14 Januarie 2011 ~ 8 Kommentare

Reaksie op die artikel van Dr Leopold Scholtz

Geskryf deur Sebastiaan Biehl

Dit is verblydend dat dr Scholtz, anders as talle Naspers-joernaliste, kalm en ordentlik bly as dit kom by die onderwerp volkstaat. Te veel joernaliste braak gal en val terug in retoriek van die warm politieke tydperk van die laat 80er jare, waar NP en KP mekaar sleg gesê het. Ons lewe in ‘n ander tyd en kan sonder daardie bagasie redeneer en dus waardeer ek dr Scholtz se “gentleman”-manier van redeneer, al verskil ek deels met sy redenasie.

Daar is natuurlik groot verskille tussen Sudan en Suid-Afrika, maar wel ook parallelle wat gerus genoem kan word en wat ‘n Afrikaner-volkstaat nie so vergesogd maak soos die Naspers-koerante dit graag voorstel nie.

Sowel Sudan asook Suid-Afrika is kunsmatige koloniale skeppings van Britse imperialisme en die grense is getrek op grond van strategiese belange, nie op grond van etnisiteit, geskiedenis of geografie nie. Altwee lande was deel van die Britse droom van die “Kaap tot Kairo” koloniale ryk, en etniese en historiese grense is daarby buite rekening gelaat.
In albei gevalle heers ‘n meerderheid oor ‘n etnies totaal verskillende minderheid, of minderhede. Dat die meerderheid in die geval van Sudan Arabiere is en die minderheid swartmense, terwyl in Suid-Afrika die meerderheid swartmense is en die minderhede wit- en bruinmense speel eintlik geen rol nie. ‘n Minderheid is ‘n minderheid en dus aan die ontvangkant en polities magteloos, ongeag sy kleur of ekonomiese welvarendheid.
Natuurlik is die onderdrukking wat die Suid-Sudanese ervaar het erger en meer wreedagtig as wat die Afrikaner en ander minderhede in Suid-Afrika tans ervaar, maar ons moet ook maar nie te gerus wees nie, met die stadige volksmoord op veral ons boere in gedagte. In die geval van Sudan is die regering van Omar al-Basjir direk by die volksmoord betrokke, in die geval van Suid-Afrika doen hulle niks om dit te keer nie.

Dr Scholtz is reg dat Suid-Sudan reeds ‘n etnies omlynde gebied is wat relatief maklik in ‘n staat omskep kan word, terwyl vir die Afrikaner-volkstaat nog geen gebied bestaan met ‘n meerderheidsbesetting nie. Maar ons moet ook onthou dat Suid-Sudan se afskeidingspogings ook al ‘n lang pad kom en 10, selfs 5 jaar gelede min mense geld sou wed dat Sudan ooit gaan skeur.

Orania gaan van krag tot krag en dinge mag oor 10 of 20 jaar heel anders lyk. Niemand kan voorspel wat dan sal wees, maar die tyd werk sonder twyfel vir die idee van ‘n volkstaat: meer mense vestig in Orania en omgewing, meer Afrikaners buite Orania ondersteun die gedagte en raak betrokke, mense wat dit vroeër afgelag het, kyk nou met ander oeë en belangstelling daarna, die idee van”een Suid-Afrika vir almal” word dagliks as ‘n drogbeeld bewys.

Vir minderhede binne die volkstaat sal vanselfsprekend minderheidsregte geld. Ek twyfel of die volkstaat, wat ekonomies suksesvol gaan wees, groot getalle swartmense sal trek. Groot stede trek die armes, en die volkstaat sal weens sy landelike aard en sy relatiewe klein en wyd verspreide bevolking geen groot stede hê nie. Immigrasiewetgewing gaan streng wees en geen staatsgeld sal vir leegleërs beskikbaar wees nie, en wet en orde sal streng gehandhaaf word. Armes sal eerder na Johannesburg, Kaapstad en ander groot stede bly stroom waar die staat gratis behuising en toelaes vir buite-egtelike kinders gee, as om na die Afriaknerstaat toe te kom waar jy jou brood in die sweet van jou aangesig moet verdien.

