vir Afrikaner-selfbeskikking

Geskryf deur Sebastiaan Biehl

Die besoek van die afvaardiging van die Orania Beweging aan Suid-Tirool was om verskeie redes merkwaardig en besonders.

Alhoewel Suid-Tirool nie een van die 3 klassieke stamlande van die Afrikaners (Nederland, Frankryk en Duitsland) is nie, is dit ‘n streek met wie daar al ou bande bestaan. Wat Suid-Tirool anders maak as lande soos Frankryk, Nederland en Duitsland, wat al geslagte lank hul eie nasionale state het en hulle nie in die posisie van die Afrikaners as minderheid kan indink nie, is dat die klein volkie van sowat 600 000 mense ook in ‘n vryheidstryd gewikkel is en vergelykbare situasies as die Afrikaner moes deurmaak, maar wel intussen ‘n hoë vlak van selfbestuur bereik het.

Suid-Tirool is, soos die naam aandui, die suidelike deel van die streek Tirole. Tirole self, met die hoofstad Innsbruck, is in Oostenryk geleë, en Suid-Tirool is weens strategiese oorwegings en oorlog, sedert 1918 deel van Italië. Histories en kultureel is Tirole egter ‘n eenheid en bestaan daar ‘n strewe van bykans 100 jaar om alle Tirolers in een staat, of ten minste een outonome streek, te verenig.

Die historiese oorsprong van Tirole is juis in huidige Suid-Tirool geleë, in die dorp Tirol met die kasteel van die Tiroolse vorstegeslag. Verskeie hertoë het in die Middeleeue oor die gebied Tirole regeer, maar nadat die laaste hertogin Margarethe na ‘n ongelukkige huwelik met die Oostenrykse prins geen manlike nakomelinge gehad het nie, het die Oostenrykers oftewel die Habsburg Ryk, beheer oor Tirole in 1363 oorgeneem.

‘n Besonderse gebeurtenis in die geskiedenis van Tirole was toe in 1805 en daarna die vryheidsliewende Tiroolse boere onder leiding van Andreas Hofer met hulle beperkte middele weerstand teen Napoleon se verowering gebied het. Die episode kan goed vergelyk word met die Anglo-Boereoorlog amper 100 jaar later en Andreas Hofer as persoonlikheid was nie wesenlik anders as genls Koos de La Rey of Christiaan de Wet nie: sonder formele militêre opleiding het hy en sy boeretroepe ‘n wêreldmoondheid uitgedaag en merkwaardige suksesse behaal. Andreas Hofer is tot vandag toe ‘n volksheld wat oral in Tirole vereer word.

Die herinnering aan hulle eie heldagtige vryheidstryd het gemaak dat in die Anglo-Boereoorlog van 1899 tot 1902 aansienlike getalle Suid-Tirolers as vrywilligers aan die kant van die Boere geveg het. Trouens, dit was persentasiegewys die grootste kontingent van enige Duitssprekende streek.

Die Eerste Wêreldoorlog van 1914 tot 1918 was besonder negatief vir die Suid-Tirolers, want Oostenryk oftewel die Habsburgse Ryk waarvan Tirole deel was, het die oorlog saam met Duitsland verloor en Italië, wat die fronte gewissel het om deel van die oorwinnaars te wees, het Suid-Tirool as oorlogsbuit geëis, ongeag Italië se weglaatbare bydrae tot die oorwinning. Die rede was suiwer strategies van aard, omdat die Brenner-pas, belangrike toegang deur die Alpe van Middel-Europa na Italië, en sedert antieke tye ‘n roete van veroweraars, se beheer vir Italië van groot belang was. Daardeur is egter ‘n volk wat vir eeue lank saam in een streek was, middeldeur gesny.

Vanaf 1922, na die Fascistiese magsoorname deur Benito Mussolini, het die Suid-Tirolers besonder swaar gekry. Die Italiaanse maghebbers het alles gedoen om die beheer oor die nuut verworwe land permanent te maak. Die metodes laat baie dink aan die huidige pogings van verswelging, vervreemding en emigrasiedruk wat Afrikaners bedreig. Ten eerste is Duitse dorp- en straatname veritaliaans, byvoorbeeld het die hoofstad Bozen voortaan Bolzano geheet en Brixen het Bressanone geword.

