15 September 2017 ~ 13 Kommentare

Orania en Maslow se piramied van behoeftes

Geskryf deur Sebastiaan Biehl

Abraham Maslow was ‘n Amerikaanse sielkundige van Russies-Joodse herkoms wat van 1908-1970 gelewe het. Hy is veral bekend vir die hiërargie of piramiede van menslike behoeftes wat na hom vernoem is. Maslow het ʼn positiewe beeld van menslike behoeftes gehad, wat hom van Freud en ander onderskei, wat veral seksuele drange as bepalend aansien. Daarteenoor het elke mens volgens Maslow die strewe na selfverwesenliking, na die oplos van probleme en die verbetering van hulle toestand, nie net materieel nie, maar ook wat emosionele en intellektuele behoeftes betref. Sy bekende piramied van behoeftes identifiseer 5 vlakke van menslike behoeftes, van die laagste en mees basiese tot die hoogste. Mense wat die hoogste vlak van selfverwesenliking bereik is gelukkig, moreel goed en fisies en geestelik gesond.

Heel onder aan die hiërargie is die fisiese behoeftes waarsonder niemand kan lewe nie, soos kos, water, skuiling en klere.

Op die volgende vlak lê die behoefte aan veiligheid en sekuriteit. Dit bevat behoeftes soos gesondheid, om ʼn werk en private besittings te hê en om met mense te sosialiseer.

Nog ʼn vlak hoër is die vlak van liefde en om te behoort en dit verteenwoordig die menslike behoefte aan vriendskap, intimiteit, gesin en familiebande en die gevoel om te behoort.

Die volgende vlak is die selfbeeld: ʼn mens se behoefte aan selfvertroue, respek wat jy van ander ontvang, die strewe om iets te bereik en om ʼn unieke individu te wees.

Heel bo is die vlak van selfverwesenliking: om moreel op te tree, om ʼn doel te hê, ʼn roeping of bestemming na te volg en om jou innerlike potensiaal te bereik. Alhoewel Maslow dit nie genoem het nie, aangesien hy nie ʼn Christen was nie, is hier ook die vlak waar jy met die metafisiese, bonatuurlike in aanraking kom. Vir Christene kan daar geen werklike selfverwesenliking wees sonder ʼn verhouding met God nie.

Wat het Maslow se piramiede met Orania te doen? Die strewe na ʼn eie plek, gebied of selfs staat vir Afrikaners het nog altyd die aanspraak gehad om die hele spektrum van ons mense, sowel as individue asook as deel van ʼn unieke volk, se behoeftes te vervul. Uit die aard van die saak kom die basiese behoeftes soos behuising, kos, water en krag en ʼn inkomste eerste, anders bly die Afrikanerstaat net ʼn droom. Ons kan egter nie stilstaan by die bou van huise en die skep van werk nie. Om, soos die Marxiste, die menslike behoeftes bloot tot die fisiese en materiële te beperk, skiet tekort. Dit is juis om die rede dat die nuwe Suid-Afrika met sy sosialistiese uitgangspunt misluk. Ongeag daarvan hoeveel duisende huise gebou is en hoeveel mense voedselhulp en gratis medies en basiese dienste gekry het, as daar nie ook in die mense se behoefte aan ‘n betekenisvolle lewe voorsien word nie, deur veiligheid, goeie opleiding en ‘n klimaat van goeie morele waardes, sal Suid-Afrika net meer en meer ‘n mislukte samelewing word. Om eweneens wit plakkers op groot skaal in Orania te vestig deur gratis huise en welsynstoelae los nog geen probleem op nie, inteendeel, dit skep nuwes.

