01 Maart 2017 ~ 8 Kommentare

Ope brief aan ʼn oorlede vriend. Het Orania ʼn kans?

Geskryf deur Klaus Baron Von der Ropp

Uit Duits vertaal deur Sebastiaan Biehl

 

 

Dr. Klaus von der Ropp, die outeur van ‘n fiktiewe brief aan wyle prof. Carel Boshoff, is ‘n Duitse regsgeleerde, deskundige en navorser met ‘n langdurige en diepgrondige kennis van Afrika en ‘n besondere band met die Afrikaner. Hy was een van die eerste (en baie min) meningsvormers wat die gedagte van ‘n volkstaat en ‘n etniese opdeling van Suid-Afrika ondersteun het.

Beste Carel!

In ʼn tyd waar ons in Duitsland talle gruwelike nuus uit Suid-Afrika ontvang, dink ek met besondere vreugde terug aan ons talle gesprekke die afgelope dekades. Dit het alles begin met ʼn lang brief van my wat op 13 Desember 1974 onder die opskrif “Südafrika muss geteilt werden (Suid-Afrika moet opgedeel word)” in die belangrikste Duitse dagblad, Frankfurter Allgemeine Zeitung, verskyn het. Dit is voorafgegaan deur gesprekke met die ervare Afrika-korrespondent Herbert Kaufmann. Ons het al twee gehoor dat die ANC-leier en latere ontvanger van die Nobelprys vir Vrede, Albert Luthuli, aan die einde van die 1940’s ʼn voorstel aan die nuutverkose Eerste Minister van die Nasionale Party, Daniel Francois Malan, gemaak het om die land weens die uiterste heterogeniteit van sy bevolking vreedsaam tussen wit en swart Afrikane op te deel. Malan het dit hoogmoedig van die hand gewys en daarop aangedring dat die sedert eeue heersende blankes eensydig die grense sou trek. So het, opbouend op die nalatenskap van die Britse koloniale moondheid, die stelsel van “aparte ontwikkeling” of apartheid ontstaan. Dit was ʼn buitengewoon onregverdige stelsel, wat heeltemal te reg deur die nie-blanke bevolking en toenemend deur die buiteland beveg is.

Jy het dit afgekeur! Jy het dit as moreel en magspolities onvolhoubaar verwerp! Jy het as een van min wit Afrikaners die moed van jou oortuiging gehad om dit hardop uit te spreek en jy was bereid om die eensame pad van die dissident te stap! Anders as die orige wit dissidente, soos byvoorbeeld my liewe vriend Christiaan Beyers Naudé, het jy ook, te reg met die Duitse teoloog Helmut Gollwitzer die vereiste uitgespreek dat die wit minderheid in Suid-Afrika van hulle vrees om hulle voortbestaan bevry moet word. Of, soos die (Duitse) voorsitter van die Liberale Internasionale, Otto Graf Lambsdorff dit in die middel 1980’s in ʼn gesprek met Van Zyl Slabbert kort en bondig uitgedruk het: ”Wit veiligheid is die sleutel tot swart vryheid en ontwikkeling.” Die vereiste was, soos wat die groot Duitse denker, die Sosiaal-Demokraat Egon Bahr in ʼn onderhoud met die Hamburgse koerant Deutsches Allgemeines Sonntagsblatt op 10 Julie 1977 dit geformuleer het, om ” ʼn tot dusvêr onbekende model van ʼn gelyke saambestaan met spesiale beskerming van minderhede”, of, soos dit in Engels genoem word, “copper-bottomed guarantees of existence” te ontwikkel. Jy, Carel, en ek, ons het altyd saamgestem dat so iets onder die omstandighede van Suid-Afrika slegs bereik kan word as ʼn tuisland vir minderhede uit die oorblywende Suid-Afrika uitgesny word, vergelykbaar met Israel in die Midde-Ooste as onafhanklike staat wat deur die wêreld erken word. Nie net op ekonomiese gebied nie, sal die twee opvolgstate vervolgens ten nouste saamwerk, tot voordeel van die hele vasteland.

