26 Oktober 2010 ~ 1 Kommentaar

Praktiese oplossings hoef nie moeilik te wees nie

Geskryf deur Jaco Kleynhans

Suid-Afrika is ‘n land met groot uitdagings. Hoewel baie Afrikaners (mag ek stout wees en selfs beweer – die meeste!) steeds glo dat die huidige regeringsvorm en sogenaamde demokrasie die oplossing vir hul probleme is, begin al meer Afrikaners wel besef dat ‘n heeltemal ander soort oplossing dalk net nodig is.

Soos wat Afrikaans en ons Afrikanerkultuur al meer weens minderheidswaarde en die houding van die meerderheid uitgeskuif en selfs vertrap word en dit selfs negatiewe gevolge vir mense se sekuriteit, ekonomiese geleenthede en identiteit inhou begin mense na alternatiewe te kyk.

Ons in Orania weet dat ons alternatief ‘n werkbare een is. In Orania wys ons dat die vind van praktiese oplossings nie moeilik hoef te wees nie. Dit is wel vrek harde werk en ons ‘laatkommers’ besef elke dag die werk wat die Orania-pioniers die afgelope 19 jaar gedoen het.

Wat egter waar is, is dat praktiese oplossings baie keer vanself kom, wanneer ons net skouer aan die wiel sit en dit begin doen! In Orania staar ons elke dag uitdagings in die gesig, maar juis omdat een van ons grondbeginsels selfstandigheid is en ons dus nie na eksterne instellings soos ‘n regering vir oplossings kyk nie, het ons geen ander keuse as om vinnig effektiewe oplossings te vind nie.

Baie keer dink ek dat dit juis die probleem met die ANC-regering is. Hulle vind antwoorde vir die land se probleme by apartheid, kolonialisme en meer onlangs die resessie en banke-krisis in Westerse ekonomieë.

Indien hul egter bereid was om moue op te rol en self oplossings te probeer vind, sal hul sien dat die vind van oplossings nie so moeilik is wanneer jy bereid is om die werk self te doen nie!

Ek het onlangs vir ‘n ander publikasie 15 punte opgestel wat ek glo alles maklike, praktiese dinge is wat gedoen kan word om Suid-Afrika se grootste probleme op te los. Maar nou ja: Dit werk almal harde werk en veral ‘n besef dat die oplossing by jouself lê en dat die verskuiwing van aanspreeklikheid nie die probleem oplos nie.

Hier is my 15 punte:

1. Formaliseer die informele sektor om tot ’n groter belasting basis aanleiding te gee.
2. Staak grondhervorming om kommersiële boere die geleentheid te gee om voedselsekuriteit in SA teweeg te bring.
3. Versterk die burgerlike samelewing deur regeringsorganisasies en nie-regeringsorganisasies die ondersteuning en vryheid om welsyn-, sosiale- en onderrigfunksies uit te brei.
4. Ruk die onderwys reg vir ‘n behoorlik geskoolde generasie van môre.
5. Gemeenskappe moet d.m.v. waagkapitaal en belastingverligting aangemoedig word om plaaslike ekonomiese aktiwiteite tot verbetering van die gemeenskap te stimuleer.
6. Behou die onafhanklikheid van die regbank om die integriteit van wet en orde in SA te verseker.
7. Beloon produktiwiteit om mededinging in internasionale markte te verbeter wat weer tot versterking van SA ekonomie sal lei.
8. Lok vaardige diaspora terug na SA deur diskriminerende wetgewing nie op hulle van toepassing te maak.
9. Insetgegronde regstellende aksie d.m.v. gesubsidieerde opleiding en finansiering moet swart mense bemagtig.
10. Gemeenskappe moet meer beveilig word deur meer regte en vryheid aan gemeenskappolisiëringforums.
11. Privatiseer sommige regeringsfunksies sodat regering op sleutelfunksies fokus.
12. Los media en ander waghonde om regering en samelewing se foute uit te wys.
13. Maak die arbeidsmark meer toeganklik deur hersiening van minimumlone wat o.a. werkgewers ontmoedig om meer werkers aan te stel.
14. Verklein die welsynstaat want 15 miljoen welsynstoelaes word maandeliks uitbetaal terwyl net sowat 5 miljoen mense belasting betaal.
15. Miljoene wettige Suid-Afrikaners bly op staats- of munisipale grond. Die oordrag van eiendomsreg sal hulle ekonomies bemagtig.

Deel/Stuur

Een Reaksie op “Praktiese oplossings hoef nie moeilik te wees nie”

  1. Jaco Grobler 8 Desember 2010 at 07:44 Permalink

    Ek stem saam met jou punte, ons gesels hier breedvoerig, en persentasies en getalle het dus nie betrekking nie. Ek voel die grootste remskoen vir die oplossing van die meeste van ons SA probleme is ons groot populasie. Is dit toevallig dat ons watertekort en werksloosheids syfers baie dieselfde is ? Miskien, maar dit moet aangespreek word. Raak ontslae van die 5 miljoen ‘nuwe’ SADEC lede in die land en daar is onmiddelik masiewe verligting in alle departemente. Ons populasie groei is ekonomies onvolhoubaar. Punt. Dit is onmoontlik om werkskepping en dienslewering binne aanvaarbare vlakke te kry alvorens ons nie bogenoemde probleem opgelos het nie. Dieselfde sal uiteraard by julle geld, as daar skielik 5000 ‘nuwe’ Oraniers by julle opdaag, gaan almal swaarkry.


Lewer Kommentaar

*