09 Julie 2012 ~ 20 Kommentare

Paleo-konserwatiewe denke vir Afrikaners nodig

Geskryf deur Jaco Kleynhans

In ‘n onlangse artikel in The American Conservative skryf Rod Dreher van ‘n vriend van hom wat ‘n uitstekende werksaanbod in ‘n ander land van die hand gewys het. “He said that the things he learned from being here, and part of this community, were experiences only open to those who cultivated stable lives in community, which implies renouncing the idea that life is better elsewhere…” Dreher argumenteer dat die konsep van ‘n gelukkige, tevrede gemeenskap ondermyn word deur die ideologie van individualisme en verbruikerskapitalisme.

Die Afrikaner se voortbestaan word vandag nie eksklusief deur eksterne faktore bedreig nie, maar soveel te meer deur ons eie onvermoë om rondom ‘n sinvolle politieke en ekonomiese denke te verenig.

In ons strewe na selfbeskikking sal ons heelwat energie moet wy aan die ontwikkeling van ‘n gepaste politieke en ekonomiese denkrigting. Die populistiese konsepte van sosialisme en laissez-faire-kapitalisme bied geen antwoord op die Afrikaner se unieke uitdagings nie. Daarmee saam ondermyn individualisme, die polities korrekte afdwinging van egalitarisme en die toenemende verval van Afrikanerkultuur enige poging tot selfbeskikking omdat ons mense dink hulle selfverwesenliking deur sosiale aanvaarding en die genot van materiële middelle kan bereik.

Wat is die uitdagings? Soos genoem beskou ek die grootste uitdagings vir die Afrikaner se voortbestaan as interne eerder as eksterne faktore. Dit sluit in ‘n toenemende individualisme en aanhang van die verbruikerskapitalisme waarna Dreher verwys. Verder is Afrikaners stelselmatig besig om ankers soos hulle geloof, die gesin, moraliteit en natuurlik hul interafhanklikheid van ‘n saamgebinde gemeenskap en sy instellings soos skole, verenigings en politieke instrumente, te verloor.

Vir hierdie redes word dit makliker vir Afrikaners om te emigreer, te integreer, of selfs net verder te individualiseer. Hoe kan dit gebeur dat mense met ‘n geskiedenis van meer as 350 jaar net kan oppak en emigreer? Hoe kan dit gebeur dat Afrikaners net kan besluit dat hulle hul kinders Engels wil grootmaak? Hoe kan Afrikaners die bande van hulle geloofs- en kerklewe, die inspirasie van gemeenskap en die fondament van geskiedenis, kultuur en taal net opsê om ook maar net Suid-Afrikaners te wees?

Die probleem lê myns insiens daarin dat Afrikaners nie ‘n sentrale politieke denke het wat hulle bymekaar hou nie. Afrikaners aanvaar toenemend dat om suksesvol te wees en bo uit te kom juis van hulle verwag om wie hulle is op te sê en ‘n meer aanvaarbare, liberale beeld van hulself te projekteer. Dit is te verstane inaggenome die invloed wat Suid-Afrika se politieke en ekonomiese veranderings die afgelope twintig jaar op Afrikaners gehad het. As Afrikaners nie weet wie hulle is en wat en hoe hulle mag wees nie, sal hulle probeer om soos ander te wees, net om te oorleef.

Na die Tweede Wêreldoorlog het Amerika ook voor die vraag van ‘wie sal ons nou vorentoe wees’ gestaan. Amerika se toenemend dominante rol in wêreldpolitiek en toenemende sosialisme in die Amerikaanse regering, het ‘n groep denkers onder leiding van Russell Kirk ‘n informele denkskool tot stand laat kom wat eers as die ‘New Conservatives’ en later as die ‘Traditionalists’ bekend gestaan het. Die denke van hierdie groep het later in die konsep van paleo-konserwatisme as denkraamwerk ontwikkel. Onder leiding van Kirk het hierdie groep die konsepte van die verligting, egalitarisme (gelykmaking), nuttigheidsleer en rasionalisme verwerp. Vryheid, ‘n fokus op insette, tradisie, geloof en die rol van die gemeenskap is weer na vore gebring. Die Paleo-konserwatiewes verwerp die meerderwaardigheid van die moderne demokrasie waar burgers hul stem slegs by die stembus kan laat hoor. Vandag sien ons in die VSA ‘n nuwe opbloei van paleo-konserwatiewe denke in die Teeparty en hernude pogings om tradisie en die rol van die Christelike geloof, waardes en die gemeenskap in die VSA te herstel.