Die staat van die etniese minderhede sou heelwat kleiner en ook armer in grondstowwe wees as die ander, van die swartmense (ten minste polities) beheerde staat. Met die oplossing van die interne probleme van Suid-Afrika sou ook, so het ons al twee gehoop, die gevaar van ʼn wêreldwye konflik oor die beheer oor Suid-Afrika verhoed word. Niemand minder as die reeds genoemde Egon Bahr het vir sy genoemde onderhoud die opskrif “Sonder ʼn onderhandelde skikking is die gevaar van ʼn derde wêreldoorlog heeltyd aanwesig” gegee. Destyds was in die Weste die bekommernis aanwesig dat die twee deur radikale bevrydingsbewegings geleide state Zimbabwe en Suid-Afrika hulle vir die produksie van en handel met essensiële grondstowwe na die voorbeeld van OPEC saam met die Sowjet-Unie in ʼn kartel sou saamsluit. Verder was daar eensgesindheid in die Weste dat die destyds nog baie lewenskragtige see- en lughawens van die Republiek Suid-Afrika nie deel van die Oosterse invloedsfeer moet word nie.

Ons gesprekke het daartoe gelei dat ek saam met die Duitse geograaf Jürgen Blenck in die middel van 1976 in die tydskrif Aussenpolitik (Buitelandse Sake) ʼn baie breedvoerige opstel, aangevul deur toepaslike kaarte, onder die opskrif “Verdeling van Suid-Afrika as oplossing?” gepubliseer het. Ons het destyds ʼn tweedeling langs ʼn lyn Sishen-Bloemfontein-Port Elizabeth voorgestel. Die toeval wou dit so hê dat die artikel slegs drie weke na die begin van die opstande in Soweto en Langa verskyn het. Ooreenkomstig was daar groot internasionale radeloosheid en daarom ook ʼn groot belangstelling in die artikel. Die enkele kundiges onder diegene wat Suid-Afrika dophou, het nou dieselfde vraag gevra, waarmee kort daarna die Duitse Kanselier Helmut Schmidt in Mei 1977 die onbekwame Amerikaanse Vise-President Walter Mondale tydens sy besoek aan Duitsland verras het. Mondale het gesê die Weste moet alles denkbaar doen om Suid-Afrika te dwing om sy beleid van Apartheid te oorkom. Schmidt se antwoord was net die lakoniese vraag: ”And replace it with what? (En waarmee gaan ons dit dan vervang ?”). Carel, jy sal onthou dat die internasionale belangstelling in my en mnr. Blenck se artikel verder gestyg het, nadat niemand geringer as die belangrike Amerikaanse publicist CL Sulzberger die artikel onder die opskrif “Eluding the last ditch” in die New York Times en International Herald Tribune (al twee van 10 Augustus 1977) positief bespreek het.

Blenck en ek kon op die min presiese oorwegings van die Suid-Afrikaner van Duitse afkoms, Alfred Hoernle (1945), asook van die Amerikaner van Litouse afkoms, Edward A Tiryakan (1967) voortbou. Al twee het ʼn saak uitgemaak vir dit, wat later die Suid-Afrikaner Van Zyl Slabbert “sacrifial partition” van die Republiek van Suid-Afrika genoem het. In Duitsland het benewens talle, meesal ondersteunende artikels ook twee eweneens positiewe opvolgopstelle verskyn, naamlik van Uwe Halbach in Europa Archiv (7/1977) en van Martin Pabst in Aussenpolitik (3/1996), en van my as reaksie die opstel “Is Territorial Partition a Strategy for Peaceful Change in South Africa?” in International Affairs Bulletin (Braamfontein 6/1979). Uiteindelik het, wat vir jou, beste Carel, van besondere betekenis was, Erich Leistner, destyds direkteur van die Afrika Institut in Pretoria, die opstel in hulle South African Journal of African Affairs in die begin van 1977 laat herdruk, met die versoek aan die lesers om kommentaar te lewer. Belangrik was vervolgens die artikel wat die internasionaal gerekende ekonomiese wetenskaplike Gavin Maasdorp in die boek “Conflict and Compromise in South Africa”, wat deur Amerikaner Robert Rotberg en die Suid-Afrikaner John Barratt (wat 1980 in Lexington uitgegee is), gepubliseer het. Dit moet opgemerk word dat alle outeurs die deur my en Blenck berekende verdelingslyn Sishen-Bloemfontein-Port Elizabeth oorgeneem het.