Deel/Stuur

8 Reaksies op “Reaksie op die artikel van Dr Leopold Scholtz”

  1. Ben le Roux 14 Januarie 2011 at 12:37 Permalink

    Leopold Scholtz maak dieselfde fout as die van die meeste ander kritici asook voorstanders van die volkstaatgedagte.Hulle maak staat op ‘n algehele politieke besluit.Orania word tans bedryf as ‘n privaat maatskappy wat eiendom aankoop en ontwikkel as Afrikanervesting.Dus voordat daar om die politieke onderhandelingstafel aangesit kan word moet daar reeds ‘n gebied beset wees.Hier skiet ons nog tekort.Orania sal soos nou moet voortgaan met die aankoop,ontwikkeling en besetting van grond.Dit word op die basis van privaat-ondernemerskap gedoen.Die proses is sover suksesvol hoewel die gebied nog geweldig uitgebrei sal moet word voordat daar sprake van politieke onderhandeling kan wees.Tussenkolle kan moontlik deur politieke besluite bygelas word.Wat vir my baie belangrik is is dat daar by ‘n homogene groep gehou moet word want etniese verskille is gewoonlik ‘n demokrasie se doodsteek.In Europa waar die verskille hoofsaaklik een van taal, kultuur en godsdiens is,is die probleme al erg genoeg.Hier by ons waar ras ook nog in die prentjie kom,saam met die ander verskille sit ons met ‘n behoorlike kruitvat.Wat bemoedigend is is dat manne soos Leopold Scholtz se deuntjie vandag heelwat meer gematig is as twintig jaar gelede.Orania stu voort op sy gekose baan,dit is sy kritici wat die nodige aanpassings moet maak!

  2. Swartskaap 14 Januarie 2011 at 13:07 Permalink

    Wat bedoel jy die volkstaat sal ekonomies vooruitstrewend wees met geen groot stede nie? Dit maak mos nie sin nie….ek meen as ons nie groot Afrikaner stede gaan hê nie – wats die punt van dit alles! As ons Orania ʼn klein dorpie wil los-het ons al klaar verloor , ek persoonlik sien uit na die opbou van Oraniastad!

  3. Sebastiaan 14 Januarie 2011 at 13:51 Permalink

    Swartskaap, let op die verskil tussen stede en groot stede (metropole). Natuurlik moet daar vir die optimale ekonomiese ontwikkeling ook stede of ten minste een behoorlike stad wees (lees gerus my rubriek “hoe om die volkstaat te bou”), maar as ons aanvaar dat die maksimale bevolking van die volkstaat minder as 1 miljoen sal wees, dan sal die hoofstad van die volkstaat kwalik groter as Windhoek, Bloemfontein of Potchefstroom wees. ‘n Stad van die groote van Johannesburg of Kaapstad sal armes in massas trek en weens die maklike manier om in ‘n stad weg te kruip, kan jy onwettige emigrasie moeilik keer.
    Daar is en was nog nooit groot Afrikanerstede nie. Groter Pretoria se bevolking is waarskynlik slegs 20% Afrikaner, dieselfde geld vir ander sogenaamde “Afrikanerstede” soos Bloemfontein.
    En laastens, ‘n land kan sonder megastede wel ekonomies vooruitstrewend wees, kyk maar na Switserland, Estland, Luxemburg, Noorweë, Ysland, en nader aan die huis, Botswana. Nie een van die lande het stede met meer as 400 000 inwoners nie. Megastede kan selfs ‘n probleem vir ‘n land raak en ‘n bron van misdaad, besoedeling, korrupsie en etniese geweld word (Lagos, Kairo, Kinshasa, Kalkutta, Bombay, Mexico City ens ens).

    • Swartskaap 14 Januarie 2011 at 17:02 Permalink

      Ek hoor wat jy se maar wat van Nederland , België , Singapoer, Israel , Nieu-Seeland en Hongkong – almal klein lande met reuse stede! N Massiewe metropool wys ekonomiese mag en inspireer trots en welvaart , dit skep ook ʼn goeie beeld vir oorsese markte op ʼn verskeidenheid van vlakke soos Toerisme , Stabiele beleggings , ekonomiese ontwikkeling en groei. Een van die groot neigings onder kleinere lande is die ontwikkeling van ʼn groot inligting tegnologiese industrie en ʼn mense sal dit nie in ʼn “klein” land kan doen nie , en dis net een van vele voorbeelde wat ek kan noem veral waar jy se ons ʼn kleiner populasie gaan hê moet ons konsentreer op ʼn baie hoë GDP per capita. Afrikaners wil nie net oorleef nie – ons wil ekonomies kompeteer en vooruitstreef en al hoe ons dit gaan kan doen is met Rand en Sent , want dis waaroor dit op die einde van die dag gaan! Terwyl ons droom , moet ons groot droom!

