18 Januarie 2011 ~ 22 Kommentare

Nog ‘n brief vandag in Beeld

Geskryf deur Jaco Kleynhans

Soedan wys die gedagte aan ’n Afrikaner-volkstaat nie vergesog

S.M. Biehl van Orania skryf:

Leopold Scholtz se rubriek “Soedan en die volkstaat” (Beeld, 14 Januarie) het betrekking.

Dit is verblydend dat Scholtz kalm en beredeneerd die volkstaat-onderwerp bespreek. Ek waardeer Scholtz se benadering, al verskil ek deels.

Daar is natuurlik groot verskille tussen Soedan en Suid-Afrika, maar wel ook ooreenkomste wat ’n Afrikaner-volkstaat nie so vergesog maak nie.

Sowel Soedan as Suid-Afrika is kunsmatig koloniale skeppings van die Britse “Kaap tot Kaïro”-droom en die grense is getrek op grond van strategiese belange, nie op grond van etnisiteit, geskiedenis of geografie nie.

In albei gevalle heers ’n meerderheid oor ’n etnies totaal verskillende minderheid, of minderhede.

’n Minderheid is aan die ontvangkant en politiek magteloos.

Natuurlik is die onderdrukking wat die Suid-Soedannese ervaar erger as wat die Afrikaner en ander minder­hede in Suid-Afrika tans ervaar, maar ons moenie te gerus wees nie.

Scholtz is reg dat Suid-Soedan reeds ’n etnies omlynde gebied is, terwyl vir die Afrikaner-volkstaat nog geen so ’n gebied bestaan nie. Maar Suid-Soedan se afskeidingspoging kom ’n lang pad en tot betreklik onlangs het min mense verwag dat Soedan ooit gaan skeur.

Orania gaan van krag tot krag en dinge mag in die toekoms heel anders lyk.

Meer mense vestig hier, meer Afrikaners ondersteun die gedagte en raak betrokke, die idee van “een Suid-Afrika vir almal” verloor sy glans.

Deel/Stuur

22 Reaksies op “Nog ‘n brief vandag in Beeld”

  1. Wynand Boshoff 20 Januarie 2011 at 07:50 Permalink

    My mening oor hierdie saak mag dalk nie in Orania te gewild wees nie, maar ek sien dit as ons enigste pad vorentoe. Ons kans op selfbeskikking hang af van die vraag of ons met Bruinmense in ‘n plurale bestel sal deel. Indien wel, is dit natuurlik nog lank nie te sê dat Bruinmense met Afrikaners in so ‘n bestel sal wil deel nie, maar ek glo daar is vir hulle meer voordeel as in ‘n ANC-oorheerste eenheidstaat.

    Die soort eksklusiewe denke wat Orania tot hier gebring het, mag ons lei tot enkele plekke waar plaaslike regeringstrukture gevestig kan word. Dis al.

    • Ben le Roux 20 Januarie 2011 at 10:12 Permalink

      Wynand,bruinmense is hier by ons ‘n bree begrip.Onder hulle is daar mense wat nou verwant aan ons is.So te se familie.Ons kan hulle gerus probeer nader trek.Maar die probleem le daarin dat die sogenaamde bruinmense of kleurlinge nie ‘n homogene groep is nie maar ‘n kollektiewe groep.Die rasverskille raak maklik te breed en dan teel ons naand weg van die tipiese Kaukasiese kenmerke af.Die bevolkingstendense in die wereld slaan vandag reeds die verkeerde koers in.Die groepe wat die moderne wereld gemaak het wat hy vandag is verkeer onder geweldige druk.Ons word uit geteel!Die klem moet op die behoud van ons soort val.Ons moet nie ‘n uitgestorwe spesie word nie.Die syfers van die voorstanders van ‘Eugenics’ klink nie juis bemoedigend nie.Die mensdom raak stadigaan dommer!

