03 Desember 2013 ~ 4 Kommentare

Sterk selfbeskikkingswinde in Europa

Geskryf deur Jaco Kleynhans

FreedomDie Vryheidsparty van Suid-Tirool in die Noorde van Italië het ‘n pragtige bemarkingspamflet. Op die voorkant van die pamflet is die foto van ‘n swanger vrou met die byskrif: “Europa is swanger en sy verwag vyf nuwe state.” Die Vryheidsparty is die hoofopposisie in Suid-Tirool en strewe vir onmiddellike onafhanklikheid van Italië. In die onlangse verkiesing in Suid-Tirool het dié party se steun skerp toegeneem.

Die vyf nuwe state waarna die Vryheidsparty verwys is Suid-Tirool, Vlaandere, Katalonië, Skotland en Venesië. Al vyf hierdie gebiede streef tans na selfbeskikking van onderskeidelik Italië, België, Spanje en die Verenigde Koninkryk. Hierdie vyf streke het ook reeds ’n groot mate van outonomiteit. In Suid-Tirool kry die provinsiale regering reeds sowat 90% van sy belastinggeld van die Italiaanse regering terug. Die provinsie het volle beheer oor die meeste staatsdepartemente insluitende onderwys, kultuur en ekonomiese sake. In al vyf hierdie streke het die steun vir onafhanklikheid ten spyte van ‘n reeds groot mate van outonomiteit die afgelope paar jaar beduidend toegeneem.

Vroeër vanjaar het die drie partye in Vlaandere, wat vir onafhanklikheid van België staan, vir die eerste keer in jare meer as 50% van die steun van Vlaminge in ‘n peiling geniet. In Katalonië is die meerderheid parlementslede ten gunste van onafhanklikheid. Volgens peilings het steun vir onafhanklikheid onder Katalane van 34% in 1996 tot 55% in September vanjaar toegeneem.

Ook in Venesië in Italië is daar toenemend steun vir onafhanklikheid. Onlangse peilings toon dat tussen 70% en 80% van die inwoners van Venesië ten gunste daarvan is om ‘n onafhanklike staat tot stand te bring.

Skotland is tans die beste voorbeeld van ‘n streek wat na onafhanklikheid streef. Dié land beplan om volgende jaar op 18 September ‘n referendum te hou met die doel om onafhanklik van die Verenigde Koninkryk te raak. In die Skotse parlement is 55% van parlementslede ten gunste van onafhanklikheid. Die Skotse Nasionalistiese Party het in 2011 ‘n historiese meerderheid in die Skotse verkiesing behaal, en beskou dit as ‘n mandaat om onafhanklikheid te verwesenlik. Verlede week het die Skotse eerste minister, Alex Salmond, ‘n dokument van meer as 600 bladsye waarin sy party se strategie vir onafhanklikheid uiteengesit word, bekend gemaak. Skotland mag dalk net teen volgende jaar hierdie tyd onafhanklik van die Verenigde Koninkryk wees.

Nie een van hierdie streke wat na onafhanklikheid streef, hoort tuis in die lande waarvan hulle tans deel is nie. In die meeste van die gevalle is hierdie streke na oorloë by lande ingedeel waarvan hulle nooit deel wou wees nie.

Europa is dus tereg swanger en een of ander tyd gaan daardie vyf babastate gebore word.

Afrikaners wat selfbeskikking nastreef, kan gerus by hierdie streke gaan leer oor die bou van ‘n sterk onafhanklikheidsbeweging, en die belangrikheid van meerderheidsbesetting in ‘n geografies afgebakende gebied. Slegs dan sal ons ook ernstig oor onafhanklikheid kan begin dink. Sonder ‘n werklikheid op die grond bly die strewe na selfbeskikking net ‘n droom.

Deel/Stuur

4 Reaksies op “Sterk selfbeskikkingswinde in Europa”

  1. Niel 6 Desember 2013 at 21:35 Permalink

    Daar is geen gebied in SA waar daar ‘n meerderheid Afrikaners woon wat as volkstaat verklaar kan word soos in bg voorbeelde nie

    • Ebert Terblanche 6 Desember 2013 at 22:35 Permalink

      Jy is heeltemal reg oor die huidige verspreiding van Afrikaners Niel.