Orania se doel kan ook nie net tot ‘n veiligheidsoord gereduseer word nie. So belangrik soos wat veiligheid is, en so trots soos wat ons op ons rustige en veilige bestaan is, as dit al is waaroor dit gaan dan was dit nie nodig om al die moeite te doen nie. Jy kan veilig wees op jou eiland, soos die geval is met talle sekuriteitskomplekse in die stede, maar jy bly deel van ‘n omgewing waar jy jouself nie kan uitleef nie, waar jou taal nie gepraat word nie, geen gemeenskapsgevoel bestaan nie, godsdiens nie ‘n rol speel nie en alles om die materiële draai.

Vir ʼn ryk en vol bestaan op alle vlakke van die menslike behoefte is om deel te word van ʼn gesin, familie en gemeenskap, en die ontwikkeling van jou potensiaal en die metafisiese veral belangrik. ʼn Gesonde samelewing kan wel nie jou persoonlike geluk waarborg nie, en ook binne ʼn gesonde samelewing is party mense diep ongelukkig, maar die invloed van die omgewing moet nie onderskat word nie. Jy kan jouself ook beter verwesenlik in ʼn samelewing waar jou kultuur, taal en waardes uitgeleef word. Daarom is dit nie maar net ‘n oorbodige luukse om dig- of sangwedstryde, kultuuraande, lesings, kunskursusse en vertonings te hou nie. Diegene wat kla dat geld wat op ʼn kultuurfees of vir opvoeding gespandeer word, eerder vir nog behuising gebruik moes word, verstaan nie die Orania-konsep nie. Die dinge lê op die hoogste vlak, naamlik die selfverwesenliking deur skepping en die ontwikkeling van die innerlike potensiaal.

Maslow was nie ‘n Christen-gelowige nie, en daarom word op die hoogste vlak ook net die breë term van moraliteit genoem. Die heel hoogste sport van die mens se innerlike behoefte (as God dit opwek) is ‘n liefdesverhouding met God. Alhoewel dit ‘n persoonlike saak is, speel die omgewing en samelewing daarby ‘n groot rol. Dit is makliker om dit binne ‘n samelewing te bereik wat Christelik is en waar kerkbywoning, bid en Bybel lees algemeen is, as binne ‘n sekulêre of ateïstiese een. Daarom moet ons by ons strewe nooit vergeet nie dat eer aan God heel bo moet staan.

Deel/Stuur

13 Reaksies op “Orania en Maslow se piramied van behoeftes”

  1. Ernst Marais 16 September 2017 at 06:47 Permalink

    Soos altyd, baie stof tot nadenke.
    Mens kry sekerlik in Orania – soos elders – n stratifikasie van mense op die verskillende vlakke van Maslow.
    Anders as in ander gemeenskappe sal diegene wat hulself op laer vlakke van Maslow in Orania bevind, hul nie wend tot plundering en vernietiging nie.
    Is dit as gevolg van die beleid van keuring of groter innerlike trots, behorende tot ‘n Volk en gemeenskap?

    Wat opmerklik is is hoe sentraal die Kerk in die 1800’s in die pioniersgemeenskappe van suidelike Afrika was.
    Sutherland, Luderitz, Windhoek, Keetmanshoop, Cradock om maar enkeles te noem – het imposante kerkgeboue.

    Maar die kerke se invloed neem om ‘n verskeidenheid van redes af.
    Is mense nou minder moreel of vind die uitlewing van Maslow se hoër vlak behoeftes toenemend buite die Kerk plaas?

  2. Hanno Visagie 17 September 2017 at 05:34 Permalink

    Staan op die waarheid dat die Afrikaner hoofsaaklik van Europese (hoofsaaklik Nederlandse, Duitse en Franse) afkoms is, Afrikaans as huistaal praat en Christus volg. Mense van ander etniese bevolkingsgroepe soos die Khoi-San en huistaal-Engelssprekers is nie ook Afrikaners nie.

    • Sebastiaan Biehl 18 September 2017 at 08:19 Permalink

      En wie het iets anders gesê? Waar lees jy dat Afrikaner se afkoms bevraagteken word?

