26 Junie 2013 ~ 15 Kommentare

Orania: My-hart-se-punt-dorpie

Geskryf deur Nikke Strydom

Orania: My-hart-se-punt-dorpie
Daar word dikwels beweer dat ouers hulle kinders ‘n oneer aandoen deur hulle in Orania groot te maak. Daar word dikwels beweer dat Orania kinders geïsoleerd grootword. Daar word dikwels beweer dat Orania se kinders aanpassingsprobleme het as hulle die ‘buitewêreld’ aandurf. Daar word dikwels beweer dat Orania se kinders geen sosiale lewe het nie. Daar word in wese dus eintlik beweer dat Orania-kinders eintlik ‘n bejammerenswaardige lewe lei.
Min wetende…
Orania is my grootword-dorpie. My hart-se-punt-dorpie. My gunstelingvakansiebestemming.
Ek het in Orania grootgeword, ek het my skoolloopbaan in Orania begin, en matriek in Orania geskryf. Ek het in Orania mens geword. Jonk gebly en grootgeword. Pret gehad en verantwoordelikhede geleer. In Orania kon ek kind bly én grootword, op ‘n wyse wat in min ander Suid-Afrikaanse dorpe nog moontlik is.
Vir my is grootword in Orania tekenend van teenstellings, op ‘n goeie, positiewe, verrykende manier. In Orania word kinders vry groot. Hulle klim boom. Hou middernagfeeste op grondpaaie gebaai in maanlig. Ry in die na-nag in groepies van ses of sewe met fietse huis toe na kuiers – vol geselsies en in verwondering oor die Karoo se sterre. Orania-kinders hou gereeld nog moddergevegte langs die rivier, of swem vir ‘n dag en ‘n nag oor na ‘n eiland in die rivier, bak brood op warm klippe, slaap onder die sterre. Ervaar witwater in die Oranje. Dans in die pad, dans op die dak, dans in De Boer, dans onder die sterre, in die sonlig en maanskyn. In Orania kan kinders nog kind wees, nog pret hê, nog daagliks gelukkig gaan slaap.
Maar in Orania kan kinders ook reeds vroeg groot wees. Verantwoordelik word. Orania is ‘n internasionale toeriste-/studente-/navorsersaantrekkingspunt. Ek kan persoonlik nie aan ‘n enkele vakansie in Orania dink waar ons nie met internasionale studente gekuier het nie. Meestersgraadstudente uit Brasilië, finalejaarstudente uit Nederland, honneursstudente uit Poland. In Orania leer kinders vroeg reeds ook om met internasionale joernaliste te praat, te redeneer. Om idees met oorsese parlementslede te deel. Om gesprekke met grootkoppe van die ANC te hê. Om ministers en premiers te ontmoet. Om voor televisiekamera’s te praat en direkte televisie-uitsendings na Duitsland te beleef.
Maar meer as dit leer Orania-kinders van klein-klein af hoe om verantwoordelikheid vir hulle dade te neem. Orania-kinders word groot met ‘n mentaliteit van indien ons dit nie doen nie, gaan niemand anders dit vir ons doen nie. Orania-kinders soek nie verskonings nie, hulle soek oplossings. Hulle skrik nie vir probleme nie, hulle werk dit uit die pad uit. En dis nie toevallig nie. Dis omdat Orania haar kinders goed grootgemaak het.
So ‘n bietjie meer as twee dekades gelede het mense dieselfde van Orania gesê. Gesê dat dit ‘n onbegonne taak is om só ‘n dorp op te rig. Dat dit nie haalbaar is nie. Dat dit onuitvoerbaar is. Maar Orania met sy handjievol inwoners het teruggegkyk, gevra “Hoekom nie?” en vandag lag sy in hulle gesigte.
Mense het vir Orania-kinders ook gesê dat hulle nie sal kan aanpas nie. Vandag maak Orania-kinders ‘n sukses van hulle lewens. Presteer hulle op universiteitsvlak. Kry hulle Golden Key-toekennings. Word hulle senior navorsers in groot firmas. Kry hulle agt onderskeidings in matriek. Volg hulle suksesvolle loopbane as ingenieurs. Is hulle kompeterend in wetenskap-, sport- en skaakkompetisies. Vandag is hulle ambassadeurs vir hulle taal en kultuur, of hulle nou aan Maties, Tukkies of by Potch studeer – Orania-kinders maak hulle merk. Hulle skop stof op. Hulle swem provinsiaal. Hulle stoei vir hulle provinsies. Van hulle werk vir ‘n jaar oorsee. Van hulle word op internasionale uitruilprogramme gekies. Hulle doen goed vir hulleself. 100% van die Orania-kinders (drie van hulle) wat in 2012 aan Tukkies gestudeer het, het op die universiteit se Studenteparlement gedien.
Hoekom? Want Orania leer haar kinders vroeg al om hulleself te handhaaf. Om na hulle eie regte om te sien. Om verantwoordelikheid vir hulle toekoms te neem. Dis hoe hulle grootgeword het. Dis wat hulle ken.
Orania is my liefling-dorpie. Orania is my avontuur en my rustigheid. Orania is my vesting. Orania is my droom.
Orania is nie net ‘n dorp nie, Orania is ‘n lewenswyse, dis ‘n mentaliteit. Dis ‘n toekoms. My toekoms. Jou toekoms. Orania is óns toekoms.