Die paleo-konserwatisme verwerp ook sosialisme en ekstreme laissez-faire-kapitalisme. Die sosialisme ondermyn die krag van die gemeenskap om homself deur toenemende lokalisme te versterk, terwyl die markfanatici se hartelose denke, waar die mark meestal bo die belang van die medemens geplaas word, ernstige morele vrae laat.

Gedurende die 1940’s het Robert Taft, ‘n Amerikaanse senator, reeds die grondslag vir ‘n paleo-konserwatiewe denkrigting gelê. “… a system in which the able would realize their practical talents and receive their just rewards, and in which the needy and unfortunate – from out that society’s prosperity – would be provided with a tolerable livelihood, regardless of their inability to provide for themselves.”

Party moderne paleo-konserwatiewe denkers predik ook die belangrikheid van lokalisme. In ‘n onderhoud met Jeff Fortenberry, ‘n lid van die Amerikaanse kongres van die deelstaat Nebraska, wat onlangs in The American Conservative gepubliseer is, neem hy sterk standpunt in teen die absolute ekonomiese beginsels wat deur ‘n meerderheid van politici in die twee hoof politieke partye in die VSA gepredik word. Fortenberry gaan voort deur ‘n pleidooi vir die lokalisme te lewer: “We can have systems that are small and local and efficient, or big and unaccountable… I believe in the benefits of localism as a more traditional economic model.”

Wat beteken dit alles vir die Afrikaner? Na my mening moet Afrikaners binne ‘n paleo-konserwatiewe denkskool verenig word. Een waar die fondamente dié van ons geloof, waardes, kultuur, taal, tradisies en geskiedenis is en een waar ons metodes ‘n herontdekking van die krag van gemeenskap en lokalisme vooropstel. Afrikaners wat oor ‘n goeie fondament beskik en oor die vermoë beskik om selfverwesenliking uit hul rol in die gemeenskap eerder as oordrewe individualisme en materialisme te kan put, sal ‘n voortbestaan hê. Orania en Oraniërs moet meer doen om hierdie soort denke aan mede-Afrikaners bekend te stel en as alternatief tot individualisme, integrasie en emigrasie aan te bied. Slegs dan sal ons die soort groei in die strewe na selfbeskikking wat ons graag onder ons mense wil sien, begin ervaar.

Deel/Stuur

20 Reaksies op “Paleo-konserwatiewe denke vir Afrikaners nodig”

  1. Jan Greeff 10 Julie 2012 at 08:42 Permalink

    Hiermee stem ek saam. Ons Afrikaners is ons eie grootste vyand omdat ons weier om ons denke te vernuwe na die riglyne wat die Woord ons leer. Ons roem graag op ons hristenskap maar is vasgevang in die kettings van godsdienstigheid wat selfsug, die domein van Satan, akkommodeer.

  2. Menefrego 10 Julie 2012 at 08:53 Permalink

    Uitstekende artikel Jaco, en dit steek ook na die hart van die verbysterende oorgawe in 1994 – die Afrikaner se tekort aan ‘n duidelik verwoorde politieke ideologie. Ras is nie ‘n ideologie nie.

