09 Augustus 2011 ~ 3 Kommentare

Slot: ‘n Epiese bootreis op die Irrawaddy na die verstommende ruïnestad Bagan

Geskryf deur Sebastiaan Biehl

Ons het in die donker, vroeë oggendure per trein in Mandalay aangekom en het weer in die donker vertrek. Nog meer eksoties as ‘n treinrit is ‘n bootrit, veral as dit een van die ou rivierbote van die eens magtige Britse Irrawaddy Flotilla is. Die beroemde koloniale skrywer Rudyard Kipling, wat Burma se bekoring al honderd jaar terug aangevoel en beskryf het, het ‘n gedig oor die bootrit op die Irrawaddy geskryf, voor daar nog paaie en spoorlyne was, getiteld “the Road to Mandalay”. Die “road” wat hy bedoel het was die magtige Irrawaddy wat van noord tot suid deur Burma vloei en relatief maklik navigeerbaar is. Meesal is dit ‘n breë en stadig vloeiende rivier sonder versnellings of vernouings. In die droë tyd is daar wel sandbanke om mee rekening te hou.  En nou sou ons so gelukkig wees om hierdie epiese rit mee te maak, al was dit nou nie die hele stuk tussen Mandalay en Rangoen nie, maar slegs tot in Bagan, nog steeds ‘n hele 12 ure op die rivier.

Die boot kom nog uit die tyd van die koloniale era en is maklik honderd jaar oud, met twee oop dekke met teakhoutplanke waar almal op die grond sit. Die reisigers met hulle sarongs en longyis en gevlegte maandjies op die kop het in die eksotiese omgewing gepas. Maar toe nog 8 ander rugsakreisigers die boot betree het, was die illusie dat ons die enigste blankes wyd en syd was, waaraan ek nou al gewoond geraak het, verby. Ons Westerlinge, die ander uit Brittanje, Duitsland, Kanada en Frankryk, het die 10 wit plastiekstoele beset wat in een hoek teen die reling gestaan het, terwyl die Burmese orals op die grond gesit en in groepies met mekaar gesels het. Die aanvanklike skuheid tussen die toeriste het na ‘n rukkie plek gemaak vir die gewone oppervlakkige gesels oor waar vandaan, oor die reis so ver en volgende bestemmings, en die uitruil van inligting oor blyplekke en besienswaardighede. Alhoewel meeste Westerlinge nie van te veel ander toeriste hou nie, veral nie die soort wat Burma ter wille van sy ongereptheid besoek, het ons ‘n logiese groep gevorm en was dankbaar vir ‘n bietjie afleiding. Boeke om die tyd om te kry is geruil en ‘n paar reiswenke gedeel. Ek self het egter geen behoefte aan lees gehad nie maar het weer en weer die toneel ingedrink: die bruin rivier met klein seilbote van hout, of drywende boomstamme uit die meer afgeleë noordelike reënwoude; die dek met sy bont klomp mense, die mandjies met piesangs of mango’s tussen hulle. Op die oewer was groen heuwels waar die spitse van goue pagodes uitsteek, en op ander plekke hutte van bamboes en met blaardakke. Af en toe was daar ‘n staalboogbrug wat jou herinner dat jy wel in die moderne era is.

Van tyd tot tyd het die boot by klein dorpies aangedoen en mense het gekom en gegaan oor die planke. Mandjies met vrugte, sakke met rys, en selfs ‘n swaar Buddhabeeld van klip of ‘n nuwe ploegmasjien word afgelaai en met ossewaens verder vervoer. Die tonele is so bekorend dat jy net daar wil staan en jou daaraan verwonder. Dit was die Verre Ooste wat ek gesoek het, en wat in lande soos Singapoer net nog op historiese foto’s in die museum te sien is. Dit is alles net moontlik solank die getal toeriste beperk is. 10 was al genoeg, maar verbeel jou die boot is vol honderd of tweehonderd toeriste, wat net alles en almal van so naby as moontlik wil afneem. Die inheemse mense sal later soos dieretuindiere voel, maar ook gou besef dat hulle kan geld vra vir eksotiese foto’s, waarmee die eksotiese natuurlik dan verby is en net nog ‘n tentoonstelling vir vreemdelinge is. Die eerste voorsmaak het ek reeds op die boot gekry: die een jong Duitse toeris wat seker die voorbeeld gevolg het van tydskrifte soos Geo of National Geographic het oor en oor portretfoto’s van ‘n rokende ou vrou geneem. Later, in Bagan, het ek soortgelyke ou vroue gesien wat by die pagode sit en teen betaling ‘n sigaar opsteek vir ‘n “outentieke” foto.

