25 Oktober 2013 ~ 3 Kommentare

Spanje in Noord-Afrika: die enklawes Ceuta en Melilla

Geskryf deur Sebastiaan Biehl

Ceuta, 'n Spaanse stad in Noord-Afrika.

Ceuta, ‘n Spaanse stad in Noord-Afrika.

Die Herkulesbeeld in Ceuta.

Die Herkulesbeeld in Ceuta.

In ‘n vorige blog-artikel is genoem dat Spanje tans weer in ’n woordeoorlog oor die Britse besitting Gibraltar betrokke is. Die Britte wys byvoorbeeld daarop dat Spanje nie konsekwent is as Gibraltar weens “territoriale integriteit” teruggeëis word nie en dat geografie die alles bepalende faktor is.
Spanje, wat met klippe gooi, sit self in die spreekwoordelike glashuis, want in Noord-Afrika, omring deur Marokkaanse grondgebied, besit die land twee enklawes, Ceuta en Melilla, en wys enige eise van Marokko oor teruggawe van die hand. Daarby is dit ook interessant dat die Verenigde Nasies Gibraltar as kolonie lys wat gedekoloniseer moet word, maar nie Ceuta en Melilla nie.

Net soos in die geval van Gibraltar is die twee stede kultureel en polities eilande wat duidelik van hulle omgewing verskil. As jy van Algeciras per boot in minder as ’n uur oor die seestraat van Gibraltar na Ceuta vaar, of vanaf Almeria binne sowat ses uur na Melilla, is jy nog steeds in Spanje, geen paspoortkontrole vind plaas nie en geboue en mense lyk soos in ’n Spaanse stad op die vasteland. Dit val wel op dat Marokkane met hulle kopdoeke en gewade meer algemeen voorkom, so ook hulle buurte met moskees waar jy eerder voel soos in Marokko.

Ceuta het sowat 80 000 inwoners en ’n geografiese opset wat met Gibraltar vergelyk. Dit is ook op ’n dun skiereiland geleë, wat in die middel deur ’n kanaal geskei word en waar die stad se sterk fortifikasies in die 17e eeu gebou is en later volgens die nuutste vestingsargitektuur uitgebrei is. Die geografie maak dat Ceuta lank uitstrek en jy sommer binne vyf  minute van die noordelike kant teen die Straat van Gibraltar na die suidelike kant met die Middellandse See kan stap. Aan die noordekant het die stad ’n lang hawefront, met pronkgeboue uit die vroeë 20ste eeu, natuurlik ’n hele paar pleine soos elke Spaanse stad en ’n pragtige hoofplein, Plaza Africa (nomen est omen) met die katedraal en stadsaal. Op die nouste gedeelte van die skiereiland lê die magtige fort wat vrylik besigtig kan word. Die fort is netjies met fondse van die Europese Unie gerestoureer. Daar is ook twee gratis museums wat oor die geskiedenis van die stad handel.

Melilla is verder oos geleë, teenaan die Marokkaanse stad Nador en het sowat 70 000 inwoners. Dit is ’n besonder mooi stad, met ’n sterk gevestigde ou stad op ’n klein skiereiland en omring deur ’n magtige stadsmuur en fortifikasies uit die 16e eeu. Die “nuwe” stad (oud in Suid-Afrikaanse terme) is in die laat 19de eeu op ’n nabye vlakte aangelê en bevat die ronde groot Plaza Espana met sy indrukwekkende en monumentale administratiewe geboue, asook ’n groot en lang park met fonteine en palmbome in die middel van die nuwe stad. Talle geboue is in die Historiese en Art Deco-styl van die vroeër 20ste eeu gebou en Melilla het ’n argitektoniese voorkoms soos Swakopmund.

Ceuta en Melilla se kwesbare geografiese opset bring mee dat in altwee stede ’n kontingent van die Spaanse Vreemdelingelegioen gestasioneer is, ’n interessante onderwerp op sy eie. Die Franse Vreemdelingelegioen is wêreldbekend en was, en is,  vir menige romanties voelende jongman wat sy benouende omstandighede in klein Europa wou ontsnap, ’n bekorende aantrekkingskrag. Die Spaanse Vreemdelingelegioen is in 1923 na die voorbeeld van die Franse legioen gestig, met die doel om Spanje se koloniale besittings in Marokko, wat die hele noordelike derde van die huidige Marokko ingesluit het, te beskerm en te vergroot. Na die einde van Spanje se koloniale ryk  aan die einde van die Tweede Wêreldoorlog het die Vreemdelingelegioen wel nog die taak om die twee buiteposte te verdedig en neem hulle ook deel aan missies van die Verenigde Nasies. Die Spaanse Vreemdelingelegioen is gestig deur die einste Francisco Franco wat later beroemd en berug sou word as oorwinnaar in die burgeroorlog en 0ok as outoritêre, regsgesinde leier van Spanje. Alhoewel hy vandag, en veral onder die sosialistiese bewind van Luis Rodrigues Zapatero van 2002 tot 2010, meesal skamerig verswyg word en geen monumente of straatname meer aan hom herinner nie, word hy wel nog deur die Vreemdelingelegioen vereer. In Ceuta is ’n interessante museum oor die geskiedenis van die Spaanse Vreemdelingelegioen en Franco kry die eer wat hom toekom in die konteks van die legioen. In Melilla staan die laaste oorblywende standbeeld van Franco, waar hy as jong offisier nadenkend en beskeie met stok, hoed en verkyker teen die stadsmuur staan. Die sosialistiese regering wou in hulle beeldestormingsywer dit ook verwyder, maar die konserwatiewe stadsregering van Melilla was daarteen en het geargumenteer dat die standbeeld nie die diktator Franco vereer nie, maar die offisier van die Vreemdelingelegioen en eertydse stadskommandant van Melilla. Na ’n juridise toutrekkery het die sosialiste eers besgegee en later, in 2010, in elk geval die verkiesing verloor. Die huidige konserwatiewe regering van Mariano Rajoy het dringender probleme om op te los as ’n standbeeld in een van sy buiteposte en Franco sal seker nog lank bly staan.

