05 Junie 2012 ~ 28 Kommentare

Om hande in onskuld te was

Geskryf deur Ebert Terblanche

Op 31 Mei vanjaar was dit die 110-jaar herdenking van die ondertekening van die Vrede van Vereeniging. In lande regoor die wêreld word die oorlog en die herhinneringe aan diegene wat tydens die oorlog gesneuwel het, tans gedenk.

Daar is min dinge wat my so mistroostig stem as om te dink oor die lewens wat so dikwels op afgryslike wyse verloor is.

Daar word soms op selfvoldane wyse deur Afrikaners op die bors geslaan wanneer ons ons gevegsvernuf van die verlede aanprys. Gevegte by of verbind met Vegkop, Bloedrivier, Majuba, Spioenkop, Magersfontein, Delvillebos, El Alamein, Cuito Guanavale ensovoorts word opgeroep en bykans soos wafferse Springbokwedstryde van weleer rondom braaivleisvure ontleed en aangebied om ons krygsvernuf te poets. Om nie van die bykans mitiese status van die vorige bedeling se Recces, 1 Valskermbataljon en 32 Bataljon te praat nie.

Daar is selfs diegene wat aanvoer dat generaal so-en-so van Amerika (of Engeland of Duitsland) dit-en-dat gesê het oor hoe wonderlik/vreesloos/slinks/hard/dapper ons soldate was/is.

Waarom dan voel en lyk dit asof ons elke geveg waarin ons betrokke was en wat saakgemaak het, sedert Bloedrivier verloor het?

Die boom word aan sy vrugte geken en bolletjies kan nie vir vye verkwansel word as dit soos perdemis lyk en ruik nie.

Ons volk is vandag in die kake van ‘n terminale siekte. Ons word minder, kry minder kinders en voel minder aangetrokke tot ons mede volkgsgenote en ons geskiedenis as ooit in die verlede. ‘n Ongekende persentasie jong Afrikaners breek tans hul bande met familie en tradisie. Die gewildheid van Afrikanerskap onder Afrikaners sou baie laag op enige meningspeiling rangeer.

Wie het hierdie week nog aan die vrouens en kinders van die konsentrasiekampe gedink, en gedink aan wat ons vandag moet doen om te keer dat sulke kampe weer ons lot word? Is ons vandag (“verspreid soos babapoeier vanaf Tafelberg tot Soutpansberg”) enigsins veiliger as in 1902 to meer as 400,000 Britse soldate Suid-Afrika beset het?

Daarmee saam is ons vandag uitgelewer aan geweld, misdaad en lae morele waardes soos nog nooit in enige tydperk van die verlede nie.

Wie glo nog werklik dat ons as wenners (of ten minste gelykop) uit die Grensoorlog of die struggle getree het?

Kan ons ons hande in onskuld was oor ons sterftes en gevolge van die Engelse-oorlog, die Grensoorlog en die struggle op ons as volk?

Wys ons geskiedenis nie dalk dat ons te dikwels probeer het om meer af te byt as wat ons kon kou nie?

Dalk het dit tyd geword vir ons om weg te tree van konflik af, om nie meer die Xhosas, Zoeloes, Matabele, Basotho, Engelse, mekaar, Duitsers, Kubane, Russe, Ovamboes of ANC-regering met ons vuiste (of blikkiesverf en plakkers) te probeer pak nie.

Ons is waarskynlik nie so goed met veg (of met rugby) as wat ons soms mag dink nie. Ons is ook nie heeltemal onskuldig aan die gevolge van die konflikte waarby ons willens en wetens betrokke geraak het nie. Daar is en was immers genoeg kennis van konflik beskikbaar.

Maar ons kan darem bou.

Ons kon Suid-Afrika help opbou tot die juweel in die kroon van Afrika. Ons het al voorheen infrastruktuur en welvaart geskep waar daar eens niks was nie. Dit kan ons weer doen.

Nog beter, ons kan dit doen waar daar niemand anders is wat daarop aanspraak kan maak nie. Waar niemand anders se arbeid ons toekoms kan wegneem nie.

Dit is die kruiwa, die graaf, die pik en die troffel wat vir ons ‘n toekoms gaan verseker.

In die sweet van ons eie aangesig is ons beveel om ons brood te verdien. Nie oor die loop van ‘n geweer nie. En veral nie oor die rue van ander nie.

Diegene wat in Delmas vlae verbrand kan eerder hul energie vir Orania brand.

Dit is tyd dat ons met ‘n ander verhaal begin.