Nietemin, nog is Burma outentiek, selfs in die toeristemagnete. Die eksotiese Oos-Asië wat ek as kind in ouerige James Bond flieks of periodeflieks gesien het bestaan nog in hierdie land, niemand weet vir hoe lank nog, maar ten minste het ek dit nog gesien en beleef.

Op die boot ervaar ‘n mens ook weer die luukse van tyd. Juis omdat jy niks het om te doen wat jou besig hou nie besef jy wat tyd is. Nie as iets wat jy om wens omdat jy verveeld is nie, in teendeel, iets wat jy so ryklik het dat jy dit as’t ware kan aanvoel en kan vashou. Jou sinne raak opgeskerp om alles presies te betrag en om alles bewustelik te doen. Een van die paar afleidings wat ek met die oorvloed van tyd gedoen het,  behalwe om ure uit te staar na die eksotiese tonele op die oewer, was om vir my ‘n uurlange vollyf massering deur ‘n ou vrou te laat gee in ‘n oop houthok, teen die spesiale prys van 4000 Kyat, min of meer 40 Rand. Ek en my pa het ook lank by die “kroeg” gesit waar ‘n mens bier, kitstee en –koffie kon drink en goedkoop Cheerot-sigare kon koop. ‘n Oop vuur het daar gebrand waarop ‘n pot vetterige sop gekook het. Terwyl ‘n mooi jong Burmese meisie vir my ogies gemaak het, maar ons weens die taalgaping nie meer as net ‘n paar glimlaggies kon wissel nie, het my pa met ‘n middeljarige Duitse vrou wat alleen reis oor verkeersprobleme in haar tuisstad gesels. Dit het net so vreemd voorgekom om in hierdie eksotiese land vêr van die res van die wêreld nou opgewonde te raak oor die vergroting van ‘n stasie in Stuttgart!

Met skemer het ons Bagan bereik, oftewel Nyaung U, naby Bagan, die eindbestemming. Teen hierdie tyd was die skip al betreklik leeg. Tweewiel-perdekapkarre het gereed gestaan en ons het deur die nagtelike dorp gery en ons tuis gemaak my ‘n eenvoudige gastehuis met ‘n ouerige, vriendelike bestuurder met ‘n klein ronde bril en skewe tande.

Na die opstaan het  ek van ons stoep af ‘n tipies Burmese toneel gesien: in die agtergrond die goue koepel van die Shwezigon pagode, in die pad monnikke wat loop en perdekoetse wat verby ry en kragdrade wat slap in die prentjie gehang het. Met dieselfde perdekar en bestuurder as gister het ons toe gemoedelik die Bagan ruïnes verken. Bagan kan loshande as een van die geskiedkundige wonders van die aarde gereken word, maar terwyl meeste mense al gehoor het van die piramiedes in Egipte, Ankor Wat in Kambodja, die Sjinese Muur, Pompeii, die Akropolis van Athene of die Forum Romanum, het ek, soos vele ander, tot onlangs nie geweet van die bestaan van die tempelstad Bagan nie.