  2. Wynand Boshoff 20 Januarie 2011 at 12:04 Permalink

    Ek sien ‘n verskil tussen integrasie en saambestaan in ‘n plurale bestel. Die plurale bestel sluit nie integrasie uit nie, maar impliseer dit ook nie noodwendig nie. Orania staan nou binne ‘n vyandige staat. ‘n Afrikaanse provinsie/deelstaat/staat saam met Bruinmense, wat vir verskeidenheid voorsiening maak, is ‘n gunstiger omgewing.

    Ek was ‘n Transvaler, en het altyd gesê die Kapenaars is NP want hulle ken nie die Swartmense nie. Toe sê ‘n Kapenaar eendag vir my Transvalers wil niks weet van die driekamerparlement nie, want hulle ken nie die Kleurlinge nie. Ek dink nog altyd oor daai stelling.

    • Ben le Roux 20 Januarie 2011 at 14:17 Permalink

      Hoe meer homogeen,hoe meer aandag kan daar aan die brood en botter sake gegee word.Buitestaanders moet gemeet word aan hoe assimileerbaar hulle is.Enige iets anders is net om probleme te loop soek.Daai soort van probleme het ons reeds genoeg ondervinding van, hoekom sal ons weer by so iets betrokke wil raak.

      • Ernie Langner 21 Januarie 2011 at 09:01 Permalink

        Wynand, dankie vir hierdie bespreking. Ek het ook al baie hieroor gewonder. Ek ken persoonlik ‘n paar sg. Bruinmense wat van hulself as Afrikaners praat, dieselfde waardes en sienings as baie van ons het. As Orania op die beginsel van vrywillige assosiasie geskoei is, behoort ons geen probleem te hê om ‘n persoon van kleur wat hom/haarself met ons ideale en kultuur vereenselwig as lid van die gemeenskap te aanvaar nie. Oor die wêreld heen kry ‘n mens persone van kleur wat die Franse (of Duitse, ens) taal en kultuur aanneem, ‘n passie daarvoor het en dit uitleef. Die gevalle waarvaan ek praat, is in elk geval so min, dat dit vir Orania geen bedreiging sal inhou nie. Die Zoeloes, Xhosas, Khoi-San ens het glad nie destyds toe apartheid afgeskaf is ons tradisioneel Afrikanerkerke (waar die beginsel van vrywillige assosiasie geld) oorstroom nie! Dis net by instellings (skole, universiteite, ens) waar gedwonge integrasie en engels ingevoer is, waar groter ras- en kultuurdiversiteit sigbaar is. Ek het geen probleem om saam met ‘n welopgevoede persoon van kleur te braai, rugby te kyk, koeksusters te eet, kerk toe te gaan, jukskei te speel, na Bok van Blerk te luister en Geloftedag te vier nie. As daar sulkes bestaan en hulle het ‘n passie vir die Afrikaner en sy kultuur, laat hulle kom. Wat sê julle?

  3. tienie bekker 23 Januarie 2011 at 15:28 Permalink

    Ons wil nie deel van die Reenboognasie word nie maar enkeles klink dit vir my wil die begrip in Orania vestig.!!!!! As ons as werklike Afrikaners nie kans sien om ons eie heil in Orania uit te werk nie moet ons die hele gedagte van Onafhanklikheid en Selfstandigheid vroegtydig die nek inslaan en nie ander Afrikaners onnodig verwar nie.!!!

    • Jaco Kleynhans 24 Januarie 2011 at 12:07 Permalink

      Mnr Bekker,

      Ek is nie seker wie vir wie verwar nie, maar ‘n feit waarmee ons moet saamleef is dat nie alle Oraniërs presies dieselfde oor elke liewe dingetjie gaan dink nie. Ons gaan binne ‘n beperkte gedeelde ideeruimte tog verskil.

      Dit gesê: Ek is seker daarvan dat die oorgrote meeerderheid van mense wat Orania toe trek dit vir dieselfde rede doen, naamlik om tussen ons eie Afrikanermense in ons eie grondgebied vir onsself ‘n toekoms te skep waar ons groter selfbeskikking kan kry.

