02 November 2017 ~ 6 Kommentare

Orania se 10 moet-doen-dinge

Geskryf deur Monja Strydom

‘n Mens kan nie net deur Orania ry en dink jy verstaan die gemeenskap nie. Orania is ‘n komplekse dorp. ‘n Dorp waarvoor mens lief raak hoe meer tyd jy daar bestee. Die volgende aktiwiteite is ‘n MOET vir elkeen wat daarop wil roem dat hy/sy Orania beleef het.

  1. Koffie saam met die presidente

Pak ‘n piekniekmandjie, ‘n flessie koffie of sommer net ‘n skemerdrankie en stap die kronkel-klippaadjie op na die bokant van die beeldekoppie. Die beste tyd van die dag hiervoor is rondom sononder. Dit is glad nie ‘n lang of moeilike klim nie. Wees tog net versigtig vir die haak-en-steek bome langs die pad. Moet nie hiervan ‘n vinnige op-en-af-aktiwiteit maak nie. Spandeer tyd daarbo, probeer al die vorige eerste ministers en presidente uitken sonder om na die naamplaatjies te kyk. Indien ‘n ouer persoon saamstap en ‘n bietjie van die geskiedenis kan vertel-soveel te beter!

Jy is in die geselskap van legendes-besef dit, waardeer dit.

 

  1. Swem na die Vrystaat

Die Oranjerivier vorm die grens tussen die Noord-Kaap en die Vrystaat. Indien jy dus oor die rivier swem is jy aan die Vrystaatkant. Dit is moeilik om aan die anderkant van die rivier uit te klim as gevolg van die baie riete. Pluk dus sommer net ‘n rietblaar as bewys dat jy hierdie aktiwiteit afgehandel het dan mag jy “swem na die Vrystaat” van jou lysie afmerk! Hierdie is een van my persoonlike gunsteling aktiwiteite, maar moet met die nodige respek vir die magtige Oranje aangepak word. Verskeie mense het al baie benoud en sonder asem uit die water geklim. Die rivier is meesal baie rustig en op dele so vlak dat mens amper kan deurstap, maar wanneer die sluise oop is, kan jy onverwags gevang word – maak seker jy weet wat om te doen as die stroom te sterk raak vir jou uitgeputte arms.

 

  1. Klim die Orania-koppie

Die Orania-koppie was ironies genoeg vir die grootste deel van Orania se leeftyd nie deel van die Orania-grondgebied nie. Tog is dit so kenmerkend aan Orania. Hierdie koppie is op privaatgrond en dit is belangrik om eers met die relevante persone te reël voor die koppie geklim word. Daar is iets magies daaraan om so uit die hoogte op ‘n dorp neer te kyk. Die uitsig oor die besproeiingslande is besonders en selfs die Oranjerivier kan van bo af gesien word. Die warm klippe bo op die koppie is ook ‘n baie stimulerende omgewing vir filosofiese gesprekke!

 

  1. Drink ‘n Orania bier

Orania het meer as een brouer. Beproef die bier. Beproef die geselskap. In Orania drink ons nie ons bier gejaagd nie. Dit kan ‘n hele middag in beslag neem.

 

  1. Begeleide toer deur die dorp

Jy was moontlik al ses keer in Orania, maar glo my (as iemand wat al 22 jaar hier bly): mens leer elke keer iets nuuts op ‘n toer. Dit gun ‘n mens ook die geleentheid om al jou opgekropte vrae vir die regte persone te vra. Onthou dit is gratis!

 

  1. Hoekie vetkoek

Onder in Kleingeluk is daar ‘n klein winkeltjie genaamd “Die Hoekie”. Die eienaar is tannie Sarie Botes. As jy nog nie een van haar vetkoeke geëet het nie, kan jy nie sê jy was al in Orania nie. Om die waarheid te sê ek dink nie jy kan sê jy het al geleef as jy nog nie ‘n Hoekie-vetkoek geëet het nie.

 

  1. Neem ‘n paar kiekies

Elke goeie Orania-uitwoner (en inwoner) behoort die volgende drie foto’s te hê: ‘n foto by die Orania-woord (daar is een by Stokkiesdraai en een by die rugbyveld), ‘n foto by die koeksistermonument en ‘n foto by die Orania (mosaïek) trappies.

 

  1. Swem in Orania se dorpswembad

Dit kos slegs R10 per volwassene. As jy die hele vakansie in Orania gaan deurbring is dit ‘n finansieel slim idee om ‘n maandkaartjie te koop. Ons swembad is silwerskoon en baie goed onderhou. Kom beleef ‘n regte gemeenskapswembad. Daar is ook snoepie met die heerlikste roomys en die waarskynlikheid is groot dat jy ‘n frisbee of rugbybal gaan sien wat rondgegooi word.

