25 Maart 2014 ~ 14 Kommentare

Oor kopskuiwe

Geskryf deur Hester van Zyl

Net voor 1994 het almal die ergste verwag. Ek was ‘n staatsamptenaar en ons het gevrees om eerste uit ons bevoorregte kussinkies gelig te word – saam met die verwagte verandering van dorp- en straatname, omgooi van standbeelde en “fast tracking” in hoë poste.

Om te oorleef, moes ons van die “RC-faktor” (resistance to change) ontslae raak en ‘n klomp kopskuiwe maak. Dinge is in konferensiekamers gesê soos “Maak nie saak wat gebeur nie, die son sal môre weer in die ooste opkom en in die weste ondergaan” en “Dit lyk dalk of ek sit, maar eintlik staan ek.”

Party veranderinge het vinnig plaasgevind, soos die hoë amptenare wat in skaduposte aangestel is en tussen koffietyd en teetyd ‘n hele koerant kon deurlees. In die weermag het ons kastele verander in 9-puntsterre en al ons vergaderings en korrespondensie was alles in Engels. Maar die straatname het (nog nie) verander nie en ons het tyd gehad om te besluit watter kopskuiwe ons wou maak, of nie wou maak nie.

Party heethoofde en dapperes het onmiddellik bedank. Die versigtiges en aanpasbares het die nodige kopskuiwe gemaak en voortgegaan om ‘n maandelikse salaris te trek, terwyl hulle toekyk hoe die bevorderings by hulle verbygaan. Die lamlendiges ly aan maagsere en hipertensie, maar ter wille van hulle pensioene en byvoordele klou hulle vas aan ‘n oortollige poslys.

As jy dink jy hoef nie ‘n kopskuif te maak wanneer jy in Orania wil woon nie, het jy dit mis! Orania is nie ‘n voortsetting van die “Ou Suid-Afrika” nie. Om ‘n Oraniër te wees (let wel, nie bloot ‘n Orania-inwoner nie), moet jy ‘n paar reuse kopskuiwe maak:
Kopskuif 1: Doen dit self. Selfwerksaamheid is die eerste Orania-woord wat jy gaan leer en gaan toepas. Soos Basjan gaan jy jou moue moet oprol en dinge self moet doen. Kritiseer en kla en kerm gaan jou nie ver bring nie – skielik het die “hulle” wat nie diens lewer nie verander in “ons”.

Kopskuif 2: Moenie harder werk nie, werk slimmer. Die Vories het gesing “Arbeid adel, werk maak sterk.” Hanteer jou graaf wanneer dit moet en leer om netjies te verf. Maar moet dit nou nie oordoen nie! Span die tegnologie in en gebruik jou energie vir ander dinge.

Kopskuif 3: Tyd is kosbaar. Nie “tyd is geld”, soos almal daar buite óók weet nie. Daar is eenvoudig so baie dinge wat jy móét doen en wíl doen, dat daar net nooit genoeg tyd vir alles is nie. Dit bring noodwendig mee dat jy nuwe prioriteite moet bepaal. Dinge wat in die verlede belangrik was, is skielik net nie meer van waarde nie, bloot net omdat jy nie die tyd het daarvoor het nie.
Vrouens met lang, geverfde en gespikkelde naels is ‘n bedreigde spesie in Orania. Aan die ander kant word klein dingetjies luuks, net omdat jy doelbewus ‘n tydjie afknyp om dit te geniet.

Kopskuif 4: Ons is betrokke in die gemeenskap. Ja, Orania is ‘n klein dorpie en ons ken mekaar almal en ons beskinder mekaar soos dit van klein dorpies verwag word. Maar dit is meer as net dit: ons is doelbewus besig om ‘n gemeenskap te bou en saam te smee. Ek wens ek kon sê die meeste van ons woon die meeste van die dorp se aktiwiteite by, maar daar is helaas ook ‘n groot persentasie sluipers wat by die huis sit en TV kyk. Daar is wel ‘n groep mense wat betrokke is by die meeste dorpsaktiwiteite, of dit nou ‘n volksfees, ‘n ouervergadering by die skool, ‘n kerklike aktiwiteit, ‘n veiligheidsvergadering, Kaalvoetkonsert of ‘n dans is. Dit is die dungesmeerdes, maar dit is ook die mense wat voor loop en ‘n volkstaat bou.