Format

Op 31 Mei vanjaar was dit die 110-jaar herdenking van die ondertekening van die Vrede van Vereeniging. In lande regoor die wêreld word die oorlog en die herhinneringe aan diegene wat tydens die oorlog gesneuwel het, tans gedenk.
Daar is min dinge wat my so mistroostig stem as om te dink oor die lewens wat so dikwels op afgryslike wyse verloor is.
Daar word soms op selfvoldane wyse deur Afrikaners op die bors geslaan wanneer ons ons gevegsvernuf van die verlede aanprys. Gevegte by of verbind met Vegkop, Bloedrivier, Majuba, Spioenkop, Magersfontein, Delvillebos, El Alamein, Cuito Guanavale ensovoorts word opgeroep en bykans soos wafferse Springbokwedstryde van weleer rondom braaivleisvure ontleed en aangebied om ons krygsvernuf te poets. Om nie van die bykans mitiese status van die vorige bedeling se Recces, 1 Valskermbataljon en 32 Bataljon te praat nie.
Daar is selfs diegene wat aanvoer dat generaal so-en-so van Amerika (of Engeland of Duitsland) dit-en-dat gesê het oor hoe wonderlik/vreesloos/slinks/hard/dapper ons soldate was/is.
Waarom dan voel en lyk dit asof ons elke geveg waarin ons betrokke was en wat saakgemaak het, sedert Bloedrivier verloor het?
Die boom word aan sy vrugte geken en bolletjies kan nie vir vye verkwansel word as dit soos perdemis lyk en ruik nie.
Ons volk is vandag in die kake van ‘n terminale siekte. Ons word minder, kry minder kinders en voel minder aangetrokke tot ons mede volkgsgenote en ons geskiedenis as ooit in die verlede. ‘n Ongekende persentasie jong Afrikaners breek tans hul bande met familie en tradisie. Die gewildheid van Afrikanerskap onder Afrikaners sou baie laag op enige meningspeiling rangeer.
Wie het hierdie week nog aan die vrouens en kinders van die konsentrasiekampe gedink, en gedink aan wat ons vandag moet doen om te keer dat sulke kampe weer ons lot word? Is ons vandag (“verspreid soos babapoeier vanaf Tafelberg tot Soutpansberg”) enigsins veiliger as in 1902 to meer as 400,000 Britse soldate Suid-Afrika beset het?
Daarmee saam is ons vandag uitgelewer aan geweld, misdaad en lae morele waardes soos nog nooit in enige tydperk van die verlede nie.
Wie glo nog werklik dat ons as wenners (of ten minste gelykop) uit die Grensoorlog of die struggle getree het?
Kan ons ons hande in onskuld was oor ons sterftes en gevolge van die Engelse-oorlog, die Grensoorlog en die struggle op ons as volk?
Wys ons geskiedenis nie dalk dat ons te dikwels probeer het om meer af te byt as wat ons kon kou nie?
Dalk het dit tyd geword vir ons om weg te tree van konflik af, om nie meer die Xhosas, Zoeloes, Matabele, Basotho, Engelse, mekaar, Duitsers, Kubane, Russe, Ovamboes of ANC-regering met ons vuiste (of blikkiesverf en plakkers) te probeer pak nie.
Ons is waarskynlik nie so goed met veg (of met rugby) as wat ons soms mag dink nie. Ons is ook nie heeltemal onskuldig aan die gevolge van die konflikte waarby ons willens en wetens betrokke geraak het nie. Daar is en was immers genoeg kennis van konflik beskikbaar.
Maar ons kan darem bou.
Ons kon Suid-Afrika help opbou tot die juweel in die kroon van Afrika. Ons het al voorheen infrastruktuur en welvaart geskep waar daar eens niks was nie. Dit kan ons weer doen.
Nog beter, ons kan dit doen waar daar niemand anders is wat daarop aanspraak kan maak nie. Waar niemand anders se arbeid ons toekoms kan wegneem nie.
Dit is die kruiwa, die graaf, die pik en die troffel wat vir ons ‘n toekoms gaan verseker.
In die sweet van ons eie aangesig is ons beveel o

Deel/Stuur

28 Reaksies op “Om hande in onskuld te was”

  1. Gawie Snyman 7 Junie 2012 at 16:16 Permalink

    Dankie Ebert.

    Die grootste bydrae word beslis nie deur die krygerheld gelewer nie, maar deur die gewone man en vrou wat elke dag onbeskaamd as Afrikaner leef in ‘n gebied wat die ruimte daarvoor bied. Kwaliks iets wat in die anale van die geskiedenis opgeteken sal word.

    Daar is beslis ook baie te leer uit die feit dat ons volkie so baie kere die slagveld of selfs oorlog wen, maar die politiek verloor. Hierdie sal opsigself ‘n baie interessante studieonderwerp maak. Of dit is omdat o.a. ‘n verset teen Engelse agressie in 1899 beteken het dat ons te veel afgebyt het – dit weet ek nie. Wat was die alternatief? Die goudvelde en/of soewereiniteit net so afstaan?

    Ons moet onsself ook net nie mislei en dink dat as ons onsself suksesvol handhaaf in ‘n gebied sonder om ander te antagoniseer, die bestel ons vir altyd met rus sal laat nie.

    Daar kan ‘n tyd kom wat ons sukses (met die troffel en die pik) en die bestel se onvermoeë ‘n te groot verleentheid word om te verduur. Hoe meer suksesvol ons word, hoe meer kan ons ‘n toename in druk teen ons bestaan verwag. Ons moet dit ten minste kan insien en besef dat daar wel in die toekoms’n brug mag wees wat nie sonder konflik oorgesteek kan word nie en dalk ook nie vermy sal kan word nie.

    Maar dit beteken beslis nie (soos jy ook tereg uitwys), dat ons nou verwaend en met ‘n misplaaste magsgevoel die owerheid se gesag op die rug van ons voorouers se dade moet uitdaag nie.

    • E Terblanche 8 Junie 2012 at 03:27 Permalink

      Dankie Gawie.

      Daar is nie veel sin in om gevegte van die verlede oor te veg nie, maar ons kan wel waardevolle lesse daaruit leer – lesse wat nie tot ons voorouers se beskikking was toe hulle die besluite geneem het wat hulle geneem het nie.