Bagan was die hoofstad tydens Burma se eerste groot koninkryk wat in die 11de tot 13de eeu bestaan het en die skrik vir sy buurlande was. Bagan was ‘n indrukwekkende groot stad, maar omdat die geboue almal van hout was het slegs die pagodes en tempels, almal van klip en steen, oorgebly. Meer as 2200 tempels en pagodes gee ‘n mens ‘n idee hoe groot en ryk die stad destyds moes gewees het. Vandag is daardie amper onbegryplike hoeveelheid oor ‘n area van 40 km² verstrooid, blykbaar sonder enige verbintenis met mekaar, asof hulle uit die hemel geval en deur die wind verwaai is. Die meeste bestaan uit rooibruin bakstene, die ander het wit mure wat van mosse en skimmel al deels swart geword het. Almal het ‘n vierkantige basis en die koepeldak in die middel, ‘n hele paar lyk amper soos die trappiramides van die Maya in Mexiko. Daar is die wat skaars 4 meter hoog is en ander wat enorme komplekse is, en in elkeen is ten minste een Buddhabeeld. Sekere van die pagodes is nog steeds plekke van aanbidding. Gelowiges buig voor die beelde of plak dun plakkers goud daarop as teken van eerbied.
Op sekere van die tempels kan jy opklim, gewoonlik bied ‘n jong seun of meisie sy of haar dienste in beperkte Engels aan en wys die donker gange uit waar die trappe na bo is. Met die Burmese sing-sang aksent word uit “mind your head” maklik “maai hee”. By sekere pagodes is ‘n mens alleen en kan die werklik asemrowende gesig van die honderde pagodes in elke rigting, en troppe wit beeste en hier en daar ‘n boer wat sy lande met houtploeg en osse ploeg waardeer, ongesteurd waardeer en in jou opneem. Wat die atmosfeer verhoog is dat die ruïnes in ‘n groot vlakte met bome en lande tussenin geleë is, slegs met 2 teerpaaie, en na die meeste ruïnes kan jy net op grondpaaie met perdekar of outydse fietse kom.
Westerse toeriste en die aandenkingverkopers in hulle tou is by hierdie absolute hoogtepunt van Burma natuurlik nie skaars nie, maar dit is nog steeds matig. Gewoonlik kom iemand na ‘n ruk, of ry weg as jy kom. Die jong verkopers is dikwels knaend tot jy iets koop, veral in die afseisoen waar besoekers min is, en hulle haal al hulle sjarme en mooiste glimlag uit om iets aan jou te verkoop. Dit is ook werklik mooi goed soos waterverfskildery, juwele van halfedelstene of beelde van hout of selfgemaakte klere, en alles billik. ‘n Mens kry die gevoel dat die handel met toeriste tans nog ‘n aanvullende inkomste is en die mense nog steeds in die eerste plek van hulle eie bronne soos landbou en vissery lewe. Bagan is ook bekend vir sy lakeerkuns. Uit bamboes word armringe, dosies, beeldjies en nog wat gemaak en dan op tradisionele wyse lakeer. Daar is ‘n bygeloof onder die verkopers dat hulle geseën word as iemand, veral Westerlinge, iets by hulle koop. Telkens is vir ons gesê dat hulle “lucky money” soek, en nadat ons iets gekoop het, het die verkopers met die so pas verworwe geldnote aan hulle produkte en aan hulleself geraak soos om ‘n seën daaroor uit te spreek.
Om die ruïnevelde van ou Bagan werklik te waardeer moet ‘n mens verskeie kere kom. Ons het, na die daguitstappie met die perdekar, die volgende dag weer gekom en per fiets die gebied verder verken. Besonder sterk was die atmosfeer in die laat middag, met die son wat ‘n geveg teen die dik wolke gehad het, en die Irrawaddy wat in die aandlig geglinster het.

Die dorp Nyaung U is ten spyte van die toerisme wat hier is, nog steeds outentiek en eg. Daar is nog vele plekke met die bamboeshutte en osse in die agterplaas, selfs al kry ‘n mens hier en daar ‘n televisie. In die middedorp is die mark en ‘n paar sleg versorgde koloniale geboue. Hier trek jy as vreemdeling nog steeds aandag. Meeste toeriste beperk hulle tot een straat waar die meeste restourante, hotelle, internetkafees en aandenkingwinkels is en waar advertensieborde in Engels is. Nogtans, as ‘n plek soos Bagan in byvoorbeeld Thailand was, dan sou dit heel anders gelyk het, dan was alles oorstroom met Westerlinge en alles en almal op toerisme toegespits. By die pagodes sou jy dan tou moes staan om in te kom en jouself nie meer kon red van al die verkopers en bedelaars nie.