      Wat jy egter nie uit die oog moet verloor nie, is dat mense nie soos bome is wat nie hul omstandighede, ligging en toekoms kan verander nie.

      Daar was byvoorbeeld vir die grootste deel van die geskiedenis nie Duitsers in Suid-Tirool nie. Hulle het eers na die val van die Romeinse ryk hul intrek in die gebied geneem as deel van die Lombarde.

      Net so was Venesië slegs ‘n stinkende moeras tydens die Romeinse ryk. Na die val van die ryk, het Romeinse vlugtellinge wat gevlug het van die misdade wat deur die invallende Lombarde gepleeg is in stede soos Padua, Aquileia, Treviso en Altino na die moeras getrek en ‘n nuwe beskawing begin. ‘n Beskawing wat later die renaissance in Europa sou inlei.

      Daar is in hierdie verband baie ooreenkomste tussen dit wat Venesië gedoen het en dit wat Orania vandag probeer doen.

      Orania is in ‘n gebied wat reeds Afrikaans is, dit is ‘n veilige gebied met baie water en landboupotensiaal. Dit is groot genoeg om ‘n lewensvatbare ekonomie te onderlê en daar is min tot geen kompetisie vir hulpbronne nie.

      Met minder as 80,000 mense wat tussen Orania en die Weskus woon, hoef net een uit elke dertig Afrikaners na hierdie streek te trek om die meerderheid te vorm waarna jy verwys.

  2. Lavre Industries 21 Desember 2013 at 22:51 Permalink

    Een uit elke dertig, is op hierdie stadium erg moeilik, maar nie onmoontlik nie. Twee dinge is egter besig om huidiglik te gebeur, en ook teen ‘n versnede tempo. (EEN) Meer, en meer mense wil uit Suid Afrika, en minder kan, as voorheen, oor toestande, ekonomies en andere, moeiliker raak. Meer en meer mense kyk na ander uitwegte, en terselfdertyd, (TWEE) raak menere soos Julius (dit is nou “Renjaer Malema” van wie ons hier praat) meer en meer Militant, wat Afrikaners ook dryf na ander oplossings… In die tussen tyd, is Orania ook nie meer net 80 mense nie, en hoe meer dinge daar suksesvol uitbrei, hoe meer word dit ‘n moontlikheid vir meer mense. Jy gaan ook jou persentasie kry wat hulle laaste bietjie wat hulle oorhet, sal vat, en soontoe gaan, voor hulle niks meer oor het nie.. Baie ander faktore skop in: Vir elke 20 tot 30 mense, kan een gewone dagwerker, ‘n kans gegee word. En hulle, blank soos hulle is, IS daar. Hoemeer mense gewoond raak aan die gewone Europese manier van hoe dinge in Orania gedoen word, (en hoe meer Orania die “emigrasie” proses net doodgewoon hou binne die raamwerke van artikel 235, van die BESTAANDE multikulturele Suid Afrikaanse grondwet) sal probleme voorkom word, wat Suid Afrika verander het in die gemors wat dit vandag is.. Die twintig jaar wat nou verby is, het Orania net ‘n grondslag gegee. Die volgende “gelyke” ontwikkeling gaan nou 12 jaar duur, ensovoorts… Die res, is soos die Engelsman sê: “Money for home”.. Ons is nou in 2013… ek is so seker as wat ek op ‘n Saterdagaand hier sit, en my naam op papier gooi, seker dat Orania voor 2050 afgestig sal wees…

  3. Simon 23 Desember 2013 at 02:20 Permalink

    “ek is so seker as wat ek op ‘n Saterdagaand hier sit, en my naam op papier gooi, seker dat Orania voor 2050 afgestig sal wees…”

    Lekker gedagte om aan te kou en saam te neem droomland toe vir ‘n rustige nagrus…


Lewer Kommentaar

*