      Die reënboognasie was nog nooit ‘n werklikheid nie en mense wat Orania toe trek is veronderstel om dit goed te verstaan. Ons het nie ‘n probleem met ander kulture nie, maar ons besef ook dat die verskillende groepe nooit saam een reenboog sal kan of mag vorm nie, omdat die Afrikaner in die reenboog sal verdwyn en dit ons einde sal beteken.

      Dit beteken egter nie dat ons nie in harmonie met ander groepe in Suid-Afrika en selfs die res van Afrika moet leef nie. Ons kan ook nie ‘n eiland skep wat elke dag vir sy voortbestaan moet vrees nie.

      • Ben le Roux 24 Januarie 2011 at 15:43 Permalink

        Wie kan hiermee verskil? Ons is tog per slot van sake in Afrika.Gesonde wisselwerking met wedersydse respek vir elkeen se eiesoortigheid en grense kan slegs harmonie tot gevolg he.Vrede met die bure word dit genoem.

  4. tienie bekker 25 Januarie 2011 at 18:27 Permalink

    Jaco jy het beslis skryf talent maar ek vra dat jy die hele gesprek van vooraf moet lees en miskien dan kyk na my bydrae.Ek is van mening dat jy te gou gereageer het sonder om na die hele prentjie te kyk.Net soos ek het jy ook nie al die kennis in pag nie.!!!Moet ons mekaar persoonlik aanvat,??? Ek glo nie dit sal bevorderlik wees vir onderlinge verhoudinge nie.!!!!!Voel jy eerlik om net op my bydrae kommentaar te lewer.!!!!

    • Jaco Kleynhans 26 Januarie 2011 at 06:11 Permalink

      Oom Tienie,

      Ek reageer outomaties op kommentaar op artikels wat ek plaas en ek het glad nie Oom aangevat nie. Ek is nie seker waarom Oom so dink nie, maar ek het slegs geantwoord op belangrike opmerkings wat Oom gemaak het. Dit is maar hoe ‘n debat op ‘n blog moet werk. Ek het dus glad nie die behoefte om enigiemand persoonlik aan te vat nie. Dit sou in elk geval teenproduktief en onprofessioneel wees.

      Groete,
      Jaco

  5. tienie bekker 25 Januarie 2011 at 18:29 Permalink

    Ben lees asb. jou vorige insetsel dan kan jy daaruit lees dat ons baie na aan mekaar beweeg.!!!!

    • Ben le Roux 26 Januarie 2011 at 14:47 Permalink

      Beslis! In my tweede insetsel val die klem ook op eiesoortigheid.Die belangrikheid is dat daar wedersydse erkenning daarvan moet wees.Disharmonie en miskenning lei natuurlik dan tot sonde met die bure. Ek weet dat die daaglikse skouerskuur met die arrogante verteenwoordigers van die nuwe orde ‘n mens se bloed soms laat kook en juis daarom is grense nodig.Ons sal maar moet kophou en geduldig wees sodat die pot nie oorkook nie.Allenlik in ‘n posisie waar ons in beheer van ons eie sake is sal ons die situasie kalm kan hanteer.Kalmte het ‘n kalmerende effek na alle kante toe.Ek neem aan dat dit dit is wat Jaco bedoel.

      • Jaco Kleynhans 26 Januarie 2011 at 14:51 Permalink

        100% korrekte weergawe van wat ek bedoel! Baie dankie.

  6. Jean Du Plessis 26 Januarie 2011 at 10:44 Permalink

    ‘n Algemene tendens onder die Bruin elite (veral in die Wes-Kaap), is om hul kinders in engelse skole te sit en engels groot te maak. Hul sien Afikaans as die taal van die ou apartheid. Dws. hulle verruil Afrikaans vir engels. Hulle meng ook meer net met engelse liberale en poog hard om die laaste biedjie Afrikaans in die universiteite uit te roei.

