02 Oktober 2017 ~ 0 Kommentaar

Skakerings van Groen 10: Nuttige onkruid

Geskryf deur Gaby Leone

Ek kyk, vanaf ek hier in Orania is, met nuwe oë na onkruid. Ek is besig met komposhope bou en onkruid is al wat op die oomblik vir my die nodige groen materiaal verskaf. Die gras is nog geel en my plante begin nou eers kop bo die grond uitsteek na hulle winterslaap.

 

Onkruid is die natuur se manier om grond herstel. Saam met die ander pioniersplante, gedy dit in arm, suur grond en beskerm die grond deur dit bedek te hou. Net soos ons vel ‘n kors of roof kry waar ons dit seergemaak het, so sorg die natuur daarvoor dat grond nie lank ontbloot lê waar son en wind dan skade kan aanrig nie.

 

Onkruid doen meer as om net die grond bedek. Die wortels verhoed dat die grond verdig. Minder bekend is ook die feit dat party soorte onkruid welig in bepaalde ontoereikende grondsoorte groei en so as grondaanwysers dien. Byvoorbeeld word perdeblomme meestal in suur grond gevind en klawer groei goed in droë grond.

 

Party onkruidsoorte met diep wortels myn ook gebrekkige voedingstowwe. Deur die wortels trek dit bepaalde minerale, waarvan daar ’n tekort is in die boonste grondlae, vanuit die dieperliggende lae op. Wanneer die onkruidplant dan sterf en na organiese materiaal verander, stel dit hierdie minerale aan die grond vry en vul so die gebrekkige lae daarmee aan. Dit is die natuur se manier van grond verryk en herstel. Hierdie verloop kan aangespoor word deur om die onkruid waar dit groei terug in die grond in te spit of van die onkruid ‘n tee te maak en dan die plek waar dit gegroei het, met die tee nat te lei. Na ‘n paar herhalings van spit of tee, sal dié soort onkruid daar verdwyn, terwyl dit hardnekkig sal voortduur as ons dit net heeltyd uittrek en verwyder.

 

Volgende keer meer oor nog ‘n voordeel van onkruid. Verskeie soorte is nie net eetbaar nie, maar voedsaam en genesend ook.

Deel/Stuur

Lewer Kommentaar

*