Van die ander medereisigers van die boot het ons weer ontmoet en met hulle iets gaan drink en tot laat gekuier. Die volgende dag het ons die Shwezigon Pagode, wat direk oorkant ons blyplek geleë was, besoek. Dit was nie deel van die ruïnes nie, maar ‘n meer onlangse pagode wat “in gebruik” is.  Daar het ‘n monnik, wat dieselfde ouderdom as ek was, ons aangespreek, sommer om vir verryking ‘n gesprek met Westerlinge te voer. Ek het dit verwelkom, want ek wou lankal meer weet van die Buddhisme en so kon ons goed aan die gesels raak. Hy was een van diegene wat, alhoewel uit arm omstandighede, danksy ‘n vermoënde  weldoener  uit die Burmese elite, in Indië Buddhistiese teologie kon studeer en ‘n welsprekende, afgeronde en belese en ook aangename indruk gemaak het. Aanvanklik het ek hom oor Buddhisme uitgevra vanuit die oogpunt van die Westerling wat nog min verstaan, later het ek egter al hoe meer geleentheid gekry om dit met die Christendom te vergelyk en  Jesus te bely.
Daar is fundamentele verskille tussen die twee godsdienste: die uitgangspunt van Buddhisme is dat die mens inherent goed is en uit sy eie tot saligheid kan kom. Dit is egter ‘n lang en moeilike proses en geskied deur talle hergeboortes. As ‘n mens in jou lewe goed doen, dan word jy in die volgende lewe op ‘n hoër vlak gebore, nie soos in die Hindoeïsme in ‘n ander kaste nie, maar as ‘n moreel beter mens wat al ‘n treetjie nader aan Nirwana, die Buddhistiese “hemel” is. Daar is baie maniere om punte te kry wat jou nader bring aan Nirwana. Byvoorbeeld om pagodes te bou, iets wat elke heerser of ryk man doen, van die konings van lank gelede tot by Ne Win, wat ‘n pragtige pagode reg langs die Shwedagon in Rangoen gestig het. Diegene wat nie genoeg geld het om pagodes te bou nie kan darem Buddhabeelde met goud oortrek, selfs met so min as ‘n plaatjie so groot soos ‘n visitekaart wat ‘n paar honderd Kyat kos. Of hulle kan offerandes gee, blomme vir ‘n Buddhabeeld, wierook, kerse. Selfs mossies wat by die tempels in hokke gehou en verkoop word, kan jy vrykoop en sodoende ‘n goeie daad doen tot eer van Buddha. Om aalmoese te gee koop vir jou punte, veral as jy vir monnike gee, wat orals met hulle bedelskottels loop. Jy doen hulle nie ‘n guns deur vir hulle te gee nie, hulle doen jou ‘n guns deur jou te seën as jy iets vir hulle gee. Meditasie en die oorkom van begeertes suiwer jou geestelik uit en verhoog jou kans om Nirwana te bereik, of ten minste ‘n hoër vlak van wedergeboorte te behaal.

En wat van vroue, wou ek weet, kan hulle Nirwana ook bereik, al is hulle volgens Buddhisme nie gelyk aan mans nie? Ja, was die antwoord, maar nie direk soos ‘n man nie, maar in twee stappe: as hulle besonder voorbeeldig lewe kan hulle in hulle volgende lewe as man gebore word en dan kan hulle as mans wel poog om direk die Nirwana te bereik. Daar is ook vroulike monnike, oftewel nonne, maar hulle is min en dit is net die mans wat volgens Buddhisme verplig word om ‘n sekere tyd in hulle lewe monnik te wees en in ‘n klooster te woon, en heelwat besluit dan om dit vir ‘n lewe te doen.

En wat van mense wat sleg was en as diere hergebore word, hoe kan hulle as diere wat deur die instink gelei word goed doen en ooit weer mens word? Nie maklik nie, was die antwoord, maar ‘n voël kan byvoorbeeld die klank van klokkies wat orals op die pagodes is, hoor en waardeer  en dit word hom as voordeel toegereken. Nirwana, terloops, is nie die hemel in die Christelike sin nie. Dit is die toestand van die totale afwesigheid van begeertes, maar wel in ‘n sfere anderkant die aarde. Die Buddhiste glo ook nie aan ‘n persoonlike God nie, god is eerder ‘n volmaakte toestand en die monnik het herhaaldelik vir my gesê dat ek ‘n god kan wees as ek wil, deur perfekte gedrag, meditasie en die aflê van alle begeertes. Buddha was ‘n mens, maar deur sy voorbeeldige lewe en gereelde meditasie was hy godgelyk en word dus ook so aanbid.