    Nie seker of dieselfde stigma onder bruin mense in die Noord-Kaap heers nie. Wat ek wel voel is dat hulle al 16 jaar gehad het om munisipaliteite te kan beheer en orals in die Noord-Kaap sien jy verval, waar hulle betrokke is. Is dit ooit die moeite werd om op regionale vlak met hul te probeer saam werk, as jy weet wat jou voorland is ? Beterweters die kant van die wêreld sê egter dat hulle totaal en al gelos moet word, sodat als verval, daar nie meer water is nie, en dat hulle almal dan uittrek. Sodra ‘n dorp dan leeg staan, kan jy als opkoop en weer begin bou. Probleem is hoeveel jare dit net nog nie gaan vat nie.

    • Jaco Kleynhans 26 Januarie 2011 at 10:59 Permalink

      Jean,
      Baie goeie punt. Ek kom oorspronklik van die Suid-Kaap af en kan vir jou sê dat die bruinmense se grootste probleem juis is dat hulle nie saamstaan en hulself as ‘n volk sien nie. Die rykes word dus Engels en wil alles laat verengels en benadeel daardeur die armes (veral op die platteland) wat baie keer nie eers Engels magtig is nie! Die les: Afrikaners sal moet saamstaan, ten spyte van verskille, indien ons wil oorleef.

  7. Ernie Langner 27 Januarie 2011 at 13:27 Permalink

    Ouens, sjoe, my hart word sommer warm as ek dink dat ek op so baie punte met julle saamstem! Dit begin vir my werklik voel asof baie Afrikaners nou bereid is om die kleinlikhede waaroor ons nog verskil eers ‘n bietjie opsy te skuif ter wille van saamstaan, saamwerk en eenheid. Dis eintlik merkwaardig as mens in ag neem dat ons self maar ‘n diverse lotjie is: Boere, Afrikaners, party konserwatief, ander liberaal, party ryk en party arm. Ek se nou die dag vir iemand dat daar selfs op Orania alreeds genoeg diversiteit bestaan vir die wat hou van verskeidenheid! Ons het beslis nie nog ekstra diversiteit nodig nie. Om die Afrikaners/Boere bymekaar te hou is al klaar ‘n hengse uitdaging!!
    Ek glo ook dat goeie heinings goeie buurmanskap tot gevolg het. Ek streef na goeie buurmanskap met al die ander nasies in SA, ook met my mede-Afrikaner wat glo dat die nuwe SA (en die rigting waarin dit beweeg) vir hom kan werk. Ek dink daar is genoeg plek in ons mooi land vir elke ou se siening. Ek vra net dat ons mekaar se sienings moet respekteer. Ek probeer niemand aktief oortuig om op Orania te gaan bly nie, maar ek vra hulle wel om eers ‘n draai daar te maak voordat hulle enige kritiek uitspreek. Dankie vir ouens soos julle. Ek vind die positiwiteit onder Oraniërs erg aansteeklik! Dis ‘n goeie teenvoeter vir al die negatiwiteit in die res van SA! Doe so voort!

  8. Johan van Rooyen 3 Februarie 2011 at 20:02 Permalink

    ORANIA STORIES OOR SELFBESKIKKING

    (ORANIA MITES / ORANIA VALSHEDE*)

    *Die valshede mag vals blyk te wees vir ‘n buitestander, maar is nietemin waarheid in Orania.

    Doelgedrewe maar eintlik Droomgedrewe

    Algemene uitlatings uit verskeie monde van verteenwoordigende Oraniërs, is dat Orania ‘n doelgedrewe dorp is, maar is dit werklik so? Die veronderstelling, die uitgangspunt van die Orania oogmerk is selfbeskikking, ‘n volkstaat vir die Afrikaner.

    Orania is eintlik doelgedrewe om die droom te vewesenlik, ‘n droom wat nie bestaan nie. Die feit dat die doel eintlik nog ‘n droom is bring mee dat Orania se droom verstellings kan ondergaan. Die idee van ‘n Afrikanervolkstaat blyk op die oomblik nie op die voorgrond te wees nie, maar is ‘n Federale oplossing in ‘n Federale Suid-Afrika eerder die gekose uitgangspunt. Hierdie twee oogmerke, die volkstaat of Federale opset word ook uitgeruil, blyk dit, afhangende van die gegewe oomblik en persoon wie die uitlatings maak.

