08 April 2014 ~ 9 Kommentare

Orania: die vrye mark of sosialisme?

Geskryf deur Sebastiaan Biehl

Een persepsie wat besoekers dikwels van Orania het, is dat dit wat ons as “Orania se grond” beskryf, dus grond wat aan inwoners van Orania behoort of mense wat volgens die Orania-beginsels (veral volkseie arbeid) werk, aan die Dorpsraad behoort en as kollektiewe plaas bestuur word, waar almal op sosialistiese manier saamwerk en dan die grootste deel van die opbrengs aan die bestuur aflewer, wat die opbrengs dan weer aan die inwoners teen goedkoop pryse te koop aanbied.

In dieselfde denkpatroon val ook die idee dat die Dorpsraad huispryse moet vasstel en mense van buite moet subsidieer om in Orania te kom vestig en dat die Dorpsraad, of watter Orania-instansie ook al, werk moet skep vir Afrikaners.

Kom ons begin voor: Dit is al genoeg kere bewys dat die sosialistiese stelsel ‘n totale mislukking is, ongeag in watter land of onder watter omstandighede dit toegepas is. Orania sou al tot niet gewees het as dit volgens sosialistiese beginsels bestuur was.

Die vryemarkstelsel het ook sy beperkinge, maar werk, en kan ook hier en daar aangepas word, soos die Duitse kansellier Konrad Adenauer na die Tweede Wêreldoorlog bewys het met die “Sosiale Mark-ekonomie”.

Dit kom daarop neer dat die beginsel van die vrye mark bly funksioneer, omdat dit die mees doeltreffende stelsel is vir die skep en verspreiding van produkte en dienste, maar dat negatiewe gevolge, soos uitbuiting en oormatige ongelykheid deur die staat getemper moet word.

Orania is nog in ‘n groeifase en in terme van ‘n staat of gemeenskap nog baie jonk en eintlik maar nog steeds in ‘n (meer gevorderde) pioniersfase. Besighede betaal dikwels nog lae salarisse in vergelyking met die res van Suid-Afrika, maar hulle het ook ’n relatief klein omset. Die Orania- instansies gryp nie hier in nie en bepaal byvoorbeeld nie minimum-salarisse vir elke werkskategorie nie, alhoewel elke werknemer nog steeds die Suid-Afrikaanse arbeidswetgewing moet nakom, en daar ‘n soort aanvaarde minimum-salaris vir ongeskoolde werk bestaan, wat heelwat hoër is as buite Orania.

Wat Orania se instansies, by name die Orania Beweging se Helpsaamfonds, maar ook kerke, wel doen, is om mense wat ekonomies sukkel te help. Daar is byvoorbeeld subsidies vir skoolgeld want ons wil hê dat elke Afrikanerkind in Orania goeie opleiding ontvang om in die toekoms ‘n ordentlike werk en inkomste te kan verdien. ‘n Verdere uiters belangrike ondersteuning is die skep van bekostigbare huurbehuising. Eiendomspryse kan nie deur die owerhede vasgepen word in ‘n vryemarkbestel nie, maar die owerhede kan deur subsidiering van behuising die pryse wat heeltemal oorboord gegaan het, dwing om af te kom.

Op die landbouterrein is elke boer vir sy eie stuk grond verantwoordelik, maar die Orania-gedagte kom in by die beginsel van volkseie arbeid en samewerking rondom die waterverspreiding en oes van produkte. Welvarende ondernemers is goed vir Orania want hulle spandeer hulle geld in die dorp en skep meer werk vir mede-Afrikaners.

Deel/Stuur

9 Reaksies op “Orania: die vrye mark of sosialisme?”

  1. kanwilsal 8 April 2014 at 17:50 Permalink

    Elke persoon wat sy grond besit, besit sy grond!! Die vraag na politieke trou is ʼn ou een, en die meeste teorieë kom daarop neer dat een of ander eienskap van ʼn “staat” regverdig wat mag onteien, tot ʼn mate natuurlik. Ek dink beide terme word misverstaan. Niks fout met sosialisme nie en niks fout met ʼn suiwer vryemark nie, solank daar uitdruklik ingestem word na enige van die twee of ʼn mengsel daarvan. Op ʼn lokalistiese grondslag kan jy enige ideologie reg bewys. Ek kan op lang relase afgaan oor die Marxistiese geskiedenis van die mandragon stelsel en waarom selfs daardie stelsel meer vryemark as sosialisties is. Die punt is dat dit nie werklik saak maak nie, die vraag wat eerder gevra moet word is nie of dit sosialisties of kapitalisties is nie, of watter ideologie dit is nie: Maar eerder of dit lokalisties is of nie en of dit uitdruklike instemming vereis al dan nie.