Ons gesprek was te interessant en lewendig om dit net kort te knip toe die monnik se weldoener en sy familie wou verder ry. Blykbaar was hulle almal saam op ‘n besigtigingstoer van pagode tot pagode. Ons is genooi om saam met hulle te beweeg en ons het in ‘n afgekampte natuurreservaat by ‘n uitsighut bo die Irrawaddy saam met hulle geëet. Die monnik en sy monnik-maat  is eerste bedien en nadat hulle klaar was, was dit my en my pa se beurt as gaste, dan die weldoener en sy manlike familielede en heel laaste die vroue, wat reeds die hele tyd bedien het. Ons ete was rys met ‘n vetterige vleis- en benesop, hoenderstukkies en gekookte groente en as nagereg  draakvrugte, wat purperrooi binne in is. Daarna het ons ons debat voortgesit. Ek kon nou meer en meer van die Christendom vertel pleks om net vrae te vra en te luister. Net soos wat Buddhisme vir my moeilik verstaanbaar is, was die Christendom vir hom vreemd, maar hy het wel belang gestel. Hoekom is die mens van meet af sleg? Hoekom is die oersonde die diefstal van ‘n appel? Hoekom is die wêreld vervloek? Hoekom kan ons nie deur ons dade gered word nie maar deur ‘n plaasvervanger? Dit was vir my ‘n voorreg om te kon getuig, en dit nogal teenoor iemand wat sy storie ken en vir wie Buddhisme sy hele lewe is. Een voordeel van Buddhisme is wel hulle oopheid, hulle mag alles ondersoek en hulle godsdiens is verdraagsaam en nie dogmaties nie, seker een rede hoekom dit deesdae so gewild is onder ontstamde Westerlinge. Dit beteken ook dat die monnik sonder vrees vir strawwe die Bybel kan lees en antwoorde op die vrae kan vind wat ek nie volledig kon beantwoord nie. Die sterk kulturele druk van ‘n land wat oorweldigend Buddhisties is maak dit egter in praktyk ‘n moeilike en eensame pad om ‘n Christen te word.

Ons het saam met die monnik en sy gevolg nog ‘n pagode naby die natuurreservaat besigtig, dan moes ons groet, hulle toer sou hulle nog na talle ander pagodes vat. Ons was nou eers ‘n bietjie verlore, maar  ‘n hulpvaardige seun op ‘n motorfiets het vir ons ‘n geleentheid met ‘n perdekoets terug na Nyaung U gereël, omtrent 7 kilometer en al die tyd verby die Bagan ruïnes. Die bestuurder was ‘n man van 84, vergesel deur sy dogter wat 60 was. Ek sou graag van die ou man gehoor het hoe hy die koloniale dae beleef het, want daar is min wat oud genoeg daarvoor was, maar hy kon geen Engels praat nie en sy dogter se beperkte woordeskat was te min om as tolk te dien.

By ons blyplek het reeds twee masseuses vir ons gewag vir ‘n vollyf massering in ons kamer, dit was natuurlik heerlike ontspanning. Na die tyd het ek met die mans wat by die gastehuis werk sosiaal verkeer, hulle het vir my cheerot sigare en bethelneut aangebied. ‘n Baie inheemse gevoel het oor my gekom (en ek het reeds vir dae aaneen die longyi gedra wat die gevoel verhoog het en die kontak met inheemse mense vergemaklik het): uitputtende, maar tog aangename tropiese hitte, die rustigheid en ontspanne gevoel wat die bethelneut en sigaar veroorsaak het, ‘n gevoel dat niks saak maak nie. Dit is daardie gevoel, en daarby die ryg tropiese plantegroei, die vriendelike en hulpvaardige mans en die mooi, sagmoedige en onderdanige vroue wat maak dat menige Westerlinge verslaaf raak aan die Ooste en hulle gejaagte lewe in die Weste, maar ook hulle wilskrag en dryf opoffer vir ‘n toestand van ewige ontspanning en geen pligte en strewe nie. Ons het in Georgetown ‘n Amerikaner gesien wat Buddhistiese monnik geword het en tussen die rugsakhotel en die tempel heen en weer beweeg het, en orals buite Burma was daar gemengde paartjies, ouerige man en jong vrou en ‘n tussenin-kind. Die Ooste en sy dinge kan ‘n dwelm raak, maar soos enige dwelm maak dit jou leeg en slap en laat jou doelloos ronddobber en jou selfrespek verloor as jy nie weet waar en wanneer om te stop nie.
Die volgende dag het ons na die gebruiklike ontbyt onder ‘n groot strooidak outydse swart fietse gehuur en die ruïnes nog ‘n keer verken. In die middag het ons Bagan verlaat en met ‘n snelbus deur die nag terug Rangoen toe gery. Teen hierdie tyd het ons al feitlik elke denkbare vervoermiddel gebruik: vliegtuig, huurmotor, stedelike bus, moltrein, gewone trein, “sky trein/monorail”, fiets-riksja (2 soorte), minibus, pont, rivierboot, perdekoets, fiets en nou oorlandbus. Die bus het een keer iewers by ‘n padrestaurant gestop, waar almal vinnig in ‘n groot eetsaal iets geëet het terwyl die kelners bedrywig heen en weer geloop het. Maar moet nou geen Shell Ultra City met Steers verwag nie, dit was eg inheems en ons was weer (dankie tog) die enigste Westerlinge op die bus en by die restourant. Terwyl die bus op redelik goeie internasionale standaard was, vergelykbaar met Suid-Afrikaanse langafstandbusse, was die busstasie wat ons in die vroeë oggendure bereik het weer pure Derde Wêreld: ‘n vlakte vol slaggate iewers in die buitewyke, sonder ligte en niemand wat enigiets geweet het. Maar ons kon toe weer onderhandel vir ‘n huurmotorrit na die middestad en terug na die Central Hotel wat al vir ons amper soos die huis gevoel het. Twee ure moes ons egter nog op die banke slaap tot die kamer gereed was.