      Een so ‘n les is dat ten spyte daarvan dat ons die Engelse oorlog verloor het, Afrikaners steeds die leierskap in Suid-Afrika behou het na die oorlog. Ons het die politiek gewen (ongeag of jy ‘n SAP of ‘n Nat was), want ons was die getallemeerderheid.

      Na die struggle het ons die politiek verloor, want ons was ‘n getalleminderheid.

      Hierdie is gegewens waarmee ons bekend is en die implikasie daarvan is belangrik, maar ongelukkig nog nie verwerk deur ons volksgenote wat in Delmas betoog het nie.

      Beheersde aggressie is ongelukkig van tyd tot tyd ‘n noodsaaklikheid in enige individu of volk se bestaan. Wanneer daar egter geen alternatief vir aggressie gesien word nie, kan aggressie nie meer beheersd toegepas word nie en word dit ‘n donker gat waaruit geen wenners klim nie.

      Dit is waar dat namate ons sukses met die troffel en die pik behaal, die risiko’s verbonde met afguns en venyn kan toeneem, wat op konflik kan uitloop.

      Maar dit is ook waar dat ons vermoë om onsself te verdedig toeneem namate ons sukses met die troffel en die pik toeneem. Dit is per slot van rekening waaroor al die gebouery gaan.

      • Rudolf Herbst 11 Junie 2012 at 15:58 Permalink

        “Wanneer daar egter geen alternatief vir aggressie gesien word nie, kan aggressie nie meer beheersd toegepas word nie en word dit ‘n donker gat waaruit geen wenners klim nie.”

        Ebert, dit maak nie 100% vir my sin wat jy hier probeer sê nie.

        As daar dan ‘n alternatief vir aggressie is, dan sal aggressie nie ‘n opsie wees nie?!?

        Hoe word agressie dan beheersd toegepas?

        Watter alternatief/we sal bydra tot die beheersde toepassing van aggressie?

        Sou die ordelikke en stigtelikke opmars na die Delams polisiekantoor deur diegene wat nou as ulta-regs gebrandmerk is, nie volgens jou definisie as beheersde aggressie kwalifiseer nie?

        Afgesien dat die vlag van die ANC regime voor die polisiekantoor verbrand is, was daar geen geweldadige aggressiewe optrede vanuit die geledere van die wat daar was waaroor daar berig was nie.

        In teenstelling met die vreedsame protesoptog teen primêr die voortslepende moorde op volksgenote, is die van die huidige regime en sy bondgenote absoluut verwoestend en gaan gepaard met geweldige vernietiging. Kyk maar net hoe het Baberton onlangs gebrand….

        Daarbenewens sê die ANCJL in soveel woorde vir blankes, (Afrikaners in besonder en by name die van Tonders en van der Merwes op plase), dat hul veiligheid in gedrang is wanneer hulle dit sal durf waag om hulself teë te sit teen grondvergrype. En dit is sonder om in berekening te bring die verwoestende effek wat nasionalisering van sleutel ekonomiese en industriële instelling nie net vir dié instellings sal hê nie, maar ook vir elke individu, ongeag sy etnisiteit. En dit word sommer op nasionale televisie uitgesaai, HOOFNUUS, vir almal om te hoor.

        Ek stem wel saam dat aggressiewiteit wat kan oorspoel in oorlog heel moontlik tot ons volk se uitwissing sal lei.

        Maar dan bly dit seker ‘n ope vraag, wat sal die beste wees…?

        Soos die Engelsman sê: “War doesn’t decide who is right, it decides who is left (over)!”

        • E Terblanche 12 Junie 2012 at 04:38 Permalink

          Beste Rudolf,

          Ter verduideliking; ek reken dat agressie beheersd toegepas kan word wanneer jy presies weet watter resultate jy met die agressie wil bewerkstellig, asook wat jou te doen staan indien die resultate nie na wense is nie (insluitend watter resultate sal die laat vaar van agressie en die bemiddeling van vrede noodsaak).

          Verskillende resultate benodig dus verskillende alternatiewe tot die agressie. In sekere gevalle kan konflik verhoog word en in ander gevalle moet dit blitsig afgeskraal of beeïndig word.

          Ek het nie ‘n probleem met ‘n optog of vlag brand as sulks nie. Ek het self al aan ‘n paar deelgeneem. Ek dink egter nie dat dit beheersd kan wees indien onrealistiese eise soos ‘n volkstaat wat eensydig (by gebrek aan ‘n lewensvatbare gebied wat deur ‘n meerderheid Afrikaners beset word) deur die regering aangebied moet word dit onderlê nie.

          Om die optrede van die ANCJL of ander in townships by te sleep help nie die gesprek nie, want hulle situasie is heeltemal anders as ons sin. Hulle oefen effektiewe meerderheidsbesetting oor die grootste deel van die land uit en vorm uiteindelik die steunbasis van die regering.

          Wat sal die beste wees? Myns insiens dat ons gelos word om ons eie gang te gaan terwyl die faksies binne die ANC hulleself teen mekaar moeg baklei vir die voorreg om die staatskas te kan tap.

          Op ons eie en met ons eie arbeid kan ons ons eie produksiemiddelle vestig en ons weerbaarheid verhoog. Maar dan moet ons die ruimte en tyd daarvoor gegun word.

          • Rudolf Herbst 12 Junie 2012 at 17:06 Permalink

            Dankie vir jou verduidelikking Ebert.

            Juis dit wat in Orania en Kleinfontein gepoog word.