 

Jy, beste vriend, het tot die baie min Afrikaners behoort wat vir my en Blenck verstaan het. Vir ons, soos vir jou, het dit daaroor gegaan om apartheid te oorkom sonder dat eers “al die variasies van barbarisme” (Breyten Breytenbach) julle land grondig sou vernietig. Maar jy was in goeie geselskap, byvoorbeeld van Wimpie de Klerk, waarskynlik ook van Gerrit Viljoen, Lawrie Schlemmer, Deon Geldenhuys, Breyten Breytenbach, Fred van Wyk, weifelend dalk selfs Van Zyl Slabbert, miskien Hermann Giliomee en, jare later, Constand Viljoen en die leidende persone van Solidariteit. Hulle almal het in die radikale opdeling van die land die enigste antwoord gesien vir die basis onoplosbare probleme van Suid-Afrika.

Jy was verheug toe ek jare later ʼn opvolgopstel van die liberale Duitse politikus Otto Graf Lambsdorff na Suid-Afrika saamgebring het. Lambsdorff was, terloops, net soos ek, lid van die intussen uitgewiste etniese Duitse minderheid in Kurland/Letland. Sy opstel het op 31 Julie 1986 in die Duitse tydskrif “Quick” onder die opskrif “Teilung Südafrikas als Ausweg” (Verdeling van Suid-Afrika as uitweg) verskyn. Met jou eie woorde het Lambsdorff, wat, terloops, later tot president van die Liberale Internasionale verkies is, die daarstelling van ʼn onafhanklike staat geëis, ʼn toevlugsoord vir diegene onder die wit (en bruin) Suid-Afrikaners wat vir hulleself en hulle nakomelinge geen perspektief in ʼn swart beheersde Suid-Afrika sien nie. Ek onthou goed dat ons daarna in jou gasvrye huis breedvoerig daaroor gepraat het dat behalwe vir Van Zyl Slabbert en vir my, ook Gavin Relly, destyds voorsitter van Anglo American, vir Lambsdorff geadviseer het.

Een van die groot leemtes onder die tallose reaksies op die opstel van my en Blenck was, dat die swart bevolkingsmeerderheid skaars kennis daarvan geneem het. Sekerlik het die in sake van Afrika onkundige Duitse Minister van Buitelandse Sake van 1974-1992, Hans-Dietrich Genscher, daartoe bygedra deur sy gedurige eise aan die Suid-Afrikaanse regering om voor die ANC te kapituleer.

Des te meer merkwaardig was die deurdagte stemme van Russiese navorsers en diplomate soos Irina Filatova, Vasili Solodovnikov, Boris Asoyan, Vladimir Tikhomirov en ook Jewgeni Gusarov, die eerste Russiese ambassadeur in Pretoria na 1945. Ek sal altyd die hartlikheid onthou waarmee Gusarov vir genl. Constand Viljoen geluk gewens het met die ondertekening van die “Akkoord oor Afrikaner-Selfbeskikking” saam met Thabo Mbeki (ANC) en Roelf Meyer (NP) op 23 April 1994. Die genoemde asook ander Russe het oortuigende gedagtes gehad oor die toekoms van jou Afrikanervolk, anders as die meeste Westerse politici en diplomate. Vir hulle (die Russe) was die gedagte aan ʼn Afrikanerstaat nie vreemd nie. Ek kan egter nie sê of dit eers na 1985, met die magsoorname deur Michail Gorbatsjof, die geval was nie.