Deel/Stuur

15 Reaksies op “Orania: My-hart-se-punt-dorpie”

  1. Anthony Schlemmer 27 Junie 2013 at 09:27 Permalink

    Pragtig Nikke !

  2. Maritza 27 Junie 2013 at 14:28 Permalink

    Ek het hierdie leesstuk geniet. Maak my hart sommer BLY!

  3. Ester le Roux 27 Junie 2013 at 20:20 Permalink

    Nikke, so pragtig!

    Onthou jy hierdie 5jaarfees-gediggie:

    Orania, my Volkstaatdorp
    jy het my land
    my plek geword
    in jou wil ek werk
    in jou wil ek woon
    in jou wil ek leef
    in jou wil ek droom
    So
    werk-werk
    woon-woon
    leef-leef
    droom-droom
    sal ek vir die wereld se:
    Vir jou wil ek he!

    • Nikke 13 Augustus 2013 at 16:05 Permalink

      Ah ja! Ek onthou dit so goed en staan baie lukrake oggende op wat daardie liedjie in my kop vas sit!

  4. Marna Swart 27 Junie 2013 at 23:52 Permalink

    Jy verwoord en vat dit so goed saam!!
    Jy is self ‘n Orania-sukses! 😉

  5. DavidO 28 Junie 2013 at 03:12 Permalink

    BRAVO !!!

  6. Salome de Beer 28 Junie 2013 at 09:01 Permalink

    Ek dink dit is fantasties om daar te bly.Julle doen baie goeie werk vir ons nasie.Mag julle groot en sterk groei.As ons kon,sou ons ook al daar gewees het.

  7. Adriaan 28 Junie 2013 at 11:36 Permalink

    Stem

  8. Sebastiaan 1 Julie 2013 at 14:53 Permalink

    Baie mooi Nikke. Trots op so n trotse Oranier.

  9. Piet 13 Augustus 2013 at 15:55 Permalink

    Ek is hier onder in die Kaap en voel saam met julle bly. Ek sou wat wou gee om saam met my gesin hier te bly en te deel in hierdie pragtige oasis van my tipe mense, kultuur en geloof. Julle is baie bevoorreg!

  10. Sarel Roets 15 Augustus 2013 at 09:43 Permalink

    Goed gedoen Nikke! Ek gaan dit so bietjie leen en versprei.

  11. stefan pieterse 15 Augustus 2013 at 10:13 Permalink

    Nikke jyt van n paar avonture vergeet! Springhase jag, toktokkie, appelkose steel, en nuwejaarsmakietie by die karavaanpark.Baie mooi stuk

  12. Herman Fyfer 30 Augustus 2013 at 10:51 Permalink

    Dankie Nikke!
    Weskus groete.

