24 Julie 2017 ~ 0 Kommentaar

Om ‘n boom te plant

Geskryf deur Carel Boshoff

In die nagtelike ure voor die aanbreek van ’n nuwe week het ek, miskien deur ’n mate van moedeloosheid gedryf, besluit om weer die Gedagtes van ‘n gewone man te hervat. Nie dat ek ooit besluit het om dit te onderbreek nie, dit is asof die wintervakansie wat ek nie geneem het nie sigself as’t ware op dié manier op my gewreek het. Ten minste in één opsig was dit dus asof ek op die soort wekelange jagtog was waarvan ek onlangs in Eugene Marais se lewensverhaal gelees het.

Dit is ook nie om dowe neute dat ek na Leon Rossouw se Die groot verlange verwys nie; een van daardie boeke wat mens altyd alreeds moes gelees het, maar by my tot nou agterweë gebly het. Maar wat ’n wonderlike ervaring! Wat ’n vreugde om te besef watse skatte daar vir opkomende geslagte in ons literatuur opgesluit lê. En dat verwys ek nog nie eers na Marais se eie werke, soos Die siel van die mier en The Soul of the Ape wat ek darem as hoërskoolkind gelees het nie.

Die rede hoekom ek na Marais verwys (en eintlik moet ek Henriette Roland Holst-Van der Schalk se Jean Jacques Rousseau: Een beeld van zijn leven en werken wat ek terseldertyd gelees het, hierby noem), is dat so ’n geestelike nabyheid aan twee besonder ongewone figure ‘n gewone man se gewone gedagtes ‘n bietjie in die war stuur.

Nie dat baie gewone dinge nie bly gebeur het nie: in my gedagtes het ek rubrieke begin bewoord oor ’n heerlike ontbyt met ’n eerste besoeker aan Orania; oor my gewaarwording toe ek onlangs in Bloemfontein se middestad die geur van ’n gebrande mielieland kry en besef dat ek langs die stadsaal verby ry; oor ’n kostelike stap vorentoe in my stokperdjie van boekbindery; oor dr Danie Langner se wonderlike, plat op die aarde onderskeid tussen kulturele bywoners en eienaars by die opening van die Voortrekkers se kongres.

Dinge wat ’n gewone man kan laat dink, het dus nie opgehou gebeur nie. Wat opgehou gebeur het, is dat ek dit opskryf en soos brood op die water werp met die gerusstellende wete dat niemand dit juis gaan lees nie.

Een verklaring vir my afwesigheid van Orania se blogblaaie is dus dalk dat ek vir ’n paar weke goed genoeg geslaap het om nie tyd te kry vir skryf nie, want sulke geskrifte kom nie in die geroesemoes van gewone ’n werksdag na vore nie. Nog ’n verklaring is dat mens van jou beste ure weglees – iets waarsonder jy natuurlik niks van betekenis kan skryf nie, maar waarby jy die risiko loop om só verdwerg te voel deur groot geeste dat dit jou eie stem stil maak.

Nou lê die tweede helfte van die jaar voor, die deel waar dinge begin vinnig gaan. Jaarvergaderings, Taalweek, gedenklesings, Hervormingsondag, en dan moes jy al jou wingerd en rose gesnoei het. Elke week is te kort en die naweek nog meer so. As ons weer sien, begin die jaareindfunksies. Maar laat ek dit nie vooruit loop nie, daar is darem nog tyd om dinge te doen.

My pa het dikwels vermoeid uit ’n vergadering gekom en gesê: “Ek kon eerder ’n boom geplant het”. Nou is dit amper boomplanttyd en as dit vir Martin Luther ’n geloofsdaad sou wees, is dit in Orania ’n politieke daad. Dit sê dat ons hier wortel skiet. Maar van bome plant alleen sal ons ook nie vry word nie; sonder om ons sienings en strewes te verwoord, gaan dit ander verby sonder om iets ten goede te verander. Stel jou voor Luther het ’n boom geplant sonder om sy 95 stellings neer te pen …

Bome plant, boeke lees, rubrieke skryf, vergaderings hou, gaste ontvang, en al die res. Orania hou nooit op nie – dankie tog daarvoor!

Deel/Stuur

Lewer Kommentaar

*