    Ideologie moet toeganklik wees, en vir ‘n soortgelyke rede hou ek baie van die Amerikaanse Grondwet, wat ‘n toeganklike dokument is, instede van ‘n vae-rige regsterm gelaaide tome. Indien die Afrikaner hierdie tipe geëerde dokument as volksbesit gehad het, was oorgawe van soewereintiteit in 1994 waarskynlik nie moontlik nie, omdat ‘n politieke affiliase wat uittroon bo die partypolitiek, in plek sou gewees het. Die “blanke” ding en “Suid-Afrikanerskap” het ons egter heeltemaal gesink in die bekomming van so ‘n voetstuk. Maar hierdie keer moet ons nie opslip nie……

  3. Du Toit Maritz, Johannesburg 10 Julie 2012 at 09:19 Permalink

    Goeie artikel, baie stof tot nadenke. Maar ek dink die kerke en “geloof” is dalk deel van die probleem. Ek is een van die wat ‘n sterk etniese en taal-verbondenheid met ons mense voel: maar ek voel ongemaklik met die Afrikaanse Kerke se sentrale rol in ons gemeenskap, wat die skrywer van die artikel duidelik belangrik ag.

    Ek dink dis ‘n fout: die Afrikaners as groep is soveel meer as bloot die kerke, wat ons in elk geval in groot getalle begin verlaat. Daar is n groot gevoel onder ons mense dat die kerke, en ja, selfs die Christelike geloof, aan die verbygaan is, of in elk geval minder belangrik is.

    Die Afrikaner van 2012 is nie meer tipies ‘n kerkmens nie, selfs nie noodwendig ‘n oortuigde Christen in die gereformeerde tradisie nie. Dit sou ‘n fout wees om die Orania-beweging te naby te koppel aan die tradsionele, verdwynende karakter van ons mense.

    • Eben 10 Julie 2012 at 16:47 Permalink

      Ek stem saam met Du Toit Maritz. Ek dink daar moet ruimte gelaat word vir die wat ook skouer aan die wiel wil sit vir Afrikaner-kultuur en tradisies, al is sommige van hulle nie gebonde aan ‘n kerk nie. Ja, sekeres glo aan ‘n Geloftevolk, maar dis ‘n piepklein minderheid. As hierdie beweging piepklein wil bly dan is dit goed en wel om so kieskeurig te wees.
      Mens kry die gevoel dat daar met die een hand genooi word, en die ander hand weggewys word.
      Vir my is geloof ‘n persoonlike saak. Ek raak baie ongemaklik wanneer dit ‘n publieke een word, want dit maak die deur oop vir politici om die kerk te gebruik vir hulle eie doeleindes.

      • Adi Schlebusch 11 Julie 2012 at 10:41 Permalink

        Die hart van paleo-konserwatisme (in enige Westerse konteks) is Christelik van aard. Dis juis wat dit onderskei van neo-konserwatisme soos die: “selfs die Christelike geloof, aan die verbygaan is, of in elk geval minder belangrik is.” Dit sou sinneloos gewees het om “paleo” te bly as daar nie ‘n konstante morele orde is as maatstaf nie, en so orde is onmoontlik sonder God. Paleo-Konserwatisme en die Christelike godsdiens is onlosmaaklik van mekaar.

    • Menefrego 11 Julie 2012 at 18:09 Permalink

      Daar is baie om oor ongemaklik te voel m.b.t. die tradisionele Afrikaanse Kerke (en ek’s self lidmaat van een).

      Indien die Afrikaner egter op groot skaal sy rug sou keer op die Kerk as struktuur, laat staan nog die Geloof in Christus, dan hoef ons vanuit ‘n sosiologiese oogpunt nie eens verder te wonder oor wat volgende gaan gebeur nie, want ons het die hele moderne Wes-Europa as uitge-oefende eksperiment.

      Dit slaan jou hoofsaaklik in twee plekke: Die Christenbeskawing bevat in sy kultuur die essensie van ‘n vrye samelewing, en die reëlboek wat wyd gelees en sonder dwang geïmplementeer word, bring ‘n eksterne lokus van beheer vir mense se onderlinge handelinge mee. Orde, eerlikheid, stabiliteit, hardwerkendheid dus. In Post-Christelike beskawings, verskuif hierdie lokus van beheer, weg van die “Self” af, en die gevolg is die sogenaamde Nanny State, met sy magdom vryheids-beperkende reëls en regulasies. Vryheid, soos ons die konsep in die liberaal-Westerse kultuur leer ken het, raak inderwaarheid onmoontlik. (onthou gerus dat vroeëre suksesvolle beskawings altyd analoë, regulerende godsdienste gehad het).