  13. Johann 23 September 2013 at 15:46 Permalink

    Ek het nie in Orania groot geword nie, ek het op die platteland groot geword, in Bethal, Mpumalanga om presies te wees. Daar is ek gebore, geNG kerk, geskool tot matriek uit, voor ek die Pretoria studentelewe kom opsoek het.

    In 1994 was ek 10 en in standard 2. In vandag se tyd is dit graad 4. Die oorgang na demokrasie het ek maar min van geweet.

    In Bethal was die grootword lewe rustig. Amper soos wat elke ouer vir sy kinders wens. Ek en my sussie was in goeie model C laer-en-hoërskole. Na skool het ons aan sport deelgeneem. My Ma het halfdag gewerk, so sy kon ons rondry na al ons aktiwiteite, maar as dit nodig was, het ‘n maatjie se ma of die fiets ook die ding gedoen.

    Wanneer ons huiswerk klaar was dan kon ons altyd saam vriende kuier. Dit was gewoonlik in die oop velde of by die dam in die dorp. Saans het ons ook geloop en droogmaak. vrugte gesteel, toktokkie gespeel of oor ander huise se mure geklim om in hulle swembad te swem. Die lewe in Bethal was goed.

    Tog, so goed as wat die lewe was, moes daar altyd voorsorg getref word. Geen ouer wou hulle kinders op straat hê na donker nie. Nie net oor die sprake van satanisme wat begin kop uitsteek nie, maar misdaad was ‘n werklikheid. Ek onthou ‘n keer wat ons die skool se noodplan moes oefen, net vir as iets fout gaan. Dit het ook so gebeur.

    Eendag het die nood sirene afgegaan. Almal het vinnig in netjiese rye in die middel van die skool bymekaargekom. Ek onthou die twee menere in bruin army klere en lang R1 gewere wat agter die geboue deurhardloop. Daar was ‘n rooftog in die dorp, ‘n wilde skietery het ontstaan en polisie voertuie het op en af in die strate gejaag. Ek kan nie die uiteinde onthou nie. Ek onthou wel die dag wat my vriend amper ook in ‘n wilde jaagtog amper omgery en raak geskiet is.

    Een oggend het ons uitgeloop kar toe en Ma se blou golf was weg. Hy is in die nag gesteel, so ook my Pa se fiets op ‘n ander geleentheid. ‘n Ander keer moes my Pa inderhaas garage toe jaag in die nag. Daar is ingebreek by Oupa se garage het die polisie gesê. Albei het hulle wapens gehad. Ek het hulle dit nooit sien gebruik uit nood uit nie, maar hulle sou as dit moes.

    So het Sarel ook eendag aan ‘n elektriese kabel geraak wat op die grond gelê het. Die dood was amper ‘n werklikheid vir hom. Dit was swak instandhouding deur die munisipaliteit se skuld, nie syne nie.

    Oom Smiley van die huis oorkant die pad, het amper sy hele gesin op een slag verloor toe sy bakkie ‘n groot slaggat in die nag getref het en dié toe gerol het. Dit was swak dienslewering se skuld.

    Ek het nie van Orania se bestaan geweet nie totdat ek hier aangeland het. My eerste kennismaking was in my eerste jaar as joernalistiek student. Ek kan nie onthou dat dit ‘n slegte beskrywing was nie, maar ‘n goeie een was dit ook nie. Ek het my eerste Oraniër eers in 2006 ontmoet. Ek was toe 22.

    In 2012, na baie jare se dreig het ek die dorpie vir die eerste keer besoek. Vandag het ek baie vriende wat van daar afkom, eintlik, van my beste vriende kom van daar af.

    Orania is amper soos Bethal, net met sy moue opgerol en sonder die misdaad en bekommernis. Al die mense in Orania is ryk. Hulle is ryk in geloof, ryk in kultuur en taal, ryk in innoverende denke en ryk van behulpsaamheid. As ek na Orania kyk sien ek ‘n lewende afrikaner volk in werking.

    Orania is ook my toekoms, dit is ‘mos’ ‘n hart-se-punt dorpie daai

    • Jaco Kleynhans 24 September 2013 at 10:34 Permalink

      Een van die mooiste kommentare nog op hierdie blog. Dankie daarvoor!


Lewer Kommentaar

*