Kopskuif 5: Ons skiet nie alles reg nie. Soms praat ons dit reg, soms onderhandel ons dit reg, maar meestal leef ons dit reg. Op Orania kan ons weer ontspan en wees wie ons is, sonder om verskoning te vra daarvoor, sonder om uitdagend te wees daaroor.

Kopskuif 6: Lewe naby aan die natuur. In die somer sweet ons en hyg ons onder die warm Bo-Karooson, in die winter bibber ons totdat die ys en ryp gesmelt het. Ons beleef iets van die oer-natuur van die aarde wanneer ons konfyt kook (soms vir die eerste keer ooit!) van die appelkoosboom op jou erf, of nuwe bome plant vir koelte aan die warm westekant van die huis. Jy leer om bedags vensters toe te hou om die huis se koelte binne te hou, ‘n muskietnet te gebruik in plaas daarvan om self muskietgif in te asem en om vlermuishuise op te sit om die natuur se voedselkettings te bewaar. Ons raak opgewonde as ons vir die eerste keer in ‘n lang tyd weer uile gewaar en ons bel vir Florus & Rina om ‘n onwelkome slang te kom wegneem (let wel: nie dood te maak nie). Soms ry ons fiets, bloot ter wille van die lekker daarvan omdat ons nie motoruitlaatgasse hoef in te asem nie.

Kopskuif 7: Orania is ver (of nie). Orania is in die middel van die land. Hier is (nog nie) al die winkels en geriewe en noodsaaklikhede wat ons móét hê nie. Intussen leer ‘n mens maar om te beplan en om planne te maak. Die internet maak die wêreld gelukkig baie kleiner en afstande baie korter.

Kopskuif 8: Orania is nie die Boerehemel nie. Mense bly maar mense, al praat hulle Afrikaans. Ons lewe in ‘n onvolmaakte wêreld. Sela.

Deel/Stuur

14 Reaksies op “Oor kopskuiwe”

  1. tulp 25 Maart 2014 at 17:26 Permalink

    goed stuk, Hester. Bedankt!

  2. Gerhardus 26 Maart 2014 at 15:38 Permalink

    Beste Hester

    Ek moet sê, daar is heelwat kopskuiwe om te maak – en tereg ook. ‘n Kompliment aan jou vir ‘n pragtige stuk wat enige Afrikaner se hart laat warm klop. Na jou stuk kan ek nie wag vir daardie dag wanneer ek ook Orania toe trek nie – om ook deel te kan word van julle (ekskuus “ons”) dinamiese gemeenskap.

  3. Simon 29 Maart 2014 at 00:54 Permalink

    Goed gestel!

  4. Ben 29 Maart 2014 at 11:38 Permalink

    My indruk van wyle prof. Carel Boshoff was dat hy ‘n beskaafde mens was wat enige ander mens met respek behandel het en dis stellig ‘n hoofrede waarom Orania tot dusver ‘n sukses is. Ook het hy eenkeer opgemerk dat enigiemand (oftewel enige Afrikaanssprekende met Christelike waardes)wat wil daar kan gaan woon. Dus: dit bied ‘n Afrikanertuiste en nie noodwendig DIE Afrikanertuiste nie.

    Myns insiens skep die uitlewing van kultureel-politiese ideale binne ‘n modernistiese wereldbeeld probleme, hetsy watter -isme ‘n mens ook al wil institusionaliseer, want keuses word VIR mense gemaak en op die ou end sit jy met ‘n spul geraamtes in die kas. Deesdae druk enigeen ook op sy rekenaar se Google Search en kry 1000e antwoorde…

    In die Suid-Afrikaanse konteks wat daar nog altyd van arbeid deur kultuurvreemdes gebruik gemaak was en baie vroue dalk ook in die proses te veel naels geverf het is die bogenoemde skrywe verfrissend en bied en toon ‘n leefbare alternatiewe styl.

  5. Ben 29 Maart 2014 at 12:06 Permalink

    Nog ‘n woord oor “Boerehemel”: ja, mense is mense maar daar word ook gebid: “Soos in die hemel so ook op die aarde…”. Wat impliseer hierdie woorde? Om die hemel aarde toe te bring? Of dit te eksternaliseer in ‘n onbereikbare iets wat erens anders buite hierdie lewe le?

