19 Julie 2017 ~ 1 Kommentaar

Opgeskote Tuinwerkers

Geskryf deur Gaby Leone

 

As jy soos ek nie juis opgewonde raak oor die vooruitsig van ’n Saterdagmiddag se grond gaan losmaak in die tuin, stel ek jou aan jou nuwe tuinwerker voor: Die erdwurm. As jy ’n goeie tuiste vir hom skep, gaan hy jou grond los, deurlug, bemes, waterhoudend en goed gestruktuureerd hou. Erdwurms hou van klam grond vry van chemiese plaagmiddels met molm op.

 

Op ons stukkie land het ons met aansienlike grou tot sover nog net op omtrent tien erdwurms afgekom. Op ’n erdwurmsoektog by ’n kollega het ek toe nog 5 bygekry, wat ek sorgvuldig in my tonnelbed begrawe het. Hopelik sal die getalle gou aangroei. In ons erdwurmplaas het ons wel baie ‘red wrigglers’, maar dis ’n soort ingevoerde erdwurm wat nie goed deug nie vir tuinbeddens nie.

 

Erdwurms eet organiese materiaal en help dat dit so vinniger in die grond afbreek. Hulle mis is waardevolle plantvoedsel en soos wat hulle afsterf, voed hulle die grond ook. Hulle kanaaltjies in die grond laat lug en water in en wortels kan so ook makliker versprei. Minder algemene kennis is dat erdwurms ‘n gommerige stof afkei wat gronddeeltjies bymekaar hou. Dit is baie belangrik omdat dit wind – en water gronderosie help verminder.

 

Ons wurmplase voorsien ons met erdwurmkompos wat ek gereeld in die grond inwerk en wurmtee, my vloeibare misstof en blaarvoeding vir my groente. Ek is op die oomblik besig met ’n eksperiment met my wurmdromme. My wurmboeke sê dat my red wrigglers glad nie minustemperature sal verdra nie, maar klaarblyklik is dit nie so nie. My dromme staan in my tonnel met ’n kombers (- ‘n regte ene!) – bo oor gegooi en ofskoon ek een oggend laas week eers deur die gevriesde boonste lagie grond moes kap, was hulle daaronder nog heel lewendig en op en wakker daarby. Ek sal julle op hoogte van sake hou.

 

Deel/Stuur

Een Reaksie op “Opgeskote Tuinwerkers”

  1. Revo (= EK KOM !) 26 Julie 2017 at 17:44 Permalink

    Beste GABY, jy moet asb met hierdie projek aanhou want dit gaan onsettend belangrik vir ons vorentoe word. Waar het jy in die lewe gesien dat mens sulke ywerige, goed geprogrammeerde GRATIS werkslui tot jou werksmag kan voeg om so ‘n uitsonderlike en lewensbelangrike taak te verrig!?

    Ek slef probeer hier in Kamptonpark erdwurms wat ons by die viswinkel koop, in te werk. Die vervlakste Hadida’s dink egter anderste en stroop my komposhoop gereeld. Miskien moet ek ‘n plastiek daaroor sit om hulle te keer.

    Innige groete, Revo.


Lewer Kommentaar

*