25 Oktober 2017 ~ 3 Kommentare

Skakerings van Groen 12: Wat van die goggas?

Geskryf deur Gaby Leone

In Gauteng was ek die bedagsaamheid self as dit by insekte kom. Elke miertjie en vliegie in my huis was toe versigtig buite toe gedra sonder dat hulle iets oorgekom het. Hier het ek gedurende die eerste somer al ‘n massamoordenaar geword. Ek klap nou ongeërgd perdevlieë en muskiete dood soos dit vir ‘n ordentlike Oraniër hoort.

In ons groentetuine sou dit lekker wees om glad geen insekpeste te hê nie. Tog vorm hulle deel van die natuurlewenskring. Dit is dus belangrik om die natuurbalans in ‘n tuin te verstaan en om daarvolgens en nie daarteen te werk nie. As ons gifstowwe gebruik om van onkruid, insek- en dierepeste ontslae te raak, vernietig ons terselfdertyd ook die goeie insekte en diere wat help om ons tuin te laat groei. Sulke praktyke veroorsaak ’n wanbalans wat later nog groter insekte-las veroorsaak. Daar bestaan ander, veilige en goedkoop maniere om onkruid en peste in toom te hou.

Dink dus weer voor jy die sproeibottel wil gryp om die pes uit te wis. Dit is maar net die simptoom. Ons praat in permakultuur nie soseer van peste nie as van ‘n tekort aan sy roofdiere, wat ‘n wanbalans veroorsaak. Stel die oorsprong van jou pes vas in plaas van om net van hom ontslae te wil raak. Mik vir bestuur, nie uitroeiing nie, want:

  • Insekte-aanvalle mag seisoenverwant wees, wat beteken dat die balans herstel sal word wanneer die seisoen verander
  • Bepaalde weersomstandighede kan veroorsaak dat insektegetalle toeneem en dan weer afneem wanneer die weer verander
  • Partykeer word ’n ligte insek-aanval deur sy natuurlike insek-roofdiere van kant gemaak.

 

Waar en wanneer jy plant, kan ook peste help verminder voordat hulle eers begin ‘n probleem word:

  • Plant oeste vroeg of laat, wanneer hulle mees algemene peste nog nie uitgebroei het nie.
  • Plant ’n verskeidenheid van oeste bymekaar. Dit voorkom grootskaalse insekbesmetting van een soort.
  • Plant aromatiese kruie tussen kosplante, wat die peste se sintuie verwar, sodat hulle nie by die kosplante uitkom nie.

 

Deel/Stuur

3 Reaksies op “Skakerings van Groen 12: Wat van die goggas?”

  1. Elma Maartens 25 Oktober 2017 at 08:59 Permalink

    Ai, ek sal twee keer dink voor ek weer ‘n bottel uithaal en gebruik. Baie interessante artikel

  2. Revoh 30 Oktober 2017 at 21:29 Permalink

    Dankie vir die interessante artikel Gaby. Wat betref jou laaste sin: Plant aromatiese kruie tussen kosplante . . . Kan jy my asb reghelp, val Laventel in hierdie groep?

    Innige groete, Revoh.


Lewer Kommentaar

*