26 Mei 2014 ~ 3 Kommentare

Omgewingsbeskerming lê aan die hart van die Orania-gedagte

Geskryf deur Sebastiaan Biehl

Orania bemark homself as ‘n groen dorp, waar sonkrag gebruik word, vullis geskei word en plante en diere beskerm word. Vir die buitenstaander mag dit voorkom as ‘n poging om weg te doen met die harde beeld van Orania, wat gewoonlik negatiewe mediadekking kry weens “regse politiek” en klem op Afrikaneridentiteit, en om die meer sagte kant waarvan almal hou, die oulike groen dorpie, voorop te stel. Inderwaarheid is die beskerming van jou kultuur en identiteit en die beskerming van die omgewing twee kante van dieselfde munt, naamlik behoudendheid. Geestelike gesondheid, fisiese gesondheid en ‘n gesonde omgewing gaan hand aan hand.
Dit is een van die ironië van die politiek dat dieselfde partye en groepe wat elke boom en plant, elke dier en elke oorspronklike landskap wil beskerm, terselfdertyd morele waardes en gevestigde gemeenskappe wil vernietig. Dit rym nie om te wil bewaar en te wil vernietig en afbreek in dieselfde asem nie en om mens en natuur teen mekaar op te stel asof die een nie deel van die ander een is nie, en asof altwee nie deur God en tot Sy eer geskape is nie. Dit is net so ironies dat sogenaamde konserwatiewes op die voorpunt is van diegene wat hulle beywer vir mynbou en olie- en gasontginning in beskermde areas en vir die uitbou van kernkrag.
By alle kritiek teen die Westerse kapitalisme waarmee groenpartye en ander linkses so graag punte aanteken, moet onthou word dat die grootste besoedelaars sosialistiese lande was en is. Die ou Sowjet-Unie was seker die grootste besoedelaar in die geskiedenis. Vandag is dit Sjina, die land wat nog steeds deur ‘n kommunistiese party regeer word.
Die liefling van die “progressiewes”, wat omgewingsbewustes en groenes insluit, die ANC en sy trawante, is juis diegene wat nou kruis en dwars oor Suid-Afrika laat myn, wildstropery nie meer effektief beveg nie en water- en lugbesoedeling ongeërg laat plaasvind.
Die hele Orania-gedagte en konsep lê diep ingebed in konserwatiewe denke. Nie konserwatief in die sin van “agterlik”, teen verandering en uit tred met die tyd nie, soos wat joernaliste wat met ‘n paar stereotipes grootgeword het, beweer.
Konserwatief beteken om dit wat kosbaar is, te beskerm en te vertroetel. Kosbaar is iets wat die toets van die tyd deurstaan het, wat ewigheidswaarde het en wat dus ‘n reg tot bestaan en koestering het. Die logika van die oorlewing van die sterkste waarvoor liberales staan, kan wel geld as dit kom by tegnologiese uitvindings, waar dit wat meer doeltreffend is, dit aflos wat uitgedien is. As dit kom by dinge wat ewigheidswaarde het en wat nie vervang kan word nie, soos die kulturele erfenis of die natuur, is ingryping nodig.
Dit is nogal veelseggend dat die eerste inisiatief om natuur en diere te beskerm in Suid-Afrika, van Paul Kruger, ‘n diep konserwatiewe Afrikaner, uitgegaan het.
As ons dus in Orania die omgewing beskerm deur weg te beweeg van Eskom-krag wat met steenkool opgewek word na sonkrag, deur rommel te skei pleks om die omgewing toe te gooi met ashope en deur die uitroei van plante en diere aan bande te lê, dan word ons nie gedryf deur ‘n groen modegier nie, maar handel ons uit diepe oortuiging om vir ons nageslagte ‘n goeie land na te laat waarop hulle kan voortbou. Om dieselfde rede moet ons ook die eksplorasie van skaliegas in een van die laaste redelik ongeskonde gebiede van Suid-Afrika, die Karoo, beveg. Die natuur is net so ons erfenis soos die kultuur wat oor geslagte heen oorgedra is. Altwee is ten diepste deel van ons wese.

Deel/Stuur

3 Reaksies op “Omgewingsbeskerming lê aan die hart van die Orania-gedagte”

  1. Ludwig 27 Mei 2014 at 09:27 Permalink

    Soos ek al in die verlde gese het. n Behoudende kultuur en Christelikewaardes beteken nie dat mens nie progresief in ander gebiede wees nie. Die hele Orania gedagte is vir baie mense nogsteeds te progresief.

  2. Revo 27 Mei 2014 at 14:33 Permalink

    Sebastiaan, my hart is by julle. Ons moet net nie moed verloor nie. Wanneer die nag op sy donkerste is, is dagbreek naby. Laat ons met ons hele hart, siel en verstand na Bo terugkeer, dan mag dinge miskien vir ons begin verander. Moenie julle steur aan wat mense se^ nie. Niemand kan nadoen wat julle op Orania al reggekry het nie. Die beterweters en dwarstrekkers sal daar altyd wees. Dankie tog, ons is nie van hulle afhanklik nie, maar van ‘n Almagtige wie op ons terugkeer wag.

    Innige groete, Oupa Rev.

  3. Johan 27 Mei 2014 at 15:06 Permalink

    Sebastiaan, kernkrag is in staat om die skoonste en goedkoopste energie te lewer, ten spyte van die enkele insidente in die verlede.

    Steenkampskraal by Van Rhynsdorp beskik oor die (ek dink) sesde grootste neerslag Thorium in die wêreld, wat saam met die korrekte Thorium reaktortegnologie, die potensiaal het om in die toekoms die Volkstaat van volop en skoon krag te voorsien, asook om ‘n magdom stroom-af produkte en industriële moontlikhede te onderlê.

    Ek sou dit nie net sommer saamgooi in die pot van die verdoemenis met (huidige) skaliegas ontginning nie.


Lewer Kommentaar

*