      Die volgende ramp wat jou tref is letterlik uitsterwing. In ‘n samelewing waarbinne die vrou volle regte geniet (soos ons s’n), beteken die uitranggering van die Kerk, (en selfs kerklose Christengesindheid), demografiese selfmoord. Dis ‘n maklike ketting om te volg: Geen Kerk lei tot geen rede vir die huwelik lei tot onsekere verhoudings, lei tot minder kinders, lei tot minder nuwe, jong families. Hierdie ding maak ons alreeds baie seer, en dis waarom die gewoonte van saamblyery so ‘n tragiese verpesting is. Dink Flip Smit se navorsing het getoon die Afrikaner se vervangingskoers is iets soos 2.4 kinders per vrou……hoeveel jong vrouens onder 40 is daar vandag met 2.4 kinders? In Duitsland, waar hierdie ketting grootliks voltooi is, het is slegs 30% van vroue van moederskapsouderdom, ma’s. As ons dieselfde dinge doen en dieselfde houdings gaan inslaan, gaan ons op dieselfde plek eindig. Dis logies.

      • Frank 18 Julie 2012 at 08:37 Permalink

        Baie insigewend, dankie. Daar moet darem ‘n paar ongelowiges wees… dan kan ons hulle probeer bekeer:)

      • Frank 18 Julie 2012 at 09:15 Permalink

        Baie goed gestel, dankie Jaco.

  4. Adriaan 10 Julie 2012 at 09:31 Permalink

    Ekonomiese groei, dat elkeen wat in Orania is n redelike goeie selaris kry. Sal selfbeskikking aan die Lewe hou. Soos om vir suid afrika krag te voorsien, maar net n voorbeeld.

  5. Andre' Swart - Balmoral Transvaal 10 Julie 2012 at 10:50 Permalink

    “Du Toit Maritz, Johannesburg : selfs die Christelike geloof, aan die verbygaan is…….”

    Dit sal ‘n jammer dag wees as ons vergeet dat ons volk ‘n Geloftevolk is. Die HERE het ons by Bloedrivier gered nadat ons ‘n gelofte (verbond) met Hom gesluit het.

    Ek weet eerstehands, dat in die heel eerste notule van die Babsfonteinse Geloftefees kommitee (honderd en tien jaar gelede) daar opgeteken is dat die Geloftefeeskommitee gestig was omdat die mense teenwoordig daarvan oortuig was dat die Tweede Vryheidsoorlog verloor is “omdat die volk die Gelofte verwaarloos het”.

    Israel is ook ‘n geloftevolk, en het ook gedink hulle kan maar maak asof God nie bestaan nie. Daarom is hulle sewentig jaar in ballingskap gestuur en net ‘n handjievol het weer terug gekom.

    Ons moet uit die geskiedenis leer en weet dat ons tot niet sal gaan as ons die rug op die HERE keer.

    Jaco, ek stem saam met jou as jy se^: “waar die fondamente dié van ons geloof, waardes, kultuur, taal, tradisies en geskiedenis is en een waar ons metodes ‘n herontdekking van die krag van gemeenskap en lokalisme vooropstel”.

    Ons kultuur en ons “volkwees” is ingeweef in ons geloof (nie noodwendig kerk nie). Spruit ons waardes dan nie uit die Woord (lees :Bybel, geloof) nie, en ons kultuur nie uit ons geloof en ons waardes nie? Dit sal ‘n gesonde basis wees vanwaar ons kan begin.

    Nuwe denke, nuwe metodes, gebaseer op ou, bewese waardes ! Dit maak sin.

    PS: In die omgewing waar ek woon en werk ervaar ek dat baie van ons volksgenote se harte weer opnuut deur die Evangelie verander word. Byvoorbeeld: helfte van die mense wat 2011 se Geloftefees bygewoon het, het jare laas (of nog nooit) die gelofte in ere gehou nie. Ongelukkig is daar ook die wat die pad verlaat en eie belange bo gemeeskapsbelange stel.