 

  1. Kom kyk ‘n Afrikaanse film

Besoek Sterreland filmteater en kyk jou gunsteling Afrikaanse film. ‘n Taal is waarskynlik die enkelgrootste faktor wat een kultuur onderskei van ‘n ander. Afrikaans is ons taal. Om produksies in Afrikaans in die hartjie van die Afrikanerstad te beleef is nie net opvoedkundig nie, maar ook baie spesiaal.

 

  1. Woon ‘n Orania erediens by

Laaste maar nie die minste nie…

‘n Kerk is een van die plekke in ‘n gemeenskap waar ‘n mens die gemeenskap die beste kan leer ken. Dit is as ‘t ware die hart van die gemeenskap. As jy ‘n gemeenskap se eredienste/aanbiddingsbyeenkomste bygewoon het, het jy een van die heel intiemste dele van die gemeenskap beleef. Sy ware kultuurkleure. Kies ‘n gemeente en woon ‘n diens by. Kom sing saam, aanbid saam, lofprys saam en as jy ‘n klaar is geniet ‘n koppie tee of koffie saam met die gemeentelede.

 

Kom merk hierdie aktiwiteite af as jy Orania weer besoek. As jy al tien afgemerk het, kan jy maar met oortuiging vir jou vriende vertel jy het Orania besoek en werklik belééf.

Deel/Stuur

6 Reaksies op “Orania se 10 moet-doen-dinge”

  1. Sarel Roets 2 November 2017 at 10:26 Permalink

    Monja van die huis Strydom.

    Eg aan jou huis se karakter, ken jy die geleenthede in Orania sowel as die waarde van n Avontuurlike Orania ervaring! 😉

    Goeie praktiese artikel wat ek graag deel!

    • Monja Strydom 3 November 2017 at 07:47 Permalink

      Dankie Sarel! Hopelik lê daar nog baie avontuur vir ons en ons nageslag op Oraans voor.

  2. Jan Sempels 2 November 2017 at 11:18 Permalink

    Ek volg die politiek vanaf een baie ver plekkie, my rekenaar tuis, in Europa ( België) en ek volg ook julle aan die oranjerivier. Wat hou die toekoms in vir julle ?? Met al die grondeise wat besig is om te gebeur, een regering wat hard probeer om dit wat blank is te verwyder, malema wat staan en skree, opskrifte soos: land or death. Hoe gaan julle dit wat julle het opgebou behou? Heers daar dan nie een soort van vrees dat hulle dit ook gaan kom vat nie? Julle vooruitgang slaan my soms met verstomming en natuurlik is daar dan die behoefte om daar deel te kan van uitmaak en tog is daar dinge wat my teën hou. Ook wens ek julle natuurlik alle voorspoed met julle planne om nog te groei, dit is net positief en tog is daar by my twyfels of dit almal sal bly geduld word. Miskien is ek te negatief, ek sien dit as meer waaksaam.
    Ek wens julle alle sukses toe vir julle planne vorentoe, mag alles wat julle nog wil doen bewaarheid word.
    Jan.

    • Monja Strydom 3 November 2017 at 08:35 Permalink

      Dit is werklik lekker om te weet ons ondersteuningsbasis in die res van die wêreld groei. Dit is nie vir almal moontlik om in Orania te woon nie, maar gelukkig is daar baie ander maniere om hier betrokke te wees as net om hier te woon.

      Wat die vrees vir die diskriminasie/grondgrype/Malema betref: ons vrees slegs ons Almagtige Vader. Ons verloor egter nie tred met die realiteit nie en probeer om altyd voorbereid te wees op enige situasie wat hom mag afspeel. Dit is ook daarom dat ons, ons vriende in die buiteland se ondersteuning waardeer.

      Dankie vir die mooi wense-dit is deur harde werk en baie genade dat Orania vandag is waar dit is.

  3. Roland Clarence 2 November 2017 at 22:48 Permalink

    Voorspoed daar in Orania en groete van Cairns Queensland Australie.Al 5 jr hier en….wel in baie opsigte beter as Kuvukiland.Maar sal nooit my plek wees nie,ek noem dit groot brittanje want dit is! En as ek Engeland wou getrek het sou ek…So dis kinders groot maak en dan aan beweeg Te as toe.Intussen verlang ons maar en bid vir almal in Kuvukiland.
    Groete

  4. Roelien 14 November 2017 at 14:55 Permalink

    Monja
    Hierdie stukkie gaan ek beslis uitdruk en in elke besoeker se hand druk. Dankie.

    Ek sal wel nog iets by voeg..nl: Huur n fiets en trap tot by die trap en dan…Stap die trap – Die Holm-kunswerk kan waardeer word.:)


Lewer Kommentaar

*