            Ek stem saam oor die tydfaktor.

            Dit het ons voorouers immers 59 jaar, (byna 6 dekades vanaf 1902 tot 1961), geneem om vanaf unie tot Republiek te vorder en dit MET politieke mag/meerderheid in daardie bestel, soos jy tereg uitgewys het.

            Soos almal al teen dié tyd agtergekom het, die ruimte sal ons seker nooit gegun word nie en ons sal elke stukkie grond onder ons beheer op vreedsame wyse moet “verower”/aankoop.

            Soos jy tereg sê, daar is tans ‘n gebrek aan ‘n lewensvatbare gebied vat deur ‘n meerderheid Afrikaners beset word.

            Natuurlik is die hoeksteen vir die volhoubaarheid hiervan die gebruik van eie arbeid alleen.

            Tyd sal leer….

  2. Gawie Snyman 8 Junie 2012 at 17:10 Permalink

    Inderdaad Ebert,

    Terwyl ons dalk mag verskil oor die interpretasie van die uitkoms van die Vrede van Vereeniging sing ons eintlik van dieselfde bladmusiek af.

    Sterkte daar in Tasmanië.

    • E Terblanche 10 Junie 2012 at 06:04 Permalink

      Dankie Gawie, ek het maar ‘n punt probeer toelig en nie noodwendig ‘n nuwe interpretasie probeer daarstel nie.

      Sterkte daar in Londen.

  3. Tiaan Theron 8 Junie 2012 at 20:15 Permalink

    Ebert ek lees graag jou artikels en geniet regtig jou insig en verstaan van sake.Ek wil jou egter mooi vra om asb so bietjie minder op die nense in jou eie loopgraaf te skiet. Ek weet ons almal is op ons eie mening geregtig, maar as vryheidsgesinde mense teen hierdie trant voortgaan bemoeilik dit nogal die werk van die mense wat wel probeer om groter kohesie tussen ons mense te bewerk. Dit geld natuurlik vir almal van ons! Ek is van mening dat jy wel oor die vermoee beskik om liewer die patetiese mnr Benade en sy meelopers te ontmasker vir wat hul regtig is. n Volkshuis wat nie gebou word op wedersydse respek en begrip nie sal nie staande bly nie. Ek is n GROOT ondersteuner van Orania en baie trots daarop en een van die redes daarvoor is omdat jou voorgangers nie mense was wat bruggies gebrand het nie, dit is deels die rede vir Orania se sukses!
    Boeregroete Tiaan

    • E Terblanche 10 Junie 2012 at 06:08 Permalink

      Dankie Tiaan,

      Ek vra om verskoning indien dit voorkom asof ek op vriende in loopgrawe skiet – ek dink ek probeer juis teen ‘n geskietery vermaan.

      As mens kommentaar op die gebeure van die dag lewer, moet jy ook bereid wees om krities teenoor jou eie mense te wees en nie net tenoor ander nie.

      My kritiek is egter uitsluitlik daarop gemik om vir ons as Afrikaners ‘n beter alternatief te probeer skets; in ‘n sin ‘n liggewig van NP van Wyk Louw se lojale verset.

  4. Jan Beyers 11 Junie 2012 at 14:18 Permalink

    Ebert,

    Die bostaande artikel blyk gerig te wees op ‘n groepie manne wat begin het met ledelike verset teen die onreg in ons land.

    Jy weet dit seker nie, maar in daardie groepie is daar manne wat ontwikkel op Orania en daar gaan woon een van die dae. Die meeste van daardie manne woon en werk ook op Kleinfontein wat net soos Orania ‘n volkstaat de facto skep. Maar ja, hulle brand ook vlae en plak plakkers. Die verskil tussen hulle en jou is egter dat hulle nie wegkruip agter die feit dat hulle ook “bou” na vryheid nie. Nee hulle is ware volksmanne wat MEER doen as bloot op ‘n plek bou en ontwikkel. Hulle doen nog meer deur hulle lywe op die spel te plaas vir jou en my vryheid. Hulle doen meer deur nagte in selle deur te bring vir my en jou vryheid.

    Hou op om die feit dat jy betrokke is by Orania dit voor te hou as die enigste oplossing en ook as jou enigste bydrae tot vryheid. Daardie vlagbranders, plakker plakkers ens ens doen meer vir vryheid as ek en jy saam!

    Groete

    Jan Beyers

    • E Terblanche 12 Junie 2012 at 04:21 Permalink

      Beste Jan,

      Jy het my skrywe verkeerd verstaan.

      Dit is nie gerig teen enige iemand nie.

      Dit bevat ‘n paar van my los gedagtes na afloop van 110 jaar sedert die einde van die Engelse oorlog, veral die wyse waarop ons dikwels deur konflik vir ons groter probleme en erger nagevolge op die hals gehaal het as wat ons by die begin van die konflik besef of verwag het.

      Met bogenoemde in gedagte het ek afgesluit met ‘n blote vermaning.

      Dit is vir my jammer dat jy in my vermaning baie meer lees as wat ek geskryf het; onder meer dat ek nie waardering het vir dit wat deur ander ten behoewe van ons volksgenote gedoen word nie.

      Jy mag van mening wees dat daar alternatiewe vir Orania bestaan en dit is elkeen se goeie reg. Ek is egter nie bewus van enige alternatief wat so deurgrond is met navorsing en beplanning wat sedert die 1960’s gedoen is nie.

