23 April 2014 ~ 17 Kommentare

Orania se antwoord op grondgryp

Geskryf deur Sebastiaan Biehl

Vir boere is die skrif al lankal aan die muur. Nie net dat hulle die mees kwesbare slagoffers van moorde is nie, hulle is ook gedurig die teiken van die regering oor hulle grondbesit.
Die nuutste aanslag van die regering is ‘n radikale wetvoorstel waarvolgens boere die helfte van hulle grond aan hulle werkers moet afstaan. Dit is volgens enige Westerse denke van eiendomsreg en voedselsekuriteit totaal verkeerd, maar volgens die Afrika-denke dat die grond aan almal behoort en deur almal benut moet word, logies.

Die stigters van Orania, by name prof Carel Boshoff, het die ontwikkeling al dekades gelede sien aankom en daarom is Orania al in 1991 begin, en nie nou eers nie. Reeds kort nadat Orania aangekoop is, is ook ‘n plaas van 2300 ha bygekoop en opgedeel in besproeiingshoewes van 10-15 ha elk. Dit was die grootte wat een gesin kon hanteer. Enigiets groter sou weer die probleem van massa-arbeid meebring. Destyds het baie boere gespot met Orania se “sukkel-landbou” wat nie “ekonomies lewensvatbaar is nie”. Orania se boere het vir lank swaar getrek en moes wag voor hulle pekanneutbome enigsins opbrengste lewer. Heelwat boere het vinniggroeiende gewasse verbou om net aan die lewe te bly tot die bome opbrengste sou lewer. Terselfdertyd het die boere buite Orania goeie wins gemaak in tye van goeie pryse, en nie eers in hulle wildste drome daaraan gedink om volkseie arbeid te oorweeg nie.

Grondpryse in Orania en die omgewing het reeds geweldig gestyg en ten spyte daarvan is nog grond bygekoop. Orania se gemeenskap het genoeg grond om nie net homself te voed nie, maar ook om uit te voer. Tans is die boerdery nog ingestel op die globalistiese logika om alles op groot skaal en onverwerk uit te voer en dan weer op klein skaal en verwerk in te voer. Maar sodra daar ‘n landboukoöperasie die lig sien wat die aankoop en verspreiding van Orania landbouprodukte koördineer, sal dinge beter gaan. Die omstandighede in die land, soos stakings, duur brandstof en die afskeep van die platteland, sal ons eenvoudig in dié rigting dwing.

Wat die grondopset betref, blyk dit dat die verdeling in kleiner eenhede wat een gesin kan hanteer, die regte besluit was. Dit is uiters moeilik, en boonop moreel onregverdigbaar, om wit gesinne van hulle gesinsplase te dwing met die argument van “gelyke geleenthede” vir swart werkers. Orania se beleid van volkseie arbeid maak hier die groot verskil. Om ‘n boer met duisende hektaar grond waarop hy en sy gesin en verder tientalle swart werkersgesinne woon, te dwing om dit te deel, of selfs weg te gee, is relatief maklik, soos ons in Zimbabwe gesien het. Geen buitelandse regering sal veel daaraan doen nie want die enigste argument van die boere is voedselsekuriteit en eiendomsreg, terme wat in Afrika nie veel werd is nie.

Soos prof Carel Boshoff al jare gelede gesê het: “Wie se sweet op die land drup, dié se land is dit.” Juis om dié rede kan niemand Orania se Afrikanergesinsboere se grond met enige morele regverdiging vat nie en indien dit wel probeer word, sal die hele gemeenskap hulle daarteen verset. In Orania as gemeenskap geld die leuse wat Cosatu gebruik: “An injury to one is an injury to all.”

Deel/Stuur

17 Reaksies op “Orania se antwoord op grondgryp”

  1. Gerhardus 23 April 2014 at 16:03 Permalink

    My gebede gaan uit na die boere se gesinne wat hulle geliefdes deur plaasmoorde verloor het. Ek wonder net elke dag wanneer ons mense gaan sien of waardeur hulle nog moet gaan voordat hulle sal besef ons sal moet saamstaan en dat Orania ‘n werkbare plan het en kom aansluit.

  2. Rianie 23 April 2014 at 19:47 Permalink

    Ek wonder net, wat gaan ons doen sou die regering besluit dat Orania ook onder die swartes verdeel moet word of dat die grond aan n oer oupa behoort het.Hoe gaan ons Orania teen dit kan beskerm?

