08 Mei 2017 ~ 0 Kommentaar

Skoene: Ons gebruikerskoppelvlak met ons leefwêreld

Geskryf deur Pieter Krige

SAW boots

Jare gelede gesels ek met ’n oom oor die skepping, Genesis 1 en 2, die moontlikheid van buiteruimtelikewesens, Kopernikus en die plat-of ronde aardeteorieë. Oom Faan gaan sit op ’n miershoop en beduie na sy grasshoppers. “Natuurlik is die aarde rond, kyk hoe skeef loop ek die loopvlak van my skoene af.” Hierdie verhaal het ek al telkemale herroep soos ek op gedagtereise saam met vriende, meermale so op my eie, gaan. Oom Faan se wêreldbeskouing is eenvoudig, logies en duidelik. Die wêreld is rond, want my skoene loop skeef af. Vandag reis ek egter nie op die weg van kopernikaansedenkstrome nie, maar op ’n ander, ’n veel diepere weg,  die weg van skoene.

Onlangs draf sommige van ons kantoormense die Bo-karoo vasbyt; 100km oor 4 dae…of die ligloop 50km oor dieselfde tyd. Almal horrelpoot die daaropvolgende week hier tussen die deursigtige silo’s in die kantoor. Ek sien die rondloperbrakke soek skuiling soos dit blyk of al my kollegas heeltyd klippe optel om te gooi. Al aan die een kant…  Ek staan soos ’n buitestander en beluister die teorieë, goeie raad, diagnose en prognose van die onderskeie martelare. Skoene. Dit wil vir my voorkom of skoene die ding is.

Een se voete hardloop in, wat dit ook al mag beteken… en sy skoene hardloop uit. ’n Ander het sommer met sy vellies die tog aangepak en lyk minder fiks na die afstand as voor die tyd. Een het geen blase maar blou toonnaels, blykbaar ’n besering wat met jukskeitoernooie ook volop is.  So kyk ek al luisterende na my paar. My skoene wys waar ek was, rooigrond-modder, knapsekêrels in die veters, waterspatsels tussen die stof en oliekolle. Ek dink oor waar dit alles vandaan kom en glimlag. Skoene is die mens se gebruikerskoppelvlak met sy leefwêreld, dink ek.

Lianda, my liewe vrou, het elke dag ’n nuwe weergawe in gebruik. Pienk met hoë hakke, swart leerstewels, snoesige wol voetmusse, spesiale loopkouse, visplakkies, swart hakskoene, groen hakskoene, Adidas-tekkies, Nike-tekkies, Dr. Martins, ’n ou paar North-Stars…die lys gaan aan. Kaste en kaste vol verbruikerskoppelvlak-keuses vir elke dag. Elke oggend staan sy voor die kas en worstel met haar freudiaanse id, ego en superego oor wat die beste koppelvlak met die bepaalde dag se leefwêreld sal wees. Ek gryp my vellies (die huidige weergawe) wat onlangs my donkiejaaroue vorige koppelvlak, samelopend groot emosionele kwellinge en selfondersoek, vervang het… ek hou van ten minste een onveranderlike in my lewe.

U sien skoene is vir my iets groots, dit is ’n ding, ’n ding in die filosofiesbelaaide sin, dit is immers my koppelvlak met die wêreld waarbinne ek leef; en waar my bestaanswêreld swanger met veranderlikes is, wil ek die betroubaarheid van ’n bekende koppelvlak beleef soos ek die dag tegemoet strompel. Skoenekoop is dus nie perdekoop nie, vir my weeg dit swaar. Dit is immers die koppelvlak wat ek elke dag, vir die afsienbare toekoms, gaan gebruik om met my leefwêreld in verbinding te tree, dit is immers my begronding, dit is my fondament, dit is my voertuig binne my ruimte.

Ek luister hoe die mense gesels oor die skoene en loer na hul koppelvlakke. Ek moet moontlik nie so ligtelik ’n boek aan sy stewels takseer nie… maar mens kan darem baie van iemand sê deur na sy skoene te kyk.  Ek blaai deur ’n boek met klomp ou familiefoto’s en wens dat die portrette mense se skoene ook kon vasvang… ek sou darem soveel meer van my voorouers kon verstaan.

Deel/Stuur

Lewer Kommentaar

*