11 Julie 2018 ~ 6 Kommentare

Skotland en ’n Afrikaner “vrystad”

Geskryf deur Flip Buys

Die omstandighede in die land laat almal soek na oplossings. Flip Buys skryf ’n fiktiewe toekomsverhaal oor Skotland, waar hy die omstandighede skets waarin selfbeskikking noodsaaklik kan word. Hy verduidelik ook die verskil tussen die reg op selfbeskikking teenoor die moeilike toepassing daarvan in Suid-Afrika.

Dit is 15 Julie 2020, en Brittanje is al vir ’n paar jaar in ’n politieke maalkolk. Die Brexit-krisis het in Augustus 2018 die Konserwatiewe regering van eerste minister Theresa May laat val. Die Britse Arbeidersparty onder die verlinkse Jeremy Corbyn het in ’n blitsverkiesing aan bewind gekom. Sy veldtogtema Make it Great Britain Again, het kiesers se verbeelding aangegryp. Corbyn se boodskap van radikale transformasie en ’n heimwee na die Britse “groot” verlede, was soos manna uit die hemel vir die moedelose kieserspubliek. Hy het sy politieke teenstanders geklop, en sy (gematigde) vyande binne sy party uitgeskop. Daar was nie eers een teenstem oor toe hy hul voormalige leier en eerste minister, Tony Blair, uit die Arbeidersparty geskors het omdat hy die Britse werkersklas “verraai” het nie.

Radikale agenda
Corbyn het met sy Make it Great Britain Again-veldtog Downingstraat 10 oorgevat met ’n groot agenda van radikale transformasie volgens klas en (Britse) ras. Dit het uit agt punte bestaan, wat hy, soos hy aan die juigende skares belowe het, binne ses maande deur ’n oorblufte parlement gestoomroller het.
Die eerste punt was die sentralisering van Brittanje. Corbyn het die uitgebreide magte wat vorige regerings aan Skotland, Wallis en Noord-Ierland afgewentel het, teruggetrek, en al drie hul parlemente ontbind. Almal is weer sentraal uit Londen regeer.
Die tweede punt was die herinstelling van Sosialisme, wat met hemelhoë belastings op maatskappye en “ryk” mense befonds is. Hulle was immers sy politieke opponente wat tradisioneel vir die Konserwatiewes gestem het. Die instelling van ’n omvattende welsynstelsel het die lojaliteit van miljoene gewone Britte, Skotte, Walliesers en Iere gekoop.

Britsifikasie
Die derde agendapunt was die radikale “Britsifikasie” van die hele land. Die Skotse en Walliese taal en geskiedenis is in skole verbied en met een grootse Britse meesterverhaal vervang. Die openbare sing van die bekende “Flower of Scotland” is verbied, en die Katolieke van Noord-Ierland is “op hul plek” gesit. Die name van historiese strate, dorpe en selfs stede is verander en met dié van Britse helde vervang.
Die vierde agendapunt was Radikale Transformasie volgens verteenwoordigende bevolkingsformules. Die posvlakke in alle staatsinstellings, die privaat sektor en sportspanne moes landwyd die nasionale bevolkingsgetalle weerspieël: 85% Engels, 8% Skots, 5% Wallies en 3% Noord-Iers. Dit is streng afgedwing met swaar boetes vir oortreders. Lojale pro-Corbyn-aktiviste van die Arbeidersparty is landwyd ontplooi om seker te maak dat sy politieke beleid afgedwing word.

Great Brics
Nommer vyf was ’n nuwe buitelandse beleid. Corbyn het handelsbande met die VSA en die Europese unie verbreek, en Brittanje by Brics laat aansluit. Op voorstel van ’n uitgelate president Putin is die organisasie terstond na Great Brics herdoop ter ere van Brittanje se toetrede. Corbyn het die skielike verswakking van die pond en die skerp styging van die inflasiekoers en staatskuld afgemaak as tydelike verskynsels, gedryf deur vyandige kapitaliste wat sy projek om die armes op te hef, wou dwarsboom.
Punt ses was radikale ekonomiese transformasie om historiese ongelykhede gelyk te maak. Corbyn het ’n beleid van radikale BBBEE (British Broad Based Economic Empowerment) ingestel om die Britse werkersklas te bevoordeel. Drakoniese BBBEE-handveste vir elke sektor het die ekonomie so drasties begin reguleer dat dit in die praktyk op nasionalisering neergekom het. Die ekonomiese inkrimping kort hierna is gevolg deur ’n rekordtekort op die land se lopende rekening, ’n val van sakevertroue en ’n “beleggingstaking”. Die skielike toename in werkloosheid is deur Corbyn teengewerk deur groter staatsindiensname van sy ondersteuners. Ekonome wat gewaarsku het dat die welsynstelsel en staatsdienssalarisse alleen die land oor ’n fiskale afgrond kan stoot, is deur Corbyn beskuldig as onpatrioties en anti-Brits.

