26 Julie 2017 ~ 4 Kommentare

Orania se ekonomiese model en die e-Ora

Geskryf deur Sebastiaan Biehl

(Hierdie artikel het oorspronklik in Mei 2016 verskyn en word weens die debat oor die e-Ora en oor Orania se ekonomie met enkele toevoegings weer geplaas).

Talle besoekers aan Orania (en waarskynlik nog meer mense wat Orania nog nie besoek het nie) het die persepsie dat Orania volgens een of ander sosialistiese model bestuur word, omdat ons sê dat ons ‘n gemeenskap is.

Die persepsie is byvoorbeeld dat jy grond nie kan koop nie en dit nie jou eiendom is nie, maar dat jy net ‘n lewensreg het en dit ook nie mag verkoop nie, behalwe aan die maatskappy en sonder wins. Verder is die persepsie dat die dorp se inkomste uit die gemeenskaplike boerdery kom en die inwoners se inkomste na die bestuur toe gaan wat dit dan gebruik vir ontwikkeling en om almal se salarisse te betaal.

Daar is blykbaar ‘n probleem om die idee van privaatbesit en privaatinisiatief met die idee van ‘n gemeenskaplike strewe te versoen. Privaat word gekoppel aan individualisme, en gemeenskap aan sosialisme. Verder is dit blykbaar ook moeilik om te verstaan dat ontwikkeling en voorspoed nie soseer kom uit ‘n maatskappy of bestuur wat alles beheer nie, maar uit verskillende privaatinisiatiewe. “Maar hoe verdien die dorp dan sy inkomste as die landbougrond aan privaatpersone behoort?” word dikwels gevra.

Orania funksioneer met die beginsel van die vrye mark, maar met die gemeenskap as die basis en vryheid vir die Afrikaner as ideaal. Dit is ‘n soort derde weg tussen sosialistiese staatsbeheer aan die een kant, en liberale individualisme aan die ander kant. Sowel die alles beherende staat asook die individualisme kalwe gemeenskappe uit, dus moet ons nie te veel van die een of die ander een hê nie. Ons soek egter groei en ontwikkeling, en dit is oor en oor bewys dat owerheidsinmenging groei eerder belemmer as bevorder en dat die owerheid hoogstens ‘n rol moet speel as inisieerder van ontwikkeling en dan moet onttrek en die bestuur aan ander moet oorlaat.

Dit is nie toevallig dat Libertariërs nogal ‘n groot mate van aanklank by Orania vind, nie so seer oor die ideaal nie, maar oor die praktyk van ‘n gemeenskap met die minimum staatsinmenging. Omdat die staatsfunksie in Orania grootliks afwesig is, word ‘n groot mate daarvan deur Orania-instellings gedoen. Die Dorpsraad, wat dikwels as die regering van Orania beskou word, beperk homself grootliks tot die pligte van ‘n munisipaliteit, naamlik dienslewering. Die Dorpsraad het wel ‘n soort “belasting” tot sy beskikking deur middel van heffings. Die Orania Beweging word befonds uit vrywillige bydrae van lede en ondersteuners. Sekere “staatsfunksies” soos die daarstelling en onderhoud van infrastruktuur, die handhawing van orde, geskilbeslegting, maatskaplike hulp en voorsiening van maatskaplike behuising word deur die Dorpsraad of die Orania Beweging bestuur en befonds. Daar is sowel betaalde amptenare asook vrywilligers wat daarmee gemoeid is.

Die verskaffing van werk, lewering van produkte en dienste word feitlik heeltemal aan die privaatsektor oorgelaat. Die ekonomie is markgerig en vry, en die owerheid meng selde daarby in. In die beginjare van Orania was die ekonomie gereguleer deur ‘n permitstelsel wat slegs een besigheid van ‘n soort toegelaat het. Dit het egter nie gewerk nie en gelei tot bevoordeling van sekere mense en ontevredenheid by ander en is daarom vervang deur die huidige stelsel van vrye kompetisie. Dit is werklik betreklik maklik om ‘n besigheid in Orania oop te maak, dit is slegs die markkragte wat jou sukses bepaal. Daar is egter ‘n hele paar markkragte wat in ag geneem moet word voor ‘n mens ‘n besigheid begin. Die kompeterende voordele van Orania is die gemak waarmee ‘n besigheid oopgemaak kan word, relatief lae huur, goeie veiligheid en goeie werkende infrastruktuur asook ‘n betroubare en nie-korrupte plaaslike bestuur. Die nadele is dat Orania ver van die markte is sowel vir in- as uitvoer, dat die plaaslike mark klein en in talle opsigte oorbedien is en dat die aanbod aan geskikte personeel nie altyd volop is nie. Die Tegniese Sentrum en ander onderwysinstellings in die toekoms sal laasgenoemde toedrag van sake egter aanspreek, en met meer inwoners is daar ook meer geleenthede.