    Groeiende Dorp (Realiteit) teenoor Groeiende Volkstaat/Selfbeskikkingsarea (Mite)

    Wat met bogenoemde droom saamhang is die idee dat die volkstaat besig is om te groei, daar word in werklikheid ‘n ontploffing in groei verwag. Na gelang van hierdie groei word na die twintigjarige fiering van die bestaan van Orania kostelik verwys as “Die droom word waar”. Die ironie van die die stelling is, ja, as die skep van ‘n dorp die droom was, is die droom nou ‘n realiteit, nes die Orania Beweging promosie video dit weergee, “Vandag is dit ‘n lekker plek om in te bly, daar word getimmer, gewerskaf, en gebou.” – of so iets.

    Die realiteit van selfbeskikking is egter steeds nie noemenswaardig nie, dit bestaan nie. Die de facto hangende beslissing oor Orania se status as munisapliteit het ironies alles te doen met sy lewe as dorp en niks te doen met sy bestaan as selfregering/ selfregerende gebied nie.

    Laat dit onomwonde gestel word, vir die laaste twintig jaar was daar hoegenaamd geen oordra van mag om self te regeer vanaf die regering van die republiek van Suid- Akrika na die “regering” of maghebbende gesag in Orania nie. Daar is ook hoegenaamd geen skuif in die groter nasie-staat van Suid-Afrika na ‘n Federale opset nie. Dit gaan ook nie gebeur nie – in Suid-Afrika bestaan Federalisme nie, daar is ook geen Federale tradisie nie. Die sentralistiese aard van die ANC-SAKP-COSATU alliansie sal dit nie vir die huidige eers naastenby oorweeg nie en Pan-Afrikanisme sal eerder sien dat Afrika State Federaliseer in ‘n groot Afrika bond as wat die regering van Suid-Afrika dit sal laat gebeur op plaaslike vlak, veral nie om ‘n wit tuisland te skep vir hulle (die swartes) se tradisonele onderdrukkers wat nou bywonders geword het nie.

    Selfwerksaamheid maar eintlik Klasskepping en die hoeksteen van Orania se Nuwe-Apartheid

    Selfwerksaamheid in Orania dien ‘n tweeledige doel. Die eerste doel wat deurlopend aan die groot klok gehang word is dat selfwerksaamheid ‘n groep, in hierdie geval die inwoners van Orania, toelaat om ‘n gebied te beset waar hulle die meerderheid vorm en nie polities by die stembus oorwin/ uitgestem kan word nie. Dit laat die Afrikaners toe om hul eie regering te kies. By die risiko om die ooglopende te stel: watter gebied en watter regering? Daar bestaan nie ‘n Orania Volkstaat gebied nie en sal indien ekonomies suksesvol onmiddelik verswelg word deur duisende swart immigrante op soek na werk, of indien hulle nie in die denkbeeldige volkstaat toegelaat word nie en watter staat kan tans in isolasie of uitsluiting beweeg of handeldryf?, op die grense saamdrom om wel toegang as migrante werkers te verkry (klink dit nie soos klassieke Apartheid nie?). Daar bestaan ook soos reeds genoem geen vorm van wetlike selfregering nie op Orania.

    Maar selfwerksaamheid het ook ‘n skadukant in Orania. Die een van klasskepping, want wat selfwerksaamheid ook beteken is dat blankes huise / kantoorgeboue, strate en sypaadjies moet skoonhou. Blanke bouspanne moet die huise en ander strukture bou. Ryker Afrikaners maak nie huise of kantore skoon nie, ryker Afrikaners swoeg nie om sypaadjies se bossies in die snikhete temperature van die Karoo te probeer tem nie, ryker Orania bewoners werk nie in bouspanne as bouers nie (en hier word nie bedoel die ontwikkelaars of die bouspan “eienaars” nie). Daar word gereeld eufimisties gesê dat Orania gebou word op die krag van die jongmanne van Orania. Die werklikheid is eerder dat Orania hierdie manne opgebruik, as weinig minder as slawearbeiders behandel en die gevolg is dat meeste jongmanne Orania verlaat. Die persoon wat klasverdeling in Orania misken of dalk miskyk lewe in ‘n waan of wil dalk nie so duidelik sien wat om hom of haar aangaan nie.