      Op hierdie laaste twee punte van my is my gevolgtrekking dat ek van jou verskil. Met respek.

  5. Andre Erasmus 12 Junie 2012 at 05:05 Permalink

    Geskiedenis is en was nog altyd n riglyn woorop verkenners hulle volgende stap beplan, groot respek het ek vir die pioniers wat dit gewaag het om die ongekende binne te gaan vir n ideaal van vrede en erkening.Ons voorouers was baie dapper en dit maak nie saak waar hulle gewen of gefaal het nie, ons het hul geskiedenis ge-erf, en dit is wat van ons die volgende geskiedenis sal maak.
    My punt is dus: hou op om jou mede mens met slim omkoop pratery te oorwin en,hou op om jou buurman te na te kom. Staan saam en bou hierdie nasie op en praat oor die verlede, moenie dit vergeet nie want dit is jou geskiedenis en toekoms, leer jou kinders van ons welslae en ons dapperheid, dis hulle reg.(al is dit soms oordrewe of om n braaivleis vuur)
    Ek weet uit ondervinding dat hierdie wit Suid Afrikaners volk sal vind waarna hulle soek – VREDE –

  6. Magdaleen Kleynhans 12 Junie 2012 at 07:39 Permalink

    Jan

    Hoe veg iemand vir my vryheid as hy agter tronktralies sit? Iemand wat vir my en my kinders se vryheid veg is iemand wat eerstens n skool vir my kinders bou. En dan n universiteit waar hulle in hulle eie moedertaal onderrig kan ontvang. Ek kan nog n paar voorbeelde noem, maar vryheid en die tronk gaan nie saam nie.

    Daarom stem ek saam met Ebert, brand jou energie op iets positief en opbouend. Skep n toekoms vir jou kinders en bly uit die selle.

    • Ernst 12 Junie 2012 at 08:09 Permalink

      Tot op hede was die brand van die vlag nie onwettig nie, alhoewel die DA hul uiterse bes doen om dit so te verklaar. Kom ons rig ons pyle op die ware vyand wat ons almal ‘n rat voor oë probeer draai, dws die ANC en DA. In die DA se Benade se eie woorde – die brand van die vlag was vir hom net so erg as die moord op die kind. Met sulke uitlatings maak hulle dit bitter moeilik vir normale ouens soos ek om uit die tronk te bly, want sowaar as vet, ek moet hom tog nie raakloop nie…

  7. Awie Warrington 12 Junie 2012 at 08:04 Permalink

    My mening is dat jy slegs ‘n “nasie” kan bou in SA as die huidige regime regtig versoenend sou wees. Die teendeel is nou waar-Afrikaner plek en straatname word verwyder ten gunste van “vryheidsvegters”, na my mening steeds terroriste, wat tot nou toe nie jammer gesê het vir die verlede se geweldsmisdade en bomme nie. Dan is aanvalle op wit boere en stedelinge ook nog ‘n kwessie.
    Die groter probleem onder “Afrikaners” en die wit bevolking is hul passiewe benadering of dit nou vrees is of blote magteloosheid teen die huidige regime se goddeloosheid en wetteloosheid. Of vlae brand en protes teen die regime werklik ‘n verskil gaan maak is debatteerbaar. Feit van die saak is die Afrikaner(werklike volksgenote) is tans nog steeds leierloos en rigtingloos. As daar werklik leierskap was- nie 1000 “chiefs” vir klomp 100 versplinterde “regse” groepe nie, sou ons al lankal saamgestaan het. Verder verwys die skrywer na morele verval-dis duidelik soos daglig dat die gewone wit Afrikaanse, wat ook duidelik die Nuwe SA aanvaar het, ver weg van sy God weggedwaal het in die eerste plek. Daarby ook sy volk, kultuur en taal. Hy het dus ‘n Babelse of liewer ver-Amerikaanse/sosialistiese integrasie aanvaar. Dus is die oorsaak dat die Afrikaner as volk die gevaar staan om net verder verdryf te word indien hy nie die status quo aanvaar en sy identiteit prys te gee nie.

    • E Terblanche 13 Junie 2012 at 22:59 Permalink

      Dankie Awie, die kwessie rondom gebrekkige leierskap is ‘n interessante een.

      Die tradisionele wyses waarop ‘n enkele leier na vore tree, hetsy deur ‘n verkiesing te wen, as troonopvolger gesalf te word of om deur geweld mededingers te neutraliseer is nie meer tot Afrikaners se beskikking nie.

      Selfs toe ons oor bogenoemde stelsels beskik het, was daar altyd ‘n wesenlike gedeelte van ons bevolking wat nie saamgestem het met die verkose/aangewese leier se strategie nie. Nie eens Marthinus Steyn, Paul Kruger of Hendrik Verwoerd kon alle stemme op hulle verenig nie.

      Dit is ook nie uniek aan die Afrikaner nie. Dit geld alle volke oor alle tye.

      In ons omstandighede van gebrekkige meganismes tot leiers se beskikking om hul leierskap te laat legitimeer en die aanvaarding daarvan af te dwing, is dit onwaarskynlik (self onmoontlik) dat ‘n enkele leier na vore kan tree.

      Dit is die werklikheid waarmee ons verlief moet neem en wat ons moet verreken.

      Baie leiers wat mekaar weerspreek is dus ‘n gegewe en die toestand gaan nog baie jare met ons wees.