Albei stede was na mekaar in Kartahgiese, Romeinse, Bisantynse, Vandaliese, Arabiese, Portugese (slegs Ceuta) en Spaanse besit. Melilla is sedert 1497 en Ceuta sedert 1668 deel van Spanje. Marokko as moderne staat bestaan eers sedert 1956 en die geskiedkundige aanspraak van Marokko op Ceuta en Melilla is ten beste wankelrig. Daar is stede in Spanje self, soos Granada en Sevilla, wat ook eens onder Moslembeheer was, en met die logika van “dit het eens op ’n tyd in die geskiedenis aan ons behoort en moet dus terug gegee word”,  is geen land op aarde vry van gebiedseise nie. Wat egter oral en daarvan is ons in Suid-Afrika wel bewus, meer tel as historiese aansprake is effektiewe besetting. Albei stede het nog ’n Spaanse meerderheid, maar slegs ’n rapsie bo 50%, en amper ewe veel mense wat Moslems is. Dit is wel so dat beslis nie alle Moslems van Marokkaanse herkoms in Ceuta of Melilla noodwendig deel van Marokko wil word nie. Talle geniet die vry lewe en die relatiewe ekonomiese voorspoed en kan in elk geval hulle godsdiens en kultuur onbelemmerd uitleef. Sowel Ceuta as Melilla bemark hulleself as multikulturele stede vol godsdienstige en etniese harmonie met vier geloofsgemeenskappe, Christene, Moslems, Hindoes en Jode en stel hulle in brosjures en museums bekend asof dit vier godsdienste van gelyke sterkte is. Die feit is dat Hindoes en Jode saam nie eens 1% van die bevolking uitmaak nie. Die ruggraat van die stede in elke opsig is die Spanjaarde. Hulle beheer politiek, kultuur en ekonomie en die Moslems kom meer voor as gasarbeiders, al woon hulle al lank in die stede.

Albei stede het die status van outonome stede binne Spanje en hulle status as deel van Spanje word glad nie as onderhandelbaar beskou nie. Dis ook stede wat sterk konserwatief is en waar die Volksparty (Partido Popular PP) baie meer steun geniet as die Sosialiste (PSOE). Alhoewel die verhoudinge tussen die groepe tans rustig is, tik ook hier ’n demografiese tydbom en is die Trojaanse perd in die vorm van ’n groot en groter wordende Moslembevolking reeds binne die mure. Tans word immigrasie vanuit Noord-Afrika met versperrings wat aan die ystergordyn laat dink afgeweer, maar ten spyte daarvan glip daar altyd ’n paar deur en benut die twee enklawes as ‘n afspringplek na die Spaanse vasteland. Die Spanjaarde se geboortekoers daal, soos orals in Europa, en die beeld van ’n  middeljarige, drawwende Spaanse vrou, ooglopend sonder kinders, langs ’n jong Marokaanse vrou met ’n kinderwa met twee babas, wat ek  in Melilla gesien het, sê alles oor die toekoms van hierdie twee stede.

Deel/Stuur

3 Reaksies op “Spanje in Noord-Afrika: die enklawes Ceuta en Melilla”

  1. Louis 28 Oktober 2013 at 08:15 Permalink

    Die foto van die ”Herkules beeld in Ceuta” lyk vir my eerder na ‘n beeld van Simson. In die Bybel is dit Simson wat tussen twee pilare staan en dit omstoot nie ”Hercules” nie.

  2. Sebastiaan 30 Oktober 2013 at 11:43 Permalink

    Louis, dit kon inderdaad ook n uitbeelding van Simson gewees het, maar stel Herkules daar wat Afrika en Europa uitmekaardruk en die ‘pilare van Hercules’ vorm, volgens die Griekse mitologie en soos in die voorafgaande stuk oor Gibraltar beskryf.

  3. Sebastiaan 30 Oktober 2013 at 11:44 Permalink

    Louis, dit kon inderdaad ook n uitbeelding van Simson gewees het, maar stel Herkules daar wat Afrika en Europa uitmekaardruk en die ‘pilare van Herkules’ vorm, volgens die Griekse mitologie en soos in die voorafgaande stuk oor Gibraltar beskryf.


Lewer Kommentaar

*