    • Sebastiaan 24 April 2014 at 08:46 Permalink

      Rianie, in Afrika is daar nooit iets soos absolute sekerheid nie, maar Orania is om bepalde redes heelwat veiliger wat grondgryp betref as ander dele van die land. Ten eerste het hier nooit tradisionele swart gemeenskappe gewoon nie, en daar was baie min grondeise in die groter omgewing. Daar was ‘n grondeis op Kleingeluk, maar dit is afgehandel, dit was ‘n opportunistiese poging om iets te kry uit departement waterwese. So wat grondeise betref is Orania redelik veilig. Verder geld die reel van grond vir jou swart plaaswerkers nie hier nie, want dit is klein plase wat hoogstens een of twee wit plaaswerkers het, maar meesal deur die eienaar self behartig word. Die hele “anti-kolonialistiese” logika (indien dit logies is!) van die ANC geld dus nie hier nie. Laastens kan jy nie ‘n dorp met grond met sowat 1000 mense sommer “toemaak” of onteien nie. Dis baie makliker met ‘n plaas waar net een gesin op woon, soos Zimbabwe gewys het, maar as jy ‘n hele gemeenskap wil skuif dan is dit werklik ‘n geval van grootskaalse verset waarmee jy te doen kry. Feite op die grond en getalle tel meer as ‘n kaart en transportakte in Afrika. In Orania het ons juis feite geskep.

  3. Barend Petrus Uys 23 April 2014 at 21:03 Permalink

    Ek is bitter dankbaar oor elke mens wat ‘n tuiste in Orania kon vind.

    Ek wens die volgende was maar sommer net ‘n voorbeeld, maar dit is nie. Ek is seker daar is duisende sulke gevalle. Jy is ‘n boer in jou vyftigs met matriek. Al wat jy ken en kan doen is boer. Net soos jou pa by sý pa geleer het, het jy by jou pa geleer van boer in hierdie harde hoogland. Jy ken jou wêreld – jy weet watter wind die reën bring en watter wind sommer net waai. Sommige dinge weet jy maar net, jy kan dit nie verklaar nie – dit kom eenvoudig van jare na aan dié grond, jou grond, leef.

    Die laaste paar jare gaan dit swaar, jy oorleef net-net. Jy het jou arbeid afgeskaal tot die barre minimum. Die swaard van ‘n grondeis hang oor jou plaas. Jy kan jou plaas nie verkoop nie, eerstens as gevolg van die grondeis, tweedens omdat daar mense op jou plaas bly (families wat geslagte lank saam met jou familie gesweet en in vreugde gedeel het, maar in minder as 20 jaar tot ‘n reuse risiko en ‘n vyandige opponent verander het) en derdens – jy het hierdie Boergrond, Voortrekkergrond lief. Hoe kan jy iets wat so duur met sweet en trane en bloed gekoop is verkoop? Al aardse goed wat jy het is jou grond en die infrastruktuur, implemente en diere daarop. Daar is nie ‘n belegging of ‘n polis of ‘n Australiese paspoort of ‘n plan B nie. Jou Boerbure word al minder, jou omstandighede al moeiliker en gevaarliker.

    Waarheen? Hoe vorentoe?

    • E Terblanche 26 April 2014 at 01:48 Permalink

      Barend,

      Indien hierdie omstandighede my eie was, dan sou ek as volg ‘n plan van aksie ingestel het:

      1) Raak betrokke of organiseer ‘n plaaswag vir gebiedsbeveiliging. Patrollies help om onbekende en ongewensde mense in die omgewing af te skrik. Raak ook betrokke by ‘n instansie soos Afriforum wat hofgedinge voer om eiendomsreg te beskerm

      2) Neem versekering uit deur by die Orania Beweging aan te sluit en moedig al jou vriende en bure aan om dit ook te doen. Indien almal wat in die referendum “nee” gestem het, maandeliks die R40 lidmaatskap van die Orania Beweging betaal, kan die Orania Beweging genoeg besproeïngsgrond koop om jaarliks meer as 1,000 boere op ekonomiese eenhede te hervestig. Dit sal genoeg geld wees om 6,000 erwe per jaar te diens waarop 20,000 mense per jaar kan vestig. Sodanige ontwikkeling kan binne 1 jaar ‘n weerbare bevolking en alternatiewe ekonomie daarstel wat vir ons mense ‘n veilige hawe daar sal stel ongeag wat in Suid-Afrika gebeur. Loop dinge goed, het ons in elk geval geleenthede vir behoeftige Afrikaners geskep en vir Afrikaans ‘n vastrapplek gegee wat nie maklik losgewikkel kan word nie, loop dinge sleg, bied Orania vir ons elkeen ‘n oord van toevlugting. Dit alles teen die prys van 4 liter melk per maand.