      Om dus onder hierdie omstandighede hande in die lug te werp en verlam te wees weens ‘n gebrek aan ‘n enkele leier, is om ‘n maklike uitweg te soek van ons individuele verantwoordelikheid om by te dra om ons volk se toekoms te verseker.

  8. Gerhard Schütte 12 Junie 2012 at 10:04 Permalink

    Ebert,

    Ek is nie ‘n persoon wat graag by debatte betrokke raak as ek nie die ander in die oë kan kyk nie. Aangesien jy doer anderkant die waters sit het ek nie veel van ‘n keuse nie.

    Jy noem dat jy afgesluit het met ‘n vermaning. Ongelukkig wil jou vermaning nie vir my sin maak nie. Die persoon wat die vlag aan die brand gesteek het is ‘n inwoner van Orania wat al letterlik, fisies energie verbrand het deur kruiwa, pik, graaf en troffel vir Orania (of is dit vir vryheid). My self, ja dit is ek op die foto wat die brandende lap vashou, trek Desember Orania toe. Kom ons los die vermaning vir diegene wat mekaar ken en nie net van mekaar weet nie.
    Orania alleen is ongelukkig nie VRYHEID nie, maar vorm slegs ‘n deel van ons volk se strewe na vryheid.

    “Dit is die kruiwa, die graaf, die pik en die troffel wat vir ons ‘n toekoms gaan verseker.”
    Miskien is dit eerder ons geloof in die Drie-Enige God wat ons toekoms gaan verseker en uit dankbaarheid daarvoor sal ons werk, bou en lief wees vir ons eie. Daarmee saam ondersteun ek dat volkseie arbeid bevrydend is, of dit op Oranie, Kleinfontein, Pretoria is, maak nie saak nie.

    Ek sal graag verneem oor hoe mens dit wat jy opgebou het met die sweet van jou aangesig, gaan beskerm en behou as dit nie oor die loop van ‘n geweer gaan wees nie.

    Groete

    Gerhard Schütte

    • E Terblanche 13 Junie 2012 at 23:49 Permalink

      Gerhard,

      Ek sou ook veel eerder die gesprek met jou wou voer oor ‘n koppie rooibostee en ‘n bietjie beskuit of bilting.

      Tog is die oop gesprek ook belangrik vir ander om van kennis te neem. Ek dink nie die kwessie wat ons aanroer is ‘n geringe een nie.

      Wat jou koms en bydrae tot Orania betref is ek baie bly voor. Ek is seker dat wanneer jy intrek jy ook die verlossing tasbaar sal voel van die ewigdurende negatiwiteit wat Suid-Afrika teister. In hierdie opsig is my vermaning – vir bouwerk – minder toepaslik en ek gee toe.

      Ek reken ook dat jy meer as genoeg grondige rede het om die vlag te brand. Die vernietiging van Afrikaanse kulturele bates en die benarde situasie van ons fisiese veiligheid is geen ligtelike saak nie.

      Maar ons is nie onskuldig aan ons eie omstandighede nie. Dit is ons en ons voorouers wat mildelik swart arbeid gebruik het en steeds gebruik en wat soos ‘n dun lagie heersersklas oor die land versprei het, wat die bed gemaak het waarin ons nou moet slaap. En vir solank as wat die bed dieselfde bly, gaan hy dieselfde slaap.

      Ons moet die balk in ons eie oog soek.

      Ja, alles wat ons doen, of dit bou en of dit veg is, is ondergeskik aan die soewereine wil van God. Omdat die wil van God konstant is, het ek dit nie bygesleep by my kontrastering van konflik teenoor bouwerk nie.

      Hoe gaan ons onsself en ons bates beskerm? Die geskiedenis (ons eie en die van ander volke) wys dat gebiedskonsolidasie en meerderheidsbesetting ‘n voorwaarde is vir suksesvolle militêre aksie.

      Tot op hede is ons die slagoffers van ons eie swak besluite van die verlede en ‘n regering wat onge-erg en onverskilling teenoor ons veiligheid staan. Dit kan baie erger word – die regering kan milisie bewapen en teen ons inspan of selfs die weermag en die polisiediens teen ons aanwend.

      Daar mag ‘n dag kom waarop ons gedwing word na die geweer, maar sonder ‘n eie gebied wat deur ons beset en bewerk word en wat ons van voorraad en veiligheid kan voorsien, sal daardie dag die laaste dag van die Afrikanervolk wees.

      Dus tot dan; tot die dag wat ons op ons eie bene kan staan, is dit beter om nie slapende honde te laat byt nie.

      In die 8 jaar wat ek betrokke was met en in Orania het ons ook geleer dat ons in baie gevalle meer bereik deur beleefd met die regering om te gaan as om met voorberade gedagtes van vyandigheid te werk. Dit mag verander, maar op die oomblik is die regering nie die grootste struikelblok in ons ontwikkeling nie. Afrikaners is.

  9. Awie Warrington 12 Junie 2012 at 10:59 Permalink

    Met verwysing na die DA spesifiek- hulle nasiebou is soos bou op sand, juis omdat hulle op alles inklusiewe gelowe en rasse die reënboognasie wil bou. Dit kan nie werk nie want die fondament van God is nie daar nie. Dit gaan net weereens misluk soos die huidige regime. DA Afrikaanses moet hul ook maar regmaak om weereens ‘n swart meerderheid se wense onderdanig te wees en swart leiers wat ook sporadies die wittes uitskuif tegemoet te kom. Daarby ondersteun die DA die Vryheidsmanifes wat slegs die mens en sosialisme/humanisme onderdanig is-nêrens word God in daardie manifes genoem nie-the “people” verdeel alles, rykdom, grond ens. wat natuurlik ook nêrens ter wêreld gewerk het nie.