    Oraniërs se ideale snoer hulle nie saam nie

    Orania is een van die mees verdeelde gemeenskappe wat ‘n mens maar kan teëkom. Indien Orania ooit ‘n volkstaat sou word, sal dit sekerlik binne die bestek van ‘n paar jaar in hul geledere trekkers gereed hê wat wil uittrek na ‘n volgende beloofde land, in verskeie politieke parteie versplinter en daar sal moontlik ‘n groep wees wat sal agiteer om weer aan te sluit by die res van Suid-Afrika! Orania is tans nie polities geaktiveer nie en dit help Orania ironies op ‘n manier, want die politiek in Orania sou die loop geneem het van die talle kerkgroepe op Orania.

    Orania en Afrikaner kultuur verydeling teenoor Orania as Afrikaner Kultuur Beskermer

    Orania – deur verkeie mondstukke – word voorgehou as ‘n dorp wat die Afrikaner kultuur in beskerming neem. Dit wil egter blyk dat dit nie waar is nie, die teendeel is eintlik waar. Orania is eerstens ‘n gemeenskap wat deelmaak van die populêre kultuur onder Afrikaners en Suid-Afrikaners. Die breër gemeenskap van Orania is nie ingestel op die behoud van die Afrikaner kultuur nie, maar beskou die dorp as ‘n plek waar werk gevind kan word en dus ontsnap kan word van regstellende aksie, of ‘n veilige dorp of ‘n dorp waar daar nie “kaffirs” is nie. Daar is wel ‘n klein groep wat die Afrikaner kultuur as primêre doel voor oë hou, maar die groep misluk klaaglik in hul pogings om die Afrikaner kultuur te handhaaf, wat nog te sê uitbou. Dit kan gesien word in die deurlopende swak mobilisering van die breër gemeenskap om deel te neem aan tradisionele feesdae en die totale afwesigheid van innovasie en dinamika om die Afrikaner kultuur te bemark en uit te bou. Die breër Orania gemeenskap woon net nie fees-en kultuurdae by nie. Daar word wel gesê deur besoekers dis lekker om net Afrikaans te praat en wit gesigte te sien, maar dit is so min kultureel as om orkeslede en instrumente te sien, maar daar word nooit musiek gespeel nie.

    Orania dink nie nuut nie

    Nog ‘n mite of meer konkreet, valsheid, is dat daar in Orania nuut gedink word oor die probleme van Afrikaners. Die res van Suid-Afrika vewerp tans die Orania gedagte en die Orania droom – die jurie is egter uit of honderdeduisende Afrikaners wel dit op ‘n stadium sal aanvaar, ‘n mens is egter bevrees die jurie altyd gaan uitbly en nooit die beslissing bring nie.

    Die eerste instink by baie besoekers, hetsy gewone Afrikaners / Suid-Afrikaners /joernaliste, of die intellektuele is dat Orania Apartheid beoefen. Eerste indrukke is nie altyd reg nie, maar is ook nie altyd verkeerd nie. Orania is besig met Apartheid, dit is ‘n feit soos ‘n koei. Die verskil kom egter in by die feit dat die argitekte van Orania, die nakomelinge van die Argitek van Apartheid, nie die res van die volke in Suid-Afrika in klein state wil verdeel nie (hulle kan in elk geval nie, hulle het geen mag nie), maar wil nou die Afrikaner in ‘n klein (baie klein) volsktaatpuntjie op die groter kaart van Suid-Afrika indruk. Dit moet weereens beklemtoon word dat dit gepoog word sonder enige wetlike erkenning van Orania of die sanksionering van duisende Afrikaners.

