12 September 2017 ~ 1 Kommentaar

Skakerings van groen 9: Van boomstomp tot woonstelblok

Geskryf deur Gaby Leone

Nie alles verloop altyd volgens plan nie, al is die plan ook hoe fyn bedink. Ek was baie gretig om ’n sandbad vir my tuinvoëls in te rig en spring toe met sand en hark aan die werk. Ek kies ’n plekkie in die middel van my siertuin. Van daar af sal die voëls maklik by die blomme kan nektar drink en insekte vang. Ek maak mooi skoon, versprei die sand en hark hom netjies. Opgewonde en vol afwagting gaan sit ek toe agter my lessenaar, waarvandaan ek die skouspel ongesien sal kan waarneem. Uit die hoek van my oog sien ek iets beweeg, maar dit was toe nie ’n voël nie, maar my kat, wat, ewe in sy skik, die nuwe VIP kattoilet kom uittoets! Met dié verwikkeling het ek toe nie gereken nie.

 

Ons hou lente-regruk op Orania. As jy van plan was om van dooie bome en ou hout in jou tuin tydens jou jaarlikse skoonmaak ontslae te raak, sal jy miskien só van plan verander dat jy jouself op heterdaad betrap besig om jou bure se weggooihout van die sypaadjie af ook nog in jou tuin te sit. Hier is hoekom:

 

Soos wat bome afsterf, raak hulle bas losserig. Akkedisse, geitjies en insekte sal onder die bas huis opsit en voëls sal ure lank onder die bas na dié sappige happies soek. Houtkapperbye sal ’n doolhof van tonnels in die hout saag om hulle lewenssiklusse te voltooi. Spegte en ander houtkappervoëls sal aan broeiholtes beitel. Hulle verkies hierdie natuurlike nesplekkies vêr bo die mensvervaardigde nesstompe.

 

As die dooie hout vir ’n paar seisoene onversteurd bly, sal ’n klomp neste vorm soos wat die houtkappervoëls elke beskikbare plekkie op die stomp vir nuwe tuistes gebruik. Algaande die ou neste leeg word, trek die sekondêre broeiholte voëls in.

 

Probeer om ’n hopie takke in die uitsluitingsgedeelte van jou tuin bymekaar te maak. Die verrottende hout sal ’n tuiste bied vir insekte, spinnekoppe en reptiele voordat dit in waardevolle kompos afbreek.

Deel/Stuur

Een Reaksie op “Skakerings van groen 9: Van boomstomp tot woonstelblok”

  1. Arnie 12 September 2017 at 20:44 Permalink

    Dis baie goeie advies. Daar’s net een ding wat my pla van ‘n hoop verrottende blare en takke: Slange. Ek het eendag op so ‘n hoop gewerk en ‘n groot vet pofadder met millimeters gemis. Poffies hou nie daarvan as jy op hulle trap nie en hulle byt is blykbaar die seerste ding wat jy jou kan indink.


Lewer Kommentaar

*