  10. E Terblanche 13 Junie 2012 at 23:01 Permalink

    Awie, Ernst en ander

    Die DA is ‘n interessante onderwerp wat op sy eie behoort hanteer te word. Ek sal op ‘n stadium my gedagtes daaroor probeer bymekaarskraap en op die blog plaas.

    • Sebastiaan 14 Junie 2012 at 13:18 Permalink

      Ek stem saam met wat jy skryf, Ebert. Dit is eintlik net die een sin oor die brand van die vlag wat sekere mense nou omkrap, maar jy verduidelik dit in elk geval breedvoerig. So ‘n paar gedagtes van my kant:
      * As jy weens werks- of watter omstandighede ook al in Pretoria of elders moet woon, is dit goed dat jy daar betrokke is by aksies vir die Afrikaner. Dit is goed dat daar ‘n optog was na die moord op baba Botes, en dat gemoedere hoog loop is heeltemal verstaanbaar. Om die vlag te brand van die “nuwe” Suid-Afrika wie se regering toelaat dat ons mense op strepe vermoor word, is vir my aanvaarbaar, alhoewel ek onder gewone omstandighede enige mens se land respekteer, al stem ek nie saam met hulle beleid nie.
      * Dit sal help as ons as vryheidsgesinde Afrikaners konsensus kry dat ons ‘n volkstaat met volkseie arbeid in die Noord-Wes-Kaap soek, nie die ou Boererepublieke nie, nie die ou Suid-Afrika minus die tuislande nie. Mynsinsiens belemmer dit ons vryheidspoging, want almal praat van vryheid en elkeen bedoel iets anders daarby.
      * ‘n Vryheidstryd teen ‘n onderdrukker wat ons mense dood maak moet op talle fronte gevoer word. Tans is dit mynsinsiens die beste om die volkstaat te bou, maar daar sal ‘n tyd kom waar ons ook mense nodig het wat bereid is om hulleself as helde op te offer en te sterf of in die tronk te sit. Dit moet egter vir iets wees wat die volk se verbeelding aangryp en wat regverdig is. Om die rede onthou ons vir Christiaan De Wet, Danie Theron of Koos de la Rey as helde, maar nie vir Robbey Leibbrand of Julian Visser nie.
      * Ons stryd moet strategies te werk gaan. Baklei vir wat reg is, soos om as vrye volk in jou eie gebied te kan lewe, om jou mense te kan beveilig, jou taal en kultuur te kan uitleef ens. As jy veg vir wit meerderwaardigheid of as jy ander volke wil onderdruk, sal jou saak geen steun kry nie en ook nie regverdig wees nie.

      • E Terblanche 14 Junie 2012 at 23:15 Permalink

        Baie goeie bydrae Sebastiaan. Jy stel die wyer konteks waarbinne my skrywe val goed.

        Die punte wat jy noem is uiters belangrik en elkeen kan die onderwerp van ‘n artikel vorm.

      • Sarel Roets 15 Junie 2012 at 09:40 Permalink

        Sebastiaan, as hier ‘n “like” knoppie was, het ek hom gedruk.

        Ek dink ons het meer geduld en samewerking nodig en minder onverdraagsaamheid.

        Ek dink sodra ‘n aandeelhouer in die vryheidstryd homself as die enigste oplossing met enigste metodiek sien, word so ‘n aandeelhouer ‘n vyand van sy eie strewe. Dit is dalk ons almal se grootste gevaar.

        Ons as Oraniërs beywer ons vir ‘n vrye volkstaat in die Noord-Kaap, maar ons moet ook besef dat daar steeds Afrikaners en selfs familielede is wat in die res van S.A. bly en nie sal trek nie.

        Ek het familie in Tzaneen op ‘n vierde generasie familieplaas. As ons hier in die vredevolle en gedeeltelik vrye Orania nie ook VIR hulle is nie, is ons mos TEEN hulle en dus aandadig aan hul ondergang. Dit beteken sekerlik nie dat ons nou ons doel en strewe moet aanpas om Tzaneen in die Volkstaat in te sluit nie. Nee, maar ons moet minstens net simpatie hê met die stryd wat hulle ook daagliks stry ter wille van oorlewing.

        As ons dit nie doen nie, is ons nie die naam Afrikaner werd nie, en nog minder die erenaam Christene.

        Ek dink hierdie beginsel geld vir almal van ons, ongeag jou eie vryheidstryd.

        Op die ou end het ons mos meer in gemeen as wat ons van mekaar verskil.

        • E Terblanche 15 Junie 2012 at 23:38 Permalink

          Beste Sarel, ek verstaan jou bydrae en het simpatie vir jou standpunt, maar ek wil tog ‘n paar sake wat jy noem bekyk, al was jou skrywe dalk nie noodwendig in reaksie op iets wat ek geskryf het nie.

          Waarom word vermaning gesien as onverdraagsaamheid? Is ons onverdraagsaam teenoor ons kinders wanneer ons hulle vermaan?

          Ek het ook familie wat op grond woon wat geslagte lank ons eiendom was en daar is min dinge wat my so bekommer as juis hulle isolasie in ’n oseaan van armoede, hebsug en venyn. Statistiek toon aan dat hul lewenswyse reeds een van die gevaarlikste beroepe ter wêreld is; met een in tien wat al met hul lewens daarvoor betaal het. Dan het daar nog nie eens grootskaalse konflik teen Afrikaners uitgebreek nie.