Selfs die name van die Duitssprekende inwoners is veritaliaans, Franz het Francesco geword, Luis Luigi, ens. Ook skole, koerante en die administrasie was uitsluitlik Italiaans. Die Suid-Tirolers was vreemdelinge in hulle eie land, maar het hulle verset teen die veritaliaansing, byvoorbeeld deur ondergrondse skole in Duits.

Die Italiaanse Fasciste het dit egter nie daar gelaat nie en het groot getalle arm Italianers uit die suide in Suid-Tirool hervestig deur industrialisasie wat ongeskoolde werkers benodig het. Slegs Italianers is in die nuwe fabrieke aangestel. Toe ook dit nie ten volle suksesvol was nie en die Duitssprekendes veral in die plattelandse gebiede die getalsoorwig behou het (die stede, veral Bozen, het wel grotendeels Italiaans geword), het Mussolini en Hitler selfs ‘n plan bedink om alle Suid-Tirolers na Duitsland te verplaas. Die Suid-Tirolers het die keuse tussen twee euwels gehad: om of hulle heimat te verlaat en in een van die verowerde gebiede in Oos-Europa Duitse koloniste vir Hitler se besettingskemas te word of om as Italianers in Suid-Tirool aan te bly, met geen Duitse skole, kultuur ens. nie (en die moontlikheid van gedwonge hervestiging in Suid-Italië en daarmee saam verstrooiing). Die meerderheid het toe gekies om eerder Suid-Tirolers in die Duitse Ryk te wees as om in hulle stamland Italianers te moes word. Dit herinner aan die huidige toestand van Afrikaners, met uitsprake van sekere ministers dat Afrikaners die nuwe orde moet aanvaar en daarby aanpas en hulle mond moet hou, of andersins moet emigreer. Dit is beide slegte keuses en die enigste regte keuse, selfbeskikking, word nie eers genoem nie.

Gelukkig het na die Duits-Italiaanse neerlaag in die Tweede Wêreldoorlog die plan nie gerealiseer nie. Die eertydse Boeregeneraal Jan Smuts het die bydrae van die Suid-Tirolers tydens die Tweede Vryheidsoorlog onthou en het sy invloed as internasionaal erkende staatsman gebruik om vir die Suid-Tirolers kulturele outonomie binne Italië vas te skryf (verdrag van Parys) en om so te keer dat hulle heeltemal verswelg sou word. Die Italiaanse regering het die ooreenkoms egter geïgnoreer en die Suid-Tirolers moes hulle tot verskeie vorme van verset en politieke aksies wend om aandag op hulle probleem te vestig. Hulle politieke mag is verder bemoeilik omdat die huidige Suid-Tirool, waar die Duitssprekendes ‘n meerderheid gehad het, saamgegooi is met die grotendeels Italiaanssprekende provinsie Trient sodat die Duitssprekendes polities weer oorheers was.

‘n Vryheidstryd wat veral in die 1960’s gewelddadig geword het, met sabotasie deur die Duitssprekendes en hardhandige reaksie deur die Italianers, het gevolg. Die gewelddadige verset was egter nie al nie, die Duitssprekendes was polities verenig in een party, die Suid-Tiroolse Volksparty (SVP) onder leiding van Silvius Magnano (ten spyte van sy van geen Italianer nie). Een van die eise was dat die provinsie Trient en Suid-Tirool geskei moet word sodat die Duitssprekendes wel ‘n meerderheid in een provinsie sou wees. Op daardie stadium was hulle weens Italiaanse instroming slegs n rapsie bo 50% in Suid-Tirool, maar mettertyd, veral nadat die Duitse posisie beveilig was, het die instroming gestop en is die Duitssprekendes weens groter natuurlike aanwas intussen weer sowat 70% in Suid-Tirool.
Die toestand van geweld in die 1960s was onhoudbaar en Italië het besef dat hulle ‘n politieke oplossing moes soek. Onder bemiddeling van Oostenryk, wat opgekom het vir sy volksgenote in Suid-Tirool, is ‘n volledige outonomieooreenkoms onderhandel wat stapsgewys van 1972 tot 1992 geïmplementeer is. Dit het onder meer die skepping van die outonome provinsie Suid-Tirool met ‘n eie parlement in die hoofstad Bozen behels, asook taalgelykheid en absolute tweetaligheid in alles en besetting van alle staatsposte volgens die bevolkingsamestelling tussen Duits- en Italiaanssprekendes op grondvlak (dus in elke dorp anders, wat meebring dat die Italiaanse minderheid ook gebiede soos die hoofstad Bozen het waar hulle regeer).