    Geskiedenis Mite

    Die aanloop tot die ontstaan van Orania word ook gemitologiseer en word ‘n nuwe storie oor hoe en wanneer die droom van Orania ontstaan het geskep. Met enige droom, soos reeds genoem kan gehandel word en word dieselfde gedoen met Orania se voor-geskiedenis. Die Suid-Afrikaanse Buro vir Rasse Aangeleenthede (SABRA) se rol word heeltemal oorbeklemtoon asook die rol van die Afrikanervolkswag. Miskien reeds omdat prof. Carel Boshoff ‘n leidende rol in albei organisasies gespeel het en Orania einteindelik grootliks deur sy hand tot realiteit gekom het.

    Die feite blyk ooglopend te wees dat die magte en invloed wat SABRA en die Volskwag vandag op aanspraak maak t.o.v. hul verlede net nie bestaan het nie, dat dit relatief klein organisasies was en geen beduidende rol kon speel in die narratief van Afrikander Nasionalisme post Verwoerd om Suid-Afrika in die rigting te stuur wat hulle sou verkies het nie. Dit blyk egter (miskien skep ‘n mens hier ‘n nuwe mite) dat SABRA en Orania later veral by monde van Verwoerd se skoonseun en dogter ‘n abortiewe voortsetting van Apartheidsideologie is terwyl sy meester nie meer daar kon wees nie en die res van die Afrikaner regeerders en beleidmakers in ‘n heel ander koers begin beweeg het. Orania is gebore toe die Apartheidregering op sy rug gelê het. Indien SABRA en die Volkswag nie ‘n voortsetting van Verwoerd se ideale was nie en klinies onafhanklik werksaam was, hoekom het hy nie sy eie navorsingsuitsettings of idees vroeër gevolg nie? Die antwoord is dat Verwoerd dood is in 1966 en Apartheid en sy ideologie eers in die laat tagtigerjare of was dit doodgebore?. Laat daar nie ‘n fout gemaak word nie, by risiko om nog ‘n mite te skep. Die blanke in Suid-Afrika wou nog altyd apart beweeg van die swartes, maar dit is slegs met Verwoerd waar apartheid op die wetboeke geplaas was en Apartheid met ‘n hoofletter geskryf kon word. Die begeertes van die individuele lede van SABRA en die Volkswag het skerlik uitgehou met die pre-1994 regering in die hoop dat dinge tog sal verander en ‘n swart regering nie verwesenlik nie. Toe die vet egter in die vuur was in die aanloop tot 1994 (‘n mens moet in gedagte hou dat die oorgang in aanloop was, ‘n proses was en nie ‘n plotselinge gebeurtenis nie), het individue besluit om die Orania poging van stapel te stuur.

    Wie kan hierdie mites weerlê? Ek sal graag wil sien hoe iemand probeer (en daar sal die wees wat gaan probeer).