Onteiening
Punt sewe van Make it Great Britain Again was onteiening sonder vergoeding. Corbyn het veral die grond van ryk Britte geteiken, omdat hulle dit, volgens hom, deur die histories onbillike klassestelsel verkry het. Hy het ook groot stukke “onderbenutte” grond in en rondom stede en dorpe aan armes uitgedeel, wat informele strukture laat opskiet het.

Massamigrasie
Nommer agt was massamigrasie uit Statebondslande. Ná grootskaalse onluste die behuisingsnood van die nuwe aankomelinge in die openbare kollig geplaas het, het die regering groot behuisingskemas aangepak. Klagtes dat hierdie skemas bykans elke dorp “omsingel” met onooglike staatsbehuising wat eiendomswaardes laat daal, die omgewing benadeel en misdaad laat toeneem, is deur die regering as rassisties afgemaak.
Corbyn se radikale transformasie van die land het tot wye onbestendigheid in Brittanje gelei. Daar was ’n skerp toename in geweldsmisdaad en ’n grootskaalse verval van dorpe, stede en staatsinstellings. ’n Korrupsieplaag het soos ’n veldbrand deur die land getrek, aangeblaas deur onbevoegde politieke aanstellings.

Onluste
Die verswakkende ekonomie kon eenvoudig nie voldoen aan die hoë verwagtings wat die politiek geskep het nie, en die vervallende staatsdiens kon nie die beloftes uitvoer nie. Dit het gelei tot landswye protesaksies wat al meer gewelddadig geraak het. Die regering se planne vir staatsgedrewe ekonomiese groei deur staatsondernemings, is gestuit toe die meeste reuseverliese begin maak het en herhaaldelik deur die belastingbetalers gered moes word. Oproepe vir privatisering is deur regeringslui bestempel as ’n neokapitalistiese projek om weer beheer oor die staat te probeer verkry.

Hofuitspraak
Skotland se historiese Edinburg-universiteit is deur die radikale transformasie van die universiteitsektor gedwing om die universiteitsraad, -bestuur, -personeel en studentekorps volgens bevolkingsformules te transformeer. Geboue, kurrikulums en die onderrigtaal moes aan die eise van Britsifikasie voldoen. ’n Skotse Burgerregtegroep wat ’n hofsaak gemaak het oor die gedwonge transformasie, het hul saak mét kostes verloor. Hulle is in die meerderheidsuitspraak van die getransformeerde hoogste hof en deur die nuwe BBC gekritiseer as verregses wat aan die verlede vasklou en toegang vir voorheen benadeelde klasse probeer strem.

Koalisieregering
Die groeiende krisis in Brittanje het tot sulke groot ontevredenheid gelei dat premier Corbyn ’n vervroegde verkiesing moes uitroep. Die Arbeiders kon nie ’n meerderheid by die stembus kry nie, en is gedwing om ’n koalisie met die Skotse Nasionaliste van Nicola Sturgeon te sluit. Sturgeon se voorwaarde van ’n Skotse referendum oor onafhanklikheid was ’n bitter pil om te sluk vir die regering.

Skotse referendum
Maar Corbyn se naelskraapse sege het niks aan die werklikhede verander nie, en hy is nie ’n tweede wittebrood gegun nie. Graderingsagentskappe het Brittanje op sy tweede inhuldiging as premier tot totale rommelstatus afgegradeer. Sy verleë minister van finansies moes hom hoed in die hand tot die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) wend vir noodlenings om die land van bankrotskap te red. Hulle het die land prakties onder administrasie geplaas, terwyl Corbyn magteloos moes toekyk. Sturgeon het deurgedruk met die referendum, en die Skotse kiesers het drie keuses gekry:
• Bly deel van Brittanje (en hoop dinge word én bly beter);
• Herstel van Skotse selfbestuur (interne selfbeskikking);
• Skotse onafhanklikheid (Scotex) (volle selfbeskikking);
Die Nasionaliste het met ’n slagspreuk van “Eersteklasburgers van Skotland eerder as tweedeklasburgers van Brittanje”, die referendum met bykans 75% gewen. In ’n gelyklopende referendum het Wallis net vir die herstel van hul selfbestuur gekies. Die rimpeleffek het Corbyn se regering laat val en die Konserwatiewes het weer oorgeneem. Dit het Sturgeon se nuwe regering laat besluit om sekere afgewentelde magte soos verdediging, ekonomie en buitelandse sake wat deur Corbyn weggevat is, weer op te wentel na Brittanje. Die voorwaardes was dat die nuwe Britse regering Sosialisme laat vaar, weer by Navo aansluit, en sy pro-Westerse buitelandse beleid hervat.

