16 April 2012 ~ 1 Kommentaar

Platteland gaan oor die siel van die Afrikaner

Geskryf deur Sebastiaan Biehl

Na die soete, voorspelbare “Liefling” oor die reeds duisend maal behandelde tema “seun ontmoet meisie en raak verlief, ander meisie meng in en versuur verhouding, en uiteindelik kom hulle weer bymekaar” was “Platteland” ‘n fliek wat nie net beweeg in die bandbreedte van soetsappige liefde en jaloesie nie, maar ook haat, gierigheid, verraad, familietwis, maar ook omgee, vasberadenheid, vertroue op God, familie- en volkstrots en gemeenskapslewe aanspreek en uitbeeld.

 

My eerste indruk was dat die tema nogal baie aan ‘n standaard-tema van ‘n Western laat dink: ‘n Eerbare, gelowige en familievaste vrou (Riana van Niekerk, vertolk deur Lianie May) en haar broer Wian (Vaughan Gardiner) wie se ouers vermoor is, moet hulle grond verdedig teen die gierige grootmeneer wat reeds baie besit en alles wil hê en daarby geen gewetensbesware het om sy doel van beheer te bereik (Mike Ferreira, gespeel deur Steve Hofmeyr). Die boef se mooi dogter Rolene (Karlien van Jaarsveld) is verlief op Wian en kies uiteindelik hom teen haar familie. ‘n Manlike held (Dirk Pretorius, gespeel deur Bok van Blerk), wat eers aan die verkeerde kant is, kom die benoude Riana te hulp en keer eiehandig die boef en sy trawante na ‘n finale “showdown” van Dawid teen die Goliatbende a la “High Noon”.

 

Alhoewel die tema nie nuut is nie, is dit ‘n goeie en aangrypende eietydse Suid-Afrikaanse vertolking wat daarvan meer maak as net ‘n Western-remake. Die titel is nie verniet “Platteland” nie, en die sterf van die platteland, die sielsheimat van die Afrikaners (al bly 90% nou in stede), word aangrypend uitgebeeld. Die opwel van emosie werk met teenstellings, en die fliek doen dit ook, wat eintlik ‘n verfrissende verandering is op die genre van ‘relativistiese flieks” waar niemand sleg en niemand goed is nie en geen gelukkige einde wag nie. Miskien kyk ek om dié rede graag Westerns en het ek daarom ook “Platteland” geniet.

 

Hier staan die gelowige en eg Afrikaanse plattelandse meisie Riana wat haar familieplaas met die geskiedkundige Oos-Vrystaatse sandsteen-plaashuis, waaraan so baie emosies en herinneringe verbind is, teen skuldeisende banke en die gierige grondbaron verdedig, daar staan die gewetenlose, brutale en gulsige boef met sy windmakerige swart Playboy-klere en punterige skoene wat in ‘n smaaklose mock-Toskaanse paleis woon en vere voel vir die platteland en sy mense en net in geld en sy ego belang stel. Daarby misbruik hy die gemeenskap se versugting na ‘n leier en gee voor om te gee vir hulle, terwyl hy hulle verag. Sy histeriese, opgesmukte en oppervlakkige trofeë-vroutjie Louise pas hom soos ‘n handskoen en herinner aan sekere “nouveau riche” vroue met hulle aangeplaktheid wat deesdae ongelukkig veels te algemeen onder Afrikaners voorkom.

 

Die landskapstonele is ook eg Suid-Afrikaans en goed gekies: die klein dorp iewers in die Oos-Vrystaat of Noord-Natalse Drakensberg-streek met die landboukoöperasie en bank in die hoofstraat, waar almal vir almal ken en “oom” en “tannie” noem; die bebaarde, trotse, en in sy hart goeie boer wat sy grond met die geweer teen die gladde bankbestuurder wil verdedig; die gryskop-tannies met die broekpakkies wat as vrouevereniging toekennings vir verdienstelike gemeenskapslede oorhandig terwyl die fotograaf dit gretig afneem vir die plaaslike koerant; die sandsteenplaashuise met die houtvloere en familiefoto’s op die klavier; die stofpaaie met die swart seun langs die pad wat sy draadkar stoot en die sandsteenrotse in die agtergrond. Dit is ‘n opset wat die kyker, al het hy nie eens opgegroei in die platteland, graag bewaar wil sien en hom of haar laat besef dat dit onlosmaaklik deel van Afrikanerwees is en ons gevorm het, en nie die Toskaanse villas agter hoë mure in die voorstad nie. By my, wat in die Oos-Vrystaat op ‘n plaas gevorm is, het dit vir seker die hartsnare geroer.

 

Nie toevallig nie sing Bok van Blerk alias Dirk Pretorius “My kreet” (Die Afrikaner het ‘n stem) toe hy en Riana besluit het om nie toe te gee nie, maar saam die oppermag aan te durf. Dit word duidelik dat Mike Ferreira nie net ‘n arm vrou bedreig en die lewe vir haar moeilik maak nie, maar dat die soort mense, of hulle wit of swart is, die Afrikaner as volk bedreig deur ons unieke leefstyl en ons wese deur gierigheid en harteloosheid te vernietig. Plaasmoorde en emigrasie is die middel om ‘n Afrikaanse platteland te ontvolk en te ontsiel.
Die tema van verraad, ook nooit vêr in die Afrikaner se geskiedenis af nie, speel ook ‘n rol. Pieter Naude (Ivan Zimmermann), die klaarblyklik goed gemanierde en gelowige helper vir wie Riana lank gesoek het, is kop in een mus met Mike Ferreira en sy seun Jakes (Jay du Plessis), wat die rol van lafhartige, grootpraterige leier van ‘n bende skurke, met front as “sekuriteitsmaatskappy” speel. Daar is wel ook plek vir een van die boef se handlangers om uiteindelik wel teen die slegte te draai en die kant van die goeie te kies.

 

Op die ou einde is dit die enkele opregtes wat besluit om te bly staan vir wat reg is en wat nie vir geld, dreigemente en selfs sabotasie en moord swig nie, wat oorwin en wat deur hulle heldedaad die hele gemeenskap red toe die mat onder Mike, sy seun en sy handlangers uitgepluk word. Dit besiel ons om ook voort te gaan met dit wat reg is, teen skynbare oormagte en alle dreigende gevare in.

Deel/Stuur

Een Reaksie op “Platteland gaan oor die siel van die Afrikaner”

  1. Maryke 25 Julie 2012 at 06:03 Permalink

    Moet se dis ‘n uitstekende film, sal net graag wil weet wat is die liedjie aan die einde se naam, wat deur Liani May, Bok van Blerk, Vaughn Gardiner en Karlien van Jaarsveld gesing word?


Lewer Kommentaar

*