Die basis van die ekonomiese model is dat hier geleenthede geskep moet word om ‘n gesonde gemeenskap te bou, maar dat van die enkeling verwag word om die geleenthede aan te gryp en om nie met die lepel gevoer te wil word nie. Sterk individue vorm sterk gesinne en families en bou sodoende ‘n sterk gemeenskap.

Groot opgewondenheid heers oor die vooruitsigte van ʼn elektroniese Ora. Die Ora as fisiese ruilmiddel word al vir sowat 15 jaar gebruik (parallel met die Rand) en dit werk goed, alhoewel die volle potensiaal nog nie bereik is nie. Soos meer en meer mense deesdae elektronies betaal, sal ʼn elektroniese Ora ook ʼn logiese volgende stap wees wat die ekonomie baie vinniger laat groei. Die tegnologie is in die vorm van selfoonaanwendings reeds beskikbaar en ʼn gemeenskap soos Orania, waar mense mekaar ken en mekaar vertrou, is die ideale terrein vir ʼn plaaslike (elektroniese) geldeenheid. Tyd word gespaar deurdat ʼn mens nie meer bank hoef toe te gaan nie, geld word gespaar deur geen transaksiekoste meer nie. Die geleenthede vorentoe is geweldig en die moontlikheid bestaan self om die Ora eendag van die Rand te ontkoppel.

Deel/Stuur

4 Reaksies op “Orania se ekonomiese model en die e-Ora”

  1. Appie Pienaar 31 Julie 2017 at 18:44 Permalink

    Sebastiaan, ek dink die elektroniese Ora is al ‘n stap in die regte rigting, maar ek is nie heeltemal so opgewonde soos party ander mense hieroor nie. Onderliggend aan die elektroniese Ora, as ek dit reg verstaan, lê nog steeds ‘n klompie Suid-Afrikaanse Rand en waarde verloor in die bank. Hoewel hierdie geld moontlik rente verdien, verloor dit waarde aan inflasie en, in die langer termyn, internasionale koopkrag. Die gevolg is dat as SA se geldeenheid internasionaal waarde verloor weens swak (mensgemaakte) binnelandse ekonomiese faktore, dan verloor die Ora dit ook, ongeag Orania se produktiwiteit. Ander moontlikhede wat ons internasionaal sou beskerm, sou kon insluit goud (ongelukkig slegs Krugerrande), silwer wat dalk meer prakties as goud is, of die sogenaamde ‘blockchain’ tegnologie soos Bitcoin waarvan ek min verstaan, maar wat ek verstaan internasionaal al sy merk gemaak het. Veronderstel ons koop ‘n stukkie silwer met elke Rand wat iemand belê, en koppel dan die Ora aan ‘n sekere gewig silwer. Ongeag wat met die Rand gebeur (byvoorbeeld hiperinflasie), behou die Ora sy waarde want silwer, soos goud, is ‘n effektiewe Randverskanser.

    • Sebastiaan 1 Augustus 2017 at 09:51 Permalink

      Appie, jy is heeltemal reg. Dit sou die logiese stap wees om die Ora ‘n selfstandige geldeenheid te maak wat aan iets met waarde gekoppel is, soos edelmetaal. Maar ons mense is mos maar versigtig vir radikale veranderinge en selfs die Ora word nog nie deur almal gebruik nie. Ons moet egter in die rigting beplan.

  2. Revo (= EK KOM !) 4 Augustus 2017 at 17:36 Permalink

    Kom manne, laat daardie kreatiwiteit ‘n bietjie werk, ons kan mos! Miskien moet ons soos Isra-El van ouds maak en ons goud en silwer van ons vingers, arms, nekke en ore haal en iets nuuts skep!

    Baie sterkte, Re^vo^h

  3. Carin 7 Augustus 2017 at 18:59 Permalink

    Beste in my opinie is dat mens iewers op ń punt kan kom waar onnodige belasting – btw…-uitgeskakel kan word


Lewer Kommentaar

*