      • Jan Coetser 27 April 2014 at 14:25 Permalink

        Dankie Ebert. Ja, inderdaad is die feite wat jy by punt 2 aanraak die roete om te volg. Ons mense besef nog nie wat alles vermag kan word deur slegs net’n geringe bydrae te maak. Ongelukkig het talle soortgelyke versoeke wat in die verlede tot volksorganisasies gerig was wynig opgelewer, en is dit net die Orania Beweging en enkele ander wat die werking hiervan insien. Maar miskien is dit nou weer ‘n goeie tyd om hierdie taak aan te pak, en kan daar dalk op die volksgenote wat in volgende week se verkiesing hulle steun vir die VF+ en ook die FN gaan uitbring, gefokus word om hierdie poging te ondersteun. Dit is tog hierdie mense, tesame met die VVK se ondersteuners, wat die selfbeskikkingsideaal nastreef. Maar dan moet die bemarking hiervan aangepas word,en moet die voordele van deelname aan die poging, uitgebeeld word op die wyse wat jy hier doen. Naamlik, dui aan: die hoeveelheid grond wat aangekoop kan word, die werksgeleenthede wat geskep kan word, erwe wat gediens kan word, boere en ander volksgenote wat gevestig kan word, hospitale, skole, universiteite, en meer wat opgerig kan word. M.a.w. die GROOTPRENTJIE. Ons mense moet kan sien hoeveel werklik vermag kan word, indien ‘n honderdduisend of meer volksgenote elkeen maandeliks net ‘n bydrae van R40.00 sou maak. ‘n Plan moet beraam kan word om die leierskorps van die VF+, FN en VVK, asook ander organisasies wat die selfbeskikkinsideaal goedgesind is, van hierdie poging se haalbaarheid te oortuig.

  4. Marie Delport 23 April 2014 at 22:17 Permalink

    Ek sal graag wil hoor of julle nog onderwysers benodig. My man is in Menslike Hulpbronne by Eskom ‘n Praktisyn. Ons gesin is sterk christelik. Ons is in die 50’s en ons kinders, ook in die onderwys, in hulle 20’s. Ek begin regtig bid vir uitkoms vir ons gesin. Ons bly tans in Witbank. Enige raad?

    • Sebastiaan 24 April 2014 at 08:39 Permalink

      Marie, ek verstaan die skole hier brei uit en soek van tyd tot tyd onderwysers. Kontak gerus vir Orania Volkskool by 053-2070161, of Orania CVO-skool by 053-2070177.

  5. tulp 24 April 2014 at 09:35 Permalink

    ” Laastens kan jy nie ‘n dorp met grond met sowat 1000 mense sommer “toemaak” of onteien nie. Dis baie makliker met ‘n plaas waar net een gesin op woon, soos Zimbabwe gewys het, maar as jy ‘n hele gemeenskap wil skuif dan is dit werklik ‘n geval van grootskaalse verset waarmee jy te doen kry.”-

    Hierdie is ook, hoekom Orania moet vinnig groei 10.000 inwoners toe. Die situasie moet so wees, dat die regering, ook al sal hulle wil, teen die sitasie op die grond niks kan doen nie. Om hierdie rede ook moet die Orania-bestuur met planne kom om meer Afrikaners in Orania in te laat kom as nou gebeur. Dit kan natuurlik net gebeur, as daar ook werk is vir die nuwe mans wat in kom. Dus, die Orania-bestuur moet met n werkskeppingsplan kom vir, om mee te begin, se maar enkele honderde nuut inkomende Afrikaners –

    • Sebastiaan 25 April 2014 at 09:07 Permalink

      Jy is heeltemal reg. Ons groei veels te stadig. Wat ons tans die meeste etrughou is nie soseer die gebrek aan werksgeleenthede nie, maar die gebrek aan bekostigbare, of eintlik enige soort behuising, veral te huur. Ondersteun Orania Beweging se Steen vir Steen Projek sodat ons nog meer woonstelle kan bou.