      • Hanno Visagie 25 September 2017 at 15:06 Permalink

        Afrikaners is sedert Weggee de Klerk se 1990-6-verraad skepties oor nuwe planne en aksies. “Once bitten twice shy.” Die indruk is dat te veel halwe waarhede voorgehou word, bv dat Orania ‘n selfbeskikte Afrikanerstaat is, terwyl Orania in werklikheid ‘n Suid-Afrikaanse private dorpsontwikkeling sonder Afrikaner-onafhanklikheid is. Mense se lojaliteit en patriotisme word gewen deur die gebruik van die term “Afrikaner”, maar by navraag wie as Afrikaners aanvaar word, word ‘n valse “inklustief getransformeerde Afrikanervolk” voorgehou, waar rieldansende Xhoi-San en huistaal-Engelssprekers ook as Afrikaners ingesluit word, soos bv deur die Afrikaner Society / Genootskap, die Kaapse Federale Alliansie, die Wes-Kaapse AksieForum, die Wes- en Noord-Kaapse Vryheidsfront Plus, die Cape Party, die Afrikaanse Taalraad, die Afrikaanse Taalkommissie, die Afrikaanse Taalmonument en Museum, die ATKV en selfs Orania en Afriforum. As ‘n mens as Afrikaner hierdie instansies op hul webwerwe beskaafd probeer reghelp, word ‘n mens geblokkeer asof jy polities inkorrek, rassisties en verdelend sou wees. Baie jongeres wat kan, emigreer eerder as om hulle weer op die integriteit van “Afrikanerleiers” te verlaat.

        • Sebastiaan 26 September 2017 at 13:53 Permalink

          Ek verstaan die gevoel van “once bitten, twice shy”, en dat behoudende Afrikaners verraai voel en leiers nie maklik meer vertrou nie. Orania word gewoonlik van “rassisme” en “isolasie” beskuldig as ons omonwonde stel dat ons ‘n plek vir Afrikaners is. Op hierdie stadium kan ons nie meer as ‘n Afrikaner-privaatdorp wees nie, want al bly die volkstaat ons ideaal, kan ons nie nou voorgee dat ons dit het of sommer binnekort sal kry nie. Ek is ook geirriteerd oor joernaliste en liberale besoekers wat gedurig vra of XYZ wat alles behalwe ‘n Afrikaner is ook hier mag bly. Jy moet egter besef dat dit absoluut die doodskoot vir Orania en sy strewe sou wees as ons begin met apartheid-era toetse van pigmentasie, voorgeslagte, haarkrulle ens. Ook daarsonder is dit so dat 26 jaar na Orania se stigting dit nog steeds ‘n Afrikanergemeenskap is, want soort soek soort. Ja, hier is ‘n handjie vol Engelssprekendes, gewoonlik die wat getroud is met ‘n Afrikaner. Moet ons hulle uitsluit, al skakel hulle in die gemeenskap in en praat Afrikaans in die openbaar? Dit is nou maar so dat die Afrikaner en Engelsprekendes heelwat vermeng het oor die jare as “wit volk van Suid-Afrika”, maar ons stel dit pertinent dat Orania nie ‘n wit dorp is nie, maar ‘n dorp of gemeenskap met ‘n Afrikanerkultuur en -identiteit. Soos Appie tereg geskryf het moet ons as Orania en Orania Beweging ook bande bou met sekere groepe met gedeelte belange, al stem ons nie altyd oor alles saam nie, of al deel ons byvoorbeeld net een of twee belange, soos die beskerming van Afrikaans.