  6. Louis 29 Maart 2014 at 12:49 Permalink

    Baie goeie skrywe gewees hier bo! Wat ek baie graag wil weet, die sin wat in “kopskuif 7″ staan: ” Hier is (nog nie) al die winkels en geriewe en noodsaaklikhede wat ons móét hê nie”.

    Kan iemand asb vir my sê wat in Orania woon, wat julle daar kort (van A-Z). Watse besighede in en om Orania benodig word wat vêr is en waste dienste hulle daar benodig in en om Orania??? Wat sal werk en wat sal nie!!!

    Ons benodig die informasie asb, ek en my gesin gaan nog in die jaar Orania toe trek sodra alles goed af loop. Ons gaan binnekort kom kuier op Orania.

    • Simon 30 Maart 2014 at 01:17 Permalink

      Goeie vrae, geniet die kuier.

    • Louis 30 Maart 2014 at 10:37 Permalink

      Komaan Oraniërs kan julle asb solank vir my vertel: “wat julle daar kort (van A-Z). Watse besighede in en om Orania benodig word wat vêr is en waste dienste hulle daar benodig in en om Orania??? Wat sal werk en wat sal nie”!!

      • Jaco Kleynhans 31 Maart 2014 at 11:18 Permalink

        Vinnig ‘n paar goed waaraan ek kan dink:
        1. ‘n Plek wat bande opsit, aan uitlaatstelsels werk, ens.
        2. ‘n Meubel- en elektriese toebehore winkel.
        3. ‘n Winkel wat kinderklere koop (baie mense gaan koop by Pep en Ackermans in ander dorpe)
        4. Dalk ook ‘n klerewinkel wat meer bekende klere soos Jeep, ens verkoop.
        5. Dalk ‘n plek wat in verwe spesialiseer?
        6. Definitief ‘n apteek en gesondheidswinkel
        7. ‘n Geskenkwinkel (daar is reeds, maar ek glo nog ‘n goeie een sal kan werk!)

        Daar is sekerlik nog baie ander idees. Dalk is myne reg, dalk verkeerd. Die beste is om Orania te besoek en met mense te gesels oor hul behoeftes.

        • Louis 3 April 2014 at 18:32 Permalink

          Baie dankie Jaco, ek waardeer jou stuk skrywe.

          Ons sien julle so einde April of iewers in Mei, dan kom kuier ons!

  7. Hester 31 Maart 2014 at 09:37 Permalink

    Baie dankie vir die positiewe kommentaar!

    Orania is ‘n klein dorpie, met die fasiliteite van ‘n klein dorpie (alhoewel die omliggende klein dorpies se mense dikwels hier kom inkopies doen!)

    Louis, die dinge waarvoor ek Kimberley of Bloemfontein toe ry,
    is meestal mediese noodsaaklikhede en dan ook nodige en onnodige luukshede, soos rysmeel vir mense met allergieë, of ‘n Kentucky familie-ete… Tieners sal natuurlik vir jou ‘n laaang lysie kan maak. Kyk maar op die lys van geregistreerde besighede wat hier is, dan sal jy tussen die lyne lees wat hier nié is nie.

    Ons het min of meer alles wat nodig is vir die alledaagse lewe, maar die spesialis-items en verskeidenheid sal jy waarskynlik mis.
    Dié dat jy ‘n kopskuif moet maak!

    • Louis 31 Maart 2014 at 10:08 Permalink

      Dankie Hester. Ek en my vrou is al vir ‘n paar jare al deel van die Orania beweeging en volg alles op Orania. Ons “kopskuif” is reeds gemaak dis hoekom ons Orania toe wil kom, om deel te wees van ‘n gemeenskap wat saam werk, saam dinge doen en waar ons as ‘n gemeenskap saam ons Godsdiens en Kultuur kan uit leef en om ons twee dogterjies in ‘n veilige gemeenskap te laat groot word. Ek wat op ‘n plaas groot geword het toe ek klein was is gewoond om met min klaar te kom. Luukshede pla my nie baie nie.

      Hoop ons kom binnekort in Orania vestig!

  8. Johann 2 April 2014 at 23:55 Permalink

    Baie dankie vir ‘n interessante artikel, Hester. Skerp insigte en keurig geskryf met pitkos om oor te herkou! Groete en sterkte.

  9. Helena 17 April 2014 at 12:42 Permalink

    ‘n Ordentlike gimnasium soos “Virgin Active” asseblief!! Met Squash Courts en al. Dit sal die grootste bonus wees.


Lewer Kommentaar

*