04 Maart 2014 ~ 6 Kommentare

Selfregering kan krisisse in Oos-Europa help oplos

Geskryf deur Jaco Kleynhans

Die krisis wat die afgelope tyd in Oekraïne ontstaan het, herinner ons aan die kompleksiteit van internasionale betrekkinge. Beide die VSA en Rusland probeer reeds vir jare op ‘n onoortuigende wyse die res van die wêreld daarvan oortuig dat dié twee lande die strydbyl begrawe het en ‘n gesonde verhouding handhaaf. Wanneer ‘n krisis soos dié in Oekraïne uitbreek, wys dit egter dat die Koue Oorlog nog lank nie verby is nie.

Gedurende die bestaan van die Sowjetunie het heelwat Russe in Oekraïne hervestig en vandag is sowat 17% van Oekraïne se 45 miljoen inwoners Russies. Gedurende 2010 is ‘n pro-Russiese president in Rusland verkies. Viktor Yanukovych is ook in 2004 tot president verkies, maar dié uitslag is later nietig verklaar weens verkiesingsbedrog. Na sy verkiesing in 2010 het Yanukovych stelselmatig begin om Oekraïne weg van die Weste en nader aan Rusland te posisioneer. Die uiteinde hiervan was sy besluit laat in 2013 om nie ‘n samewerkingsooreenkoms met die Europese Unie te sluit nie. Opstande het gevolg en op 22 Februarie vanjaar is hy deur die parlement as president verwyder.

Rusland het met woede hierop reageer en die afgelope Saterdag het Russiese soldate die semi-outonome provinsie van die Krim-skiereiland ingeval en het Rusland beheer oor dié provinsie oorgeneem. Sowat 60% van die Krim-skiereiland se bevolking is van Russiese afkoms.

Die inval van die Russiese weermag in ‘n ander outonome land het die VSA en ander Westerse lande die geleentheid gegee om hul opgeboude woede vir Rusland na vore te bring en daar is die afgelope paar dae hard teenoor Rusland reageer. Wat die uiteinde van die konflik gaan wees is nog onduidelik. Een moontlikheid is dat die Krim-skiereiland by Rusland ingelyf word en dat Oekraïne aanvaar dat hy ‘n deel van sy grondgebied verloor het. Nog ‘n moontlikheid is dat Rusland tot ‘n onderhandelde skikking met Oekraïne kom en dat die Krim-skiereiland sy outonomiteit behou. ‘n Ander moontlikheid is dat die Krim-skiereiland onafhanklik word en as nuwe land noue bande met sy grootboet, Rusland smee. Die laaste moontlikheid is die van oorlog waar die Weste en in besonder die VSA in gewapende konflik met Rusland betrokke raak. Oorlog is egter onwaarskynlik omdat die meeste Westerse lande tans nie daarvoor kans sien nie.

Dit alles beteken egter nie dat Rusland en die VSA minder gaan grom vir mekaar nie. Die VSA wil sy posisie as wêreldleier herbevestig en Rusland wil verlore aansien herwin en ‘n groter rol in wêreldpolitiek speel. Die enigste verloorder in die huidige krisis sal die mense van Oekraïne wees. Die langtermynoplossing vir Oekraïne en ander Oos-Europese lande sal die vreedsame verdeling van grondgebied vir verskillende volkere wees. Selfbeskikking vir minderhede in Oos-Europa eerder as meer mag en invloed vir die bestaande groot wêreldmagte sal ‘n beter langtermynoplossing wees.

Die minderheidsgroepe van Oos-Europa verdien om hulself te regeer eerder as om in state waar hulle nie tuis hoort nie te wees of om deur ‘n wêreldmag soos Rusland ingesluk te word. As die Weste vir iets goeds wil staan, moet hulle eerder dít bevorder.

Deel/Stuur

6 Reaksies op “Selfregering kan krisisse in Oos-Europa help oplos”

  1. DavidO 4 Maart 2014 at 16:15 Permalink

    Bravo, Jaco!

  2. Henk 4 Maart 2014 at 20:47 Permalink

    Kom ons bid asseblief vir die vrede tussen die twee Christelike lande. (Rusland en Oekraïne)

  3. Danie 5 Maart 2014 at 18:15 Permalink

    “Die minderheidsgroepe van Oos-Europa verdien om hulself te regeer eerder as om in state waar hulle nie tuis hoort nie……”

    Dit is tragies dat daar soveel verlies van menselewens moet wees om die sogenaaamde nuwe wereldorde te vestig wat aangeblaas word deur skadu magte.

  4. Anthony Schlemmer 6 Maart 2014 at 10:48 Permalink

    Daar is geen manier wat die Weste en of Amerika Rusland militer sal aanvat nie.
    Al wat hulle kan probeer doen is sekere vorme van sanksies. Amerika se skuldvlakke trek al hier by ‘n 17 Triljoen dollers. So hulle kan nie ‘n oorlog bekostig nie.
    Ander lande moet hulle neuse uit Ukraine uithou, hulle sal hul eie probleme kan oplos met vrye verkiesings.

  5. william 6 Maart 2014 at 13:04 Permalink

    n Volk se vryheidsdrang kan nooit geblus word nie. Ons vryheid is al n paar keer weggevat. My vraag is “wanneer gaan ons ons vryheid kry in n gebied waar ons oor onsself kan regeer?” Ek hoop dit kan gebeur sonder bloedvergieting. Na meer as 300 jaar is die blanke net so inheems soos al die ander nasies.

  6. Danie 7 Maart 2014 at 16:53 Permalink

    William, Ek stem saam.

    Dit gaan oor waardes en wat vir n volk belangrik is bv. goeie regering en vooruitgang.

    Hieroor het Professor Alan Dershowitz, n Amerikaanse regsgeleerde en politieke kommentator, na n onlangse besoek aan Suid Afrika die volgende te se gehad.

    “I’ve spent some time in South Africa recently, and people don’t want to hear this, but South Africa is a failed country.”

    Daar is vele ander voorbeelde. Punt is. As ons gewone ouens nie gaan moue oprol en saamwerk aan die Orania ideaal nie, al is dit op die oomblik van buite, gaan ons droom net drome bly.


Lewer Kommentaar

*