Die SVP met die lang regerende Landeshauptmann (vergelykbaar met ‘n premier) Luis Durnwalder beheer al vir dekades die politieke toneel en mnr Durnwalder, wat ons afvaardiging ontmoet het, beskou die huidige outonomiemodel as die ideale toedrag van sake en verwys op ekonomiese voorspoed en goeie verhoudinge tussen die taalgroepe in sy provinsie.

Hier bestaan ook parallelle met die geskiedenis van die Afrikaner: die SVP het, soos die NP van ouds, feitlik alle Afrikaners verenig en hulle belange behartig en druk sy stempel op die land af. Die NP se ideaal was Afrikaner-beheer met inagname van die Engelssprekendes, wat tot die tweetalige Suid-Afrika en betrekking van die Engelssprekendes by die administrasie gelei het.

Soos ook onder Afrikaners destyds, is daar meer uitgesproke partye van die Duitssprekendes soos die Suid-Tiroolse Vryheid en die Vryheidsparty, wat ons ook ontmoet het, en wat outonomie nie as die einddoel beskou nie, maar na meer selfbeskikking strewe, wat ook die opsie van onafhanklikheid of aansluiting by Oostenryk bevat. Hulle verwys na die konsep van groeiende selfbeskikking en na strewe van ander minderheidsvolke soos Skotte en Katalane na volledige onafhanklikheid binne die Europese Unie. Daarom beywer hulle hulleself vir ‘n referendum waar die bevolking self die toekoms moet bepaal. Hulle wil egter die Italiaanse minderheid akkommodeer en wys daarop dat meer en meer Italiaanssprekendes hulle eerder met Suid-Tirool as met Italië vereenselwig, ook weens Suid-Tirool se ekonomiese voorspoed en politieke stabiliteit (heel anders as in Italië).

As ‘n mens die Suid-Tiroolse geskiedenis bestudeer is die parallelle met die Afrikaners ooglopend en gee dit ons hoop. Die Suid-Tirolers was al in hulle geskiedenis moedeloos en teen die grond, maar is nou voorspoedig en beskik oor ‘n eie gebied. Hulle het deur ‘n evolusionêre proses, met behulp van interne en eksterne politieke druk, betogings en verset, kulturele handhawing en onderhandeling hulle doel grootliks bereik en die pad vorentoe lyk nog meer belowend.

Die Afrikaners mag tans voel dat alles verby is, maar in die tydperk tussen die twee Wêreldoorloë het dit vir Suid-Tirolers ook so gevoel. Hulle wil om te oorleef was egter sterker. Mag dit vir ons ‘n inspirasie wees.

Deel/Stuur

9 Reaksies op “Suid-Tirool: ‘n Voorbeeld vir Afrikaner-selfbeskikking”

  1. Paul 3 Junie 2013 at 22:15 Permalink

    Dit is die eerste keer dat ek kennis maak met die Suid-Tiroolse geskiedenis. Sebastiaan, jy het dit voorwaar mooi saamgevat, sodat selfs ‘n leek soos ek dit kan verstaan. Hopenlik sal ons nog baie by die Suid-Tirolers kan leer. Is dit die gedeelte waar die Duitse dialek baie naby aan Afrikaans is? Of het ek die kat aan die stert beet?

    • Sebastiaan Biehl 4 Junie 2013 at 08:22 Permalink

      Paul. Ek is nie seker oor die dialek nie, maar ek hoor by Sebastiaan. Hy doen tans sendingwerk in Spanje en sal eers weer oor ‘n paar maande terug wees in Orania.

