14 November 2017 ~ 0 Kommentaar

Skakerings van Groen 13: Voorkoming van plantsiektes

Geskryf deur Gaby Leone

Ek moet tot my skande erken dat ek nie baie ondervinding met plantsiektes het nie. Tog is ek ook trots daarop, want dit beteken dat my plante meesal gesond is. Sterk plante is minder geneig om siek te word en kry trouens ook minder peste. Ek sien gereeld hoe plante wat al klaar nie gelukkig is nie, dan deur peste en siektes aangeval word. Dit is asof die natuur dan inspring om die voortbestaan van net die sterkstes te verseker. Vir sterk, gesonde plante:

 

  • Plant op die regte plek. ‘n Volson plant sal in die skaduwee sukkel en geleidelik swakker word, ‘n skadu-plant in volson sal brand en gou agteruitgaan. ‘n Plant wat min water nodig het, se wortels sal gou vrot met te veel water in grond wat nie goed dreineer nie en andersom
  • Plant in vrugbare, goed-gestruktureerde grond en volg ‘n gereelde voedingsprogram. Moenie van ‘n lagie molm vergeet nie.
  • Bedryf wisselbou sodat die grond ‘n kans kry om die vlak van lae voedingstowwe weer op te bou.
  • Gee op die regte tye van die dag water. Plante wat gereeld met nat blare gaan slaap, sal meer vatbaar wees vir swamsiektes en plantwortels in potte wat in die middel van die dag water kry, gaan kook namate die water in die pot deur die son verhit word.
  • Gee plante soos rose en vrugtebome goeie belugting deur hulle nie te naby aan mekaar te plant nie en snoei hulle gereeld. So is hulle meer bestand teen verskeie swamsiektes.
  • As jou plante wel siek word, hou die groeiterrein skoon en was jou hande en jou gereedskap nadat jy met hulle gewerk het. Sit plantafval van siek plante in die vullis en nie op die komposhoop nie.
  • Koop siektebestande plantsoorte waar moontlik en moenie iets plant wat nie normaal lyk nie.

 

 

Deel/Stuur

Lewer Kommentaar

*