Skotse lesse vir Afrikaners
Dit bly moeilik om oplossings vir die groeiende krisisse in Suid-Afrika raak te sien, omdat dit net menslik is om vas te kyk in die huidige omstandighede en aanvaarde denkbeelde van ons tyd. Daarom het ek hierdie politieke toekomsverhaal oor Skotland geskryf, om te kyk of dit nie kan help om nuut en vars te dink oor die wisselwerking tussen die Suid-Afrikaanse en Afrikaneruitdagings nie.
My ervaring is dat liberale Afrikaners nie die beginsel van selfbestuur of selfbeskikking verstaan nie, en dat die meerderheid voorstaanders van selfbeskikking nie die praktiese toepassing daarvan verstaan nie.
Albei groepe verwar dit op die een of ander wyse met apartheid.

Daar’s nie ’n Afrikaner-Skotland
Die Skotse voorbeeld is met twee redes gebruik. Die eerste is om aan liberale Afrikaners wat net aan individuele regte glo, te verduidelik wat kulturele selfbestuur is en dat dit noodsaaklik kan word vir oorlewing. Die tweede rede is om aan voorstaanders van selfbeskikking te probeer verduidelik dat die praktiese toepassing in ons omstandighede uiters moeilik is.
Afrikaners het nie ’n Afrikaner-Skotland wat deur ons bewoon, besit en bewerk word nie. Selfbeskikking en ’n volkstaat kan dus nie onderhandel, gestem, deur die VN afgedwing, deur die regering gegee, of deur ’n hof beveel word nie. Daar bestaan nie so pasklaarland wat net met ’n besluit ’n werklikheid gemaak kan word nie.
Afrikaners se bestaansuitdaging is dat ons nie gekonsentreerd bly nie, maar yl verspreid. Ons is orals ’n minderheid met dieselfde probleme. Selfbeskikking soos in Skotland kan dus nooit hier ’n volledige oplossing wees nie, maar hoogstens deel van ’n groter oplossing.
Die onverstandige gebruik van die begrip selfbeskikking deur sekere voorstaanders daarvan, het dit so vergiftig dat liberales nie daaraan wíl vat nie, en geloofwaardige voorstaanders nie daaraan kán vat nie.

Grondwet of grondgebied
Hierdie skrywe is ’n boodskap vir liberale Afrikaners dat daar (dalk vinnig!) ’n tyd mag kom dat die Grondwet Afrikaners as persone en/of as gemeenskap nie meer beskerm nie, en dat die enigste uitweg grondgebied is.
As hulle dit dan nie hier kry nie, gaan hulle na ’n ander grondgebied trek soos Kanada, Australië of Nieu-Seeland, tot nadeel van die land en al sy inwoners.

Volkstaat of vrystad
My boodskap aan proselfbestuur-Afrikaners is dat die mislukking van die vroeëre volkstaatprojek juis gespruit het uit die feit dat daar nie ’n Afrikaner-Skotland bestaan wat net in werking gestel kon word nie. Die pogings om massas Afrikaners na ’n groot volkstaat toe te laat trek, het ook nie gewerk nie.
Maar daar is ’n meer praktiese uitweg, en dit is om klein te begin en groot te bou. As ’n “kitsvolkstaat” nou onmoontlik is, is daar niks wat Afrikaners keer om byvoorbeeld Orania van ‘n dorp tot ’n Afrikaner-vrystad uit te bou nie. So ‘n vrystad kan later tot ‘n provinsie of selfs meer groei. Dit kan deel wees van ‘n landswye risikobestuursplan van groeiende selfbestuur tot kulturele selfstandigheid, deur netwerke van sterk gemeenskapsorganisasies.
Gebruik jul vryheid om ’n stad van onder af te bou, omdat ’n staat nie van “bo” af gegee kan word nie. Dis tog selfs vir liberale Afrikaners beter om te help om ’n veilige “Perth” hier te bou as om jul geliefdes na Perth in Australië te sien trek. Dit kan ’n onderdeel van ’n veel groter en landswye projek van groeiende selfstandigheid wees. Emigrasie is net ‘n oplossing vir ryk enkelinge, nie vir ‘n hele volk nie.
Kom, laat ons ophou om vir mekaar te sê dat ’n suksesvolle ANC-regeerde Suid-Afrika, óf ’n Afrikanerstad, onhaalbare drome is. Kom ons werk eerder aan albei.
Daar is ongelukkig nie meer maklike oplossings oor nie. Daarom sal ons visie oor die toekoms, sterker moet wees as ons geheue oor die verlede.