      Vrede :)

  4. Sebastiaan 15 Januarie 2011 at 07:51 Permalink

    Hallo swartskaap,

    ek het nie gesê dat megastede noodwendig sleg is vir ontwikkeling nie. Daar is talle voorbeelde van uiters suksesvolle megastede soos Singapoer, Hongkong, New York ens. Al wat ek sê is dat ‘n megastad nie ‘n vereiste is vir ‘n suksesvolle land nie en dat ‘n stad onder 500 000 inwoner ook groot genoeg is vir al die gesofistikeerde dienste. Israel is juis ‘n goeie voorbeeld: dit is blykbaar ‘n Mekka van rekenaar- en inligtingstegnologie en 40% van hulle uitvoere is rekenaarverwand. Nogtans het hulle grootste stad, Tel-Aviv, na my wete minder as 500 000 inwoners. Israel se 5 miljoen inwoners is nie in een groot stad saamgetrek nie, maar daar is 4 of 5 stede bo 100 000 inwoners, heelwat middelslag stede asook ‘n aansienlike hoeveelheid dorpe.
    As ons van ‘n maksimale bevolking van minder as 1 miljoen in die volkstaat praat, sal daar net nie genoeg mense wees vir ‘n mega-stad nie. En boonop verstout ek my om te sê dat die gemiddelde Afrikaner die lewe van ‘n dorp of klein stad verkies bo die van ‘n mega-stad. Ja, baie van ons mense werk en woon in Johannesburg, Londen, Toronto ens, maar wie voel werklik tuis daar en is nie maar net daar om geld te maak om dan eendag in ‘n klein dorp te kan aftree nie?
    Natuurlik wil ons nie net oorleef nie, maar ekonomies welvarend wees. Weereens, daar is genoeg voorbeelde van middelslag-stede waar die gemiddelde inkomste besonder hoog is en die lewensgehalte ook, maar waarvan gewoonlik vergeet word want almal kyk met bewondering na Hongkong, New York, Dubai ens. Ek dink aan Zurich in Switserland, Luxemburg stad, Oslo of Bergen in Noorweë, Vaduz in Liechtenstein.
    Ek verwys jou weer na my artikel “Hoe moet ontwikkeling van die volkstaat lyk” wat my siening oor stad en platteland se rol uiteensit.
    Groete

    Sebastiaan

  5. Renoster die grootte 15 Januarie 2011 at 15:11 Permalink

    Altyd ‘n plesier om artikels oor orania te lees, veral as dit oor toekomstige ontwikkeling gepaart gaan. As ons wel ‘n eie Afrikaner stad in Orania gaan ontwikkel sal ons ook ‘n eie Afrikaner universiteit en technikons ook moet oprig en nie eers to praat van eie banke nie.

  6. Charl Heydenrych 15 Januarie 2011 at 16:14 Permalink

    Ja renoster – ‘n Afrikaner universiteit en technikons op Orania! Ek dink dit is wel haalbaar. Ek sien al klaar die Stellenbosch van die toekoms. Die Randse Afrikaanse Universiteit was ‘n droom wat oor baie jare gekoester was en toe uiteinddelik verwesenilk is – die Orania Universiteit (wat aan die begin self ‘n tak van ‘n bestaande Universiteit mag wees) sal ‘n inspuiting vir Orania wees en verseker dat van die Afrikaner beginsels (vryheid en boere individualisme) sal bly voortbestaan. Waar is al die afgetrede Afrikaanse akademici?

  7. Swartskaap 16 Januarie 2011 at 13:48 Permalink

    Baie dankie veral jou terugvoering op al my kommentaar Sebastiaan,

    Afrikaner Vryheid en Afrikaans lê baie na aan my hart en ek wil regtig help waar ek kan. Het Orania of die volkstaters iets soos die Bill of Rights /Freedom Charter? Wat wys op watse vryhede ons ʼn Afrikaner Republiek/Staat wil op bou? Hoe werk Orania se politiese? Stem die mense vir ʼn burgermeester , het die vryheidsfront enige mag daar en kan enige Orania burger ʼn politiese kandidaat word? Ek sal ook graag wil weet hoe werk burgerskap in Orania? Kan Orania jou uitskop as jy iets doen wat hulle nie van hou nie? Hoe werk eiendom eienaarskap daar? Is ek verbied om eiendomme te verkoop aan sekere mense of hoe? Ek weet ek vra baie vrae , maar hierdie is seker die regte plek om te hoor ne :)
    Daar is so baie mense wat bollie praat daarbuite en ek wil net die feite hoor oor Orania!

    Baie dankie!


Lewer Kommentaar

*