    Dr. Johan van Rooyen, Secunda

    • Ben le Roux 4 Februarie 2011 at 18:35 Permalink

      ‘n Lang relaas om maar net so ‘n bietjie te kan gal afgaan.Te veel veralgemenings en onbeproefde stellings word gemaak. Sover as wat ek weet word Orania as ‘n vertrekpunt en nie as DIE volkstaat beskou nie.Aanpassings sal daar vanselfsprekend gemaak word.Baie aanpassings is ook reeds gemaak.Die hele oefening is,na my mening, daarop gemik om ons ‘n derde opsie te gee.In die eerste plek kan ons in ‘n verslegtende NSA bly,tweedens kan ons emigreer en derdens kan ons ‘n eie gebied bekom,beset en ontwikkel.Hoe groot die uiteindelike gebied sal wees en of dit tot deelstaat of onafhanklike republiek sal groei sal die tyd ons nog leer.Dat daar groei is gewis en groei volg aanvanklik altyd ‘n skerper stygende kurwe.Afplatting sal wel later kom maar nou is dit in ‘n stygende fase.Eie arbeid het wel ‘n klasstelsel tot gevolg maar in so ‘n stelsel is die opwaartse beweging makliker want daar kleef nie ‘n ras stigma aan nie.Die probleme wat met arbeid van buite gepaard gaan is in die stadium oorbekend.’n Oopdeur beleid,veral in Europa, het reeds sy kwota probleme opgelewer.Dit werk net doodeenvoudig nie! Vir baie is dit ‘n aanpassing om self die ‘vuilwerk’ te doen maar om dit hier in die NSA of oorsee of in Orania te doen is om het ewe.As dit nie nou al so is nie is dit wel op pad daarheen.Die keuses vorentoe sal nie juis veel plek vir dwarstrekkers laat nie en mits daar ruimte,soos in groot plaaslike outonomie,gelaat word kan baie kwaai bulle hul eie kampies he.In Orania se begindae was die aanslae fel,toe vir ‘n tyd redelik stil en nou ewe hierdie voortvarende doemprofeet.Hy is tenminste op die man af.Onlangs,op die blog,het iemand anders begin deur te se dat hy ‘n bietjie opobouende kritiek wil lewer en toe ‘n klomp onsinnighede kwyt geraak.Het ons dan reeds so baie in hierdie trant gehoor nie?

      • Jaco Kleynhans 4 Februarie 2011 at 19:38 Permalink

        Oom Ben,
        Dankie vir ‘n uitstekende antwoord!
        Ek het eintlik besluit om nie op Dr Van Rooyen se skrywe te reageer nie, omdat dit so teenproduktief is. Dr Van Rooyen het duidelik ‘n erstige probleem met Orania. Ek het nog altyd geglo dat ons as Afrikaners soveel groter sukses sal hê as ons net ophou om mekaar se pogings af te breek.
        Ons weet Orania is ver van perfek en dat baie foute tot nou gemaak is, maar van die beskuldigings soos dat Oraniërs erg verdeel is, dat Orania nie nuut dink nie en dat Orania ons Afrikanerkultuur afskeep is baie ver van die waarheid verwyder. Dit is net so hartseer dat ‘n mede-Afrikaner al die moeite doen om Orania te beledig. Ek wonder of Dr Van Rooyen bereid sal wees om Orania te besoek en ‘n gesprek met my en die ander leierskap van Orania te voer ten einde te bepaal of dit wat hy sê waar is.
        Hoekom wil party Afrikaners net afbreek?

  9. Jean Du Plessis 4 Februarie 2011 at 01:12 Permalink

    Wel Dr. van Rooyen. Dis seker lekker om hoog en droog te sit, terwyl jy al in die ou regering jou geldjies gemaak het. Vinger te wys en oor mites te skryf. Dit klink amper asof jy deel van Orania was of is jy soos ander wat ‘n “desktop study” oor Orania doen ?

    Wat ek weet is dat Orania nou 20 jaar bestaan. Die laaste 16 jaar het daar geen Boere Afrikaner leier of wie ookal opgestaan en iets soortgelyks soos Orania geskep nie. Ek het al gevolg, net om jare later heeltemal teleurgestel te word. Dis mos elke man vir homself hier in die groter SA.

    Vir ons wit jonger manne, het ons drome minder geword. Ten minste is daar nog ‘n visie in Orania. ‘n Plek waar jy jou drome kan uitleef en bou en sielerus kan hê. Volkstaat of nie, ten minste sal ek nie oor 5 jaar in die vrot puin leef nie. Wag maar en sien op jou ou dag :)

  10. Tina 4 Februarie 2011 at 08:40 Permalink

    Ek is nie seker waar oor ales gaan nie. Maar wat ek wel kan se, is dat ek trots is om in orania te bly waar ek tusen my eie mense kan wees. Groete

  11. jaap pretorius 10 November 2011 at 07:04 Permalink

    Kan ons nie die bruin mense se gevoel toets oor n Afrikanerstaat nie en wel in Orania streek nie?


Lewer Kommentaar

*