  6. G (Ollie) Olwagen 10 Julie 2012 at 14:06 Permalink

    Om eensgesinsheid onder Afrikaners te bewerkstellig lyk na ‘n onbegonne taak, so hartseer soos dit ook al is, wat nog te sê hul denke te vernuwe. Die Afrikaner was nog altyd in sy kern verdeeld — die vroegste Kapenaars onder mekaar, die ontstaan van twee Boererepublieke en nie een nie, die ou Hertzogiete en die Malaniete, die Natte en die Bloedsappe, die gestiges en herstigtes en watter ander verdeling ‘n mens ook al aan kan dink. Dis om van te huil.

    En nou sit ons met ‘n onmoontlike konglomeraat van landsverhuisers en nie-verhuisers, superkonserwatiewe en hiperliberale, pynlike rassehaters en dwepende filantrope en gematigdes en opstandiges en evolusioniste… en ‘n Gideonsbendetjie van getroue gelowiges.

    Red nou ‘n volk … as die Afrikaner ooit ‘n volk was …

    Of miskien was hy darem, eenmaal. Ek onthou die inwyding van die Voortrekkermonument in 1949, toe ons in ons massas soheentoe opgetrek het. Straks het ons weer so ‘n samekoms by die Monument nodig, maar hierdie keer sonder dat die politici in die minste daarby betrokke moet wees. Net om bymekaar te kom en bestek op te neem. Oor wat ons is en waarheen ons op pad wil wees. Doodeenvoudig om ‘n herlewing van die ou waardes daar vas te lê, of die paleo-konserwatiewe denke waarvan Jaco in die artikel praat. Dalk is so iets ons heel laaste kans om te probeer verenig in ons visie — om te keer dat ons uiteindelik onherroeplik as ‘n “bevolkingsgroep” sal verdwyn.

    • Menefrego 11 Julie 2012 at 18:24 Permalink

      Ollie, dit is juis waarom die oprigting van die Volkstaat so ‘n nodige proses is – dit gaan ons toelaat om die detritus van gefaalde politiek agter te laat, en die Afrikaners, vir wie hulle volkskap en vryheid eerste kom, saamsnoer as ‘n nuwe, herrese volk. Dis inderwaarheid ‘n uiters nodige proses. In die smeltkroes van offer en stryd, wat in hierdie geval onafwendbaar is, sal iets nuuts geskep word – baie soos die eenheid en nasionalisme wat die oprigting van die Transvaal gekenmerk het (Oo soete gedagte!).

      Mzansi net oorkant die grens sal dien as ‘n wonderlike “sink” vir die Afrikaner se maller liberale, en dit sal ook ‘n wonderlike plek wees vir hulle om genesing te vind van hulle kranke denke, sonder om die res van ons te vertoorn en in gevaar te stel.

      Die Afrikaner is nie uniek in sy onderlinge verskille nie, maar wel in die onderlinge agterdog veroorsaak deur ‘n honderd jaar van Jingoïsme en dertig jaar van verlig-verkramp verdagmakery. Beide hierdie goed gaan ons spoedig agterlaat as die vryheidsproses spoed optel.

  7. Eduard 10 Julie 2012 at 16:32 Permalink

    Du Toit Maritz skryf: “Daar is n groot gevoel onder ons mense dat die kerke, en ja, selfs die Christelike geloof, aan die verbygaan is, of in elk geval minder belangrik is”

    Myns insiens is die ballingskap waarin ons gedompel is regstreeks as gevolg van die toelaat van hierdie Humanistiese selfaanbidding in ons gemeenskappe. Die afsterf van “ankers soos hulle geloof, die gesin, moraliteit” waarna Jaco verwys is ook ‘n uitvloesel van hierdie verandering in wereldbeskouing onder die Afrikaner.

    Die Afrikaner moet altyd onthou dat hy uit keuse homself as geloftevolk aan God verbind het en moet nie verbaas wees dat hy die wind van voor kry terwyl hy sy verlede verloon om by ander gode se altare te aanbid nie.