Deel/Stuur

6 Reaksies op “Skotland en ’n Afrikaner “vrystad””

  1. Rudolf 11 Julie 2018 at 16:41 Permalink

    “My ervaring is dat liberale Afrikaners nie die beginsel van selfbestuur of selfbeskikking verstaan nie, en dat die meerderheid voorstaanders van selfbeskikking nie die praktiese toepassing daarvan verstaan nie.”

    Daarin lê die kruks van ons kollektiewe probleem.

    As die genoemdes hul “oogklappe” net vir ‘n wyle wil verwyder en ons lotsverbondenheid, nou meer uit nood as uit innerlike oortuiging, wil besef.
    Hulle self dan forseer om ter wille van die volgende geslag nuut te dink rondom hierdie.

    Die fiktiewe Skotland is hier lynreg van toepassing met wat ons daagliks beleef.

    Die baie belangrike realiteit is dat ons nié ‘n “Skotland” het nie…

    Ek hoop hierdie oproep tot henude denke val op vrugbare en pragmatiese ore!

  2. Jj 12 Julie 2018 at 09:30 Permalink

    Die pad na vryheid is altyd moeilik maar moeite werd. Al my afrikaanse vriende en familie praat almal van trek oorsee terwyel ek glo in volkstaat, maar almal dink daar beter toekoms vir hulle oorsee.
    Ek glo ons sal moet begin saam staan en mekaar ondersteun om ons volk sy plekkie onder die afrika son te kan gee. Begin met eenvoudige iets soos sluit aan by orania beweging, koop by afrikaaner besighede en winkels wat afrikaaners in diens neem en deur afrikaaners besit word, Maak kontak met afrikaanse gemeenskappe oorsee en kry hulle om volkstaat idee in suid afrika te ondersteun en so aan en natuurlik kry meer en meer mense om orania/volkstaat gebied toe te trek.

  3. Roussouw 14 Julie 2018 at 08:20 Permalink

    Uitstekende artikel. Dis hoekom ek per geleentheid altyd die 3 keuses aan mense verduidelik:
    1) Aanvaar SA en maak vrede met wat gebeur. Hoop vir die beste maar wees voorbereid vir die uiteindelike slegste
    2) Emigreer so gou as moontlik en vergeet van ons taal, kultuur en erfenis en assimileer met jou gaste land.
    3) Begin na die enigste werkbare opsie binne SA kyk en beplan hoe jy kan inskakel by Orania om ‘n toekoms daar skep.

    Ek het opsie 3 gekies. My huis is in aanbouing op Orania en ek streef om n werklikheid vir my en my familie daar te skep. Dit is nie n maklike opsie nie, maar moontlik met beplanning en n goeie strategie. Hoe meer mense ons nou daar kry, hoe makliker sal die ekonomie groei en moontlikhede vermenigvuldig.

  4. Edward 17 Julie 2018 at 02:57 Permalink

    Ek bly in Amerika.

    As jy opsie 2 kies, emigreer – onthou – die Weste is dood buite n Joodse-Christelike filosofiese grondslag. Die toekoms van die Verenigde State, Australie, ens. is nie so goed nie- buite hierdie grondslag. Vir my seunjie, Orania is n goeie opsie want Orania se grondslag is reg. Jy kan n groot
    gebou bou- met die regte grondslag. Amerika het nie meer n goeie grondslag nie.

    Lankmoedigheid.

    • Rudolf 17 Julie 2018 at 09:04 Permalink

      Dis hartseer om te verneem Edward.

      Ek sien wel dat tans se president daar, Donald Trump, baie aandag gee aan Christene en erkenning ook.

      Natuurlik sal jy op voetsoolvlak en interaksie daar ‘n beter idee hê van die psige van “Jan Elleman” daar waar jy is.

      Is dit die tendens regoor die VSA, of net in die staat waarin jy jou bevind?

      Dit bly vir my, steeds hier in SA, ‘n groot jammerte dat so min Afrikaners steeds hier, werklik betrokke is by Orania en die aktiewe uitbou daarvan, al is dit net deur positiewe propaganda. (Almal binne hul vermoë natuurlik, aangesien ons almal welbekend is met al die negatiewes wat ons almal raak.)

      • Edward 21 Julie 2018 at 05:17 Permalink

        Ek weet nie wie Jan Elleman is nie. Maar, die problem in VSA is die selfde in elke plek. Ek kan baie voorbeelde gee. Maar net een is die onderwysinrigting. Die kinders word nie in die publiekeskole oor God (Jesus) geleer nie. Dis teen die wet en die meeste ouers glo dis nie goed om die kinders oor God in die publiekeskole te leer nie.
        Hulle leer nie die regte grondslag nie.


Lewer Kommentaar

*