Vir 4 dae het ons toe nog ander dele van Rangoen verken en bekende plekke weer gaan sien en die atmosfeer ingedrink. Op die laaste aand het ek met ‘n sambreel nog vir oulaas deur die reënerige, vuil, bedrywige en bont strate van Rangoen gestap en dit bewustelik in my opgeneem, om so veel as moontlik te onthou. Dit was egter nou genoeg, ek het nou alles gesien en beleef, hierdie was nie my plek nie, hoe mooi en bekorend en eksoties dit ook al was. Dit was weer tyd vir die terugkeer na die, in vergelyking met die warm-humiede, eksotiese en kleurryke Ooste, koue, vaal en eenvoudige Karoo.

Deel/Stuur

3 Reaksies op “Slot: ‘n Epiese bootreis op die Irrawaddy na die verstommende ruïnestad Bagan”

  1. PIERRE 10 Augustus 2011 at 15:43 Permalink

    Baie dankie Sebastiaan jou reis beskrywings is wonderlik ek hoef nou nie self op n oosterse reis te gaan om dit te ondervind nie.

    Groete
    Pierre

  2. Zelda 14 Augustus 2011 at 18:17 Permalink

    Lekker gelees en ek neem nou aan fluit fluit my storie is uit en oos wes tuis bes!

    Die vaart met die eeu oue boot klink nogal na ‘n epiese ervaring—baie rustig en spesiaal! Ou goed hou langer en min/geen toeriste , beter ervaring, ver weg van die plastiek perfekte toeristeplekke kan net besonders wees.

    Ja nee, ek se al lankal in my volgende lewe wil ek ook ‘n man wees as ek so lees nav jou gesprek met die monnik. Wat ‘n harde werk vir daardie mense om die toestand van Nirwana te bereik en dan neem ons die vryheid van ons godsdiens so vanselfsprekend aan. Ek wonder of hulle gelukkiger mense is in die toestand van Nirwana. Dalk moet ek dit ook probeer—sal maar sukkel, sjokolade begeertes ens …

    Natuurlik sou dit uiters interessant wees om Maya ruines in Mexiko te kon besoek en dan vergelyk met Bagan ruines.

    Nou verstaan ek hoekom jy wil terug keer na die Ooste, natuurlik die ‘bedwelming’…betelneute, cheerot sigare, masserings, tropiese weer…maar natuurlik die outentieke unieke ervaring en andersheid van ‘n ander wereld.

    Een van jou reisdrome het waar geword en dankie dat jy van die ervarings met ons kon deel deur jou interssante skrywe .

  3. Sebastiaan 16 Augustus 2011 at 10:09 Permalink

    Pierre en Zelda,

    dankie vir julle komplimente en positiewe komentare, dit is ‘n riem onder die hart.


Lewer Kommentaar

*