  6. T Theron 25 April 2014 at 11:42 Permalink

    Sebastiaan, ek stem saam met wat jy se. Voorts net ‘n opmerking: as die huidige onwettige regering tog sou besluit om met een of ander slenter Orania te konfiskeer is daar baie meer Afrikaners en goedgesindes as net die Orania mense wat sal teenskop – nie met hol woorde nie, maar met die daad by die woord ast’ware. Ons wil ook daar kom vestig maar kan dit nie onmiddellik doen nie. Orania is vir ons ‘n ‘heimat’land en die kern van ‘n soewereine volkstaat. Dit maak vir my geen saak wat die res van Suid-Afrika se oor Orania nie. Dit is die enigste plek op die aarde waar die Afrikaner sy taal, godsdiens, kultuur en God gegewe vryheid kan uitleef tussen sy eie mense. Wanneer Orania se mense bedreig sou word sal ons eendragtig kom saamstaan !!!

    • Sebastiaan 28 April 2014 at 08:32 Permalink

      Dit is goed om te hoor. Ek reken ook dat Orania intussen ‘n gekoesterde plek vir Afrikaners geword het, selfs al bly hulle nie daar nie, en dat Orania se mag, as ek dit so kan stel, groter is as slegs sy inwoners. Dankie aan al die uitwoners, ons waardeer julle bydrae van harte!

  7. Johan 28 April 2014 at 08:57 Permalink

    Ek sal graag ook iets wil byvoeg tot die debat asb. Ek woon tans in Transvaal en het onlangs afgetree. Ek het my huis nou verkoop en oorweeg tans ‘n paar opsies. By navraag in Pretoria, kon ek nie een Aftree Oord vind wat 2 slaapkamer huisies vir minder as R 1.2 miljoen verkoop nie! Nou wonder ek net, het Orania die kapasiteit on erwe uit te le in ‘n aftree gebied waar so 200 -300 huise gebou kan word? Die een aspek van Orania wat ek waarneem is dat eiendomme tans in baie gevalle buite verhouding duur is en dat baie mense eenvoudig nie kan bekostig om in Orania te koop nie. Indien die dorpraad grond het wat aan mense vehuur kan word vir ‘n nominale bedrag vir se 10 -15 jaar, kan mense vr hulle huise daar kom bou. Orania is ‘n deeltitel projek, so ek dink dat so iets miskien afgetredes kan lok om in Orania te kom woon?
    Groete,
    Johan

    • Jaco Kleynhans 28 April 2014 at 12:10 Permalink

      Johan. Die probleem hiermee is dat dienste na erwe aangelê moet word. Die Dorpsraad kan nie dienste aanlê en dit dan verhuur nie. Hulle moet erwe verkoop om die fondse in te kry vir die aanlê van die dienste. Ons kan ook nie grond verhuur en mense dan daarop laat bou nie. Aan wie behoort dit dan? Orania is nie ‘n deeltitel nie, maar wel ‘n aandeleblokskema. Dat hier ‘n tekort aan eiendom is, is ‘n feit, maar boukoste is ook baie hoog en dit is waarom huispryse soveel styg. Ons kan nie nuwe huise goedkoper bou as die prys van bestaandes nie.

    • Sebastiaan 12 Mei 2014 at 15:56 Permalink

      Hier is darem aftreehuise wat heelwat minder as 1.2 miljoen kos. Kyk gerus of http://www.afsaal-op-orania.co.za

  8. Johan Strydom 5 Mei 2014 at 20:37 Permalink

    Hoe wonderlik was dit nie om te lees van n plek waar mense woon wat hul GOD en SY gebod nog voor enigiets anders stel. Waar mense nog vir mekaar tyd het en nie kyk waar hulle hul medemens kan inloop of verkleineer.Ek en my wederhelfte sal wat wou gee om deel van Orania te wees.Die probleem is ons het alles verloor deur ons “medemens” te vertrou. Hardwerk is nie n probleem maar om n werk te kry om te oorleef is nie so maklik op ons ouderdom(69 en 63) Kan nog n goeie dag se werk lewer.Wens so dinge was anders dan het ons verseker aansoek gedoen om ons daar te vestig tussen “ons” mense. Sterkte met die groot werk wat julle doen.


Lewer Kommentaar

*