Die mees intelligente kommentaar oor die Aussenpolitik (buitelandse sake) -plan kom van Klaus Ritter, die uiters begaafde stigter van die belangrikste Duitse dinkskrum vir buitelandse en sekerheidstudies, Stiftung Wissenschaft und Politik. Hy het in die laat 1970’s opgemerk dat dit vir ʼn oplossing van die Suid-Afrikaanse konflik op so ʼn aard (deur partisie) terselfdertyd te laat en te vroeg was. Daar was egter vir ʼn ruk hoop toe in die begin van die 1980’s in onder andere die Internationale Spectator (Den Haag, 2/1981), die Australian Outlook (Canberra, 2/1981) en Le Mois en Afrique (Paris, 10-11/1981) deur my bydraes alle wesenlike elemente van my opstel (insluitende die kaarte) aan die (invloedryke) lesers bekend gestel het. Tot jou en my ontsteltenis het die in Pretoria heersende Afrikaners (insluitend die hervormings-onwillige latere staatspresident FW de Klerk) dit alles geïgnoreer. Soos Rudolf Gruber, die in Duitsland werksame medewerker van ʼn openbare betrekkinge-agentskap (SA Foundation) met noue bande met die sakewêreld, het die meeste van hulle geoordeel: “Sacrificial partition” sou “apokalypties in sy aannames, naïef in sy argumente en utopies in sy gevolgtrekkings” wees (SA International Quarterly 3/1980). Hulle almal (wat so geoordeel het) het Suid-Afrika na die rand van die afgrond gelei waar die land nou staan!

Met die einde van die Koue Oorlog het die mees uitstaande Britse (“Sir Robin-His Excellent Excellency”) en Amerikaanse diplomate (veral Princeton Nathan Lyman) die teen die einde van 1989 verkose regering van De Klerk gedwing om met die tot dusver onwettige ANC en ander bevrydingsbewegings ʼn nuwe politieke orde in plek van apartheid te onderhandel. Die Duitse regering het geen rol gespeel nie, omdat die Britse en Amerikaanse regerings hulle weens hulle gebrek aan kundigheid reeds op 17 Oktober 1978 van alle onderhandelinge oor die toekoms van Namibië en Suid-Afrika uitgesluit het. Daarvoor was die Minister vir Buitelandse Sake van 1974-1992, Hans-Dietrich Genscher, verantwoordelik, want sy beleid was niks meer as om by elke denkbare geleentheid die kapitulasie van die wit regerings in Namibië en daarna in Suid-Afrika te eis nie. Daarby kon juis in Duitsland in die middel 1980’s die van die stipendiumhouer van die Humboldt-Stigting, Deon Geldenhuys, gelewerde studiestuk “Die Zukunft Südafrikas aus deutscher Sicht (Die toekoms van Suid-Afrika uit Duitse perspektief gesien)” (onder andere vir die Departement van Buitelandse Sake) (verskyn in Aussenpolitik 1/1985) vir die Duitse diplomasie ʼn magdom argumente vir ʼn beleid van balans gee.

Die onderhandelinge van die NP-regering met hulle binnelandse teenstanders het van die begin af onder die ongelooflike swakheid van de Klerk gely. Van huis af ʼn deur en deur konserwatiewe man, het hy totaal onvoorbereid in die onderhandelinge gegaan en was nie opgewasse vir sy teenstanders, veral diegene van die ANC, nie. Die gevolg was ʼn kapitulasie op die gebied van die politiek, maar nie op die gebied van die ekonomie nie. En dit, alhoewel eers kort tevore een van sy gedugte teenstanders, die joernalis Max du Preez, vir my gevra het om vir sy deur Swede befondsde Vrye Weekblad  ʼn artikel met die opskrif “Afrikaner-Israel kan ʼn tweede Libanon verhoed” te skryf. Die artikel het op 27 Oktober 1989 verskyn en daarvan is in regeringskringe geen kennis geneem nie. Sou die Suid-Afrikaanse regering sulke en soortgelyke menings van derde persone ernstig opgeneem het, sou die ANC heel waarskynlik daarvoor te vinde gewees het. Breyten Breytenbach het dit vir ons reeds in Julie 1987 in Dakar/Senegal met die geleentheid van die ontmoeting tussen Afrikaanse dissidente (waaronder ook ek, alhoewel Duits) met die destyds nog onwettige ANC gesê.

Dat jou land na die magsverandering van Mei 1994 nogtans nie dadelik ontplof het nie, was veral te danke aan die groot Nelson Mandela. Dit bly vir my onvergeetlik wat jy oor julle ontmoeting in die vroeë 1990’s vertel het: Jy het jou bekommernis oor die voortbestaan van jou Afrikanervolk aan hom oorgedra. Sy antwoord was slegs “Your time will come (julle tyd sal kom).” Versoeningsgebare het hy ook later tydens sy besoek aan Orania gemaak. Ek herinner net aan die gesprekke tussen hom en die weduwee van Hendrik Verwoerd, jou skoonpa.