          Kom ons werklik ons Christelike plig na deur hulle te steun in hul begeerte om op erfgrond aan te bly? Hoe kan ons aandadig aan hul ondergang wees, indien hul ondergang aangedryf word deur ‘n fundamentele verskuiwing in demografie wat meer as 4 geslagte gelede reeds begin het?

          Is ons anders as president Zuma wanneer ons vir almal presies vertel wat hulle wil hoor?

          Ja, politiek is asems en dit gaan ons strewe niks in die sak bring as ons mense verdryf nie, maar ons het ook verantwoordelikhede wat verder as ons politieke ambisies strek. Daarom bly elke boodskap ’n fyn balanseersaak.

          Juis omdat politiek asems is, moet ons ons ook bekommer oor die lewens van ons volksgenote. Ons kan bou so al wat ons wil in Orania maar as daar nie meer mense is wat in Orania kan tuiskom nie, dan was dit ook vir niks.

          Waar kom hierdie gedagte vandaan dat as ons nie VIR mense is nie, ons TEEN hulle is? Ek loop dit veral in politiek-regse kringe raak.

          In Markus 9:40 sê Jesus die omgekeerde. Hy sê dat wie nie teen ons is nie is vir ons. Sy boodskap is radikaal anders en dit is ’n wyse van denke wat ons bondgenote nie beperk tot mense wat soos ons lyk, dink en optree nie. Dit laat ook die deur oop vir selfkritiek en vermaning.

          • Sebastiaan 19 Junie 2012 at 13:57 Permalink

            Ebert, ek ken die dilemma en ek verstaan waarvan jy praat. Ek het ook ten volle begrip vir dit wat Sarel sê, daar is ‘n hele paar mense op plase wat diep in my hart gekruip het en ek bid en hoop dat hulle hulle plase en leefstyl kan behou. Ongelukkig sal ek met politieke realisme net kan sê dat ek hoop en bid teen alle ondervinding in. Ek hoop ek is verkeerd en ons kan ‘n volkstaat kry vir die wat dit wil hê, en die wat nie wil nie kan nog steeds aangaan op hulle erfgrond en met hulle leefstyl wat werklik baie kosbaar is. Dit sou egter oneerlik wees om vir hulle te sê dat alles so sal bly, want reeds nou is die tekens daar. Maar ja, miskien gebeur die onverwagse, plaasmoorde stop, die ANC raak versoenend en grondroof is nie meer ‘n onderwerp nie. Soos wat ek die Afrika-politiek ken kan ek dit egter nie sien nie. Intussen word ons verkwalik omdat ons die harde boodskap bring, terwyl ons net een dag se koerant moet lees om bevestiging te kry dat ons reg is.
            Na elke moord wat gebeur, na elke eens pragtige dorp wat verval en wat ‘n mens moedeloos laat sê ek altyd vir my en ander mense:”Daarom doen ons wat ons doen op Orania.”

  11. E Terblanche 14 Junie 2012 at 23:11 Permalink

    Hier is ‘n skakel na ‘n artikel deur Louis du Plessis wat beslis die moeite werd is om gelees te word. Dit werp lig op die saak van “alternatiewe” vir Afrikanervryheid:

    http://maroelamedia.co.za/blog/die-groot-debat/watter-volke-regeer-hulleself/

  12. C.E. van Niekerk 20 Junie 2012 at 12:43 Permalink

    Om weer terug te keer en kommentaar te lewer oor die “aggressie”-punt:
    Kom ons kyk na die geskiedenis – vanaf die koms van Jan van Riebeeck – kan ons ‘n enkele geleentheid herroep waartydens die Boer/Afrikaner die aggressor was?
    Ons moes nog altyd koes, keer en afweer!
    Of dit nou die Oosgrens-Xhosas, die Vrystaat-Matabeles, die Natal-Xhosas, die internasionale goudsoekers, die Britse grond- en goudvrate, geheime organisasies onder die vaandel van welwillendheid onder Afrikaners en die kommunis is – hulle kan die klein, altyd-in-die-minderheid Boer/Afrikaner net nie uitlos nie. Hulle vat soos ‘n boelie-kind gewetenloos die speelding af van die een wat vreedsaam op sy eie sit en speel, telkemaal en sonder einde. Om ‘n vlag te gryp en te verbrand is maar net die effense skietgee aan ‘n gaskoeldrankbottel waaraan daar meedoënloos geskud word – dit is nog glad nie die ontketening van ‘n oorlog nie.
    En, dan bid ek met my hele hart – nadat ons weer tydens Bittereinderdag gehoor het van die onuitspreeklike pyn, lyding en leed van die Boere-oorlog – dat oorlog nie die geval sal wees nie. ‘n Afrikaner gee te veel om vir lewe – dit is in ons DNA om te bou en nie om af te breek nie. Ons kan net wen indien ons ‘n intellektuele oorlog voer en ons kan ‘n intellektuele oorlog net wen as ons kennis en insig het en ‘n mens het net kennis en insig as hy die van die Almagtige Vader af bid.

  13. Celéste van Niekerk 20 Junie 2012 at 16:08 Permalink

    Natal-Zoeloes – nie Natal-Xhosas


Lewer Kommentaar

*