23 Mei 2014 ~ 12 Kommentare

Orania van dorp tot stad – ‘n nuwe strategie. Boek bied belangrike nuwe strategie.

Geskryf deur Sebastiaan Biehl

Die titel van Frans de Klerk se nuwe boek Orania, van dorp tot stad. ‘n Nuwe strategie is veelseggend. Dit behandel ‘n nuwe benadering tot die verkryging van vryheid vir die Afrikaner in sy eie gebied en behandel ook kortliks Orania se ontstaan en werkwyse.

Laat ek sommer met die intrapslag sê wat dit nie is nie omdat die persepsie wel bestaan het en nog bestaan. Die boek verteenwoordig nie ‘n argument vir ‘n verdere afskaling van die ideaal van staatkundige vryheid vir die Afrikaner nie. Dit is ook nie ‘n nuwe skuif om die aanspraak op selfbeskikking af te water nie en om ons te oortuig dat ons nou maar moet afsien van die ideaal van uiteindelike vryheid en tevrede moet wees met ‘n dorpie of ‘n mini-stadstaat nie.

Wat die boek wel goed beredeneer, is ‘n nuwe strategie om vryheid te bereik onder veranderde omstandighede. Die ideaal van uiteindelike vryheid bly nog dieselfde. Die kernargument van die boek is om die tans nog beperkte energie vir Afrikanerselfbeskikking te fokus op dit wat ons het, die dorp Orania, en om daarvan ‘n voertuig te maak wat ons by ‘n eie gebied vir die Afrikaner uitbring.

De Klerk argumenteer dat ons met die feit van beperkte getalle moet werk. Toe die idee van ‘n volkstaat in die Noordwes-Kaap bekend gestel is in 1989, en later weer in 1996 ook deur die Vryheidsfront ondersteun is, was die verwagting dat binne ‘n relatiewe kort tydperk van enkele dekades duisende Afrikaners hulle in die gebied gaan vestig, asook dat die ANC-regering gewillig sal wees om oor ‘n Afrikanergebied te onderhandel voordat nog iets op die grond tot stand gebring is.

Albei verwagtings is nie vervul nie, maar was terugskouend waarskynlik te naïef gewees. Om verskeie redes het Afrikaners se ontnugtering met die nuwe Suid-Afrika langer gevat as wat diegene wat Orania begin en ondersteun het en wat reeds voor 1994 ontnugter was, verwag het. Van ontnugtering met die oue tot die beywering tot die nuwe is ook nog ‘n redelike groot stap om te neem. Wat die regering betref, het die houding van “daar is plek vir almal in die land, ook Afrikaners” plek gemaak vir een van onbeskaamde swart nasionalisme en is die ANC nie bekommerd oor toenemende frustrasie, onttrekking en emigrasie van Afrikaners nie.

Om dié rede moes Orania sy strategie (nie sy einddoel nie), naamlik om ‘n groot, uitgestrekte gebied redelik gelyktydig te beset met aansienlike getalle Afrikaners, herbedink. Die strategie van verspreiding, om so veel as moontlik grondgebied te beset (wat eie is aan die Afrikaner se voorgeslagte, die Trekboere en Voortrekkers) kon om verskeie redes nie werk nie. Gewillige vryheidstrekkers was min en diegene wat in bestaande dorpe in die aangewese gebied in die Noordwes-Kaap gevestig het, moes besef dat hulle min of geen verskil maak nie omdat hulle met ‘n reeds gevestigde struktuur en ekonomie, wat nie te vinde was vir Afrikanerarbeid nie, te make gehad het. Slegs Orania, ‘n dorp wat van nuuts af opgebou is, het die ideaal vergestalt. Eenduisend Afrikaners wat gekonsentreerd in Orania woon, het ‘n baie groter impak as 100 Afrikaners wat elk in 10 dorpies oor die uitgestrekte Noordwes-Kaap sou woon.

Orania bied die voordeel dat dit reeds onder Afrikanerbeheer is en reeds in ‘n groot mate na sy mense se belange kan omsien en dinge vir Afrikaners kan doen wat geen ander munisipaliteit in die land doen nie. Hier is werk vir Afrikaners, hier is veiligheid, funksionerende dienste en ‘n mate van maatskaplike sorg en opheffing, behuising, goeie opleiding, beskerming en uitbou van ons kultuur, geleenthede vir ondernemers en vele meer.

Wat Orania en sy vermoë om groter uitdrukking aan die Afrikaner se vryheidstrewe te gee beperk, is veral die gebrek aan getalle. Dit maak dat hier tans geen hospitaal en voltydse dokter, geen universiteit of beroepskollege en geen groot nywerhede is nie. Die uitdaging is om Orania tot ‘n klein stad te ontwikkel vanwaar dit moontlik is om ‘n ware enjinkamer te wees vir die vinniger bereiking van die Afrikaner se vryheidsideaal.

Die woord stad mag vir mense uit Johannesburg, Durban of Kaapstad negatiewe beelde oproep van misdaad, vervreemding, besoedeling, verkeersknope, beknoptheid en anonimiteit. Vele stedelinge kom juis Orania toe op soek na ’n idilliese plattelandse bestaan. Die gerusstelling is dat Orania nooit ‘n megastad sal raak nie. Afrikaners se beperkte getalle maak dat ‘n Afrikanerstad Orania heel waarskynlik nie eers 50 000 inwoners sal hê nie en dat dit die voordele van stad en platteland sal verbind. Alles wat nodig is, sal in die stad beskikbaar wees en die lang en duur ritte na die stede onnodig maak. Dit is egter nog steeds ‘n opset waar mense gemoedelik en rustig kan lewe. ‘n Sekere grootte is nodig om die instellings, dienste en werksgeleenthede te kan vestig wat vir die meeste Afrikaners noodsaaklik geword het vir ‘n gehalte lewe. Dit sal ook ‘n deur en deur Afrikanerkarakter hê en die nadele wat met groot stede gepaardgaan, sal nie van toepassing wees nie.

