03 November 2010 ~ 1 Kommentaar

Om Krugerdag te vier

Geskryf deur Ebert Terblanche

Op 10 Oktober 1825 is Oom Paul Kruger op Bulhoek in die Oos-Kaap gebore. Op elfjarige ouderdom sluit sy ouers hulself aan by Hendrik Potgieter se trekgenootskap en begin jong Paul ‘n tog wat hom tot op die skouers van ‘n selfstandige Afrikaner republiek sou neem.

Die vraag kan gevra word waarom ons onder andere hom vandag, in 2010, sou herdenk? Sy Republiek het immers saam met die Vrystaat gesneuwel aan die einde van ‘n bloedige stryd waarvoor die lewens van tienduisende Afrikaners, meestal weerlose vroue en kinders, nie ʼn genoegsame losprys was nie. Daarteenoor staan ons vandag in ʼn nuwe era; een waarin die gedagte van Afrikanergesag oor Afrikanerbelange meestal ‘n hersenskim in die gedagtes van die oues geword het.

‘n Volk is egter die produk van ‘n kollektiewe ervaring. ‘n Ervaring waarby daar daagliks toegevoeg word, waarvan die soet en die suur van die lewe in die harte van miljoene siele geberg word. En hoewel hierdie volksargief as te ware dikwels soos ‘n kollektiewe gewete as ons grootste bron van kritiek optree, dien dit ook as ‘n onskatbare bron van inspirasie. Soos die weduwee se kruik, loop elke volk se kollektiewe geheue oor van ervarings waarop daar teruggeval kan word wanneer ons voor ‘n hartverskeurende hindernis te staan kom.

Wanneer ‘n helder oomblik in ons verlede aandui dat uitkoms wel gevind kan word as ons daarvoor werk, lyk die hindernis skielik nie meer soos ‘n doodloopstraat nie.

Paul Kruger se lewe en raad is een so ‘n helder oomblik. Hoewel sy geboorteplek se naam van Bulhoek na Whittlesea verander is, en hy sy toevlug vir oorlewing in ‘n Switserse stad moes soek, kon hy ons met die volgende gedagte nalaat: “Want wie vir hom ‘n toekoms wil skep, mag die verlede nie uit die oog verloor nie. Daarom: Soek in die verlede alles wat goed en mooi is wat daarin gevind kan word, vorm daarvolgens u ideaal en probeer om daardie ideaal in die toekoms te verwesenlik.”

Orania het na die Afrikaner se handelinge in die verlede gekyk en Afrika se reaksie daarop bepeins. Afrika het nie ruimte vir koloniste van ‘n spesiale soort nie. Kinders van Afrika maak nie van Afrikane slawe nie. Nie fisies nie en ook nie finansieel nie. Hoewel koloniste hulself en hul gemeenskappe verryk deur die arbeid van Afrikane, word hulle deur die ganse Afrika verwerp, verjaag en vermoor. Hul vaardighede ten spyt.

Indien ons dus hoop om Afrika te oorreed dat ons aan haar boesem hoort en daaruit lewe mag put, sal ons daarvoor moet werk. Alleen deur ons eie arbeid, kan ons eie vryheid bewerk, want hulle wat die grond bewerk, sal dit besit. Deur vryheid alleen, kan ons op die mooie en die skone van ons verlede verbeter.

Dankie aan Oom Paul en al die Afrikanerhelde wat ons tot hier gebring het. Ons kan net hoop om soos hulle, ons toekoms te verseker deur uit ons verlede te leer. Ons hou die gedagte dat dit wel moontlik is, lewendig deur ons viering van Heldedag.

Deel/Stuur

Een Reaksie op “Om Krugerdag te vier”

  1. Jean Du Plessis 4 November 2010 at 20:51 Permalink

    Baie mooi stuk oor ons geskiedenis. Ek dink ook baie keer op Krugerdag nie net aan Oom Paul en ons helde nie, maar ook ons onmiddelike voorouers wat die weg vir ons as nageslag gebaan het.

    Van die Oupa groeitjies wat in die Anglo boere oorlog geveg het. Die Bittereinders.

    Dan aan ons Oupas wat in die 30/40 jare maar met pik en graaf op die land se paaie moes gaan werk, of in die land se myne, om vir hul gesinne en ouers te sorg. Daardie jare het baie jong mans, aan wanvoeding gelei. Maar het nie gesteel nie, maar gewerk….en dan jare later aan myn-tering sterf. Ons het vandag ‘n baie beter en gerieflike lewe. Mag ons altyd aan ons kinders die geskiedenis van ons voorvaders en helde oordra.


Lewer Kommentaar

*