  2. Rianie 8 April 2014 at 20:08 Permalink

    Ek glo baie van ons wil in Orania gaan woon maar 1: Duur behuising. In ag genome dat die meeste huisies 1 of 2 slaapkamers is, nie n garage het nie en eintlik terrepin huisies is wat n tydelike struktuur is, is die pryse hemel hoog. 2: Aangesien die salarisse minder is as in ander dorpe, is dit onlogies om die huise teen daardie pryse te verkoop.

    Ja, ek weet julle kan nie die eienaars dwing om sekere pryse te vra nie omdat dit n vryemark stelsel is. maar soos met enige dorpsraad, word huise gewaardeer volgens lewensvatbaarheid, ligging (ensovoorts) en dis die riglyn waarvolgens huise verkoop word. Hier skiet Orania ver te kort. Ook n negatiewe punt is die feit dat die finansiele instellings nie finansiering verleen vir huise in Orania nie en ek dus kontant moet koop. En (daardie) klas geld het ek nie en ek glo baie van ons wanna-be Oraniers is in dieslefde bootjie.

    So na mense geluister, is dit die grootste klagte en die grootste struikelblok vir ons gewone mense om deel te word van Orania.

    Kan julle nie n vergadering met die huis eienaars reel nie en hulle te vra om hul pryse op eiendom in heroënskou te neem nie? Dit sal tot voordeel van almal wees. Hoe meer mense kan bekostig om daar te woon, hoe meer kan Orania uitbrei en hoe meer fondse kan binne Orania bly.

    My hart trek met n punt Orania toe.

  3. Marthinus 8 April 2014 at 21:14 Permalink

    Ek is bly Rianie het die struikelblok opgebring.Wat ek graag wil weet:wat verhoed my of enige ander besigheidsman/dame om 40 eiendomme/erwe te bekom en dan daardie selfde eiendomme te bemark gelykstaande aan `n stranhuis te Plet?

    • Hendrik l 15 April 2014 at 22:23 Permalink

      Daar is min wat iemand verhinder om 40 huise te koop….behalwe Die Mark. As iemand egter 40 huise in Orania wil koop om geld te maak, moet hy miskien eers begin met Een, en kyk of dit werk. As hy wel finansieel sterk genoeg is om 40 huise (wat dan blykbaar reeds relatief te duur kos vir hulle Orania-waarde) gelyktydig kan koop, maak dit dalk veel meer ekonomies sin dat hy 40 nuwe doelgerigte, groen, ergonomiese huise bou, en dan daaruit geld maak.

  4. Sebastiaan 9 April 2014 at 13:15 Permalink

    Rianie, ek is dit met jou eens dat huispryse dikwels nie realisties is nie, veral nie vir voorafvervaardigde huise. Ek het self tot onlangs in die eiendomsmark in Orania gewerk en eienaars probeer oortuig om pryse af te bring, maar al wat ek bereik het was dat sekere mense kwaad geraak het en eerder hulle eiendom self bemark het. Verder nog dit: moenie skrik vir hoë pryse nie, maar ‘n aanbod en die wat werklik wil verkoop sal afkom, die ander wou in elk geval net ‘n bietjie speel.
    Marthinus, as jy ‘n ontwikkeling vir vakansiehuise wil doen, byvoorbeeld langs die Oranjerivier op die plaas Vluytjeskraal Noord, praat met die toepaslike instansies soos Orania Dorpsraad of Vlutjeskraal Noord se korporasie. ‘n Voorlegging moet gedoen word.

  5. Simon 13 April 2014 at 00:21 Permalink

    “In dieselfde denkpatroon val ook die idee ……… dat die Dorpsraad, of watter Orania-instansie ook al, werk moet skep vir Afrikaners.”

    Die dorpsraad en Orania Beweging kan self net soveel werk skep maar kan wel teoreties werkskepping ondersteun deur b.v. dit vir entrepreneurs prakties so maklik as moontlik te maak om besighede vanuit Orania te bedryf.

  6. Hendrik l 15 April 2014 at 22:24 Permalink

    Daar is min wat iemand verhinder om 40 huise te koop….behalwe Die Mark. As iemand egter 40 huise in Orania wil koop om geld te maak, moet hy miskien eers begin met Een, en kyk of dit werk. As hy wel finansieel sterk genoeg is om 40 huise (wat dan blykbaar reeds relatief te duur kos vir hulle Orania-waarde) gelyktydig kan koop, maak dit dalk veel meer ekonomies sin dat hy 40 nuwe doelgerigte, groen, ergonomiese huise bou, en dan daaruit geld maak.


Lewer Kommentaar

*