    Dat ‘n groot gedeelte van die Afrikaner volk homself nou ook blind hou vir die bestaan van God beteken nie dat God en sy voorsienigheid uit die prentjie verdwyn nie.

    • Adi Schlebusch 11 Julie 2012 at 10:48 Permalink

      Eduard, ek kon dit nie beter gestel het nie! Ek lees gisteraand Jesaja 1. Vers 27 sê “Sion sal deur ‘n strafgerig verlos word en die van hom wat terugkeer, deur geregtigheid.” – Dat ons volk onder ‘n strafgerig (binne God se voorsienigheid) verkeer en ons ons tot God self as toevlug moet wend en die humanisme aflê is onontkenbaar!

  8. Du Toit Maritz, Johannesburg 11 Julie 2012 at 07:03 Permalink

    Al wat ek wil doen, is om te beklemtoon dat geen nasie of volk in die wereld 100% verenig om geloof of godsdiens nie. Die sekulere staat het dit juis vir mense moontlik gemaak om ‘n eenheid te wees, as stem hulle nie saam oor Godsdiens nie. Dit onderliggend aan die eenheid van state soos Duitsland, die VSA, ens.

    Ek aanvaar dat daar ‘n geskiedenis en ‘n tradisie is, wat ons moet respekteer: maar die Orania-beweging of enige ander poging om mense te verenig, sal beperk wees tot ‘n klein groepie is hulle ekskulsief gaan wees.

    • Adi Schlebusch 11 Julie 2012 at 10:52 Permalink

      “Die sekulere staat het dit juis vir mense moontlik gemaak om ‘n eenheid te wees, as stem hulle nie saam oor Godsdiens nie.”

      Teokrasie is ‘n onafwendbare kategorie. Alle state is teokraties van aard – hulle verskil net tov wie “god” is? Wie’s die god van die sekulêre staat indien nie die mens self nie? Begrippe soos “wet” en “orde” moet hul definisie van iewers af kry…

  9. BJ de Jager 13 Julie 2012 at 18:20 Permalink

    Protestant Ethic and the Spirit of Capitalism,German sociologist Max Weber (1864 -1920)
    Miskien kan die lees stof meer lig op die onderwerp plaas.

    Die kern gedagte vertaal in Afrikaans.

    Neo-liberale Christenskap

    Die een enkel element wat die Roomse katolieke kerk in al sy onheiligheid verbied het was om te woeker met geld,( Lev 25:36). Woeker met geld is met oorgawe aangeneem deur die gereformeerde doktrine van John Kelvin(Cohen) en so is die klimaat geskep dat voorspoed op aarde en rykdom ʼn seen van bo is. Neem in ag dat God al vooraf geweet het wat elke persoon se toekoms is , so is die voorspoed en rykdom van ʼn persoon dan ʼn moontlike indikasie dat hy ʼn uitverkorene is en dat God nog planne vir hom het. Verder word ʼn voorspoedig en suksesvolle mens outomatiese gesien as ʼn persoon met goeie morele waardes, geestelik en natuurlik. Alles wat goed is word vereenselwig deur ekonomiese onafhanklikheid . So met een enkele ekonomiese komponent van woeker wat met ʼn beweging van ʼn hand en ʼn penveer 451 jaar in berekening gebring was deur calvinisme is neo-liberale Christenskap gebore.

    Die vorming van neo- liberale Christenskap deur John Kelvin verleen die werklike en oorhoofse premissie (op aarde) vir alle Christene om deel te neem in woeker , geld maak en rykdom. Om ryk te wees beteken mos dat jy iets reg doen. Die konneksie is gemaak en ʼn ontskeibare verband tussen die geestelike seen en die natuurlike seen is gevorm. Geestelike bevryding kan net geskiet deur die bewys van aardse rykdom . As jy ryk en voorspoedig is staan jy ʼn beter kans om in die hemel te kom as die gewone man op straat , ongeag of jou rykdom onderhou word deur ongereguleerde kapitalisme (uitbuiting). Die sielkundige begrip is dan dat afhangende van jou rykdom , dit is hoeveelste jy sal wees in die ry wat by die poorte staan. Die kompetisie wat geskep word in die ekonomiese sisteem is dan onbewustelik ʼn geestelike kompetisie vir die heilige ry by die poorte.