    • Appie Pienaar 26 September 2017 at 08:40 Permalink

      Hanno, ek stem saam met jou definisie van Afrikaners – kan nie dink dat iemand met jou daaroor sal wil stry nie. Tog kan jy nie wegredeneer dat dat daar ander gemeenskappe in die land is wat ook Afrikaans as huistaal het en wat net so lief soos ons is vir Afrikaans nie. Wat is jou probleem as organisasies soos die Afrikaanse Taalraad of die ATKV hulle beywer vir Afrikaans, en dan alle sprekers van Afrikaans intrek? Die ATR of die ATKV gee hulle tog nie uit as uitsluitlike Afrikaner-organisasies nie. Hulle veg gewoon vir Afrikaans as taal, en spoor alle Afrikaanssprekende gemeenskappe aan om saam daarvoor te stry. Om Orania egter daarvan te beskuldig dat hulle hulle beywer vir ‘n “inklusief getransformeerde Afrikanervolk” waarvan rieldansers deel is, is gewoon twak. Was jy al in Orania?

  3. Madam Roxy 22 September 2017 at 02:33 Permalink

    Naand my naam is… Roxy ek het n verloofde en twee kids ek spartel
    Om al di maande uit te kan vind kan ons verhuis van Bloemfontein na
    Orania maar niemand kan my se nie asb mag ek terug voering kry met al di
    Inligting asb leker dag

    • Sebastiaan Biehl 22 September 2017 at 11:38 Permalink

      Ek stuur vir jou inligting. Alle vrae oor Orania wat nie direk verband hou met die artikels op die blog moet gestuur word na inligting@orania.co.za

  4. Hanno Visagie 2 Oktober 2017 at 15:31 Permalink

    Sebastiaan en Appie, Lees weer wat ek hierbo geskryf het. Moet my asb nie woorde in die mond lê of selfopgestelde strooipoppe afskiet nie. Ek bly redelik op hoogte van wat die meeste betrokke instansies en hul leiersfigure skryf. Ek volg van hulle of kommunikeer met van hulle op sosiale media. Ek praat nie nonsens nie. Staan op die waarheid dat die Afrikaner hoofsaaklik van Europese (hoofsaaklik Nederlandse, Duitse en Franse) afkoms is, Afrikaans as huistaal praat en Christus volg. Mense van ander etniese bevolkingsgroepe soos die Khoi-San en huistaal-Engelssprekers is nie ook Afrikaners nie. (Ns. Ek kry geen boodskappe van bg webblad dat hier response op my kommentaar is nie. Julle is egter ook welkom om met my hieroor verder op my facebookblad te kommunikeer.)

    • Sebastiaan Biehl 3 Oktober 2017 at 14:17 Permalink

      Hanno, ek verskil nie van jou oor die omskrywing van ‘n Afrikaner nie. Ek sien net nie die verband met die artikel nie.

      • Hanno Visagie 5 Oktober 2017 at 09:58 Permalink

        “Wat het Maslow se piramiede met Orania te doen? Die strewe na ʼn eie plek, gebied of selfs staat vir Afrikaners het nog altyd die aanspraak gehad om die hele spektrum van ons mense, sowel as individue asook as deel van ʼn unieke volk, se behoeftes te vervul.”

        • Sebastiaan Biehl 5 Oktober 2017 at 13:53 Permalink

          Afrikaners, ons mense, volk. Waar sien jy “Engels” en “Khoisan” in die artikel?

          • Hanno Visagie 11 Oktober 2017 at 10:46 Permalink

            Kom ons gesels op my of jou facebookblad, tensy jy kan reël dat ‘n mens ‘n kennisgewing van hierdie blad kry dat hier ‘n respons wag vir ‘n antwoord asb.
            Daar is ‘n neiging by leiersfigure om die gevestigde begrip van Afrikanerskap polities gedienstig ONGEMERK en STILLETJIES te probeer “inklussief transformeer” om ook bv Khoi-San en huistaal-Engelssprekers in te sluit. En dan vervolgens seker ook ateiste en homoseksuele.
            Ek het dit soos jy sal weet al dikwels breedvoeriger uitgewys. Ek word egter dikwels polities korrek geblokkeer, want mense wil ongemerk met hulle misleiding voortgaan.


Lewer Kommentaar

*