Die Afrikanerstad Orania kan uit die aard van die saak nie sonder omliggende grond bestaan nie. Voedselsekuriteit is uiters noodsaaklik en ruimte bied ook veiligheid. Dus sal daar rondom die kernstad ‘n kleinhoewegebied wees, soos wat die meeste stede het, en nog verderaan sal daar ‘n gordel van plase wees om die kos te produseer.

Die boek Orania: Van dorp tot stad. ‘n Nuwe strategie kan ‘n belangrike rol speel om Afrikaners te laat besef dat Orania werklik ‘n alternatief kan wees.

Deel/Stuur

12 Reaksies op “Orania van dorp tot stad – ‘n nuwe strategie. Boek bied belangrike nuwe strategie.”

  1. A Schlemmer 24 Mei 2014 at 07:24 Permalink

    Hoe beter Orania doen, hoe vinniger sal Afrikaner belangstelling in self beskikking groei. Mense soek werklikhede en ‘n duidelike voorbeeld op die grond om na te jaag.
    Orania maak vordering, maar val huidiglik nog steeds ‘n bietjie kort, om Afrikaners rerig te laat “regop sit”!

  2. G.P. Botha 24 Mei 2014 at 08:20 Permalink

    Orania kan net vorder na gelang van die ondersteuning van die volk.Groot waardering vir almal wat alreeds die ding doen daar op Orania. n Deelstaat in n federasie kan net n tussenstadium wees op die pad na volle onafhanklikheid.

  3. Koos Le Roux 24 Mei 2014 at 12:10 Permalink

    Ek sou graag Frans se boek wil lees. Mag julle Orania inwoners steeds die pas aangee vir Afrikaner denke. Groete uit Namibie

  4. G.P.Botha 25 Mei 2014 at 11:42 Permalink

    Is die toekomsvisie vir n Afrikaanse stad of is dit vir n stad vir die Afrikaner?

  5. Sebastiaan 27 Mei 2014 at 08:47 Permalink

    Gert Botha, dit sal ‘n Afrikanerstad wees, nie net ‘n Afrikaanse stad nie. Daar was ‘n hele paar Afrikaanse stede, soos Stellenbosch, wat intussen Engels en internasionaal geraak het omdat die taal alleen nie genoeg is om ‘n volk en sy kultuur te beskerm en uit te bou nie.

  6. Debbie Trollip 7 Junie 2014 at 08:52 Permalink

    Hoe doen n mens aansoek om daar te bly?

  7. Sebastiaan 9 Junie 2014 at 11:23 Permalink

    Debbie, jy bel Orania Dorpskantoor by 053-2070063 en vra dat hulle vir jou keuringsvorms aanstuur.

  8. Deon 25 Junie 2014 at 17:28 Permalink

    Kan n mens nie met n klein hospitaal begin, en dan uitbrei soos nodig nie, hoe maak n mens nou daar, se as iemand n hartaanval of of iets kry, waar gaan mens dan?

    • Sebastiaan 30 Junie 2014 at 13:09 Permalink

      Deon, hier is ‘n kliniek asook verskeie verpleegsusters. Om ‘n hospitaal te begin beteken geweldige kapitale uitgawes, wat nie deur die aantal mense wat hier woon geregverdig word nie. Verder is dit ook ‘n moeilike proses om toelating te kry. Tans is dit inderdaad so dat die gebrek aan mediese fassiliteite soos wat die stede dit het, ‘n groot privaathospitaal met spesialiste, sekere mense weerhou om hierna toe te trek. Ons sit ‘n bietjie met ‘n “catch 22″ situasie: ons wil graag eersteklas mediese fassiliteite hê, maar daarvoor benodig ons groot getalle mense wat dit gebruik en daarvoor betaal. Groot getalle mense kom egter eers as ons die soort mediese fassiliteite het. Die mediese situasie verbeter egter geleidelik. Dit is deel van die pyne van stadsbou. Intussen moedig ons mense aan om meer gesond te lewe sodat hulle nie so afhanklik van mediese dienste hoef te wees nie. Noodvalmedies soos vir ‘n hartaanval moet egter in plek wees. Ek sal uitvind wat is die situasie daar omtrent.

  9. Robert Mc Kinnon 26 Februarie 2016 at 01:44 Permalink

    Sodra Afrikaners n goeie inkomste kan genereer sal ons stroom na Orania toe. Geldmaak was nog altyd n goeie motifeerder. Nou hoeveel Rand is n goeie inkomste hang van persoon tot persoon af.

    • Sebastiaan Biehl 26 Februarie 2016 at 10:51 Permalink

      Dit is die hoender-eier dilemma. Almal sal kom as daar geld en geleenthede is, maar sonder mense geen geld en geleenthede nie. Daarom haal ek my hoed af vir diegene wat in die begin na Orania gekom het in die wete dat hulle daar nie welvarend gaan wees nie. Al kom jy nog nie nou nie, belê solank in jou toekoms. Sluit aan by die Orania Beweging, belê geld in die Groeifonds of in OSK of koop solank ‘n eiendom.


Lewer Kommentaar

*