16 Oktober 2017 ~ 0 Kommentaar

Orania. Waarom is daar reëls?

Geskryf deur Hannes Snyman

Wanneer ek vanmôre na die rooi Karooson kyk met sy kop wat eenogig skaam, skaam oor die horison loer en die stilte van die nanag deur ʼn paar hoenderhane versplinter word, wonder ek oor die denke van mense.

Die tyd wat ek en vroulief besluit het om Orania ons tuisdorp te maak, het ons geweet sekere kriteria sal in plek moet wees. Ek het ook geweet dat dit belangrik is vir die bestaan van hierdie spesifieke kultuurgroepie. Sekere reëls en sekere regulasies word in plek gesit sodat die veiligheid, die selfwerksame kultuur en die beskerming van hierdie groepie mense wat nie meer welkom in die res van die land is nie, beskerm kan word.

Ongelukkig, liewe vriende en vriendinne, is dit ook waar dat sekere reëls geag word as onbelangrik te wees en ons soms onsself die reg gee om sekere maatreëls as nie van toepassing op ons te maak nie.

Orania bestaan omdat sekere maatreëls in plek geplaas is ter beskerming van ʼn gemeenskap waarvan die trane-reën van verwerping uit ʼn land waarin hulle opgegroei en leer liefkry het, mense waarvan die bloed in strome tussen klippe in die aarde wegsink en waar die stem van die bloed van Abel uitroep na God om verlossing uit hierdie onregverdige bestaan en om ewige vrede.

Soos ons as mens maar soms is, gaan dit oor ons self en wil ons, ons stempel afdruk op ons omgewing. Baie van ons kom Orania toe as ʼn laaste opsie, baie as veilige heenkome, dan is daar van ons wat ons lewens tussen ons eie mense wil deurbring.

Ongelukkig is daar elemente wat nie meer welkom in ʼn reeds donker wêreld is nie en agter die skild van sogenaamde onskuld kom wegkruip. Hierdie elemente wil die reëls verbuig, verbreek en sodoende die beskermingslaag van Orania vir ewig beskadig. Skielik word ʼn 1500 mense se beskermingsbestaan in gevaar geplaas en die wat die oorsaak is, is die wat die heeldag loop en skop teen die prikkels en in die voorste toi-toi linie marsjeer.

Baie van ons het foute gemaak in ons lewe. Die vraag is egter: Is ek bereid om dit op die tafel te sit en erkentlik te wees omdat ek dit ook van andere sou verwag?

“Ons het Orania toe gekom om ʼn veilige lewe te ly.” Is almal se woorde, maar sodra besluite geneem word ter beskerming van hierdie beskermingslaag, word dit as onregverdig en onvanpas afgemaak. Die wêreld verander elke dag en daarom moet elke dag nuwe beskermingsmaatreëls geïmplementeer word om ʼn reeds brose bestaan in die kokon te hou waarin hy tans is.

Julle wat hier wil kom bly, onthou die volgende: Wanneer jy na hierdie veilige heenkome verhuis en jy agter die hoë mure van Jerusalem jou pik en graaf optel, het jy sekere verwagtinge. Is dit nie wys dat jy jou hart sal blootlê en belangrike vrae opreg beantwoord nie? Waarom wil jy sekere dinge onder ʼn dekmantel begrawe en hoop dit word nooit uitgevind nie? Is dit nie ook jy wat eerste sal opspring en vra waarom ʼn moordenaar, verkragter, kindermolesteerder ens toegelaat is waar my kinders elke dag deur die strate loop, waar hulle dag vir dag van die skool en na die skool hulle weg baan nie. Sal jy dan nie uitroep: “Is daardie elemente nie juis van die redes waarom ek my hier kom vestig het sodat ek met hartelus kan werk toe gaan sonder om oor die veiligheid van my gesin bekommerd te wees nie?”

Daar is ʼn rede waarom daar sekere reëls en regulasies is. Hierdie reëls word nie geïmplementeer omdat daar mense is wat daarvan hou om andere te manipuleer nie. Hierdie mense staan elke dag in die spervuur van drastiese en toekomstige probleme waaraan ure bestee word om die regte oplossings oor die lange duur te bedink.

Orania is juis hierdie pragtige, veilige en vriendelike gemeenskap omdat ons mekaar se belange op die hart dra. In die duister wêreld daar buite maak niemand meer saak behalwe ‘ek’ self nie, mense word beroof, vermoor en verkrag in menige sin van die woord en die wêreld draai hul kop weg soos die priester op die pad waar die Samaritaan beroof en vir dood agtergelaat is.

Laat ons nie so wees nie, laat ons hierdie ʼn Eden vir ons mense maak

Laat ons die liefde wat God vir ons oorspronklik geskep het, aan Hom bo alles maar ook aan onse naaste soos ons self, ons lewens uitkyk word.

Laat ons nie ons toelê op die foute van andere nie maar laat Christus met sy liefdevolle lig uit ons binneste skyn as voorbeeld vir andere en die mense sal lok na die knusse armholte van Sy bestaan.

Deel/Stuur

Lewer Kommentaar

*