Vandag is amper niks meer van daardie gees aanwesig nie. Jou Afrikanervolk word toenemend gemarginaliseer en is nogtans diep verdeel. Gevolglik is ten minste op medium termyn sy voortbestaan bedreig. ʼn Mens hoef net te dink aan die blykbaar reeds volledige verdringing van Afrikaans as onderwystaal aan julle universiteite. Was Constand Viljoen dus reg toe hy die leiers van die ANC in die middel van die 1990’s gewaarsku het dat die groot konflik tussen swart Afrikane en wit Afrikaners nie in Mei 1994 opgelos is nie, maar dat die botsing slegs uitgestel is?

Nadat in die verlede talle geleenthede vir die vorming van ʼn Afrikanerstaat veral weens die arrogansie van die groot meerderheid wit Afrikaners misluk het, gee vir my vandag slegs die werk van Solidariteit hoop, meer presies die deur hulle gestigte projek Helpmekaar. Vir die leidende figure binne Solidariteit is Orania klaarblyklik een van die hoekstene van die toekomstige Afrikanerstaat in die Weste van Suid-Afrika. Saam met ander nedersettings van wit Afrikaners, as ‘t ware grensbakens, word Orania uit die oorblywende Suid-Afrika geneem. Die ekonomies hoogs twyfelagtige, polities egter onvermydelike grondhervorming, dus die uitruil van groot gebiede, sal daartoe lei dat die Afrikanerstaat (Orania) ʼn geslote grondgebied sal ontvang. Dit is ʼn reuse projek, wat net tot stand kan kom nadat alle rolspelers besef het dat die alternatief ʼn verbrande Suid-Afrika sal wees. Na die Afrikanerstaat sal die wit, miskien ook bruin Afrikaners trek wat vir hulle en hulle nageslagte geen perspektief meer sien in die res van Suid-Afrika nie. Die ander sal, waarskynlik sonder politieke regte, in die oorblywende Suid-Afrika leef en wesenlik bydra tot die heropbou en ontwikkeling van die land. In die, soos uiteengesit, polities onafhanklike Afrikanerstaat sal ook hulle wat oor die hele substreek verspreid leef, hulle skole, universiteite, uitgewerye en so meer hê. Met ander woorde, die Afrikanerstaat sal die kulturele sentrum vir alle Afrikaanssprekende mense wees wat tans nog Suid-Afrikaanse burgerskap het. Dit is die enigste manier om julle taal en julle kultuur te red van ondergang. Soos ʼn kwarteeu gelede by die verwydering van apartheid, sal ook nou buitelandse magte aan julle kant moet wees. ʼn Mens kan hier veral dink aan die state van die Europese Unie, aan Groot-Brittanje, wie se rol soos in 1994 deur die VSA ondersteun sal word, aan Rusland en veral Sjina, wat sedert 1994 ʼn digte netwerk van talle soorte van betrekkinge met die nuwe Suid-Afrika opgebou het.

Sou al daardie wat in die toekoms kan kom misluk weens die verdeeldheid van jou Afrikanervolk, dan sal gebeur waarvoor Mangosuthu Buthelezi reeds dekades gelede gewaarsku het: “Constitutional developments in South Africa are going to be a byproduct of bullets and power (Grondwetlike ontwikkelinge in Suid-Afrika gaan ʼn bysaak van patrone en mag wees)”.

Beste Carel, ek sluit my brief af met die herinnering aan die sleutelgebeurtenis in my reeds lang lewe: ʼn Genadige God het julle Suid-Afrikaners en Namibiërs, met majoor Peter Stark op die voorpunt, in staat gestel om my op 13 Desember 1975 na 92 ure van verlore wees in die Namibwoestyn te red van die dood deur dors. Ons almal bid en vra dat Hy ook Suid-Afrika en al sy inwoners uit die woestyn mag lei.