  2. anton 4 Junie 2013 at 03:19 Permalink

    Pragtige artikel.GEE MENS NUWE MOED EN BESIELILNG OM VOOTY TE GAAN TE MIDDE Van toenemde donkerte om ons.

  3. Frank 4 Junie 2013 at 09:22 Permalink

    Baie positief! Dankie, goeie artikel. Dit is ‘n inspirasie en ek hoop mettertyd sal dat nog “Oranias” laat opkom in Suid Afrika.

  4. Tobie Hart 4 Junie 2013 at 17:39 Permalink

    Geluk aan Sebastiaan Biehl met die artikel. Die Suid-Tiroolse situasie met sy 40 Duitse dialekte [Internet] hoewel onderling Beiers-verwant, kan seker effens met die Afrikaner se huidige situasie vergelyk word. Die ooreenkoms is egter meer soos die tussen ‘n eenskaarploeg, soos Volkskas s’n destyds en ‘n 10-voor implement met elektroniese dieptebeheer en al.
    Desondanks is dit goed om wyer te kyk, te dink en veral om te beplan hoe om hierdie groepie, alleen op ‘n vreemde kontinent, saam vorentoe te laat beweeg.- Dit mag selfs help om nie net Duitse, Nederlandse en Franse nasate te erken en te probeer betrek nie, maar ook die van bv die tradisioneel ‘gehate Engelse’ waarvan baie selfs Boere geword het, as bondgenote te erken. Al is dit net deur toe te gee dat hulle soos almal in die land van direkte en selfs indirekte nie-Afrika-herkoms in dieselfde situasie is. Vanselfsprekend verwag niemand dat hulle voorkeurbehandeling moet kry nie, maar miskien het ‘n oper, Christen-Europeaanse en [anders as Suid-Tirool] selfs Protestantse groepering, meer hoop op sukses. Met aansienlik minder kans op muf, noudat sake openliker besprek word, is daar toenemend hoop op sukses. Die groot vraag bly egter: waar kan ander groeipunte gevestig word? – Suid van die Engelse ‘Great Fish’ dalk?

  5. Ettiene W Kleinhans 4 Junie 2013 at 19:53 Permalink

    Dit gaan nog te goed met die Boerevolk om saam te staan. Dit is egter tyd dat daar, soos die Suid Triole, na selfbeskikking gekyk word. `n Eie gebied, `n eie staat.

  6. Sebastiaan Biehl 6 Junie 2013 at 18:45 Permalink

    Baie dankie vir al die positiewe komentare.
    Die Suid-Tiroolse Duits is nie juis nader aan Afrikaans as die standaardduits nie, maar die mense is baie meer “ons mense” as die gemiddelde Duitsers, omdat hulle meesal behoudend en godsdienstig is, weet wat dit is om n onderdrukte minderheid te wees, en omdat hulle n volksgevoel het.

  7. Rian Genis 7 Junie 2013 at 09:20 Permalink

    Uitstekend geskryf, Sebastiaan! Ek wil voorstel dat ons oorweging daaraan skenk om die Volkslied van hierdie mense, wat ons werklik goed ontvang en wat positiewe skakeling met ons Volk verwelkom en selfs aanspoor, by ons Cantusse as ‘n standaard lied in te lyf. Dit sal ons jongmense eerstens bewus maak van hierdie Volk, bekend maak met die verbintenis tussen die Afrikaner en hulle en ook weer die Afrikaner leer om respek vir hulle te ontwikkel.

  8. Diego - Roma, Italia 8 Julie 2013 at 00:52 Permalink

    Why the South Tirol is a problem? After 1945 some millions of german people was deported from Poland, Czech, France,Russia, Finland, Baltic republics and the borders of the Germany was changed, and nobody in Germany protest today against this “drama”. I don’t undestud why ONLY 200.000 south-tiroler (Italy have a population of 60 millions)are a problem in Italy!What you think about the Italians “captured” from the borders of Switzerland (Ticino), France (Nice, Montecarlo, Tenda, Mentone, Corsica), Slovenia and Croatia(Istria),Malta?


Lewer Kommentaar

*