    Dit is die sondaars wat swaar kry en jy word gestraf deur ellende indien jy arm is(ongeag die ongelyke speelvelde en pas van super kapitalisme). Die ekonomiese sisteem van kapitalisme is gebaseer op regverdige deelname en is ook ʼn vrye mark waar almal mag deel neem , die probleem is net dat as die onbevoorregtes van die hand na die mond lewe dan is dit ʼn dan onmoontlik vir hulle om deel te neem , so is die vrye mark dan nie regte ʼn vry en regverdige ekonomiese sisteem nie.

    In die jaar 50 N.C het Pieter ”petros-rots” die visserman die eerste apostel waar aan Jesus verskyn het die Roomse kerk gestig en so vir 1500 jaar die verlosser en redder gekaap in die dogmatiese doktrine van die heilige Roomse kerk tot en met die hervorming, oorspronklik deur Martin Luther . In die jaar 1517 het Martin Luther sy 95 klagtes teen die Roomse kerk deur gehamer. Die protestante hervorming was nie net geestelik van aard nie maar het seker vir goeie redes ook ʼn deelname gehad in die einde van feudalisme , nuwe siening in die politiek en die noodsaaklike band tussen die protestante etiek as die ondersteunde basis vir alle werkers wat vrywillig en onvrywillig deel neem in die ekonomiese sisteem van neo- liberalisme wat gebaseer is op die “laissez-faire” model. In ander woorde maksimum profeit sonder die inagneming van die sosiale kostes en voorspoed van werkers.

    Met die wete dat ʼn mens oor vrye wil beskik het die hervormers nog steeds voor gegaan en die “sonde van woeker “ wat totaal en al verbied was in die ou testament op 17 plekke in die Bybel(voorbeeld, Eze 22:12, Lev 25:36, Lev 25:37, Deu 23:19) heilig of te minste aanvaarbaar verklaar. Dit is net interessant dat daar skielik twee verse in die nuwe testament op duik wat woeker voor praat en goed vind word. Die gelykenis van die ponde(voorbeeld, Mat 25:27, Luk 19:23)

    Wetend dat God en sy woord onveranderlik is, is daar net een verklaring vir die verandering van die oorspronklike “sondige woeker” wat in die ou testament verbied was na die aanvaarbare en noodsaaklike deelname in die woeker ekonomie. Die skielike en onverstaanbare verandering in die woord van God kan net verduidelik word deur die vertaling van die Bybel van Hebreeus na Duits deur Martin Luther in die middel van 1530 en die “herskryfing” van die Christelike etiek deur John Calvin wat oorspronklik nie die verkose woeker sonde in gesluit het nie . Glo dit of nie maar ook in die jaar middel 1530,met sy eerste uitgawe van die prinsipale van die Christelike geloof.

    Die geboorte datum van neo-liberale Christenskap het dan plaas gevind in die jare1535 En weer eens word die redder gekaap met die teologiese denke deur Calvinisme met die afleiding dat God premissie verleen het vir die toegepaste “woeker geloof’ vir die laaste 477 jaar.

    • Adi Schlebusch 20 Julie 2012 at 15:09 Permalink

      BJ, Ek het lanklaas soveel snert in my lewe gelees. Jou kommentaar is so pateties, dirt verdien nie ‘n weerlegging nie.

  10. pieter engelbrecht 2 Oktober 2012 at 14:16 Permalink

    As die jeug deel word van ‘n ideologie , word hulle die toekoms en die voortbestaan daarvan. Wen die jeug en jy het volhoubaarheid. Afrikaner kultuur is nie genoeg om volhoubaarheid te verseker – kultuur groei uit eenheidsgesindheid – ouer gevestigde idees moet sin maak vir die jeug ,en aan hulle oorgedra word om verder te onwikkel en te onderhou.So ook is Godsdiens – ‘n lewende verhouding met die Skepper gaan veel meer vermag as blote ‘Godsdiens’.


Lewer Kommentaar

*