 

Met hartlike groete

Jou vriend

Klaus

Carel Boshoff snr

Deel/Stuur

8 Reaksies op “Ope brief aan ʼn oorlede vriend. Het Orania ʼn kans?”

  1. Simon 5 Maart 2017 at 16:45 Permalink

    Interessant, Afrikaners lees gerus en neem kennis. Nooit besef dat Albert Luthuli die Afrikaner sover vooruit was met die volkstaat / Orania gedagte nie.

  2. Coen van Wyk 7 Maart 2017 at 18:24 Permalink

    Ek verstaan gladnie wat hier aangaan nie.
    Die woorde, “ ‘n fiktiewe brief aan wyle prof. Carel Boshoff”, verstom my.
    Wanneer is die brief geskryf en ontvang en wanneer is prof. Carel Boshoff oorlede?
    Wat betref die woorde, “fiktiewe brief’’; gegewe dat HAT “fiktief” definieer as; “Denkbeeldig, verdig; alleen in die verbeelding bestaande”, hoe was dit moontlik om die brief te vertaal?
    HELP!
    Coen van Wyk.

    • Sebastiaan 10 Maart 2017 at 12:20 Permalink

      Fiktief in die sin dat dit nie ‘n werklike brief is wat hy aan die lewende prof. Carel Boshoff geskryf het nie, maar in ‘n sin ‘n verbeele kommunikasie met ‘n oorledene. Verbeelding-fiksie. Sien jy die saamhang? Of weet jy ‘n beter woord?

      • Coen van Wyk 22 Maart 2017 at 11:26 Permalink

        Goeie dag Sebastiaan,
        Ek is bevrees dat ek nog steeds nie verstaan wat hier aangaan nie.
        Moet ek dus verstaan dat daar nie ‘n brief was nie? En die brief wat nie bestaan het nie, is vertaal?

  3. Piet Uys 10 Maart 2017 at 10:40 Permalink

    Goeie dag Coen,
    Graag probeer ek help ; ek ken die skrywer ,Klaus von der Ropp, al vanaf 1994. Kortliks is sy geskiedenis soos volg: Hy het in Desember 1975 op ‘n toer gegaan in SWA, en het in die woestyn verdwaal-ek dink dit was naby Swakopmund. Hy het ongeveer 92 uur in die son gedwaal, en is uiteindelik deur die RSA se troepe opgespoor , met die hulp van Boesmans.Sonder hulle redding, sou hy in die woestyn gesterf het.
    Klaus het intens belang gestel in die toekoms van die Afrikaners, en het sedert se ervaring in SWA, feitlik elke jaar die RSA besoek. Ek het hom ook na Orania geneem ; hy was goed bevriend met Prof Carel Boshoff.(Prof Boshoff is in 2011 oorlede)
    Klaus was besonder bekommerd oor die toekoms van ons Afrikaners ; die enigste oplossing wat hy gesien het, was en is steeds ” kompakte siedlung” wat beteken “kompakte nedersetting, maw woon bymekaar” — vandaar sy belangstelling in Orania, wat hy altyd as die begin van ‘n Volkstaat beskou het.
    Na sy aftrede in Duitsland, het hy nie meer die geld gehad om die RSA te besoek nie, en sy gesondheid is ook nie meer 100% nie. Hy hou hom steeds besig met die Afrikaner se toekoms ; vandaar sy bydrae , wat deur Sebastian Biehl uit Duits vertaal is. Die inhoud van die brief toon tot ‘n mate die navrae en navorsing wat Klaus gedoen het, rakende die Afrikaners se toekoms na 1994.

  4. Tiaan 11 Maart 2017 at 09:19 Permalink

    Klaus het buiten oom Carel, maar n paar snaakse en verdagte maaitjies gehad. Hoop nie die spreekwoord wat sê jy sal aan jou vriende geken word is waar vir hom nie.

    • Joop Swanepoel 20 Maart 2017 at 18:28 Permalink

      Dis vir my baie insiggewend en eintlik bemoedigend.
      Ons ignoreer en vergewe maar die ‘verdagte maaitjies’ en paar snaakse idees. Buitelanders sien seker nooit alles so ‘helder’ soos sommige van ons dink ons dit sien nie.


Lewer Kommentaar

*